Minister vrees vir haar lewe, en polisie kan ‘terugskiet en...

WOENSDAG MET WILLEM

Minister vrees vir haar lewe, en polisie kan ‘terugskiet en later vrae vra’

WILLEM KEMPEN vertel ’n asterisk-verhaal en PIETER VAN DER MERWE vertel van ’n anderste soort skietgebed. Plus die gebruiklike sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 08 November 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Dit het gister aan die lig gekom dat Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, en haar twee lyfwagte Maandag op die N3 naby Heidelberg oorval en beroof is nadat hulle stilgehou het om 'n band om te ruil wat deur skerp voorwerpe op die pad beskadig is. Chikunga het gister per video aan die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer gesê sy het vir haar lewe gevrees.

2. “Skiet terug en as die stof gaan lê [dán eers], kan jy vra hoe dit begin het. Jy kan dalk 'n slagoffer van daardie vraag word," het Bheki Cele, minister van polisie, volgens Netwerk24 by die vakbond Popcru se nasionale kongres in Durban gesê. Hy het gesê misdadigers het oorlog verklaar in Suid-Afrika, en polisiebeamptes wat hulle in daardie oorlog bevind, kan later vrae vra oor hoe dit begin het.

3. Die regering wil 'n oudit laat doen oor hoeveel spazawinkels in die land deur buitelanders besit en bedryf word, en wil terselfdertyd sogenaamde tradisionele leiers toelaat om 'n register te hou van buitelandse burgers wat in gemeenskappe teenwoordig is. Aktivistegroepe soos Lawyers for Human Rights het reeds gewaarsku dat so 'n plan verdere xenofobie in die land kan aanwakker.

4. Die South African Union of Students het sy ontsteltenis uitgespreek oor laat uitbetalings aan sommige NSFAS-begunstigdes. Sowat 100 000 studente het die afgelope twee maande nie hulle geld gekry soos hulle moes nie, het die organisasie volgens eNCA beweer.

5. Glenn Maxwell se 201 onoorwonne lopies teen Afganistan word reeds deur sommige kenners as die grootste kolfbeurt in die geskiedenis van eendagkrieket beskou. Maxwell het in gister se Wêreldbeker-wedstryd twee keer amper sy paaltjie verloor, maar het ondanks erge krampe in sy been Australië van 'n dreigende verleentheid gered toe hulle ná 20 boulbeurte op 99/7 was, maar uiteindelik met drie paaltjies gewen het.

6. Dit het teen laat gistermiddag gelyk of Israel gereed maak vir 'n grond-offensief in Gaza-stad. Israeliese magte het die stad vroeër omsingel en burgerlikes volgens Reuters vier uuur gegee om die gebied te verlaat. Vlugtende inwoners het gesê hulle het Israeliese tenks langs die pad gesien.

7. Die wêreldwye produksie van wyn het vanjaar tot die laagste vlak sedert 1961 gedaal, het die Internasionale Organisasie vir Wingerd en Wyn gister gesê. Die daling van 'n verdere 7% vergeleke met verlede jaar word aan uiterste weersomstandighede  in wynboustreke toegeskryf.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei in dele van Limpopo. Mpumalanga en die Vrystaat kan buie en donderbuie verwag, maar dis vanoggend mistig en bewolk in Gauteng, Noordwes en KwaZulu-Natal. Dele van die Wes- en Oos-Kaap is deels bewolk en dit word baie warm in die Namakwa-distrik in die Noord-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 21°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 24°C • Kimberley 32°C • Upington 32°C • Kaapstad 21°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 21°C • Durban 22°C.


Pieter van der Merwe | ’n Skietgebed vir vandag se kollektegeld

Op die laaste Vrydagaand van September het lede van die Ville De Refuge-kerk, 'n Franstalige gemeente in Rosettenville, Johannesburg, vir 'n erediens bymekaargekom. Gemeentelede het hulle plekke ingeneem en pastoor Deogratius Kabanda het met sy diens begin.

Oomblikke later stap vyf gewapende mans die gebou binne. Een van hulle stap reguit na die pastoor, neem sy mikrofoon en sê: “Let us pray and shout for Jesus!"

Ek verbeel my 'n sweterige man met alkohol op sy asem en 'n vrot leerbaadjie. Die vuurwapen wat heen en weer swaai.

Terwyl Kabanda op sy maag op die vloer lê, begin die aanvaller en sy makkers om hulle eie kollekte in te samel – selfone. Maar nie almal in die gemeente staan hulle tiende sommer net af nie. Daar is meer mense in die kerk as fone wat oorhandig word. Dis toe dat een van die skurke voorstel dat dié oneerlikheid 'n offerande vereis. Hy vuur twee skote af, en sy koeëls tref twee vroue, vertel 'n berig in die Sunday Times.

As daar ná 'n voorval soos hierdie nog enige twyfel was dat Suid-Afrika die hedendaagse weergawe van die wettelose Ou Weste is, dan is die feit dat net een van die vyf aanvallers die moeite gedoen het om sy gesig te bedek, of dalk dat 'n gemeentelid tydens 'n aanval by 'n ánder kerk op aanvallers losgebrand het, soos die Sunday Times ook berig het, sekerlik genoeg om enigiemand te oortuig.

Treine word geteiken. Kontant in transitovoertuie is so kwesbaar soos swaargelaaide ossewaens. Gyselaars word geneem en loskoopgeld geëis. Moord, roof, verkragting. Vuurwapens word in die naglug afgevuur deur nihilistiese kwaadwilliges onder die invloed van wie-weet-wat. Die burgemeester voel 'n veer, en die ou sheriff moet verkieslik sy koeëlvaste baadjie op sy rug dra.

Hierdie krisis gaan meer vereis as net nuwe wette; meer as 'n woedende portefeuljekomitee of die aanstelling van 'n nuwe polisiehoof.

Gemeenskappe doen reeds so baie vir hulself: buurtwagte, opruim-inisiatiewe, voedingskemas, die onderhoud van paaie en ander infrastruktuur, kragvoorsiening. Daar is wel nog een geleentheid wat ons gegun word om hierdie DIY-gees van Suid-Afrikaners op 'n nasionale vlak te laat lewe kry.

Moenie net bid vir verandering nie. Gaan stem.


Stories oor mense soos sy word gewoonlik vertel met ’n asterisk agterna: Khanyi*

Ons het vroegoggend vir Khanyi gaan oplaai naby die kamer wat sy vir R1 500 'n maand in die middedorp huur. Sodat sy saam met haar ernstig siek ma by die kliniek vir dié se pille kan gaan wag. Haar ma bly by ander familie, want haar eie sinkhuisie is leeggedra terwyl sy 'n ruk terug weer vir die dag by die hospitaal moes wees vir toetse. Haar ma kan in elk geval nie meer sonder hulp eet of aantrek nie, en haar kop is deurmekaar.

Khanyi wag op die hoek van haar straat vir ons, want iemand het oornag 'n hele bakkievrag vol vullis in die middel van die pad voor haar gebou se ingang gestort en mens kan nie met 'n kar daar verbykom nie. Dis net langs die historiese gebou waar daar 'n week of wat tevore 'n brand was.

Om haar ma te kon bystaan moes Khanyi die dag afvat by die pizzaplek waar sy deesdae werk. Die eienaar was nie lekker oor sy weer wou afvat nie, want sy kan alles doen van deeg uitrol tot by die kasregister bedryf, en sy het matriek en is welsprekend en slim en die klante hou van haar. Sy word nie vir oortyd betaal nie, maar dis darem 'n verbetering op haar vorige werk by die taxi-staanplek.

Khanyi sê daar is elke nou en dan iemand van die departement van arbeid daar by die pizzaplek as iemand oor iets gekla het, maar dit maak nooit 'n verskil nie. Daar is altyd iemand anders wat bereid is om dieselfde werk vir minder geld te doen, so dis makliker om 'n klakous te vervang as om almal beter te behandel.

Khanyi klim langs haar ma in en ons ry verder tot by die kliniek, waar 'n mens versigtig by die ingang moet inry omdat die mankolieke hek net gedeeltelik oop staan.

Oral teen die paalheining om die kliniek kleef die plastieksakke en plastiekbottels en polistireenhouers en smerige stukke papier vas wat lyk of die wind dit oor lang jare tot daar gewaai het.

Ons hou buite die kliniek se ingang stil waar 'n lang tou mense al wag. Van hulle sit op ou plastiekstoele; ander staan of sit sommer op die randsteen.

Khanyi help haar ma uit die kar, en saam gaan staan hulle agter in die tou. Khanyi haal haar foon uit, seker sodat sy weer op Google kan gaan oplees oor wat die dokters oor haar ma sê, soos haar gewoonte is.

Laat weet as julle klaar is, sê ons vir hulle voor ons wegry, dan kom haal ons julle weer.

Met 'n bietjie geluk sal dit so teen middagete se kant wees.


skietgebed

my broer se plaas krimp
soos breiwerk in water
kinders met douwurm
dolf kluite op die broodlyn
maandeind is agthonderd rand
en 'n sak meel

in die rivierloop
vreet likkewane 'n slagos skoon
en die maan verbleek tot 'n sekel
in die laksman se hand

hier is niemand vet nie

mag die loon van hoop
opsyfer deur driesland
soos 'n bevrugting woorde
'n bladspieël verskimmel
soos bome met lym ingesmeer
op seisoene vol trekvoëls wag

- Dominique Botha

Uit: Donkerberg

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.