Bavuma dalk reg vir halfeind, en Ysland maak gereed vir vulkaan

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Bavuma dalk reg vir halfeind, en Ysland maak gereed vir vulkaan

DEBORAH STEINMAIR deel ’n skatologiese las wat ligter geword het, WILLEM KEMPEN dink Cyril Ramaphosa en Rushi Sunak het albei meer in hulle eie geledere te vrees as in die opposisie, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 14 November 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Israeliese oorlogstenks het gister stelling ingeneem by die ingang van Gazastad se Al Shifa-hospitaal, wat volgens Reuters 'n sleutelpunt is om beheer oor die noordelike helfte van die Gazastrook oor te neem. Amerikaanse bronne het aan CNN gesê Hamas het 'n bevelsentrum onder die hospitaal ingerig. 'n Woordvoerder van Gaza se ministerie van gesondheid het gesê 32 pasiënte, onder wie drie pasgebore babas, is die afgelope drie dae in die hospitaal dood omdat daar nie elektrisiteit is nie.

2. Temba Bavuma sal dalk tog betyds van 'n dyspierbesering kan herstel om die Proteas Donderdag in krieket se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Australië aan te voer. Bavuma het gister voluit aan 'n opsionele oefensessie by Eden Gardens deelgeneem.

3. Die regsfirma Gildenhuys Malatji Incorporated het lenings wat die Gauteng Partnership Fund (GPF) tussen 2013 en 2017 aan Paul Mashatile se skoonseun toegestaan het, as “moontlik roekeloos" en “arbitrêr" bestempel. Die firma se ondersoek dui egter nie op enige onbehoorlike optrede deur die adjunkpresident nie, het Business Day berig.

4. 'n Noodtoestand is in Ysland verklaar weens vrese dat die vulkaan Fagradalsfjall op die punt is om uit te bars. Meer as 1 485 aardskuddings is die afgelope 48 uur aangeteken, en in Grindavik het enorme krake verskyn met stoom wat daaruit ontsnap het.

5. Beamptes by die Kosibaai-grenspos het Saterdag beslag gelê op 52 straatligte wat na bewering aan die eThekwini-munisipaliteit behoort. Twee Mosambiekers is in hegtenis geneem en van die besit van gesteelde goedere en die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur aangekla.

6. Sipho Nkosi het as voorsitter van Sasol bedank net voor die groep se jaarvergadering eerskomende Vrydag. Sommige van Sasol se groot aandeelhouers is ontevrede met die groep se swak vordering om klimaatteikens te behaal, maar Nkosi het in 'n verklaring 'n moontlike konflik tussen van sy ander sakebelange en dié van Sasol as rede vir sy bedanking voorgehou.

7. As Donald Trump volgende jaar vir 'n tweede termyn as president van die VSA verkies word, wil hy glo verreikende optredes teen onwettige en ander immigrante instel, het The New York Times Saterdag berig. Dit sluit in die jaarlikse deportasie van miljoene mense as deel van an assault on immigration on a scale unseen in modern American history", het die koerant berig.


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Wes- en Noord-Kaap en uiters hoë temperature kan verwag word. Die Oos-Kaap is bewolk en kan ligte reën verwag. Die ander provinsies kan almal vandag ligte reën, buie of donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 17°C • Kaapstad 32°C • Durban 22°C • Kimberley 32°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 21°C • Upington 37°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | Dalk kan die ANC vir Su Braverman vra om te kom help

Rishi Sunak kon nie juis veel anders doen as om die onsmaaklike Suella Braverman gister as sy minister van binnelandse sake af te dank nie. Sy tart hom al weke lank, moontlik met opset omdat sy self haar oog op die Britse premierskap het, en dit makliker vir haar kan wees om hom van buite die kabinet uit te daag.

Nie dat Sunak se eie posisie nou sterker is nie, want sy besluit om David Cameron van buite die aktiewe politiek te gaan naderhark om minister van buitelandse sake te word, gaan vir seker nie goed afgaan by al die Tories wat vir die pos oorgesien is nie. Die enigste ding wat hulle almal gemeen het, is dankbaarheid dat die opposisie te onbeholpe en verdeeld is om 'n verkiesing teen hulle te wen. Dalk klink dit bekend ...

Tog sal Cyril Ramaphosa in sy binnekamer maar net kan wéns dat sy probleme so eenvoudig soos Sunak s'n was. Die rugstekery en binnegevegte en verdeeldheid in die kabinet en die ANC se parlementêre en provinsiale strukture word erger, en dit gaan nóg erger word namate die verkiesing naderkom.

Dis goed en wel om jou opponente binne die tent te kry sodat hulle liewer na buite kan piepie, maar dit help niks as hulle in elk geval aanhou om hulle politieke water ook na binne af te slaan nie.

Soos wat Panyaza Lesufi die naweek gedoen het toe hy woedend na “a police minister" verwys het wat weier om sy Gautengse kitskonstabels te erken, en hulle grondwetlike status in twyfel trek: “Your days are numbered.”

So: 'n ANC-premier wat 'n ANC-kabinetslid in die openbaar dreig, en waarskynlik daarmee gaan wegkom.

In die kabinet en die ANC-koukus in die parlement gaan dit niks beter nie: Enoch Godongwana is duidelik deel van 'n minderheid binne die kabinet wat regtig verstaan hoe die ekonomie en die staatskas werk. Tussen Pravin Gordhan en Kgosientsho Ramokgopa en Gwede Mantashe en die parlementêre portefeuljekomitees weet niemand waar begin en eindig verantwoordelikheid vir Eskom nie. Bheki Cele is die minister van polisie, maar hou heeltyd sy lyf kommissaris ook, en niemand weet waar pas die eintlike kommissaris, Fannie Masemola, in die prentjie nie. Nou nog Lesufi ook tussenin, én die weermag wat gevra is om die polisie te help in die stryd teen onwettige mynbou.

Ons moet maar hoop die dag breek nie aan dat die weermag, Gauteng se kitskonstabels, die polisie se taakmag teen onwettige mynbou en die gewone polisie almal op dieselfde misdaadtoneel beland nie, want in daai geval gaan dit nie moeilik wees vir die land se taaiste misdadigers om beter georganiseerd te wees en duideliker bevelstrukture te hê as die “goeie ouens" nie.


Image: ANGELA TUCK

Jy skiet nie ’n tarentaal op sy nes nie

Waar sou ons mense wees sonder toilethumor? Waar sou Leon Schuster wees? Daaraan dink ek weer terwyl ons in Hazyview kuier – dis ons tyddeelweek. Vanjaar het my een dogter en haar man saamgekom. Hulle is ywerige gholfspelers. Een van hulle – met een oog op die Popi-wet gaan ek nie naam of geslag verklap nie – ly sedert hulle vlug hierheen aan hardlywigheid. Vier dae sonder opelyf, en ons is aan die tel.

Wanneer ’n gesin op vakansie saamgegooi is, heeldag, met baie tyd tot hulle beskikking, weet jy sulke goed van mekaar. Natuurlik het dit in ’n groot gespot ontaard, maar daar is ook heelwat ondersteuning en aanmoediging. Almal bied boererate aan. Vergeefs. Ek het die persoon se voet gemasseer met (aan die hand van dr. Google) ekstra drukking op die area wat die kolon verteenwoordig. Geen resultaat nie.

Elke dag wil ons weet: Was jy al gelukkig? Die vlak van humor is ongelukkig redelik laag, maar die gunstelingkwinkslag wat my hard laat lag het, was toe die skoonmakers vergeet om ons eenheid se toiletpapier vir die dag te bring en een van ons droog opmerk: “Miskien het hulle gehoor dis nie nodig nie.”

My neef, wat later ingenieur geword het, het as klein seuntjie een maal te veel turksvye geëet en verstop geraak, soos die ou mense sê. Toe verduidelik hy vir sy ma in goeie Afrikaans: “Daar’s ’n dwarsbalkie in my poephol.”

Toilethumor is deel van ons familie-oorlewering. Toe my pa ’n seuntjie was, het hulle ’n loseerder gehad. Eendag kom kuier ’n verlangse familielid. Die loseerder stap by die long drop in en tref die besoeker op die troon aan. Hulle is nog nie voorgestel nie. Sy goeie maniere laat hom nie in die steek nie – hy steek sy hand uit en noem sy naam: “Bly te kenne, nig.”

Badkamergewoontes is intens privaat en só moet dit liefs bly. Vriende uit Duitsland het by my ouers tuisgegaan. Teen die vierde dag van die besoek kondig die man triomfantelik en trots aan die ontbyttafel aan: “I made a shower!”

Anoeschka von Meck se eerste boek was Annerkant die longdrop. Andre P. Brink het ’n humoristiese roman geskryf oor oom Kootjie Emmer, nagwadrywer.

In Milan Kundera se The Unbearable Lightness of Being verduidelik hierdie digterlike, filosofiese Tsjeg: Shit is a metaphysical problem. Mense, reken hy, het ’n bewussyn soos gode, maar word vergat deur aardse, dierlike liggaamsfunksies. Kitsch is volgens hom die negering van kak. Enigiets wat onaanvaarbaar of onmooi is, word geïgnoreer. Of versier: Dink aan die Spaanse danserespoppies met gehekelde rokkies wat op toiletrolle pryk.

Ja, ontlasting is ’n metafisiese kwessie. Dis die groot gelykmaker.

Dis nou dag vyf. Ons raak bekommerd. Hoe lank nog, en is dit lewensbedreigend? Elvis, wat hom glo ooreet het aan grondboontjiebotter-en-piesangtoebroodjies, het op die toilet beswyk aan ’n hartaanval en is op die badkamervloer aangetref. Are you lonesome tonight?

Terwyl ek hierdie skryf, kom die aankondiging: My familielid het ’n beweging beleef. Ons juig.

Hou die blink kant bo.  


The Bluebird

A winged bit of Indian sky
Strayed hither from its home on high.

- Alexander Posey


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.