Water, krag, politici – dis asof die aarde heel van haar as af is

DONDERDAG MET MERCY

Water, krag, politici – dis asof die aarde heel van haar as af is

MERCY KANNEMEYER wonder of die regses dalk iets weet wat die linkses nié weet nie, ANNELIESE BURGESS sien tekens dat Suid-Afrika se waterdienste nou ook in duie stort, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 30 November 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. “Aansienlike vordering is gemaak" om die land se probleme met groter dringendheid aan te pak in 'n virtuele ontmoeting eergister van onder andere prominente sakeleiers, pres. Cyril Ramaphosa en ander regeringsleiers, en leiers in die polisie en die nasionale vervolgingsgesag, het Business Day berig. Die klem is veral op misdaad en korrupsie en die land se elektrisiteits- en logistieke probleme.

2. Die DA in eThekwini het 'n “bold but necessary" plan aangekondig om van die regerende ANC-EFF-koalisie in die stad ontslae te raak. Die party wil artikel 34 van die Wet op Munisipale Strukture gebruik om die metroraad te laat ontbind sodat inwoners vir nuwe leierskap kan gaan stem. 

3. Die debat en stemming oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is met 'n week uitgestel, vermoedelik in reaksie op 'n brief waarin die gevare van die wet in ongewysigde vorm uitgewys is. Die debat en stemming is tot 6 Desember uitgestel.

4. Suid-Afrikaners het op verlede week se Swart Vrydag hoofsaaklik geld op supermarkte se spesiale aanbiedinge en aanlyn kopies uitgegee, blyk uit syfers van BankservAfrica, wat transaksiedienste aan handelsbanke verskaf. Aanlyn transaksievolumes het met 11% toegeneem vergeleke met verlede jaar, maar transaksies in winkels het met 21% gedaal. Totale besteding van R4,5 biljoen is aangeteken.

5. Die legendariese belegger en sakeman Charlie Munger is in die ouderdom van 99 in Santa Barbara in Kalifornië oorlede. Munger was ondervoorsitter van Berkshire Hathaway, die internasionale beleggingsmaatskappy wat hy saam met Warren Buffett opgebou het.

6. Die Chinese aanlyn klerasiehandelaar Shein beplan glo om aandele in New York te noteer, het Reuters berig. Dit kan van Shein die grootste Chinese maatskappy met 'n Amerikaanse notering maak, met 'n verwagte markwaarde van tussen $60 biljoen en $90 biljoen. Shein doen ook flink aanlyn sake in Suid-Afrika, waar kleinhandelaars soos Mr Price en The Foschini Group  dikwels sukkel om mee te ding met hulle goedkoop klere uit die Ooste.

7. Isabel dos Santos, dogter van oudpres. José Eduardo dos Santos van Angola en glo Afrika se eerste vroulike dollar-biljoenêr, het die hooggeregshof in Londen gevra om Angolese en Portugese owerhede te keer om $736 miljoen van haar bates te bevries wat as die opbrengs van jare se politieke bevoorregting en ander soorte korrupsie beskou word.


Daar is 'n waarskuwing oor sterk wind wat skade kan aanrig in dele van die Oos-Kaap, asook 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Wes-Kaap, waar uiters hoë temperature ook verwag word. Limpopo en Mpumalanga kan buie en donderbuie verwag. KwaZulu-Natal kan vanoggend ligte reën verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 33°C • Durban 24°C • Kimberley 35°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 23°C • Upington 39°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Anneliese Burgess | Hier kom die regering se volgende eufemisme: ‘water-shifting’

Gautengers ervaar dit reeds: watertoevoer wat heeltyd aan- en afgeskakel word. En dit is die gelukkiges. Oor die laaste paar maande was dele van Johannesburg heeltemal sonder water. Soos in Brixton, waar die krane in 'n stadium vir drie volle weke droog was.

Dit blyk dat die kern van die probleem in Gauteng is dat daar met tye nie genoeg druk in die stelsel is om die water te versprei nie. En wanneer dít gebeur, word hoogliggende gebiede (soos Brixton) gewoonlik eerste geraak omdat daar dan nie genoeg druk is om die water daarheen te kry nie.

Waterdruk val wanneer watertorings of ander reservoirs kritiek lae vlakke bereik. Dit kan gebeur weens lekkasies, gebarste pype, bogemiddelde waterverbruik of kragonderbrekings wat pompstasies raak. 

Volgens prof. Anthony Turton, bekende waterkenner en deesdae verbonde aan die Sentrum vir Omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat, word die watersektor in Suid-Afrika deur “total institutional collapse" in die gesig gestaar, en Gauteng is in die middel daarvan. Die provinsie ervaar nou die perfekte storm van 'n hele klomp kleiner krisisse wat tegelyk bymekaarkom en waaroor waterkenners al dekades lank waarsku.

Gauteng se inwoners verbruik 'n geraamde 300 liter water elk per dag, vergeleke met die wêreldgemiddelde van 173 liter. Maar deel van dié verbruik is weens lekkasies en ander verliese op 'n massiewe skaal weens infrastruktuur wat in duie stort. In Johannesburg gaan 'n minimum van 41% van behandelde drinkbare water verlore nog voordat dit verbruikers kan bereik.

Deel van die regering se oplossing vir die krisis, by monde van die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, is “water-shifting". Rand Water, wat Johannesburg van water voorsien, beplan juis as deel van die implementering van 'n nuwe verspreidingstelsel om “beurtkrag vir water" toe te pas, waar verskillende buurte op spesifieke tye beurte kry om van water voorsien te word.

En só raak ons gewoond aan die ANC-regering se eufemismes vir die manifestasies van hulle wanbestuur. “Load-shedding", in plaas van wat dit is: kragonderbrekings. En “water-shifting", in plaas van wat dit is: wateronderbrekings.


Image: ANGELA TUCK

Zuma of Wilders, Putin of Trump, Milei of Le Pen? Sal jy liewer ... ?

Op Donderdag 23 November kom ek in Amsterdam aan. Die gemoedere loop hoog en laag. Teen die mure in die tram- en bushaltes en op advertensieborde op pad na my bestemming sien ek iets van ’n verkiesing. Bedankt voor uw stem. Stem nu. Jouw stem jouw stem. Op die trein luister ek ’n gesprek tussen twee Nederlandssprekendes af. Die een sê vir die ander een: “Dit is niet oké,” waarop die ander een reageer: “Dit is gewoon onzin; dit kan niet gebeuren.”

Die nuuskierigheid slaan my binne; ek maak my Google oop om te kyk wat op dees aarde aangaan. En daar, in lewende lywe (op die internet), 60 jaar oud, ’n oop gesig soos van daai ooms by ’n braai wat kort-kort sal check of jy genoeg geëet het, met ’n Trumpagtige haarstyl, pronk Geert Wilders. Verregs. Anti-Islamities. Euroskepties. Woorde wat die media na Wilders se kant toe slinger.

Ek is mos my ma se kind, en ek bly bis! Elke vriendelike Nederlander wat my kant toe kyk en geselsies aanknoop, vra ek uit oor Wilders. In ’n kroeg, met ’n glas wyn wat hopeloos te duur was, in my hand, gesels ’n jong vrou van Rotterdam met my oor die Nederlanders se eie Donald. Sy deel met my dat hierdie geweldige slegte nuus vir Nederland inhou. Hulle is ’n vry land, hulle is verwelkomend, hulle is liberaal, hulle het “coffee shops for fucks’ sakes!”. Die Nederland wat Wilders wil skep, is Putinisties. Dit is eksklusief, en gaan mense afskrik. ’n Dag of wat later speel ek en die geselskap waarin ek my bevind “sal jy liewer?”. “Sal jy liewer?” is ’n speletjie waar jy van die ander spelers af twee opsies gegee word. Een van die opsies wat uiteindelik aanhangig gemaak word, is: “Sal jy liewer Jacob Zuma as president wil hê of sal jy liewer vir Geert Wilders as president wil hê?”. ’n Doodse stilte kom oor die tafel. Jy sal sweer iemand het nou net iemand se ma se dinges gevloek. Ons is daar weg, en die vraag hang saam met die daggareuke seker nog steeds daar in die lug.

Javier Milei, ook verregs, is in Argentinië met ’n meerderheidstem tot president verkies. Donald Trump stof glo sy kuif ook af om weer vir president te staan. Talle ander leiers in die wêreld leun meer regs. Wanneer ’n mens geo-politiekery van naby bekyk, lyk dit asof die aarde heel van haar as af is.

Weet die regsgesindes dalk iets wat ons linkses nie weet nie? Wanneer mense soos Milei, Wilders, Sunak, Le Pen, Orbán en Kie. meerderheid stemme tydens ’n verkiesing kry, behoort dit as aansporing vir die nie-regses te dien om bietjie na binne te kyk. Wat ons binne gaan vind, die weet ek nie. Heel moontlik ’n paar geraamtes wat daarop gaan dui dat ons moet ophou om ideologie bo menslikheid te plaas? Heel moontlik ’n skimp of twee wat fluister “jou liberale denke weerspieël nie dié van ou op straat s’n nie”? Hoe dit ook al sy, ons moenie wegkyk wanneer die wêreld meer regs draai nie. Ons moet inkyk. En uitkyk. Kyk links, kyk regs en dan weer links voor jy oor die straat stap. En ons moet in ons pasoppens trap.


Hendrik Kruiper Regopstaan

Ons is nou op Kagga Kamma.
Vroeër was hier oral Boesmanne,
waar's hulle nou?
Die Duusman het ons uitgemoor so amper.
My mense is toe noord.
Kyk, al die klipskrywes wys noord.

Vandag wou ek gaan jag
en hier staan ek nou
met 'n blikkie kerrievis.

- Barend J. Toerien

Uit: Die huisapteek

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.