Bewaak die goue toerisme-gans en máák 2024 ons nuwe, beter 1994

MAANDAG MET MAX

Bewaak die goue toerisme-gans en máák 2024 ons nuwe, beter 1994

Bewaak die goue toerisme-gans voor misdaad hom nekomdraai en onthou, alles gaan oukei wees. 2024 kan dalk net ons nuwe, beter, 1994 wees, meen MAX DU PREEZ.

  • 11 Desember 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Bulls-afrigter Jake White het gister om verskoning gevra nadat die skare by Loftus die Engelse en Saracens-ster Owen Farrell herhaaldelik geboe het. Hy het Farrell 'n “ongelooflike speler” genoem. Farrell het vroeër aangekondig dat hy volgende jaar se Ses Nasies-toernooi gaan misloop om aandag aan sy geestesgesondheid te gee.

2. As jy “Bittereinders”, “brandewyn” en “Steve Hofmeyr” in een sin hoor, is jy verbaas dat dit gaan oor 'n aanranding? 'n Leier van die ver-regse Bittereinders, Francois van der Merwe, het in die hof op aanklagte van aanranding verskyn nadat hy glo iemand wat met hom oor die definisie van “Boer” gestry het, met 'n bottel brandewyn oor die kop geslaan het. Hofmeyr het die aand by die kroeg gesing.

3. Die sakeleier Roger Jardine het gister 'n nuwe politieke party, Change Starts Now, in Riverlea, Johannesburg geloods. Die gewese senior UDF-leier en later sakeman Murphy Morobe, is onder die oud-UDF-leiers wat hulle by die party skaar.

4. Na 'n afwesigheid van 2 jaar het Prasa se passasierstrein van Johannesburg na Kaapstad laasweek die eerste keer weer geloop – maar net tot in Wellington, want die kabels is gesteel. Die passasiers is met busse Kaapstad toe vervoer.

5. Die VN se Wêreldvoedselprogram sê die helfte van die mense in Gaza ly honger, met 9 uit 10 mense wat nie elke dag kos het nie. Intussen sê die onderhandelaars van Qatar dat die kanse op 'n nuwe skietstaking tussen Israel en Hamas al kleiner word. Die Israelse weermag is besig om sy aanslag op die suide van Gaza te verskerp. Die VN se Wêreldgesondheidorganisasie sê die gesondheidstoestande is “katastrofies”.

6. Die tienderjarige tweeling van die Iranse aktivis Narges Mohammadi het haar Nobelprys vir vrede namens haar ontvang. Sy is steeds in 'n tronk In Tehran.

7. 'n Hele aantal lede van die polisie se elite Spesiale Taakmag bedank om by private sekuriteitsmaatskappy aan te sluit, veral om taxibase en sakeleiers te beskerm, berig die Sunday Times.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie, hael en moontlike vloede oor dele van Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en Vrystaat asook moontlik vloede in KwaZulu-Natal. Die Kaapprovinsies kan ook buie verwag deur die dag en daar is miskolle in die Oos-Kaap en KZN vanoggend.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 26°C • Durban 21°C • Kimberley 29°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 20°C • Upington 33°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Bewaak die goue toerisme-gans voor misdaad hom nekomdraai

Toerisme is inderdaad ’n gans wat goue eiers lê. Ons moet net die gans baie beter oppas.

Elke oorsese toeris wat hier kom reis of vakansie hou, skep ’n paar werksgeleenthede in die toerismebedryf self of verder af in die voorsieningsketting.

Met die swak rand is Suid-Afrika ’n baie bekostigbare bestemming. In Suid-Afrika kos ’n Big Mac R31, in Londen en New York meer as R100.

Van wildtuine tot berge en strande en uitstekende hotelle, restaurante en lughawens, en baie sonskyn, het ons omtrent alles waaroor ’n toeris kan droom.

Maar ons het ook die ANC-regering wat gesorg het dat Durban en die suidkus van KZN nie plekke is wat ek by my oorsese vriende aanbeveel nie. Dit is krimineel. Kom swem maar in die kouer waters verder suid, raai ek mense aan.

Johannesburg en Pretoria, soos New York en Washington, behoort toeristetrekpleisters te gewees het. Ek sal niemand aanraai om 'n paar dae daar te gaan deurbring nie.

Alle aanduidings is dat ons ’n rekord-toeristeseisoen gaan beleef, met veral Kaapstad en die Tuinroete wat meer as ’n miljoen toeriste dié vakansie gaan trek.

Ek kan dit die laaste paar weke sien hier waar ek in Simonstad bly. Dis net toeriste en toeristebusse waar jy kyk, want hier kan jy tussen die pikkewyne swem, walvisse en dolfyne sien, die Georgiaanse en Victoriaanse argitektuur bewonder en die skouspelagtige Kaappunt is net ’n entjie verder af in die pad.

(As jy iemand in die hoofstraat of by een van die strande sien wat opgewonde is oor die bobbejane wat oral rondloop, kan jy maar weet dis ’n toeris. Die meeste Simonstadters, ek uitgesluit, is nie so erg oor die bobbies nie.)

Elke toeris wat ’n lekker ervaring hier gaan hê, gaan dit vir sy/haar vriende en familie sê en/of op sosiale media plaas. En dan kan toerisme ook vir ons ekonomie word wat dit vir plekke soos Seychelles, Zanzibar, Mauritius en plekke buite Afrika soos Bali en Thailand is.

Maar dieselfde geld vir mense wat slegte ervarings gehad het, veral oor persoonlike veiligheid. Hulle slegte rapporte terug by die huis kan ons duur te staan kom.

’n Hele paar buitelandse toeriste is die laaste weke aan die hange van Tafelberg of Duiwelspiek beroof, van hulle op gewelddadige wyse. Ek self gebruik nie meer die lieflike staproete na die Kleinplaasdam buite Simonstad nie, want van my vriende is al daar beroof en/of aangerand.

Laasweek is twee busse buitelandse toeriste op pad na Sun City van die pad gedwing en beroof. Dit het ook al buite die Krugerwildtuin gebeur.

SA Toerisme, Nasionale Parke en die plaaslike owerhede spreek hulle kommer hieroor uit, maar daar is maar min aksie.

Gaan ons wag tot berigte op internasionale voorblaaie en TV-skerms kom van moorde en/of verkragtings van toeriste voor ons iets dringend en daadwerkliks doen?


Nou toe, kom ons máák 2024 ons nuwe, beter 1994

Is jy swartgallig oor jou land se toekoms?

Wel, my raad is om onmiddellik op te hou om politieke kommentaar op sosiale media of die kommentaarseksie van nuuswebwerwe te lees.

Kyk eerder om jou rond – nie na die slaggate in die paaie, die rommel en riool in die strate of die verstopte hawens nie, maar na jou landgenote en na die wonderlike nuwe politieke energie wat skielik losgelaat is.

Ons is tussen 5 en 7 maande weg van ’n nasionale verkiesing. Daar is duidelik ’n meerderheidskonsensus onder ons Suid-Afrikaners dat, soos die slagspreuk van Rise Mzansi sê, 2024 ons 1994 moet wees.

’n Nuwe Begin.

Dit gaan woes gaan op die slagveld van die politieke verkiesingsveldtogte, maar ten minste kan ons sonder huiwering sê ons politieke stagnasie met ’n dominante regerende party is verby.

Die laaste week of so het ons drie prominente Suid-Afrikaners uit die ANC-boesem sien losbreek om vir ’n ingrypende ommekeer te werk: Mavuso Msimang, Roger Jardine en Murphy Morobe. (Gaan lees gerus Msimang se bedankingsbrief).

Die politieke skinder wat ek optel sê vir my hulle is nie die laaste mense met naam-erkenning wat die ANC gaan verlaat nie. Msimang het dalk net ’n klein sluisie opgetrek.

Die ANC sal op 8 Januarie 112 jaar oud wees. Dit was oor al die dekades die primêre nasionale bevrydingsbeweging in Suid-Afrika. Dit is die party van Albert Luthuli, Oliver Tambo en Nelson Mandela. Dit is ’n inherente deel van Suid-Afrika se politieke kultuur.

Om uit die ANC te loop, is nie dieselfde as om die DA vir ActionSA te verlaat nie. Dit is ’n helse breë Rubicon wat jy oorsteek, met groot persoonlike gevolge vir jou, jou familie en vriende.

Ek praat nie van politici soos Bantu Holomisa en Julius Malema nie. Hulle is uit die ANC geskop. Ek praat van mense wat uit beginsel loop, wat reguit verklaar dat die ANC nie meer verdien om die land te regeer nie.

Dit is wat Msimang se bedanking (en dié van Murphy Morobe) so belangrik maak. Msimang was ’n senior offisier van Umkhonto we Sizwe, ’n aktiewe en leidende ANC-lid vir 60 jaar. Hy is ’n paar maande gelede nog tot adjunk-president van die ANC se Veteraneliga verkies.

Geen wonder nie die ANC vertrap Msimang se drumpel die laaste paar dae en pas alle moontlike druk op hom toe om sy bedanking terug te trek. Selfs pres. Cyril Ramaphosa het hom na sy bedanking geprys en die hoop uitgespreek dat hy sou terugkeer.

(Die druk is só kwaai dat ek sien hy laat in ’n onderhoud met die Sunday Times gister ’n agterdeur oop en sê hy weet nie of die ANC hom sal terugvat as hy dalk om lidmaatskap heraansoek doen nie. Dié twyfel is sekerlik uit die weg geruim nadat die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, gister beweer het Msimang is deur Roger Jardine omgekoop om by sy party aan te sluit).

Dit is al van die waterskeiding in die ANC in 2007 af, toe Thabo Mbeki soos ’n hond weggejaag is en deur Jacob Zuma vervang is, die groot vraag: Gaan enigiemand met senior status in die ANC ooit die durf hê om in beginsel die ANC te verlaat?

Terror Lekota en Mbazima Shilowa het dit na 2007 gedoen en Cope uit lojaliteit met Thabo Mbeki gestig, maar binnegevegte en persoonikheidsverskille het hulle ster vinnig laat taan. En Cope was ’n waarskuwing aan ander hoe koud dit buite die ANC is.

Van die skerpste kritiek op die ANC kom uit die geledere van die Defend our Democracy Campaign, ’n versameling van mense en organisasies wat nou met die UDF en ANC geassosieer is of was. Maar bitter min van dié mense was tot dusver bereid om hul eie Rubicon oor te steek en te verklaar dat die ANC nie meer hervormbaar is nie en vervang behoort te word.

Dit is amper soos iemand uit ’n stoere Nasionale Party-familie en -geskiedenis wat by die destydse Progs aansluit. Jy gaan beskinder word, jou familie gaan hulle van jou distansieer, jy gaan ’n verraaier en ’n verloopte genoem word, jy gaan nie weer tot die kerkraad verkies word nie, jou uitnodigings na ’n braai gaan opdroog. (Uhm, ek het ’n bietjie ervaring hiervan …).

Min mense van statuur, indien enige, gaan uit die ANC-binnekring stap en hulle dan by die DA of ActionSA aansluit.

Gaan die nuwe party wat Roger Jardine gister in Riverlea, waar hy gebore is, geloods het, Change Starts Now, die soort party wees waarby sulke mense kan aansluit?

Jardine is ’n talentvolle man met goeie struggle-geloofsbriewe, maar het (nog) nie veel van ’n profiel in die swart gemeenskappe nie. Hy gaan dalk ook sukkel om van die etiket van die darling van ryk sakelui af te skud. En in ons verdeelde samelewing tel dit ongelukkig dat hy nie ’n etniese swart Suid-Afrikaner is nie.

Maar Murphy Morobe is ’n groot plus vir Change Starts Now. Hy was ’n 1976-aktivis, ’n senior UDF-leier op wie die veiligheidspolisie kwaai jag gemaak het, en na 1990 lank in die ANC-binnekring en ook ’n suksesvolle sakeleier. Morobe is die direkteur van die nuwe party se verkiesingsveldtog.

Die meeste leidende figure in Change Starts Now is UDF-veterane, soos dr. Aslam Dasoo van die Progressive Health Forum. Dit is wat hulle van die Veelpartyhandves onderskei.

Morobe het dit gister duidelik gemaak dat nie-rassigheid baie belangrik vir die nuwe party is en teen die “re-racialising” van die ANC gewaarsku.

Jardine het gister onder toejuiging gesê: “The ANC of today is not the ANC of my parents and my grandparents. And it is not my ANC.”

Op papier is Songezo Zibi se Rise Mzansi ’n uiters belowende opposisieparty. Hy bly weg van die DA-dampkring, vir nou selfs van die Veelpartyhandves-koalisie. Zibi is ’n bekwame, ordentlike mens en diep denker. Maar Rise Mzansi het nog nie die breë kieserspubliek opgewonde gemaak nie.

Toe ek gister na Jardine luister, wonder ek hoekom hy nie eerder sy gewig agter Rise Mzansi ingegooi het nie. Daar is tog baie sinergie?

Of gaan dit dalk nog gebeur? En gaan Msimang hom dalk by Zibi of Jardine skaar? Jardine het Msimang gister die “living embodiment” van die oorspronklike ANC genoem en gesê hy hoop Msimang gaan by Change Starts Now aansluit.

Dis die ding met die woelinge in ons politiek op die oomblik: Alliansies en vennootskappe kan vinnig skuif en swaai, en nuwe gesigte kan hulle verskyning maak.

As al die opposisiepartye (buiten die EFF) saam meer as die helfte van die stem in 2024 gaan kry, is daar nie ’n manier waarop hulle nie gaan saamwerk om ’n nuwe regering te vorm nie.

Ons as kiesers het dié keer die luukse om te weet dat ’n stem vir enigeen van die DA, ActionSA, die IVP, die Vryheidsfront of vir Rise Mzansi of Change Starts Now, selfs die Patriotic Alliance, ’n stem vir ’n 1994-tipe restart button gaan wees.

Nou toe, breek weg uit jou depressie en sit eerder skouer aan die wiel.

Ons gaan oukei wees.

Met positiewe groete.

Max


(skuiling)

Ek sit nie my hart in jou hande nie
maar druk dit in jou bors waar dit soos
asemrige verligting elke sug in jou
slaak. Dan sal jy weet my hart bly
waar jy dit sal moet bewaar
in die skuiling wat drome in jou are
plaak. So klop ek in jou bloed. So
stuur jy my in die rigting van die hut

- Gilbert Gibson

Uit: Die sin van die hut (Human & Rousseau)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.