Sal jy R70 000 betaal vir ’n Apple op jou kop?

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Sal jy R70 000 betaal vir ’n Apple op jou kop?

Wie onthou nog vir Masha Amini, vra ANESCA SMITH, terwyl WILLEM KEMPEN ‘What the heck!’ juig oor Sondag se Grammys. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 06 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Pres. Cyril Ramaphosa het gister op die openingsdag van die 30ste jaarlikse Investing in African Mining Indaba in Kaapstad gesê Suid-Afrikaanse mynbou sal nie kan floreer sonder enorme investering in energie en logistiek nie. Die krisis in hawens en in kragvoorsiening plaas geweldige druk op die ekonomie en dit word vererger deur onwettige mynbou, kabeldiefstal en vandalisme, het Ramaphosa volgens Business Day gesê.

2. 'n Ongeïdentifiseerde soort kanker is by koning Charles gediagnoseer en hy word reeds daarteen behandel, het Buckingham-paleis aangekondig. Dit is glo onverwant aan die prostaatchirurgie wat hy onlangs ondergaan het.

3. Die nasionale tesourie het twee forensiese ondersoeke begin na korrupsie, finansiële wanbestuur en wanadministrasie” by die Independent Development Trust (IDT). Die IDT is 'n entiteit in staatsbesit wat luidens sy webwerf die implementering en lewering van kritiek noodsaaklike maatskaplike infrastruktuurprogramme namens die regering bestuur.

4. MultiChoice, wat DStv bedryf, het 'n uitkoopaanbod van die Franse vermaaklikheidsreus Canal+ verwerp en gesê die voorgestelde aanbodprys van R105 per aandeel onderwaardeer die groep en sy vooruitsigte. MultiChoice het die deur oopgelaat vir verdere onderhandelinge sou daar 'n beter aanbod gedoen word.

5. Nangolo Mbumba, wat sedert Sondag as Namibië se tussentydse president waarneem nadat Hage Geingob in sy amp gesterf het, het “geen planne" om voltyds in die pos te wees nie. Dit beteken Netumbo Nandi-Ndaitwah, wat Mbumba as vise-president vervang het, sal Swapo se presidentskandidaat op stembriewe bly. As sy wen, sal sy die land se eerste vroulike president wees.

6. Chili het twee dae van rou aangekondig terwyl die dodetal in verwoestende veldbrande gister tot 112 gestyg het. Honderde mense word steeds vermis en meer as 14 000 huise is deur die brande beskadig, het Reuters berig.

7. Apple se Vision Pro-kopstuk het oor die naweek wêreldwyd opslae gemaak sedert dit Vrydag vir die eerste keer te koop was. Ten spyte van die prys van $3 500 (byna R70 000 teen gister se wisselkoers) verwag kenners dat Apple vanjaar reeds soveel as 350 000 van dié toestelle kan verkoop.


Daar is 'n waarskuwing vir 'n baie hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Wes-Kaap, met hittegolftoestande in laasgenoemde. Dit word ook baie tot uiters warm in die Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga. Dis meestal deels bewolk in die sentrale gebiede, maar buie kan steeds in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal verwag word. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 36°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 24°C • Durban 28°C • Kimberley 38°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 31°C • Upington 38°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | ‘My name is Tyla and I’m from South Africa!’


Daai spontane en totaal opregte “What the heck!" waarmee Tyla Sondagaand haar Grammy vir Best African Music Performance ontvang het, was 'n goue oomblik wat nog lank onthou gaan word. Onmiskenbaar Johannesburg en onmiskenbaar Suid-Afrikaans.

Tyla se klas staan nog meer uit omdat so baie van die res van die Grammys so 'n smerige affêre was. Dit lyk of die groot Amerikaanse celebrities meer belangstel om mekaar te beswadder of te skinder oor hoeveel doekspelde daar in iemand se deurskynende rok was of wie van watter toekenning “beroof" is. 

Daarenteen is die 22-jarige Tyla (volle naam Tyla Laura Seethal) 'n prentjie van styl en beskeidenheid. Sy is gemaklik en welsprekend voor die kameras en die Amerikaners is duidelik ook mal oor haar. Sy is die jongste Suid-Afrikaner wat al die Billboard Hot 100 gehaal het, en die eerste plaaslike solo-kunstenaar op dieselfde lys sedert Hugh Masekela in 1968. Haar treffer “Water" is 'n internasionale sensasie, en dít selfs nog voordat haar debuut-album in Maart uitgereik word. En as jy wil weet hoe om daai moves te doen, kyk sommer ook hier:

Hier kom groot dinge, lekka Tyla!


Wie onthou nog vir Masha Amini?

Die filmregisseur Ali Abbasi was 'n student in Iran toe hy vir die eerste keer van die reeksmoordenaar Saeed Hanaei gehoor het.

Hanaei het tussen 2000 en 2001 minstens 16 prostitute in die heilige stad Mashhad vermoor omdat hy geglo het dit is sy “Godgegewe plig om 'n jihad te voer” teen vroue wat sekswerk doen.

Meer as 20 jaar later het Abbasi 'n film oor Hanaei gemaak. Of meer spesifiek oor die laksheid van die owerhede om hom vas te trek en die reaksie van die publiek op sy aanhouding – duisende mense het sy wandade toegejuig.

Holy Spider was een van die mees indrukwekkende films wat ek verlede jaar gesien het. Maar dit is moeilik om dit te sit en kyk sonder om aan Masha Amini te dink.

Onthou u haar nog? Die 22-jarige vrou wat sowat twee jaar gelede gesterf het nadat sy deur Iran se sedepolisie oor die kop geslaan en aangehou is omdat haar hare volgens hulle nie behoorlik bedek was nie.

Moenie sleg voel as u haar nie meer onthou nie, in die lig van die feit dat die media nog nouliks aandag skenk aan haar of die duisende protesteerders, waaronder joernaliste, wat gesterf het of nog steeds in die gevangenis krepeer omdat hulle in die dae ná haar dood in opstand gekom het. Ek sien so nou en dan dat Amnestie Internasionaal nog 'n pleidooi vir hulle vrylating rig.

Waarom het ons eintlik van hierdie mense vergeet? Ek lees dat die sedepolisie – aanvanklik afgeskrik deur die internasionale aandag wat Amini se dood ontlok het – intussen hulle skrikbewind hervat het.

Hierdie toestande is erg onthutsend. Nog te meer as mens Iran se geskiedenis voor die Islamitiese Revolusie van 1979 ken. Toe was dit nog 'n voortuitstrewende, moderne land. Kyk bietjie na hierdie foto’s van vroue in Iran voor die revolusie – minirokke, grimering, juwele en ja, selfs vroue en mans in dieselfde haarsalon.

Abbasi en sy twee hoofrolspelers kon dit intussen nie waag om na Iran terug te keer nie, uit vrees dat hulle meteens in hegtenis geneem sou word. Sy film het ook onder sekere Westerse kritici deurgeloop vir eksplisiete tonele waarin gewys word hoe die sekswerkers brutaal met hulle eie hoofdoeke verwurg word.

Abbasi het in reaksie aan NPR gesê dié soort kritiek toon 'n gebrek aan nuanse en neem nie die geskiedenis van die Iranse filmbedryf en sensuur in ag nie.

“Vir 50 jaar was die liggaam van die vrou afwesig in Iranse films. Pleks daarvan kon jy net hulle pratende koppe sien. Vroue is selfs binne hulle eie huise verfilm, slapend met 'n hoofdoek op. Selfs in die mees godsdienstige families is dit nie iets wat werklik gebeur nie.”

Mooi week

Anesca


De straatjongen

Hij paradeert met ketting, mes en stok:
Geweld is maar een saak van lusteloosheid.
Hij slaat en steekt ook wel, liefst na een slok.
Hij mist – beseft hij vaag – de ware boosheid.

Een vrou passeert hom. Hij versnelt zijn pas.
Een dorre tik. Hij triomfeert, de held.
Maar zijn gevoel is al weer stof en as
Wanneer zij als een zak valt, uitgeteld.

Hij wou zo graag dat golven bloed en slijm
En darmen uit de dame zouden wellen,
Die hem vervolgens iets van het geheim
Van zijn gehate slaap zouden vertellen.

– Gerrit Komrij

Uit: Die elektries gelaaide hand

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.