Hof sê vegvliegtuig-onderdele mag nie van Nederland na Israel

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Hof sê vegvliegtuig-onderdele mag nie van Nederland na Israel

ANESCA SMITH skryf oor die groot verlies as 'n ma wegval. WILLEM KEMPEN is skepties oor of die ANC dokumentasie oor kaderontplooiing aan die DA kan of gaan oorhandig, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 13 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Nadat Business Times oor die naweek berig het dat politici in die pad staan van Michelle Phillips se aanstelling as voltydse uitvoerende groephoof van Transnet, het die joernalis en skrywer Justice Malala op X gesê: “A black man is drowning in the Vaal River. A white lifeguard jumps in to save him. Spectators shout: ‘Leave him! You are not black enough!' Man drowns. We've lost our way."

2. Inwoners van Kaapstad kan tot 8 Maart registreer om elektrisiteit  aan die Stad terug te verkoop, het die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, gister aangekondig. Voorheen kon slegs besighede hiervoor registreer, maar dis nou ook na residensiële huishoudings uitgebrei.

3. John Steenhuisen, DA-leier, het strafregtelike klagte teen adj.pres. Paul Mashatile ingedien. Dit spruit uit 'n reeks onthullings in News24 se Mashatile Unmasked-reeks. Steenhuisen het gister buite die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor gesê die DA het ook 'n formele klag by die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange ingedien, omdat Mashatile moontlik die gedragskode oortree het deur te versuim om registreerbare belange bekend te maak.

4. Sanral sê die swak ekonomiese klimaat was 'n groot oorweging in die besluit om die verhoging in tolgeld wat op 1 Maart in werking tree, tot 6,25% te beperk.

5. Minstens een huis is verwoes deur 'n brand wat gistermiddag op Trappieskop bo Kalkbaai gewoed het. SANParke het gesê die brand het later weens “ongewoon warm winde” na St. James- en Boyes-rylaan versprei.

6. ’n Nederlandse hof het dié land se regering beveel om alle uitvoere van onderdele vir Amerikaanse F-35-vegvliegtuie na Israel te keer weens die vermoede dat dit gebruik word om internasionale reg tydens die oorlog in Gaza te skend. Nederland huisves een van verskeie streekspakhuise vir F-35-onderdele wat deur die VSA besit word. Die onderdele word van daar versprei na lande wat dit versoek, insluitend Israel in ten minste een besending sedert 7 Oktober.

7. Die Kansas City Chiefs het Sondag vir die tweede keer agtereenvolgens die Super Bowl gewen deur die San Francisco 49ers met 25-22 te klop. Dit is nie waar nie dat Donald Trump gister op X sou gesê het die Chiefs “represented the Great State of Kansas", terwyl Kansas City eintlik in Missouri is – hy het dié blaps reeds in 2020 gemaak.


Daar is 'n waarskuwing vir 'n hoë brandgevaar vir dele van die Kaapprovinsies, asook die Vrystaat. Hittegolftoestande word ook voorspel vir dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Buie en donderbuie kan weer oor verskeie dele van die binneland verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 30°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 25°C • Durban 29°C • Kimberley 38°C • Bloemfontein 37°C • Polokwane 31°C • Upington 41°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 28°C.


Willem Kempen | Wil nie, kan nie, gaan nie

Iewers langs die pad het die idee begin posvat dat regstellende aksie en ANC-kaderontplooiing dieselfde ding is. Dit is nie.

Gegewe ons geskiedenis is regstellende aksie in beginsel billik en geregverdig en in pas met die letter en gees van die Grondwet. Dit is 'n beginsel wat geldig bly ten spyte van al die probleme en selfs nuwe onregte wat soms met die praktiese toepassing daarvan ontstaan. 

Die teenoorgestelde is waar van kaderontplooiing: Die beginsel bly ongesond, selfs wanneer die praktiese toepassing daarvan dalk tot 'n goeie aanstelling lei.

Natuurlik wil enige regerende party graag mense in die staatsdiens hê wat aan partybeleid sal uitvoering gee. Vir die ANC was dit ná 1994 nog belangriker, want daar was 'n realistiese vrees dat dele van die staatsdiens in die pad van transformasie sou staan. 

In daardie dae het die ANC gemaklik by die stembus oorheers, maar terselfdertyd 'n brose houvas op die regering en op die staat gehad. Weer is die teenoorgestelde deesdae waar: Die ANC het die regering en die staat in 'n ystergreep beet, ten spyte van die party se tanende steun by die stembus. 

In die middel tussen dié twee was daar Jacob Zuma en staatskaping. Onder Zuma het kaderontplooiing verander van 'n ongemaklike instrument van transformasie tot 'n partypolitieke filtreerstelsel waarmee die ANC verseker het dat sy eie mense van bo tot onder in die staatsdiens en by ondernemings in staatsbesit aangestel is. Alle pretensies dat enigiets ander as lojaliteit aan die party deurslaggewend kon wees, is laat vaar.

Die Zondo-kommissie het bevestig dat kaderontplooiing die kaping van instellings soos Eskom, Transnet, Denel, die Inkomstediens en die polisie moontlik gemaak het. Nog belangriker is dat alles weg van die openbare oog en strydig met die beginsels van oop en deursigtige regering gedoen is. (Nogal baie soos die Broederbond destyds, nie waar nie?)

Nou het die konstitusionele hof opdrag gegee dat alle dokumente  van die ANC se kaderontplooiings-komitee vanaf 1 Januarie 2013, toe die destydse adj.pres. Cyril Ramaphosa voorsitter daarvan geword het, aan die DA oorhandig moet word. Die ANC het net vyf werksdae om alle notules, CV's, rekords, WhatsApps en e-posse met betrekking tot kaderontplooiing te oorhandig.

Dis 'n goeie en nodige beslissing, maar die ironie is dat die ANC self ook 'n slagoffer van kaderontplooiing is; hulle beste mense is elders, nie in die hoofkantoor in Johannesburg nie. Die ANC gaan waarskynlik nie sukkel om die hof te oortuig dat Luthulihuis nie eens die organisatoriese vermoë het om 'n potplant in 'n raadsaal vir langer as 'n week aan die lewe te hou nie, laat staan nog om potensieel plofbare dokumente van 'n dekade gelede te gaan opdiep en aan 'n opposisieparty te oorhandig.



As ’n geliefde ma wegval

Skaars 'n dag nadat ek in Kaapstad aanland, moet ek na 'n begrafnis gaan. Een van my oudste vriende se ma is 'n paar dae gelede oorlede en die begrafnis is by 'n kerk in Strandstraat.

Ons vriendskap is van daardie soort waar jy mekaar miskien 'n paar jaar nie sien nie, maar met die herontmoeting is die liefde meteens weer innig en ráák – asof jy nooit weggegaan het nie.

Die Bybel sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself, maar ons almal weet mos daar is naastes wat dit bitter moeilik maak om hulle lief te hê. Met my vriendin, Lynn, is dit anders. Dis byna onmoontlik om nie lief te wees vir haar en sommer ook verlief op haar te raak nie. Tyd en afstand maak geen verskil nie.

Daarom is dit seer toe ek verneem dat haar ma op 63-jarige leeftyd oorlede is. Iemand het een keer geskryf: “Nie al die woorde in die dikste woordeboek kan presies vertel watse fokop dit is as mens se ma dood is nie. Weg. Vir altyd. Soos in absoluut weg vir die res van my lewe.”

In die weke daarna ontmoet ek ander vriende en familielede. Een se ma ly aan demensie en het heeltydse sorg nodig, 'n ander se ma het suikersiekte en is halfblind en byna stokdoof. En so gaan dit aan.

Die wêreld soos ek hom laas in Suid-Afrika gelaat het, staan op sy kop. Dis 'n fokop, dis 'n fokop.

Soos baie mense, weet ek ook nie altyd wat om aan die naasbestaandes te sê wanneer iemand sterf nie. Goed soos “Sterkte” en “Sy het 'n mooi, lang lewe gehad” klink nie vertroostend in my eie ore nie. Maar íets lomp sê is beter as niks sê nie.

By die begrafnis is Lynn die ene energie. Sy maak seker iedereen het agterna genoeg om te eet, maak 'n praatjie met almal. Lag, gesels. Haar man kom gee my 'n drukkie waar ek in my onvanpaste vakansieklere staan. (Ek het te laat uitgevind ek sou na 'n begrafnis kom.) Hy noem terloops dat hy bekommerd is omdat sy so besig is. Ek onthou toe my kind oorlede is en sê ek was presies op daardie selfde weird high. Die trane sou later kom.

'n Week later gaan ons hele uitgebreide familie vir 'n naweek na Pearly Beach aan die Suidkus.

Sondagoggend vroeg raak ek wakker. My ma is siek. Bitter siek. Ek jaag na die naaste hospitaal – die Mediclinic op Hermanus. Ná wat voel soos 'n eindelose administrasieproses word sy opgeneem in die noodeenheid. 'n Jong arts, ene dr. Du Toit, is aan diens. Daar is 'n saal vol ander pasiënte, maar hy neem sy tyd met haar, doen 'n deeglike ondersoek en weet meteens wat die probleem is. Reël dat sy die volgende oggend vroeg al op die chirurg se lys staan. Jy sou sê hy doen maar net sy werk, maar nogtans oorval 'n groot dankbaarheid teenoor dié man my wese.

In al die chaos van die wêreld en die drukte van die besige noodeenheid met mense wat om ons lê en kreun en skreeu bly hy rustig, presies en bowenal nie haastig nie. Ongeag wat daar buite in die wêreld aangaan, vir nou, dít, was alles goed gereël in hierdie man se hande.

Mooi week.

Anesca


Sport

Life
For him
Must be
The shivering of
A great drum
Beaten with swift sticks
Then at the closing hour
The lights go out
And there is no music at all
And death becomes
An empty cabaret
And eternity an unblown saxophone
And yesterday
A glass of gin
Drunk long
Ago

– Langston Hughes

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.