Maak genadedood wettig, vra prominente dokters

DONDERDAG MET MERCY

Maak genadedood wettig, vra prominente dokters

MERCY KANNEMEYER het haar mes in vir die ‘Born Frees' wat nie vir die verkiesing geregistreer het nie. WILLEM KEMPEN wil weet of daar iemand in die ANC oor is wat die moeilike vrae kan vra, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 15 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Minstens 19 plaaslike raadslede is sedert November 2021 in KwaZulu-Natal vermoor, het die voorsitter van die SA Local Government Association (Salga), Thami Ntuli, gister gesê. Die voorbeeld is uitgewys van raadslid Ndukwenhle Duma, wat verlede week doodgeskiet is terwyl hy sy kar se band op die R618 by Mtubatuba omgeruil het. Hy was op pad na ’n munisipale raadsvergadering in Hluhluwe in die noorde van KwaZulu-Natal. Die voorval het ook die lewe geëis van 'n kind wat in die kruisvuur vasgevang is, en twee ander kinders veg om hulle lewe in die hospitaal, het Business Day berig.

2. 'n Groep van agt prominente medici het hulle in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal uitgespreek ten gunste van DignitySA se pogings om wetgewing oor genadedood te verander. Hulle is prof. JP van Niekerk, dr. Paul Cluver, dr. Edwin Herzog, prof. Mariana Kruger, prof. Keymanthri Moodley, prof. Jonny Myers, prof. Dan Ncayiyana en dr. Johan Snyman.

3. Die Gelykheidshof het die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) beveel om 'n magdom vertroulike inligting oor Steinhoff, Tongaat, Sekunjalo en KPMG aan 'n groep sakelui te oorhandig wat sê daar is teen hulle gediskrimineer toe hulle bankrekeninge gesluit is. Dit is deel van die voortslepende hofstryd tussen die Sekunjalo-baas Iqbal Survé, sy maatskappye, en van die land se groot banke.

4. Chris de Beer, voormalige adjunkhoof van studentegelde van die Universiteit Stellenbosch, is skuldig bevind aan aanklagte van bedrog in 'n saak wat met die voormalige SA Rugby-baas Jurie Roux verbind word. De Beer is gevonnis tot korrektiewe toesig en vyf jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar. Die aanklaer het aan News24 gesê die vonnis is beïnvloed deur die feit dat De Beer nie regstreeks by die bedrog baat gevind het nie.

5. Die totale waarde van beleggings in bitcoin het gister vir die eerste keer sedert November 2021 $1 triljoen verbygesteek, het Reuters berig. 'n Bitcoin het gister in 'n stadium $51 902 gekos, 'n hoogtepunt die afgelope 25 maande.

6. Nvidia het Alphabet (Google) verbygesteek en is nou wat markwaarde betref op twee na die waardevolste Amerikaanse maatskappy. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan Nvidia se vervaardiging van hardeware wat vir gevorderde kunsmatige intelligensie nodig is. Microsoft en Apple is steeds die twee grootstes.

7. Die tradisie dat inwoners van Portland in Maine elke jaar op 14 Februarie wakker word om te vind dat winkelvensters, standbeelde, parkeergarages en van die stad se grootste landmerke oornag vir Valentynsdag deur onbekende weldoeners versier is, het gister voortgeleef. Dit is ten spyte van die dood verlede jaar van Kevin Fahrman, wat oor meer as vier dekades as die sogenaamde Valentine’s Day Bandit die versierdery gelei het. 'n Groep vrywilligers het gister Fahrman se werk voortgesit. 


Daar is 'n waarskuwing vir skadelike windtoestande in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, asook 'n hoë brandgevaar in die Beaufort-Wes-area. Hittegolftoestande duur voort in dele van die Vrystaat, Noordwes, die Oos-Kaap, Gauteng en Mpumalanga. Buie en donderbuie word ook in dié provinsies verwag, asook in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 22°C • Durban 33°C • Kimberley 37°C • Bloemfontein 35°C • Polokwane 31°C • Upington 32°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C.


Jy wil nie Vrydag se uitgawe misloop nie!

Ons skryf onder meer oor die twee seniele oubasies wat wedywer om die magtigste land ter wêreld se president te word, oor die nuutste politieke rock-ster, Ayanda Allie, oor die Hollandse idee van niksen (niks doen), Eskom en die ANC, Zuma se MK Party wat met die EFF konkel, en ons verken die fassinerende wêreld van sampioene.

Maar jy sal moet inteken (vir 'n belaglik lae prys!) om als te kan lees.


Willem Kempen | Is daar nog iemand in die ANC wat die moeilike vrae kan vra?


So, Mmamoloko Kubayi reken “we must not be fooled that [Cape Town and the Western Cape] is a well-run city nor province". Die minister van “human settlements" (nog 'n eg Suid-Afrikaanse eufemisme) het agterkom daar is gemeenskappe in die Wes-Kaap waar dit net so sleg gaan soos in al die plekke waar die ANC regeer: “They narrated how they live in a city that doesn't care about them. Similarly, I went to the Nomzamo community; they narrated the conditions they live in, where rubbish is not collected," het sy in die debat oor die president se staatsrede gesê.

As mens dieselfde speletjie wil speel: Dis op 'n manier goeie nuus dat daar darem nog plakkersgebiede in die land is waar 'n nasionale minister na “narrations" kan gaan luister sonder dat sy vir haar lewe hoef te vrees (hoeveel BBP-polisiemanne was saam om haar te beskerm?). Dis ook dalk in die groter prentjie goeie nuus dat daar arm gemeenskappe is waar die grootste probleem is dat die vullis nie verwyder word nie.

Dis sekerlik, met die verkiesing op hande, te veel gevra dat Kubayi haar in die openbaar beywer vir konstruktiewe maniere om mense uit armoede op te hef – óral in die land – pleks van sondebokke soek op wie alles gepak kan word. Maar 'n mens moet wonder: Hoeveel eerlike en opregte gesprekke is daar binne die ANC oor waarom die DA op soveel gebiede beter as die regerende party vaar met dienslewering en basiese goeie bestuurspraktyk? Of glo hulle regtig, soos Kubayi skynbaar, dat die DA net beter lýk omdat hulle beter sorg vir die middelklasse en die rykes?

Daar is ook 'n veel donkerder derde moontlikheid: Dat daar feitlik niemand in die ANC oor is wat sulke ongemaklike vrae kan vra nie, want hulle is almal meer besorg oor hulle eie ambisies en politieke oorlewing as oor wat goed vir die land is.

In elk geval, vroeër of later gaan gemeenskappe soos dié in Nomzamo wel die regte vrae begin vra, en dan moet mense soos Kubayi nie verbaas wees as hulle nie deel van die antwoord is nie.


Image: ANGELA TUCK

As jy nie wil stem nie, kry jou ry

2024 is as’t ware ’n waterskeidingsjaar. Die koring gaan van die kaf geskei word. Perdedrolle sal nie met vye verwar word nie. Al klotsend sal ons stembus toe moet gaan. Al twyfelend in waar ons hoop vandaan sal kom, gaan ons ’n besluit moet neem – ’n besluit wat menige kenner meen ewe belangrik is as die besluit wat Suid-Afrikaners in 1994 moes neem.

Verlede naweek het die buurt waarin ek in Johannesburg woon, vir ongeveer vier ure lank elektrisiteit gehad. En moet nou nie dink dit was vier ure agtereenvolgens nie, o nee. Bietjie krag hier en dan bietjie krag daar.

In een van die strate wat ek op pad werk toe verbysteek, is daar so ’n groot slaggat dat ’n klein dammetjie daarin gevorm het toe dit nou die dag gereën het.

Ek en pelle tel die getal verkeersligte in die stad wat wél werk, want dis makliker om mee tred te hou as om die ligte te tel wat nié werk nie.

En die frustrerendste van hierdie voorbeelde is dat dit nie eens die ergste is nie. Daar is mense wat permanent geen elektrisiteit of water of verkeersligte het nie. Dit maak nie die ervaring van net vier ure elektrisiteit hê minder irriterend nie, maar hopelik help dit met so ’n bietjie konteks. Die ideaal sal natuurlik wees dat na elke liewe mens in Suid-Afrika se basiese behoeftes omgesien word, maar hoe ouer ek word hoe meer besef ek dit is totale wensdenkery om te verwag dat die regering hulle werk doen.

Right. So, 2024 = 1994 en 1994 = 2024. Ek skryf seker weekliks in my briewe dat ek in 1994 gebore is – hahahaha – maar hierdie keer is ek ernstig. Vir dié van ons wat nie 1994 beleef het nie, wat nie in die atmosfeer kon voel waarom dinge moes verander nie, wat nie dáár was nie, wat de fok moet ons nou doen? Hier kan ’n mens nou wel in ’n lange relaas ingaan van hoe die gevolge van ’94 nog met ons is. Al-was-ons-nie-daar-nie, weet-ons-dit-is waar-tipe vibes. Sure. Dankie aan almal wat vir ons vryheid geveg het: Amandla! Awethu! En nou?! Vir wie stem ons nou?! Gesoek: ’n politieke tuiste vir jong Suid-Afrikaners.

Vir ’n geweldig uitgesproke generasie is ons jonges wat Suid-Afrika nie voor 1994 geken het nie maar … hmmm … wat is die woord nou? Lui? Apaties? Entitled?! Nou pas tydens die EFF se manifesbekendstelling by die Moses Mabhida-stadion in Durban was daar sóveel jongmense en waarvoor vra hulle? “Land and jobs.” En wanneer soek hulle die land and jobs? NOU. Moet my nou asseblief net nie verkeerd verstaan nie; stap rustig saam, moenie hardloop nie. Met die vraery vir land and jobs is niks verkeerd nie, maar kan iemand, letterlik enigiemand, my asseblief net sê waarom die generasie wat kwansuis in sulke duidelike terme weet wat dit is wat hulle wil hê, nie donnerswil registreer om te stem nie?!

Die laaste verkiesingsregistrasienaweek is begin Februarie verby en die jongste registrasiesyfers wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) uitgereik is, dui aan dat die ouderdomsgroep met die laagste registrasiepersentasie mense onder 30 is. Daar is talle interessante statistieke: meer vroue as mans het geregistreer; die meeste geregistreerde kiesers is mense in hulle 30’s en 40’s; en naas die jongklomp wat nie geregistreer het nie, het mense van 80 en ouer ook nie juis uit die bed gehop om te gaan registreer nie. Ek vergewe die 80-plussers, maar ons, die post-1994 Born Free babies, het géén verskoning nie. Hoe gaan jy aanspraak maak op wat jy van en vir die land wil hê as jy nie eens geregistreer is om te stem nie?

Per provinsie het Gauteng die meeste geregistreerde kiesers en glo my, ons het nodig om te gaan stem om die huidige regerende party hier uit te stem, want wow. Naas Gauteng is dit KwaZulu-Natal, dan die Oos-Kaap en dan die Wes-Kaap. En, ek moet bieg, ek het nogals gedink die Wes-Kaap sou die meeste geregistreerde kiesers hê, want … jy weet … die berg en die see. Grappies. Dinge lyk oor die algemeen beter daar onder as hier bo. Dalk is die Wes-Kaap te gemaklik, want die Stad Kaapstad en die DA sorg vir hulle mense (nie 100% waar nie, maar hierdie brief raak nou te lank).

Punt is – dis nou al tot vervelens toe gesê – as jy nie stem nie, kan jy nie kla nie. Ek wil byvoeg – as jy nie stem nie, moet jy fokkof. Laat ons wat hierdie land wil sien werk, dan maar hier bly en die land laat werk. Ek is so gatvol vir entitlement. As jy entitled gaan wees, registreer ten minste om te stem. Die OVK sê mense kan nog aanlyn registreer. So, doen die regte ding.


Stadsaand

'n Sagte Skuifel oor die vloer,
'n Dowwe skynsel in die saal,
'n Klop op die tamboer
En rûe halfpad kaal…..

Droef waai die wind die misreën oor
Die rye dakke, skuins en blink,
Tot alles lig verloor
En in die nag wegsink.

Die klanke van die kerkklok kring
'n Somber tyding deur die nag
En stoot 'n huiwering

Deur my, hier waar ek wag.

– D.J. Opperman

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.