Nog ’n haatspraak-saak begin teen Malema

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Nog ’n haatspraak-saak begin teen Malema

Dis absurd hoe mense hulle deur uiterlike skoonheid aan die neus laat lei, skryf ANESCA SMITH. Donald Trump laat WILLEM KEMPEN aan 'n Asterix-karakter dink, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 27 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

Jy sal moet spring as jy nog nie 'n VWB-intekenaar is nie – ons spesiale Februarie-aanbod staan einde se kant toe. Kliek hier om in te teken.

1. Julius Malema en die EFF is weer in die hof oor beweerde haatspraak, dié keer oor opmerkings wat gerig is teen 'n man wat in 2020 tydens betogings oor 'n vermeende rassevoorval by die Hoërskool Brackenfell in hegtenis geneem is. Dante van Wyk eis R1 miljoen in 'n siviele saak teen Malema en die EFF. Malema het onder meer gesê: You must never be afraid to kill; a revolution requires killing at some point because killing is part of the revolutionary act." Die saak word in die Kaapstadse Gelykheidshof aangehoor, en die Menseregtekommissie (SAMRK) is 'n mede-aansoeker. Malema was nie self gister in die hof nie, maar voer aan sy stellings was nuanced political speech”.

2. Die privaat sektor beplan om tot 66 000 MW se kragaanlegte te bou, maar kan dit eers doen wanneer Eskom sy transmissienetwerk teen 'n verwagte koste van sowat R400 biljoen uitbrei, het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, gister volgens Business Day gesê.

3. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie is “verbaas" dat sommige politieke partye beweer die verkiesingsdatum is onbillik, want geen besware is glo geopper tydens 'n vergadering daaroor die afgelope naweek nie, het News24 berig.

4. Die DA wil voortgaan met 'n klag van minagting van die hof teen Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, omdat die regerende party glo nie al die vereiste rekords van sy kaderontplooiingskomitee oorhandig het nie.

5. Mlandeli Abednico Nyuka, voormalige burgemeester van Oudtshoorn, is in die plaaslike landdroshof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis weens die seksuele aanranding van 'n werknemer en mede-lid van die Saamstaan-party in sy kantoor.

6. Swede mag nou ook by Navo aansluit nadat die Hongaarse parlement dit gister bekragtig het. Dit het gevolg op 'n besoek aan Hongarye deur die Sweedse premier, Ulf Kristersson, waartydens die twee lande 'n wapenooreenkoms onderteken het.

7. Die Britse finansier en filantroop Jacob Rothschild van die invloedryke Europese bankiersfamilie is in die ouderdom van 87 oorlede. Familielede het in 'n verklaring gesê: “[He] was a towering presence in many people’s lives, a superbly accomplished financier, a champion of the arts and culture, a devoted public servant, a passionate supporter of charitable causes in Israel and Jewish culture, a keen environmentalist, and much-loved friend, father and grandfather.”


Daar is 'n waarskuwing vir skadelike wind tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas en 'n uiters hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Wes-Kaap, waar baie hoë temperature ook verwag word. Dit word ook baie warm in Noordwes en die Vrystaat. Buie en donderbuie word in Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag en ligte reën oor dele van Limpopo en Mpumalanga.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 18°C • Kaapstad 34°C • Durban 25°C • Kimberley 33°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 22°C • Upington 37°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Trumpius Détritus

In Goscinny en Uderzo se La Zizanie (Asterix and the Roman Agent in Engels) kom Julius Caesar te hore van 'n onsmaaklike vent genaamd Tullius Détritus (Tortuous Convolvulus) wat tweespalt saai net waar hy gaan. Dit werk selfs nie om hom in die arena tussen die leeus in te gooi nie, want as die Romeine weer sien is die roofdiere besig om mekaar op te vreet en dan moet hulle maar vir Tullius terugvat tronk toe.

Die Amerikaanse Tullius het min of meer 'n ewe goeie kans om vir die eerste keer in die tronk of vir 'n tweede keer in die Ovaalkantoor te beland. Oral verdeel hy mense in kampe. Die Demokrate is verdeeld oor of Joe Biden hom vir 'n tweede keer in 'n verkiesing kan klop, en die res van die wêreld is verdeeld oor wie van die twee waarskynlike kandidate se verstand die vinnigste agteruitgaan.

Maar die heel ergste verdeeldheid is in Donald Trump se eie party. Republikeinse kiesers in Suid-Carolina het Saterdag oorweldigend nee gesê vir Nikki Haley, maar die 40% van hulle wat wel vir haar gestem het, is só sterk teen Trump gekant dat hulle heel moontlik in November heeltemal van die stembus af sal wegbly of 'n onafhanklike kandidaat sal steun. Dinge is waarskynlik nie veel anders in ander deelstate wat nog moet kies nie.

Haley se kamp mik skynbaar nou maar vir tweede plek, in geval Trump se botsings met die gereg hom keer om Biden namens die Republikeine aan te vat. Selfs die skatryk Koch-broers se Americans for Prosperity Action het nou opgegee met hulle pogings om Haley oor Trump te laat seëvier.

Haley het Trump die afgelope weke in sterker en sterker taal aangevat: Hy “kies die kant van diktators"; “Nearly every day Trump drives people away”; “I don’t believe Donald Trump can beat Joe Biden”.

Sy is reg oor die eerste twee, maar die derde een glo sy waarskynlik nie eens self nie.


As uiterlike skoonheid nie meer tel nie

Dagsê

Dit was 20 Februarie 2014 en oudpres. Jacob Zuma het op die punt gestaan om sy staatsrede in die parlement te lewer. Maar in plaas van Zuma was daar ’n ander Suid-Afrikaanse politikus wat daardie dag die tonge los gehad het: Tim Harris.

Harris was destyds 'n DA-LP en het in die parlement se staande komitee oor finansies gedien. Ongelukkig was dit nie sy ekonomiese kennis wat mense laat swymel het nie, maar sy voorkoms. Suid-Afrikaanse politici is nie sexy nie (let’s face it), maar Harris was ’n uitsondering en op Twitter is daardie dag behoorlik gekwyl toe foto’s van hom by die opening van die parlement verskyn het.

Ek wonder of meer mense daadwerklik DA sou gestem het as Harris die partyleier was? Want dit is nou eenmaal so: sex sells. 

Aan die ander kant weet ek nie of skoonheid en sjarme ’n bepalende faktor onder Suid-Afrikaanse kiesers is nie Ons is immers desperaat vir bekwame politici, nie vir sexy politici nie.

Die Nederlandse tydskrif Filosofie het onlangs ’n reeks artikels oor skoonheid gepubliseer. Een mening wat ek interessant gevind het, was dié van die Italiaanse filosoof Francesca Minerva. Volgens haar word veel aandag aan diskriminasie op grond van huidskleur, geslag en ouderdom geskenk, maar weinig aan lookism – oftewel, diskriminasie op grond van uiterlike aantreklikheid.

“Mooi babas word meer vertroetel. Aantreklike mense kry makliker ’n werk, kan gouer die regbank oortuig, wen makliker verkiesings en vind gouer  liefde as onaantreklike mense. Andersom kry laasgenoemde dikwels swaarder strawwe, dis lastiger vir hulle om ’n werk te vind en hulle verdien minder,” voer Minerva aan.

En sosiale media en dating-apps maak dit nog moeiliker. “Neem Tinder as voorbeeld: Vroeër kon lelike mense hulle humor in die kroeg inspan om ’n moontlike liefdespartner te verower, maar nou kom dit nie eens sover as ’n eerste afspraak nie, want hulle word meteens weg geswipe."

Minerva pleit daarom dat mense wat te veel afwyk van ons aangebore voorkeure oor aantreklikheid toegang tot gratis plastiese snykunde kry.

Trouens, die ekonoom David Hamermesh het al bereken dat onaantreklike mense in hullle lewe gemiddeld sowat R420 000 (€20 000) minder verdien weens hulle uiterlike en eintlik daarvoor vergoed moet word.

Een van die beste films wat ek onlangs gesien het, was The Triangle of Sadness waarin skoonheid as betaalmiddel onder die loep kom. Ons ontmoet twee modelle in ’n verhouding met mekaar – Yaya en Carl. Omdat modelwerk een van die min beroepe is waarin vroue meer betaal word as mans, is Yaya se verdienste veel meer as Carl s'n. Dit sorg vir spanning in die verhouding.

As die twee op ’n gratis bootreis saam met ander rykes en bekendes gaan (danksy Yaya se bykomende verdienste as influencer) en die boot vervolgens sink, beland hulle saam met ander gaste én die personeel op ’n verlate eiland. En skielik word die rolle omgeruil: die rykes is nou in ’n wêreld waar hulle geld niks meer werd is nie en die enigste een wat kan visvang, kook of selfs vuurmaak, is die boot se voormalige toiletskoonmaker, Abigail, wat nou in beheer is en onmiddellik in ’n outokraat ontpop.

Die wiel draai ook vir Carl. Sy aantreklikheid help die groep op geen enkele manier nie, maar dien wel as oorlewingsmiddel vir homself: in ruil vir seksuele gunsies kry hy beter behandeling (en etes) van Abigail. Skielik is sy skoonheid meer werd as dié van Yaya.

Minerva se pleidooi klink absurd en is natuurlik nie haalbaar nie. Maar is dit nie ook absurd hoe ons onsself gewillig deur skoonheid aan die neus laat lei nie?

Mooi week.

Anesca


Manuskrip in ’n bottel

ek is van die aarde

ek leef in die stilte

dit het ek lief

Marius Nigrini

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.