ATHOL FUGARD STERF: | SA en die wêreld verloor 'n reus van die teater.
1. Die ANC en sy Gautengse premier, Panyaza Lesufi, is bitterbek oor Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, se aanbod aan pres. Cyril Ramaphosa dat Kaapstad gereed staan om die spitsberaad van die G20-staatshoofde te huisves. Lesufi sê Johannesburg gaan die “beste G20-beraad ooit” aanbied. “We will make sure it does South Africa proud,” het hy getwiet nadat pres. Cyril Ramaphosa sy ontevredenheid met die toestand van die stad uitgespreek het. Die burgemeester, Dada Morero, het intussen beken dat sy stad uitmekaar val, maar gesê die DA moet ook skuld daarvoor kry. Hy gaan die plan om Johannesburg te herstel oormôre aan die president voorlê, het hy gesê.
2. Die minister van finansies, Enoch Godongwana, hou vol dat ’n verhoging in BTW noodsaaklik is, maar hoe langer die DA en ander teenstand daarteen bied, hoe laer word die verhoging. Hy het begin met 2%, maar toe die regering van nasionale eenheid dit nie wou goedkeur nie, het hy gevra vir 1%. Dit was ook nie aanvaarbaar nie en hy het dit toe eers na 0,75% en nou, volgens die Sunday Times, na 0,5% verlaag, blykbaar met die oog op 'n verdere verhoging van 0,5% aanstaande jaar. Die begroting word Woensdag ter tafel gelê.
3. Elon Musk, Donald Trump se vertroueling en raadgewer, sê Amerika behoort Navo te verlaat. In antwoord op ’n twiet deur die Republikeinse senator Mike Lee wat lui “Exit Nato now” het Musk geantwoord: “We really should. Doesn’t make sense for America to pay for the defense of Europe.” Hy het ook gister getwiet: “I literally challenged Putin to one on one physical combat over Ukraine and my Starlink system is the back of the Ukrainian army. Their entire front line would collapse if I turned it off.” Musk besit Twitter/X en 219,5 miljoen mense volg sy plasings.
4. ’n Geestesversteurde man het die naweek ’n saalmaat in die psigiatriese saal van die Philadelphia-hospitaal in Dennilton aan die Oos-Rand aangeval en aan sy geslagsdele begin byt. Die hospitaal se sekuriteitsbeamptes het ingestorm en die aanvaller geskiet. Die aanvaller is in albei bene gewond, maar sy slagoffer is dood met ’n koeël deur sy kop. Een van die sekuriteitswagte is ook gewond, vermoedelik deur ’n opslagkoeël. Die skieter is in hegtenis geneem.
5. Saai, die SA Agri-Inisiatief, het met Solidariteit en AfriForum ooreengekom om saam boere te help wat na Amerika toe wil vlug ná ’n nuwe uitnodiging van pres. Donald Trump. Getraumatiseerde boere, plaasbestuurders wat glo weens swart bemagtiging nie werk kan kry nie en jong aspirantboere sal voorkeur kry. ’n Groot Amerikaanse regsfirma gaan 100 uur bestee om dié vlugtelinge administratief by te staan, sê Saai.
6. Die regering wil ’n nuwe handelsooreenkoms met pres. Donald Trump aangaan, maar niemand in die Withuis wil pres. Cyril Ramaphosa se afvaardiging ’n afspraak gee nie. Net ’n waarnemende amptenaar van die Afrika-departement is glo beskikbaar. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan die New York Times gesê: “When you take a step back and put aside the emotions, you realise there is an opportunity to reset the relationship.” Hy sê die regering verwag nie dat Amerika die Agoa-ooreenkoms met Suid-Afrika gaan verleng nie. “The proposed new trade agreement will therefore replace it.” Die afvaardiging vir volgende maand se tog na Washington sluit lede van Business Unity of South Africa en AgriSA in, sowel as die minister van landbou en DA-leier, John Steenhuisen.
7. Siriese regeringsmagte het die naweek minstens 745 burgerlikes, lede van die Alawite-sekte van Shia Islam, aan die weskus van die land doodgeskiet. Die regering van die waarnemende president, Ahmed al-Sharaa, is Sunni-Moslem.
Op soek na ’n tikkie deernis
Goeiemôre Afrikaners, Afrikaanses en Afrikane
Dit is 'n balans wat ek self nooit regtig kon vind nie: wanneer praat jy hard en duidelik en wanneer saggies en oorredend; wanneer skel jy en wanneer probeer jy gemeenskaplike grond vind; wanneer konfronteer jy en wanneer akkommodeer jy?
Laat ek dit sagkens stel: Ek sou nie 'n goeie diplomaat uitgemaak het nie. My pragmatisme-gene is onderontwikkel.
My bloed het gekook toe ek voorverlede Vrydagaand op CNN kyk hoe Donald Trump en JD Vance vir Volodymyr Zelensky in 'n hinderlaag voor die kameras lei en hom probeer intimideer en verkleineer. As ek Zelensky was, sou ek dalk vir Trump 'n snotklap gegee het en iets oor Vance se ma gesê het.
Dit sou vir Zelensky persoonlike bevrediging gegee het, maar dit sou baie sleg vir sy land en sy mense gewees het. En toe hou hy hom in.
Hy word steeds kwaai gekritiseer dat hy nie net voor Trump gekruip of soos 'n babahondjie op sy rug gaan lê het nie. Nou probeer hy vrede maak, want Oekraïne het Amerikaanse hulp nodig om die oorlog op 'n billike manier te beëindig.
Ek dink dit is 'n goeie balans: Ter wille van die waarheid en van jou eie en jou land se eer en trots kan jy nie tjoepstil bly nie, maar as jy eers die punt gemaak het, kan jy maar toegewings maak en witvoetjie soek.
(Kan ek gou van die punt af dwaal? Ek was aan die begin van Zelensky se termyn nogal skepties oor dié sakeman en komediant se presidensiële meriete, maar Rusland se poging om sy land oor te neem het hom in statuur laat groei. Langs Trump en Vance lyk hy soos 'n groot staatsman. As Trump in sy skoene was, sou hy dadelik die aanbod van asiel in ’n ander land aanvaar het toe die Russe Oekraïne binneval.)
Terug by my tema.
Weens my sterk persoonlike sienings oor waarheid, regverdigheid en menswaardigheid het ek twee keer belowende loopbane vaarwel toegeroep en die pad van my gewete gevolg. Ja, oukei, my persoonlikheid het ook seker iets daarmee te make. My dwars-gene is dalk oorontwikkel; my talente lê meer in die rigting van gatskop as in gatkruip.
Ek verkies reguit praat eerder as mooipraat. Bullshit moet uitgewys en gekonfronteer word. Daar is genoeg paaiers en gatkruipers en vredemakers, mag die liewe Here hulle seën, en nie genoeg komaan-sit-die-donnerse-feite-op-die-tafel nie. 'n Graaf is 'n bleddie graaf, hoekom dit ’n instrument noem waarmee grond omgedolwe word?
Ek slaap wel rustig elke nag, maar as ek eerlik moet wees, was my kompromislose en ondiplomatieke aanslag nie altyd vrugbaar nie.
Dit was die opkoms van die Trump-pandemie en die knape hier te lande wat daarop wil incash en met slagofferskap en “selfbeskikking” smous wat my hieroor laat nadink het.
Flip, Kallie, Dirk, Jaco en Ernst bou almal empire hierop en het op merkwaardige wyse van hulle ou aartsverkrampte KP/HNP/AWB-agtergrond ontsnap en hoofstroom geword. G’n niks meer kakieklere, militêre accoutrements, brandwyn-en-coke, bulderende retoriek en rassistiese taal nie. Meer soos Hendrik Verwoerd, minder soos Eugène Terre’Blanche. Die manne het grade, sommer doktorsgrade, gebruik groot woorde en haal graag filosowe aan. Hulle ry blink Fortuners, nie ou bakkies met die hond voorin en die swart werker agterop nie.
Ons durf nie toelaat dat hulle met bullshit wegkom nie. (En nee, ons moenie hulle probeer stilmaak of van verraad aankla nie. Dís pure Trump-taktiek.)
Maar hoe praat ons met ons mede-Afrikaanse mense op wie se vrese die AfriSol-brigade teer? Ons bure, ons familie, ons gewone taalgenote? Kan ons dit met 'n bietjie deernis en begrip doen?
My indruk die laaste paar weke is dat dit skielik mode geword het vir Afrikaners om die slagofferbaadjie aan te trek. Baie mense wat heel lekker met ons land en sy mense omgegaan het, voel skielik erg beswaard.
Hulle praat skielik saam oor die horde “raswette” en oor die wit jonges wat nie universiteitstoelating of werk kan kry nie. Al wat hulle van Bela en die onteieningswet weet, is wat die propagandiste van AfriSol vir hulle sê: die swartes wil ons Afrikaanse skole gryp en Afrikaners se plase konfiskeer.
Die duisende Afrikaners wat Saterdagoggend gesellig by die Pretoriase Boeremark gekuier het, flat white-koffie in Lynnwood gedrink het, gholf op een van George se vele gholfbane gespeel het, op Hartenbos of Melkbos se strand gaan stap of vriende oorgenooi het om in die lapa te braai en op die groot flatscreen na die Sharks en Lions-wedstryd te kyk, is kwalik die gesig van 'n etniese minderheidsgroepie wat om oorlewing veg.
Om soos 'n slagoffer te voel, maak jou nie een nie. Dit maak saak dat wit Suid-Afrikaners se werkloosheidsyfer 7% is en dié van swart landgenote meer as 30%; dat die welvaart van die sowat 2,5 miljoen Afrikaners meer werd is as dié van 30 miljoen of so swart Suid-Afrikaners, 'n raming wat ek onlangs teëgekom het.
Dit maak saak dat veel meer Afrikaanssprekende kinders op die Kaapse Vlakte jaarliks gewelddadig sterf as wat Afrikaanssprekende boere op plase vermoor word.
Enige gesprek om bitterbek-Afrikaners te probeer oortuig dat hulle met 'n witbrood onder die arm kla en dat hulle heil by solidariteit met hulle landgenote lê, word natuurlik ondermyn deur die vrotsige manier waarop die korrupte ANC die land regeer, dis nou die dele van die regering wat nie deur sy RNE-vennote bestuur word nie.
Dit is in starre kontras tot wat AfriSol bou en bereik. Ergo: ons heil lê by AfriForum en Solidariteit en Saai en Sakeliga en Helpende Hand. So, omdat iemand nie steel nie en 'n Calvinistiese werksetiek het, is hy ons messias?
Ja, dis waar dat 'n groot deel van Amerika se argument teen Suid-Afrika oor ons buitelandse beleid gaan (hoewel Trump self nou veel nader aan Vladimir Putin is as Cyril Ramaphosa – Cyril verwelkom selfs vir Zelensky op 10 April op 'n staatsbesoek, wat beslis nie Putin se goedkeuring wegdra nie.)
Maar Flip, Kallie en kie het vernuftig ingezoom op Trump se verkiesingsbeloftes dat hy DEI (diversity, equity and inclusion, dus regstellende aksie) gaan afskaf, en op die replacement paranoia van die MAGA-beweging. Dit was net die regte snaar om in die Trump-univers te tokkel, en het gou die geesdriftige aanmoediging van die oud-Pretorianer Elon Musk gekry. (Ek wonder of Elon by Pretoria Boys High geboelie is?)
Ek wil nou saggies vir my mede-Afrikaners vra: Gaan dit régtig sleg met julle? Voel julle regtig soos julle swart medeburgers se vyande? Is dit die gevoel wat jy by jou swart kollegas of werknemers kry, of van die swart mense wat saam met jou op Loftus vir die Bulle skreeu?
Dink julle regtig ons moet geen stappe doen om die onregte van die verlede reg te stel en swart mense bemagtig om ook by ekonomiese aktiwiteit te baat nie? Ja, ek weet die ANC het dit vir eie gewin verdraai, maar stem julle met die beginsel saam dat daar so iets soos bemagtiging en regstelling moet wees, soos wat daar vir Afrikaners was ná die Anglo-Boereoorlog en die Depressie?
Is mensliewendheid, naasteliefde, buurmanskap en ruimhartigheid nie die karaktertrekke wat ons Afrikaners hoog op prys stel nie?
Afrikaners was ook nog altyd trotse republikeine. So hoe pas dit in met 'n geheul om buitelanders te vra om in ons sake in te meng? En dan boonop 'n vuige skobbejak soos Trump?
Is julle tevrede daarmee dat Flip en Kallie se aktivisme in Amerika nou sanksies teen Suid-Afrika gaan meebring en Afrikaners weer die muishonde gemaak het?
En: soek julle regtig 'n Afrikaner-volkstaat? Regtig? Is jy so onseker van jouself, so benepe dat jy net tussen Afrikaners wil bly? En gaan julle daarheen trek? Want sekerlik moet julle weet “selfbeskikking” kan net met 'n eie grondgebied werk, die praatjies van “ontplooiende federalisme” en “kerndorpe” is mos sommer slangolie?
Pla dit julle nie dat Flip en Kallie vir die ganse wêreld sê hulle praat namens die Afrikaners, maar ons het hulle nie verkies of aangestel nie en het geen seggenskap in wat hulle sê of doen nie? Waar is die ou demokratiese beginsel van “niks oor my sonder my nie”?
Is julle maar tevrede daarmee dat AfriSol maandeliks dermiljoene uit julle vrese maak, meer as R400 miljoen per jaar, maar julle het nie seggenskap oor wat hulle met die geld maak nie?
Ek sal my mede-Afrikaners ook vra om met 'n oop gemoed na dié video van Betereinders se Johan Erasmus te kyk. Die man maak tog sin, nie waar nie? En hy het ’n beter bedside manner as ek:
Warm Boeregroete van huis tot huis.
Max
sonsondergang vanaf mooihoekberg
windskoon en wipboud soos 'n dikdydas
verdwyn die son tussen blou platbekskeure
die hange agter hange vol amber sonligpels
poele damme vore klik-klak kwikkleurig
koel suurstof laat ongewone longe liglobbig wapper
in die woord adem
adem mirt en salie
hakiesgevlerk kom hy
kom hy geur in die klou
kom klipkoel skemer
gewoon bergvokale vul
– Antjie Krog
Uit: Gedigte 1989 - 1995
Yskoue oorlog
Iemand vertel in die huidige uitgawe van VWB dat hy die graagste dié song van Bob Dylan saam met hom sou wou sing as hy kon kies.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.