’n Bunny chow vir Betsie Verwoerd

HERINNERINGE

’n Bunny chow vir Betsie Verwoerd

HENK SERFONTEIN onthou die dag toe hy per ongeluk in Orania in Betsie Verwoerd se slaapkamer beland het. Hy maak ’n bunny chow vir koeksistertannies wat dalk die verlede anders as hy onthou. Hierdie artikel is die eerste keer op 21 Februarie 2020 gepubliseer.

© HENK SERFONTEIN

EK blameer die toeval en my ouma Anna Ziezanna Dirktiena Briede daarvoor dat ek in Betsie Verwoerd se slaapkamer beland het. Ná my uitgebreide familie se vroegtydige afsterwe het ek jare gelede besluit om ’n reis aan te pak wat ek ’n voorouer- road trip genoem het.

Ek wou gaan soek na die kontreiverhale in Dot Serfontein se Kroonstad. Ek wou gaan soek na haar pa se Afrikanerbeeste op die plaas Erfdeel. My oupa Jan Hendrik Kritzinger se spoorweghuis in Jagersfontein wou ek probeer opspoor, en ek wou ook sommer in die strate van Hopetown, waar ouma Anna naby die Oranjerivier grootgeword het, gaan rondloop.

Dalk het ek bly hoop dat ek my ouma in die droë rivierbedding sou kry, bykans nes daardie wit diamant wat die Griekwa-seun in 1869 op die oewer van die Oranjerivier ontdek het. Dit het later as die Ster van Suid-Afrika bekend gestaan.

Karprobleme voor Orania

Op pad na Hoopstad in die Groot-Karoo het my wit kar begin oorverhit van die versengende hitte en het ’n bordjie met die woorde Orania verbygeflits. Die dorp was skaars 20 km verder en ’n afdraai wat ek nie beplan het nie. Orania was ’n plek wat ek beskou het as ’n Afrikaner-dorp wat gevestig is vir ’n dwaling van ’n idee, naamlik die vestiging van ’n eksklusiewe wit Afrikaner-ras.

Ek was ’n oneerlike besoeker aan die dorp, nie daar om die wit volkstaat te besing nie.

Ek het kort tevore Dot Serfontein se Serfontein-familiealbum gelees waarin sy my stamboom breedvoerig uiteengesit het. Ek het daarin ontdek dat my ouma van geslagte tevore ’n slavin met die naam Christina Abrahamse was wat haar seun Willem Cerventyn in 1744 alleen gaan doop het by ’n Kaapse kerk. Hier is hy in die doopregister opgeteken as ’n slawekind.

Die feit dat ek ’n verlangse kleinseun van ’n slavin is, was vir my ’n gemaklike gedagte en het dalk verklaar waarom ek so teen witheid rebelleer en so baie van kerrie hou. Maar met die oorverhitte kar het ek die vredesprong geneem en besluit om Orania maar tog te besoek. Dit geniet immers kultusstatus (al is dit om ontstellend verkeerde redes).

Die dorp breek bykans terloops aan en ontvou op dieselfde manier. Daar is ’n gewone motorhawe en ’n paar gewone winkels soos in enige dorp in die Noord-Kaap. Daar is die meer gevestigde deel waar daar konserte in Carel Boshoff se tuin gehou word waar onder meer ’n sopraan volkseie liedjies gesing het. 

Hierdie inligting het ek ontdek toe ek, om my visuele geheue te verfris, die meer as 1 000 inskrywings onder #orania op Instagram bestudeer het.

Dan is daar ’n triestige gedeelte met die ironiese naam Klein Geluk, waar karre staan en roes, heinings lyk of hul babelas het en basterhonde rondhardloop in ’n omgewing wat inwoners tot rassuiwerheid moet inspireer. Ek het mans gesien met karikatuuragtige boepense en vroue wat lyk of hulle uit ’n foto van David Goldblatt se Some Afrikaners Photographed gestap het.

Die koeksistermonument

Ek was ’n oneerlike besoeker aan die dorp, want ek was nie daar om die wit volkstaat te besing nie, maar eerder uit nuuskierigheid en om miskien daardie twee meter hoë brutalistiese koeksistermonument van nader te beskou. Openbare beeldhouwerke en die onderliggende propaganda wat dikwels deel uitmaak daarvan, is iets wat my fassineer.

Hulle moes hul moue oprol en vir die Here daardie deegvlegsels in olie bak.

Die koeksistermonument het my nog altyd onrustig laat voel deur sy skynbare onskuldigheid. Die beeldhouwerk was die idee van die Kaalvoetvroue-organisasie wat Susanna Smit herdenk. Sy was die een wat eerder kaalvoet oor die Drakensberge sou loop as om onder die Rooinekke te ly.

Vir die Rooinekke wat nog nooit verskoning gevra het vir die vergrype van die Anglo-Boereoorlog nie, het ek self nie veel ooghare nie, maar dit beteken nie ek wil ’n selfie by die koeksister gaan neem nie.

Inteendeel. Wanneer ek vanuit ’n kunshistoriese oogpunt na die beeld kyk, is dit uitgevoer in ’n brutalistiese styl wat die koeksister blokagtig en monolities laat lyk en herinner aan die geboue wat in die post-Stalin-era in Pole gebou is. Styl en inhoud in kunswerke is nie iets wat ons in beeldhouwerke kan skei nie. Dat die onderrok van die Afrikaner-nasionalisme hier uithang, is nie te betwyfel nie, al kyk ons na ’n betondegie met ’n soeterige sousie.

Uit my kindertyd

Koeksisters het ’n groot rol in my kinderlewe gespeel. My ma het by die NG kerk Eldoraigne op Donderdae koeksisters saam met Adriaan Vlok se ma gebak. Hulle moes hul moue oprol soos die skynbaar onskuldige seuntjie op daardie oranje-blanje-blou vlag van Orania en vir die Here daardie deegvlegsels in olie bak.

Volk en vaderland het gejuig en die kollekteborde was vol. Met die koeksistergeld het die susters ’n massiewe pyporrel en ’n brutalistiese sementtoring vir die kerk losgebak. En terwyl die gemeente “Ek sien ’n nuwe hemel kom” gesing het met die pyporrel se dawerende begeleiding, het die toring, wat uit ’n enkele rou sementbalk bestaan het, sy vinger hemelwaarts gewys.

Met die vergrype tydens apartheid wat die NG Kerk ondersteun het, het daardie sementtoring ál meer vir my soos ’n middelvinger as ’n voorvinger begin voel. Brutalisme as argitektoniese styl is nie esteties baie bevredigend nie en dit is bekend dat inwoners van hierdie geboue vervreemd voel in dié ruimtes. Dit skei eerder as wat dit saambind en verval dikwels in onbruik soos ’n bankrot idee.

Daar was vir my iets onwettig opwindend daaraan om as ’n voyeur deur die huis te stap.

My ma en tannie Vlok was op Donderdae ’n bietjie soos Betsie Verwoerd. Afrikanervroue vasgevang in ’n tydkapsule, soos die sewe vroue op daardie foto van David Goldblatt in sy reeks In Boksburg van die maandelikse vergadering van die Vrouefederasie by ’n vrouelid se huis.

Langs dié foto in die In Boksburg-boek is een van ’n ma wat toekyk hoe haar dogter klavier speel. Dit lyk soos ’n huiskonsert met die vleuelklavier op die geblomde tapyt, die Maltese poedel wat op die stoel lê en ’n kokketiel in ’n kou wat die sentrale motief van die foto is. Ek verbeel my altyd wanneer ek na die foto's kyk dat daar in die hoek van die vertrek ’n skinkbord met 'n bordjie koeksisters, vlaskywe en Cream Crackers gesmeer met botter en Marmite pryk.

Betsie se huis

Dis miskien daarom dat toe ek in Orania by Betsie Verwoerd se huis in Ametisstraat beland, ek besluit het om in te gaan en te maak of ek een van hulle was. Ek het gewonder hoe die artefakte in ’n volkseie museum sou lyk. Was Orania die Ster van Suid-Afrika wat hul stigters aan hul inwoners beloof het?

Daar was vir my iets onwettig opwindend daaraan om as ’n voyeur deur die huis te stap. Die kurator in my het egter gou besef dat die mees ontstellende artefak in die huis dalk nie daardie roomkleurige hemp met die verbleikte bloedkol is wat 6 September 1966 herdenk toe Verwoerd deur Dimitri Tsafendas in die bors gesteek is nie.

Om deur Betsie se laaste huis te stap is om eerder deur ’n oorvol tempel met geheueverlies te loop. Vertrek ná vertrek word artefakte kloustrofobies uitgestal en herroep dit ’n politieke loopbaan, maar nêrens word daar verwys na die misdaad teen menslikheid waarvan FW de Klerk nou ook skynbaar vergeet het nie.

Die vertrek wat vir my egter meer as die een met die roomkleurige hemp die koue rillings gegee het, is die slaapkamer waarin Betsie se rokke op hangers in rye teen die mure gehang het. Die vertrek het na Lavender Handy Andy geruik. Dit het gelyk soos my ouma Anna Ziezanna Dirktiena se rokkies in Sunnyside net voor haar dood. Die ordentlikheid en onskuld daarvan. So vasgevang in onderdanigheid en Afrikaner-patriargie. ’n Pakkie reg vir ’n kerkdiens of die dominee se besoek. So reg vir die regopstaan aan pappa se sy, vir die hys van daardie oranje-blanje-blou net ná die gebed.

Dit het daar bly hang soos trourokke wat die probleme in ’n huwelik ontken.

Dis ook daar waar ek my eerste bunny chow in die government loaf geëet het.

Verskillende onthoue

Sou ek ooit weer Orania besoek, sou ek weer na Betsie se slaapkamer gaan. Ek sou skelm in daardie kamer ’n geraamde foto plaas wat die dag van my besoek in die huis ontbreek het. Die foto van die ontmoeting tussen tannie Betsie en Nelson Mandela in die gemeenskapsaal in Orania. Vir my haar grootste moment ná haar man se dood wat haar vir ’n oomblik soos 'n diamant laat skitter het.

Ek sou in stilte tussen haar rokkies sit en met haar praat en vertel hoe verskillend ons plekke en tye onthou. Ek sou haar vertel hoe ek nou die dag in Seepunt op die promenade geloop het saam met my vriend Gabriel Khan. Hoe ek hom vertel het van my kleintyd-herinneringe van gesinsvakansies in Durban.

Hoe ek saam met my ma gegil het van plesier terwyl die riksja-manne met hul eksotiese hooftooisels (Afrikanerbeeshorings ingesluit) ons rondgetrek het en hoe hulle soos wilde perde in die lug met ons gespring het. Dis ook daar waar ek my eerste bunny chow met gemmer, koljander en steranys in die sogenaamde government loaf geëet het.

Maar ek sou haar ook vertel het dat hoe meer ek bly verlang het na my kleintyd, hoe meer het ek ook vasgedraai in die witheid van my herinneringe. My vriend het al hoe stiller geword. Nadat ek klaar gepraat het, het hy my gedraai na die see sodat ek in die verte Robbeneiland kon sien. Dit was laagwater en die son het die see laat blink soos ’n warm pot koeksisterstroop van my ma, my ouma en tannie Vlok.

Die soelheid en soetheid van die aand is onderbreek deur sý herinnering: “My grandmother's first memory of the Durban beachfront was that they asked her to leave the area because she was Indian. She never went back to the sea again.”

Ons het daar bly staan en staar na die see en Robbeneiland terwyl die Suidooster ons soos twee kerkrokkies se pante deurmekaar waai.


’n Bunny chow vir Betsie Verwoerd

Hierdie ryk beeskerrie is perfek as vulsel vir ’n uitgeholde witbrood. Die gewone supermark-witbrood kan werk, maar ek het 'n ronde rogbrood gebruik.

60 ml olie
1 middelslag-ui, in blokkies gesny
2 klein kaneelstokkies
2 lourierblare
1 steranys
12 tot 16 kerrieblare
2 middelslag-tamaties, in blokkies gesny
1 t garam masala
3 t gemengde sterk masala
1 t gemmer-en-knoffelpasta
1 t borrie
1 t fyn koljander
1 t fyn komyn
1 t fyngemaalde vinkel
1 kg beesvleis (met bene, oortollige vet verwyder en in blokkies gesny)
2 k water of meer indien nodig
sout en peper

  • Verhit die olie in 'n pan en braai die ui tot deurskynend.
  • Voeg die kaneelstokkies, lourierblare, steranys en kerrieblare by en roer deur.
  • Voeg die tamaties by en roer vir 5 tot 10 minute.
  • Voeg die masalas en ander speserye by en roer.
  • Voeg die vleis by en roer deur. Plaas ’n deksel op die pan en laat prut vir 15 minute.
  • Verwyder die deksel en voeg water by. Plaas weer die deksel op en laat prut vir 60 minute. Voeg nog water by indien nodig. Geur met sout en peper.

Vir opdiening

Uitgeholde vars witbrode en Natalse wortelslaai, wat twee grofgerasperde wortels is wat met 'n fyngekapte groen rissie, sout en suiker na smaak, en 2 teelepels witasyn gemeng word.

Sny twee goewermentbrode in die helfte en hol die brood uit om plek te maak vir die beeskerrievulsel. Skep met 'n swaar hand 'n lywige porsie in die uitgeholde brood. Alternatiewelik kan een groot ronde brood se bokant afgesny word om 'n potjiekosdeksel te vorm. Skep die kerrie in die maag van die uitgeholde brood wat 'n potjie vorm en eet met die hand vir daardie ubuntu-gevoel.

Irene's Bunny Chow Beef Curry uit Curry – Stories and Recipes Across South Africa deur Ishay Govender-Ypma. (Human & Rousseau)

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 21 Februarie 2020 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.