Vrywilligers tot die redding van SA se dorpies

KORRUPTE KADERS

Vrywilligers tot die redding van SA se dorpies

Die dorpe op die platteland is terselfdertyd 'n hartseerstorie en 'n inspirerende verhaal. HELEN ZILLE, in haar vorige lewe 'n verslaggewer, vertel van haar onlangse besoek aan Limpopo en haar ontmoeting met inspringers en regmakers.

  • 29 Julie 2022
  • Vrye Denker
  • 9 min om te lees
  • artikel 10 van 25
  • Helen Zille
Image: 123RF/TUPUNGATO

AS jy lus is vir ’n rowwe rit wat jou tegelykertyd woedend, depressief, opgewonde én begeesterd gaan laat voel, gaan kyk ’n slag mooi na ’n paar van die klein dorpies in ons land.

Die deel wat jou rasend en depressief gaan maak, is die chaos, verval, mislukking en verwoesting wat die ANC-kaders agterlaat in hierdie gebiede waar hulle veronderstel is om die munisipaliteite te bestuur.

Die opbeurende en inspirerende deel is hoe gemotiveerde burgers opstaan en vrywilliglik die dienste verskaf wat die plaaslike munisipaliteite nie lewer nie.

Verlede week was ek in Modimolle-Mookgophong, die nuwe naam vir die saamgesmelte dorpe voorheen bekend as Nylstroom en Naboomspruit in Limpopo. 

Toe hulle in 2016 saamgesmelt het – vermoedelik om kostes te spaar – het die ANC-administrasie geweier om ’n enkele persoon van die oorvol personeelstrukture te laat gaan. 

In plaas daarvan om dankbaar te wees dat hulle hul werk kon behou, was baie van die werknemers woedend omdat hul buitensporige salarisse aangepas is na die gemiddelde van die twee dorpe vir die relevante poste. Die houding van dié ontstoke werknemers is sedertdien een van kwaadwillige inskiklikheid.

Struikelblokke

Een van die grootste uitdagings vir die DA wanneer ons ’n munisipaliteit by die ANC oorneem, is die groot aantal onproduktiewe en ongekwalifiseerde kaders wat nie hul werk doen nie. ’n Beduidende aantal, dikwels in senior posisies, beskou hul toegang tot verkrygingstelsels as die reg om soveel as moontlik vir hulself uit die staat te kry – dikwels tot op die punt van afskuwelike korrupsie. 

’n Besoek aan Modimolle-Mookgophong is ’n ontnugtering vir dié van ons wat gewoond is aan funksionerende administrasie in ons eie dorpe. Dis niks minder nie as ontsagwekkend om te sien in watter mate van die plaaslike inwoners verantwoordelikheid neem om die dorp self reg te ruk.

Die stadsraad bestaan uit 14 ANC-lede, sewe van die DA, vier van die EFF en drie van die VF Plus. Die uitvoerende komitee bestaan uit twee ANC-lede, een DA, een EFF en een VF Plus. Dit beteken die verdeling tussen die ANC en die opposisiepartye is 14:14.

Ten spyte daarvan dat sy in getalle oortref word, is die DA se Marlene van Staden tot burgemeester verkies – met ’n muntstuk wat opgeskiet is toe die raad se stemmery ná die plaaslike verkiesing in 2021 gelykop geëindig het. Die speaker is ANC, en die speaker het ’n stem in die meeste raadsbesluite. Dit beteken om enige voorstel deurgevoer te kry, moet Marlene konsensus kry en dít is ’n geweldige uitdaging.

Elke poging om effektiewe prestasiebestuur in te stel, word dus noodwendig gekeer. As enige senior amptenaar probeer om dit toe te pas, word hulle geteiken en hul lewe is letterlik in gevaar.

Ek is ingelig oor ’n waarnemende munisipale bestuurder wat in haar kantoor met ’n blompot oor die kop geslaan is. Sy het gevolglik in haar dop gekruip en sê en doen so min as moontlik uit vrees vir die gevolge as sy personeel aanspreeklik wil hou.

Marlene se mag om goed reg te maak is ook sistemies beperk. Sy is nie ’n uitvoerende burgemeester nie. Sy is die voorsitter van ’n uitvoerende komitee. Dis dié komitee, en nie die burgemeester nie, wat uitvoerende besluite neem. Gegewe die groot ideologiese verskille is dit selfs moeilik om op ’n beleidsprogram ooreen te kom om van die verrotting ontslae te raak en die munisipaliteit vooruit te neem.

Ten spyte hiervan het die ywerige burgemeester met haar onblusbare energie en entoesiasme al baie reggekry om die ramp wat sy geërf het ná twee dekades van ANC-bestuur reg te ruk.

Verraaiers

Die grootste uitdaging is sonder twyfel die administrasie, wat grootliks deur ANC-kaders gedomineer word en waar interne konflik al gelei het tot hofsake wat sedert 2018 die aanstelling van ’n permanente munisipale bestuurder gekeer het.

Soos met alle administrasies is daar wel goeie en hardwerkende mense ook, maar hulle word geboelie om hulle stil te gedra terwyl aanspreeklikheidstelsels heeltemal in duie stort.

Diegene wat hard werk, hou gou op om dit te doen weens die druk van die res. Harde werkers word as verraaiers beskou en word daarvan beskuldig dat hulle “maak of hulle wit is”. Die idee van ubuntu het verval in ’n geforseerde solidariteit om die luiste, mees korrupte en onproduktiefste amptenare met feitlik enigiets te laat wegkom. 

Baantjies vir boeties

Modimolle se totale inkomste is R28 miljoen en sy salarisrekening is amper R20 miljoen, wat beteken daar is omtrent nie geld oor om die infrastruktuur te onderhou nie, wat nog te sê om uit te brei. Die dorp se opgehoopte skuld oor die jare aan Eskom staan op amper R900 miljoen.

Ten spyte van die krisis doen die meeste van die personeel hul bes om nie in normale werkure te werk nie sodat hulle hul take in “oortyd” kan doen en ekstra betaling kan eis. En hulle is baie tevrede met die salarisverhogings wat die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsorganisasie (Salga) vir hulle beding, wat die bankrot munisipaliteit nog R800,000 per maand uit die sak gaan jaag.

Ek is ingelig oor planne om toerusting en infrastruktuur te saboteer sodat die munisipaliteit vragmotors, watertenkwaens en riooltrokke by maatskappye met politieke bande moet huur wat glo goeie geld onder die tafel aanbied.

Ek het ook gehoor van toerusting in werkende toestand wat as skroot verkoop word sodat nuwe toerusting gehuur moet word om ander kaders te verryk. Daar is ook feitlik geen kultuur van onderhoud doen nie.

Moue oprol en inspring

DA-raadslede ry gereeld met hul eie bakkies en waentjies om rommel in hul buurt op te ruim wanneer die administratiewe personeel dit nie laat doen nie.

En dan is daar die wonderlike dorpsbewoners. Mense soos Erna Human wat Aksie Opknap begin het, Sarie van den Berg wat Adopt-a-pothole begin het, en Wiets Botes wat gegroet en verwelkom word waar hy ook al gaan vanweë sy reputasie dat hy dinge gedoen kry. Hy is Wyk 12 se kandidaat in die tussenverkiesing op 3 Augustus.

Die DA-raadslid Antoinette Wagener het ’n organisasie sonder winsbejag genaamd Friends of Modimolle-Mookgophong gestig om die raad te help om van sy basiese administratiewe funksies uit te sorteer.

Antoinette sê sy het dié organisasie begin toe sy tevergeefs probeer het om haar erfplan by die munisipaliteit se beplanningsafdeling te kry toe sy haar huis wou opknap. Sy is kortaf (maar eerlik) meegedeel dat haar planne nooit opgespoor sou kon word nie, want die stelsel is in chaos. 

Dit het haar egter nie afgesit nie en sy het ’n groep van haar vriende (onder wie Alta van Aswegen, ’n ekspert in liasseerstelsels) gevra om die organisasie saam met haar te stig. 

Sy het by die waarnemende munisipale bestuurder aansoek gedoen vir toestemming om te kom help om dinge reg te ruk. Sy het toe wel toestemming gekry, maar tot haar spyt.

Antoinette het vir my foto’s gewys wat my gevoel van wanhoop omskep het in een van geweldige respek vir die werk wat hierdie vrywilligers doen.

Hier is ’n paar foto’s van hoe die “liasseerstelsel” gelyk het toe hulle by die kantoor aankom. “Chaoties” sou ’n báie mooi woord wees om die toestand van die kantoor, asook die kombuis te beskryf.

Hierdie foto’s wys die beplanningsafdeling se “liasseerstelsel”:

Image: VERSKAF
Image: VERSKAF

En só het die kombuis gelyk:

Image: VERSKAF

Antoinette se span het aan die werk gespring om elke papier in die regte lêer in ’n funksionele stelsel te kry sodat planne vir elke erf op die dorp maklik gevind sou kon word. 

Hulle het al hierdie werk vrywillig gedoen omdat hulle lief is vir die dorp en wil hê dit moet ordentlik funksioneer – en dít terwyl diegene wat betaal word om dié werk te doen so min as moontlik doen én daarmee wegkom.

Antoinette se span begin lig in die tonnel sien.
Antoinette se span begin lig in die tonnel sien.
Image: VERSKAF

Dit was nie die enigste ligpunt van my besoek nie: Op verskeie plekke was vrywilligers hard besig om die onderhoudswerk te doen wat munisipale werkers óf weier om te doen óf nie kan doen nie.

Marlene en haar span skenk geld uit hul eie salarisse en samel op hul eie geld in om die werkers te betaal wat hierdie vrywilligers met onderhoudswerk help.

Hier is ’n foto van die optiese-vesel-maatskappy MEGS wat in hul eie tyd slaggate opvul. Die maatskappy dra die koste vir die werk, wat tot R25,000 per dag kan beloop vir toerusting, arbeid en teer. Herotel, ’n internetdiensverskaffer, doen dikwels dieselfde.

Image: VERSKAF

En hier is Van Waveren Plumbers, ’n privaat maatskappy, besig om ’n lekkende ondergrondse pyp reg te maak wat die munisipaliteit al ’n dekade lank ignoreer. Die onderdele alleen was R3,000.

Image: VERSKAF

Inwoners het ook dele van die dorp “aangeneem” en maak onder meer skoon buite openbare geboue en probeer om hulle weer funksioneel te kry.

Kiesers het die mag

Dís die verhaal van klein dorpies in Suid-Afrika. Mense wat lief is vir die dorpe waarin hulle bly, doen wat hulle kan om dié plekke van die verwoesting van die ANC en oorbetaalde kaders te red. ’n Mens sou hoop die skuldiges kry darem skaam, maar ek twyfel. Die duisende neklêers en pagsoekers is waarskynlik eerder verlig dat iemand anders die werk doen, al word hulle self reeds hopeloos te veel vir dié dienste betaal.

Ten spyte van die wonderlike werk wat vrywilligers doen, is dit nie ’n volhoubare manier om hierdie dorpe op lang termyn te onderhou nie.

Die woorde “cry the beloved country” kom by ’n mens op. Dié bekende gedenkspreuk bly, om verskillende redes, van toepassing in elke Suid-Afrikaanse generasie.

In hierdie generasie is dit die volslae mislukking van die sogenaamde bevrydingsparty om enigiemand se belange behalwe sy eie te dien.

Dit is tyd vir kiesers oral om te besef dat hulle die mag het om die situasie te verander deur vir bekwame, toegewyde en hardwerkende mense te stem om die lui plunderaars te vervang.

Daar is nie tyd om te mors nie. Want, soos vrywilligers in sommige dorpe tot hul skok besef, daar kom ’n punt waar dit te laat is en die verrotting so diep is dat dit nie herstel kan word nie.

Gelukkig kan Modimolle-Mookgophong nog gered word danksy die dinamiese burgemeester, ’n handvol DA-raadslede en ’n toegewyde gemeenskap wat opmaak vir ’n wanfunksionele administrasie.

* Die artikel het oorspronklik op die DA se webtuiste verskyn. 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!



Kry ons app vir Android- of Apple-toestelle; lees ons e-pos-nuusbriewe; of volg ons op Facebook en Twitter.
Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.