Sion roep nie Limpopo se swart Jode nie

INHEEMSE AFRIKA-JODE

Sion roep nie Limpopo se swart Jode nie

In die noorde van Limpopo woon 'n gemeenskap van sowat 100 000 swart Jode, die Lemba, wat geen belangstelling toon om Israel toe te trek nie. Trouens, hulle beskou dit nie eens as die Joodse tuisland nie, skryf NOAH TAMARKIN.

  • 10 Mei 2024
  • Vrye Denker
  • 5 min om te lees
  • artikel 13 van 28
  • Noah Tamarkin
Image: ANGELA TUCK

'n MAN wat 'n kalotjie dra, staan op 'n randjie en neem stil die landskap onder hom in terwyl hy sy voorvaders en hul geskiedenisse in hierdie plek in oënskou te neem. Maar dit is nie Israel nie. Dit is Mapungubwe Hill, 'n Unesco-wêrelderfenisgebied in die noorde van Limpopo. Die man in die kalotjie is een van sowat 100 000 Lemba-mense, swart Jode wat in Suid-Afrika en Zimbabwe woon.

Die Lemba glo al lank dat hulle van Joodse afkoms is. In die 1990’s en vroeë 2000’s het wetenskaplikes probeer vasstel of dit geneties gestaaf kon word. Hierdie studies het Y-chromosoom-bewyse van Lemba-bande met ander Jode gevind.

Lemba-leiers het toe teen die verwagtinge in opgetree van diegene wat aanvaar het dat hulle die resultate sou probeer gebruik om 'n beroep op die Israeliese staat om erkenning en emigrasie te doen. Israel hou homself immers voor as die tuisland van alle Jode.

Die Lemba het hulle nie met betrekking tot Israel georiënteer nie. In plaas daarvan het hulle hulle genetiese studies geïnterpreteer as bewys dat Jode Afrikane was en dat die Lemba dus inheemse Afrika-Jode was.

Ek is 'n antropoloog en bestudeer die genetiese kennisproduksie van die Lemba al sedert 2004. Deur die jare het ek by hulle geleer dat inheemsheid – 'n dikwels beskermde status vir prekoloniale volke in lande met koloniale geskiedenisse – en genetiese afkoms kragtige maniere is om regte na te streef, asook om te behoort.

Inheemsheid is 'n politieke konsep en 'n groepsidentiteit wat in die 1970's ontstaan het as 'n manier om die verhouding tussen koloniseerders en die mense wie se grond hulle beset het, te illustreer. Inheemse volke word regoor die wêreld erken as diegene met oorspronklike en deurlopende bande met spesifieke plekke. Lemba-leiers beklemtoon ook grond as deel van hulle identiteit. Maar hulle siening is dat 'n mens in meer as een plek inheems kan wees, en dat meer as een volk aan 'n enkele plek inheems kan wees.

Hierdie begrip staan in skrille kontras met die idee dat Jode van Israel afkomstig is en dus daar hul enigste geldige aanspraak op grond kan maak.


Read this article in English:


Twee lesse

Ek het twee lesse uit Lemba-leiers se begrip van Joodse inheemsheid geleer.

Die eerste is om Israel te desentreer as die primêre Joodse voorvaderlike plek. So iets kan behels om Afrika eerder te sentreer, soos die Lemba maak. Die Lemba by wie ek dit geleer het, glo dat alle Jode oorspronklik Afrikane was.

Soos die Talmoed-vakkundige en godsdienshistorikus Daniel Boyarin aangevoer het, is daar geen enkele tuisland waaruit die Jode gekom het nie en daar is ook nie 'n enkele een wat 'n lewensvatbare Joodse toekoms kan bied nie. Vir Boyarin lê die versekering van 'n Joodse toekoms in die maak van Joodse sin in diaspora-studies en -praktyke, nie in staatsmag gebaseer op etniese identiteit nie.

Dit is in stryd met die Sionistiese siening dat Israel die voorvaderlike tuiste van alle Jode is. Sionisme het in die laat 19de eeu as 'n beweging onder Europese Jode ontstaan en was die dryfkrag agter die skepping van die staat Israel. Dit het gelei tot die gewelddadige verskuiwing van Palestyne wat die land bewoon het en was dus in wese 'n koloniale setlaarsprojek.

Hierdie koloniale verhouding weerklink vandag in die vernietiging van Gaza en sy mense, en in die onwettige nedersettings in Palestynse gebiede wat Israeliese setlaars met staatsondersteuning voortgesit het.

Die tweede les is om dit ernstig op te neem dat inheemsheid in Suid-Afrika vir die Lemba op hulle koloniale geskiedenis gegrond is. In hulle oë beteken om inheems te wees om 'n geskiedenis van onderwerping aan koloniale onteiening te hê. Die Lemba beskou baie ander mense as hulleself ook as inheems aan Suid-Afrika, maar gaan nie sover as om wit afstammelinge van koloniale setlaars in te sluit nie.

Dit volg dus hieruit dat dit onmoontlik is om Joodse inheemsheid in 'n Sionistiese projek te probeer setel.

Genetiese studies

Genetiese definisies van volkedom naturaliseer koloniale idees oor ras. En dit kan erge gevolge hê.

Lemba-genetika het nie Joodse genetika hervorm nie, want die beginpunt vir Joodse genetiese afkomsnavorsing bly 'n onbetwiste definisie van wie 'n Jood is. Studies wat daarop gemik was om grootskaalse Joodse genetiese diversiteit te karakteriseer en om Joodse oorsprong te karteer, het nie Lemba-DNS by hulle Joodse vergelykende monsters ingesluit nie.

Ek wys daarop omdat genetiese afkomsnavorsing nie net gevorm word deur die vrae wat navorsers stel en die statistiese metodologieë wat hulle gebruik om idees te toets nie. Dit word ook gevorm deur hoe groepe mense gedefinieer en genoem word.

Dit maak saak omdat Sionistiese raamwerke van alle Jode as inheems aan Israel soms misleidend van Joodse genetiese studies gebruik maak om hulle aansprake te ondersteun. Dit, saam met die lokalisering van Joodsheid in die biologie, klassifiseer Jode volgens ras.

Om Jode as 'n ras te definieer het reeds tot een volksmoord in Nazi-Duitsland gelei. My vrees is dat die huidige beroepe op Joodse inheemsheid nou in diens van 'n ander volksmoord in Gaza gemobiliseer word.

Dit hoef nie so te wees nie. Die Lemba wys vir ons dat daar anti-koloniale Joodse alternatiewe vir Sionisme is. Hulle wys vir ons dat Jode hoort waar hulle ook al is, nie ten koste van ander nie, maar langs en in solidariteit met hulle.

Noah Tamarkin is 'n navorsingsgenoot aan die Wits-instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing en medeprofessor in antropologie en wetenskap en tegnologiese studie aan die Cornell-universiteit. 

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer deur The Conversation.

The Conversation

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.