Verruim jou woordeskat met Nederlandse vloekwoorde en...

TAALKASKENADES

Verruim jou woordeskat met Nederlandse vloekwoorde en Annerlike Afrikaans

Toe HERMAN LATEGAN op Facebook met expats in Nederland begin vuisslaan, het hy ’n paar van hulle vreemde vloekwoorde ontdek. Hy het ook vir die pret sy kontreitaalwoordeboek, Annerlike Afrikaans, (en ander) nadergetrek.

Image: JEFF RANKIN

Die Kaap is weer Hollands

DAN en wan as ek vermaak wil word, of 'n ontwrigter wil wees, gaan loer ek na wat die mense op die Facebook-groep Suid-Afrikaners in Nederland te sê het. Dit is 'n aardige tjou-tjou van óf diegene wat hulle doodhuil van verlange na die moederland óf daai wat die land uitmekaar skeur.

“Selfs jou honde is gelukkiger hier,” blaf een anderdag. Dan hierdie juweel: “Nee, die mense het nie algemeen los waardes nie. Daai vrou wie dit vir jou gesê het, is gek.” (Sic.)

Watter los waardes en watter vrou? wonder ek. Nog 'n aanprysing: “Nee, jou vriend was verkeerd oor die ‘vreeslike smakelose vrugte’ wat in die ‘koue lande’ is. Die vrugte en groente in Nederland is lekkerder, hoor.”

Haai julle, wat is daar dan nou nie om te geniet nie? Jou hond jubel, die mense het nie los waardes nie (tog jammer), en die vrugte is nog beter as Suid-Afrika s’n. Dié Facebook-groep kan soms erg onder mekaar baklei, maar vra ook raad of ruil resepte uit.

Daar word byvoorbeeld oor vetkoek uitgevra, maar die koek wat die prys wen is 'n biltongkoek (sien foto’s). Anoniem vra: “Hiiii almal. Ek is opsoek na iemand/'n plek wat 'n Biltong koek verkoop, soos in die prentjie. Laat weet my asb as julle aanbevelings het.” (Sic.)

Toe ek eendag vra hoekom hulle in Engels en Afrikaans skryf (en swak daarby), en nie in Nederlands nie, ruk die voetsoldate op, 'n skermutseling volg, en een man vloek my oorle ma onder haar rok uit. Ek dog toe ek sal terugvloek, maar in Nederlands.

Ek gaan soek na 'n paar woorde en was verras oor hoe kwaai en vreemd sommiges kan wees. Vir die een wat my ma aangeval het, skryf ek: “Jou ou lanterfanter dakduif, gaan koer en rumoer op 'n ander plek.” Hoekom dakduif so 'n belediging is, weet ek nie. Achterlijke dakhaas is nog een.

Ek wend my tot die etymologiebank.nl en daar staan opgeteken in die Groot scheldwoordenboek: van apenkont tot zweefteef, dat dakduif meestal na hare verwys. Jou bles dakduif, jou rooi dakduif (rooi hare) of selfs jou ou skeel dakduif. 'n Graftak is 'n bejaarde persoon.

Die Nederlanders het nogal 'n obsessie om siektes as vloekwoorde te verbaster of te gebruik. Jy word 'n tyfuslijer genoem (iemand wat tifus het) of jy word sommer 'n kankerlijer! 'n Mens kan op iemand skree: “Krijg de pest!” Kry 'n plaag.

Teringteef is nog een. Nogal erg is rot op (f-off) jou je vieze vuile stoephoer. Eina. Is jy 'n moffenhoer? Dan hou jy van die Duitsers.

Mierenneuker is iemand wat glo metafories met miere omgang het. Pannekoek is ook 'n skelwoord, nes babbelkont – dit is wanneer jy 'n babbelbek is.

Kont beteken meestal boude en enige verwysing na vroulike geslagsdele is lankal in Nederlands verouderd in standaardtaal, maar kom steeds in sommige dialekte voor. Waar hulle aan die woord klootviool kom gaan my verstand te bowe, want 'n kloot is 'n skrotum en 'n viool, wel 'n viool.

As jy van woorde hou, is vloekwoorde perdalks deel van jou repertoire. Daar is 'n webwerf in Afrikaans wat swetswoorde ondersoek. Hulle doen goeie werk en benader dit vanuit 'n taalkundige invalshoek.

Annerlike Afrikaans – kom ons praat kontreitaal

Terwyl ek na Nederlandse kragwoorde gekoekeloer het, val my oog op 'n woordeboek wat my eindelose plesier gee. Dit is Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal, deur Anton F. Prinsloo.

Ek weet nie of julle wat in die platteland grootgeword het, of nog familie daar het, al agtergekom het hulle taalgebruik en idiomatiese uitdrukkings is baie meer kleurvol as die Afrikaans van die stede nie.

Stedelinge praat 'n tipe afgewaterde akwareltaal, amper asof dit net vir die besigheidswêreld bedoel is, neutrale zombieagtige woorde, min kleurvolle sêgoed, leë drywende seepbelle. Afrikaaps het nog sy hart en die mooi Bo-Kaapse Afrikaans is besig om uit te sterf. Tog jammer.

Ek maak sommer by enige blad van die woordeboek oop. Uit Caledon kom die woord kastrolsiek. Jy is teësinnig vir koskook. Kastrol (kookpot) en siek word kastrolsiek. Wonderlik.

In Hendrina praat die mense van 'n kerkhoesie, daardie droë, irriterende, aanhoudende proes as jy in die kerk sit. Griekwaland-Wes het 'n eufemisme vir as jy doodgaan, dan het jy kersdoodgeblaas.

Uniondale se inwoners praat van janblaar wees op jou mooi vrou, dan is jy jaloers. In Sterkstoom is jy 'n hoenderstuitjie as jy van skinder hou.

Wanneer laas het jy in Saldanhabaai frikkedellefettie geëet? Wat is dit? 'n Gereg van aartappels, rys en snoekkoppe. Ná 'n lang gesoek het ek steeds geen idee hoe daardie woord van die vissermanne ontstaan het nie. Ek sal verder delf.

Kom ons raak roekeloos en praat oor braai

As jy nog woordeboeke wil hê, besoek roekeloos.co.za. Ek lees gereeld die woordelys van kookterme en die Xhosa-Afrikaans Woordeboek.

My geliefde een is egter Quintus van Rensburg se tweetalige Dié Roekelose Woordeboek. Hy het 'n oog vir stuitige neologismes.

Die Afrikaans vir alkohol is boorgatsous; gevegstroop; huismoles; skerpioensop; slingersous; tiermelk; waggelwater. Biltong is ons eie boeresoesji.

Daar is baie woorde vir dagga: elektriese spinasie; giggelgras; laggras; papegaaislaai; rondkyktwak; wilde pietersielie. Om op kierieverlof te wees, is om af te tree.

As dit by braai kom, het hulle hulle eie lingua franca. Daar is 'n Kalahari-oester: 'n lietsjie waarvan die pit uitgegrawe is, sit dan 'n mossel in, draai spek om die vrug, druk 'n tandestokkie daardeur en braai in knoffelbotter in 'n pan oor die vuur.

Ek het al gehoor dat daar na die murg in 'n been wat jy uitsuig as 'n Kalahari-oester verwys word. Gaan na die Braaiwoordeboek, waar jy sal sien 'n Naas Botha-braai is wanneer die persoon wat braai alles “drop”.

Op dieselfde webwerf: knortoffie – iemand wat sommer lekker mislik is by 'n braai of waar hy ook al mag wees. Hy is 'n regte ou knortoffie.

Ken jy 'n Chris Barnardjie? – uit die hart van die Karoo, Beaufort-Wes. 'n Gemarineerde skaaphartjie met 'n vulsel van uie, spek, sampioene, verskeie kase.

Nou toe, stedelinge, verruim daai woordeskat sodat daar 'n môrester in julle harte kan opkom.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.