ONS was almal in die VIP Lounge van Kartoem se lughawe besig om ons laaste glasies granaatsap te drink toe 'n Soedanese amptenaar na my wink. 'n Paar swaargewapende soldate het my begelei na 'n leë skuur, waar 'n tas eenkant gestaan het. O, het ek lui gedink, hulle wil seker weer die een of ander veiligheidsdemonstrasie doen. Maar waarom net vir my? Tot ek weer kyk: dis my eie tas! Hulle wil dit opblaas!
Dié tas eenkant in die skuur was die eerste herinnering wat by my opkom toe ek laas week hoor van die val van die Soedanese diktator Omar el-Bashir, en twee dae later, van sy regterhand, Salah Gosh.
Gosh se aanhouding het ’n nuwe ronde feesvieringe in Kartoem afgeskop, want hy was eens die gevreesde hoof van die geheime diens, die NISS. Talle mense is deur sy agente gemartel, en hy is gesien as die brein agter vele van die Bashir-regime se vergrype, van die weste in Darfoer tot die suide in vandag se Suid-Soedan.
Wye front teen die dinosourusse
Omar el-Bashir, die eertydse aanvoerder van ’n tenk-regiment, het Soedan se militêre regering oorgeneem ná ’n staatsgreep in 1989. Eers 30 jaar later is hy ontsetel, ná weke van opstand in Kartoem in Maart en April as gevolg van ’n verhoging in broodpryse, die stapelvoedsel van die land.
Dié keer het die opstand geslaag, want die ekonomie het so drasties verswak ná die afskeiding van Suid-Soedan dat talle lede van die professionele stande in die rebelle se geledere ingetrek is, en ’n wyer front as gewoonlik op die been kon kom. Pleks van skares af te maai om twee dinosourusse van diep in die 70 jaar oud aan bewind te hou, het die generaals teen Bashir gedraai en met die betogers gaan praat.
Of die militêres hul belofte gestand gaan doen om ’n meer demokratiese bedeling in te lui, gaan die volgende groot kwessie wees. Die spertyd wat die soldate aan hulself gee voordat 'n tussentydse regering 'n volle demokratiese een word, is reeds ’n hele twee jaar – nie 'n goeie teken nie.
Dubbelpratery en ommeswaaie
Wat ek in 2005 ervaar het tydens een van die eienaardigste reise van my loopbaan as joernalis, is die kultuur van dubbelpratery en ommeswaaie onder Bashir. My koerantgroep is uitgenooi na die jaarlikse vergadering van die Committee for Intelligence and Security Services (Cissa) in Africa. Ek het laat weet ons stel net belang as ons Darfoer ook kan besoek, waar Amerika pas die honderde duisende sterftes tot ’n volksmoord verklaar het. Geen probleem nie, het die Soedanese ambassade in Pretoria tot my verbasing gesê.
Cissa lyk soos een van daardie pan-Afrika-organisasies wat begin het as ’n “goeie idee”, maar toe afgewentel is na ’n kantoor iewers in Addis Abeba of die Pretoriase middestad vir iemand om ’n salaris te trek en knipsels uit koerante te vergaar. Maar hierdie jaarvergadering, die tweede ná sy stigting in Abuja, Nigerië, was net ná die poging tot 'n staatsgreep in Ekwatoriaal-Guinee, wat misluk het toe Robert Mugabe Suid-Afrika as een van die geheime borge in die rug gesteek en die vliegtuig vol huursoldate op Harare se lughawe laat aanhou het.
Hy het ten duurste 'n nuwe kompleks op die walle van die Nyl laat bou om die gepaardgaande AU-spitsberaad te huisves, en nou kon hy darem die wit olifant verander in ’n wit haas om uit ’n hoed te trek.
Suid-Afrika moes maak of sy intelligensie oor die projek hom in die steek gelaat het, en om die storie te laat werk, het hy in aller yl miljoene bestee om Cissa te bevorder in sy kwansuise poging om die “kontinentale fout” reg te stel. Cissa se volgende roterende hoof was Soedan, en die volgende Cissa-beraad dus in Kartoem.
Bashir het op sy beurt ’n kans gesien om verlore aansien terug te wen nadat die Afrika-Unie twee jaar tevore versuim het om hom as die roterende voorsitter van die AU-kommissie aan te stel. Dit was nadat hy ten duurste 'n nuwe kompleks op die walle van die Nyl laat bou het om die gepaardgaande AU-spitsberaad te huisves, en nou kon hy darem die wit olifant verander in ’n wit haas om uit ’n hoed te trek.
Ongeluk was net, as diktatoriale bewind was Soedan nie gewoond aan 'n vrye media nie. Cissa het 'n voorskou gehou en Soedan se brig. Mohammed Al-Hassan het ons ingelig ons mag nie die konferensie self bywoon nie. Waarom is ons dan daar, wou iemand weet? Hassan het erg kleigetrap, en iets gesê omtrent die pers en intelligensie wat dieselfde is, want albei gebruik vertroulike bronne. Wou hy dan hê ons moet rondsluip en rondloer soos spioene? Was die doel van Cissa om Afrika-regerings te help om mekaar aan die bewind te hou, het ek gevra, waarop Cissa se uitvoerende sekretaris, Dennis Dlamini van Suid-Afrika, die mikrofoon oorgeneem het en verklaar het die regte van die individu oortref alles. Hassan het nie 'n oog geknip nie, maar dalk was dit omdat sy tolk geswyg het. 'n Wyse jongeling.
Verder wou Dlamini niks verklap nie. Nie hoeveel lede Cissa het nie, wie in Kartoem is en wie nie, niks oor die begroting … Agterna oor ’n glasie granaatsap het ek hom probeer pols oor Suid-Afrika se rol in die debakel van Ekwatoriaal-Guinee, maar die enigste afleiding wat ek kon maak – ná sy diplomatiese stiltes afgewissel met diplomatieke nikswoorde – was dat hy sy werk goed doen.
Psychedelia, ‘pepsioene’ en maer ribbes
Daarna is ’n groot straatparty gehou. Voor die moderne hoofkwartier van Gosh se intelligensiediens is ’n verhoog kompleet met psigedeliese ligte op die grasperk opgerig… om ’n popgroep te huisves. The Pseudonyms, het ons gespot oor hul naam, wat nooit bekend gemaak is nie. Arabiese danse is toegelaat, ’n soort rillende manier van op en af spring, en kort voor lank het ’n rits van Afrika se magtigste spioene daar rondgedobber asof hul vyande besig was om brandende kole onder hul voete in te gooi.
Daar was 'n borg, Pepsi-Cola, wat almal seker in “pepsioene” verander het. Stapels maer braairibbes van bokke in skottels was die enigste element wat ’n Soedanese aansien aan die affêre verleen het, afgesien van die elegante ontwerpersluiers van die Moslemvroue. Ons het almal met groot konsentrasie aan ons beentjies geknibbel om darem 'n ietsie vlies te kry.
Die Soedanese kommunikasiediens het nie mooi geweet wat om met die media te doen nie. Ons is na die een ná die ander vergadersaal aangery waar ons die jongste state-of-the-art-mikrofone en modieuse teekanne kon bewonder. Beloofde sprekers het net nie opgedaag nie.
Wit krokodille en maanskyn-baksteen
Sommige joernaliste het die volgende dag geweier om dieselfde ding te ondergaan en ons is toegelaat om onder begeleiding die stad in te vaar. Ek wou die plek besoek waar die Mahdi in die 19de eeu deur die Britte van lord Kitchener omsingel en doodgeskiet is; hy was die aanvoerder van die Soedanese rebellemag wat naas die Boere ’n paar jaar later die enigste Afrikane was wat die Britte op die slagveld kon verslaan. Dit was op die eiland Tuti, is ek vertel, in die mik van die sameloop van die Wit en Blou Nyl, en ’n groepie van ons is soontoe.
Op pad is ons gewys waar ’n inwoner elke aand sy “vriende”, ’n sestal wit krokodille, 'n klomp hoenders kom voer. Nee, hulle dink nie daaraan om hom ook te eet nie, hulle is hondmak. Die eiland was interessant genoeg, ’n idille in die middel van die stad, waar eenvoudige boere se landerye strek langs die hoë kleimure van 'n paar rykes wat daarheen gevlug het, al moes die daaglikse gewag vir die veerboot oor die Blou Nyl ’n pyn gewees het.
Ons het ’n sjadoef gaan bekyk, soos dit 4 000 jaar gelede seker ook gewerk het en by ’n steenmakery het ek gevra of ek ’n baksteen kan koop, want ons gids het gesê dieselfde klei is in Egipte gebruik vir die paleise van die farao’s – die kleur was ’n soort subtiele maanskyn op die sand van die Sahara.
Die Mahdi se laaste bastion was teleurstellend, ’n grondwal in ’n sirkel waaragter sy wagte gestaan en op die Britse patrollie gevuur het. Later sou ek ontdek dat daar vele plekke in Kartoem en Omdoerman is waar hy glo sou gesterf het.
Die volgende dag is ons verdeel in twee groepe en aangery na twee vliegtuie: een vir Juba, wat in 2011 die hoofstad van Suid-Soedan sou word. Die ander groep was op pad na El-Fasher, die grootste stad in Darfoer. Amptenare het ons na die aanloopbaan begelei, waar ek en die ander Suid-Afrikaners skielik na die Juba-vliegtuig weggekeer is. Ons het saam besluit, nee, ons gaan Darfoer toe, soos afgespreek, en oorgestap na die ander vliegtuig.
Ons het redelik agter gaan sit, maar toe is daar die eerste versteuring. ’n Keniaanse span is bars beveel om die vliegtuig te verlaat. Later sou ons hoor ’n kritiese artikel oor Bashir het in ’n koerant in Nairobi verskyn. Steeds wou die vliegtuig nie opstyg nie. ’n Paar soldate het aan boord gekom en na ons Suid-Afrikaners tussen die bagasie deur aangeskuifel. Ons moet na die Juba-vliegtuig.
Spektakel van verset
Die SABC-span het gehoor gegee, maar ek en Aisha Kajee, toe by Wits se Wiser-instituut, het geweier. Toe die soldate hardhandig raak, het ons aan die sitplekke geklou soos wafferse anti-apartheidsbetogers aan ’n lamppaal en luidkeels geprotesteer oor persvryheid en aangedring: Óf ons vlieg na Darfoer, óf ons vlieg nog verder aan terug na Johannesburg. 'n Span van 'n nuusagentskap het mooi saamgespeel en alles ywerig verfilm. Vandag voel ek verleë oor die spektakel, maar ná ’n paar minute hiervan is ’n bevel voor in die vliegtuig geblaf en ons kon bly sit.
Die vliegtuig was vol spioene van lande vanoor die wêreld heen, nie net Afrika nie. Langs my het ’n Jason Bourne-tipe gemompel hy is van Oostenryk. Toe ek vra wat hy dink van Darfoer, het hy my afgejak: “Mind your own business.”
Toe die soldate hardhandig raak, het ons aan die sitplekke geklou soos wafferse anti-apartheidsbetogers aan 'n lamppaal en luidkeels geprotesteer oor persvryheid en aangedring: Óf ons vlieg na Darfoer, óf ons vlieg nog verder aan terug na Johannesburg.
Op die vlug na El-Fasher kon 'n mens dit alte duidelik uit die lug sien: die sirkels gelaat waar gehuggies in die woestyn afgebrand is deur Janjaweed-milisietroepe, gewapende ruiters wat dikwels begelei is deur helikopters van die Soedanese lugmag. En op die lughawe die lendelam, half geroeste vliegtuie waarmee die sogenaamde vredesmag onder die vaandel van die Verenigde Nasies moes klaarkom.
Ons eerste afspraak was met die hoof van die vredesmag. Hy en ander offisiere het die Soedanese perke probeer omseil deur ons in siviele klere te woord te staan in “siviele tyd”. Die man met die blaf, Mohammed Atta, het hulle laat begaan, vir ’n volle twee minute. Prominent uitgestal was ’n kaart met die posisies en sterktes van die verskillende magte. Toe Atta besef ons almal neem dit af, het hy die sessie summier stopgesit.
Saam met ons was ’n Brit wat luidkeels pro-Soedanese uitsprake gemaak het. Die eiendomspryse in El-Fasher is die tweede duurste in die wêreld naas Londen, het hy beweer. Dis omdat die sogenaamde volksmoord sulke groot besigheid geword het, met al die nieregeringsorgnisasies en VN-eenhede wat daarheen stroom.
“Vir wie werk jy?” het ek hom gevra. “Vir myself,” het hy gesê. Sy besoek aan Darfoer is geborg deur ’n Londense organisasie “wat die waarheid wil bevorder”. Sy grootste vorige projek was “om die leuens omtrent Renamo in Mosambiek te probeer teenwerk”.
Ons het middagete geëet omring deur gewapende wagte, maar dit was nie seker of dit was om óns of die plaaslike bevolking te intimideer nie. By die volgende vergadering was onse spioene, met fronse op die voorkoppe, duidelik onwillig om die saal binne te gaan.
Noodknyp op die bus
Maar eers is ons na die reusagtige vlugtelingkamp van Aboe Sjouk. Ná die uitbreek van die burgeroorlog het 80 000 mense na El-Fasher met sy bevolking van 160 000 gestroom, aangelok deur die humanitêre hulp. ’n Ry polisiemanne, gewere gereed, het gekeer dat ons naby aan hul stasie kom, ’n modderhut teenaan ’n omheinde vierkant vol toerusting onder seile.
Die bus was naderhand so stil soos ’n restaurant vol spioene soos ons gesit en knyp het.
Die Soedanese amptenare in hul wit klede en tulbande kon skaars hul afkeer in die “zoergas” (’n skelwoord vir swart mense) wegsteek. “Hulle stroom hierheen want hulle wil nie werk nie,” het een gesê.
Hulle wou ons nie toelaat om uit die mediabus te klim nie, nie eens om water af te slaan nie. Die bus was naderhand so stil soos ’n restaurant vol spioene soos ons gesit en knyp het.
Propaganda en luislangvel-skoene
Die groot inligtingsessie is gehou in ’n vakansieoord, wat sterk herinner het aan 'n Rondaliakamp. Grant se gaselle, wat baie na springbokke lyk, het tussen ons rondgeloop, sonder enige vrees vir pistole met knaldempers aan. Hier het Atta die propaganda herhaal dat net 9 000 mense in die burgeroorlog gesterf het, en nie die geskatte 200 000 tot 400 000 van die VN en andere nie. Die mediamense het hardop gelag. Die regering het geen beheer oor en geen belang in die Janjaweed nie, het hy op ’n vraag geantwoord. Waarom keer die regering hulle dan nie? Ons kom altyd te laat daar aan, was Atta se antwoord.
'n Geskenkpakkie is aan elke “land” oorhandig, ’n mandjie met ’n paar skoene van luislangvel. Zimbabwe en Suid-Afrika het hulle s’n agtergelaat. ’n Italiaanse fotograaf het sy balans verloor en ’n tafel met ’n glasblad stukkend geval. Bloed het uit ’n diep sny in sy arm gestroom.
Niemand het ’n vinger verroer om hom te help nie, en ons mediamense moes die wond met papierservette en sakdoeke probeer stop voordat hy by die VN-basis gehelp kon word.
’n Geskenkpakkie is aan elke “land” oorhandig, ’n mandjie met ’n paar skoene van luislangvel. Zimbabwe en Suid-Afrika het hulle s’n agtergelaat.
In Kartoem, ná ons terugkeer, was die vliegtuig besaai met mandjies en slangvelskoene wat die spioene nie wou saamneem na hulle hotelle nie.
Later die middag het Aisha my kom wys: Sy het haar kamera in haar hotelkamer vergeet, en toe sy deur haar foto’s blaai, sien sy ’n reeks wat sy nie geneem het nie. Dit was van vulstasies. Iemand moes haar kamer betree het, die kamera geneem het, die foto’s gaan kliek het en dit weer gaan terugsit het.
Maar waarom? Al waaraan ons kon dink, was dat die agent met die kamera gespeel het terwyl sy makker brandstof ingooi. Geplant kon hulle nie wees nie, want sy kon hulle eenvoudig uitvee, tensy die agent dom genoeg was om te dink sy sal versuim om dit te doen. Wou hulle haar “frame" as geheime agent wat foto's van vulstasies neem om hulle op te blaas?
Gevreesde, dog beteuterde man
Die dag daarna moes ons buite die konferensiesaal wag terwyl die spoke vergader. Uiteindelik is ons na binne gelei, om die slotwoorde van Gosh aan te hoor, want hy sou die nuwe baas van Cissa word. Ek was geskok om te sien watter beteuterde mannetjie die mees gevreesde man in Soedan was.
Ek het my baksteen in die middel van my klere gepak sodat dit met die hantering nie dalk die tas beskadig nie. Toe ek eenkant toe geroep is, was dít wat die sekuriteitsmense se aandag getrek het: Die reghoekige voorwerp reg in die middel.
Sy stemmetjie was skaars hoorbaar en sy een ooglid het gedruip. ’n Amerikaanse joernalis het na hom geroep om 'n paar vrae te beantwoord, en Dlamini het probeer keer, maar toe tree Gosh onseker na die mikrofoon. Hy het die hele tyd afgekyk en net in Arabies geantwoord. Niemand het dit vertaal nie.
’n Plaaslike joernalis het wel vertel Gosh het gesê die volksmoord is ’n kwessie tussen die Demokratiese Party en die Republikeine in Amerika en het niks met Soedan te doen nie.
Daar was ’n lekker party net vir die media op 'n Nylboot, en die aanvallige sangeres het so gelag vir my na-apery van Arabiese danse dat sy plek-plek nie kon sing nie. Die volgende dag is ons lughawe toe geneem. Ek het my baksteen in die middel van my klere gepak sodat dit met die hantering nie dalk die tas beskadig nie. Toe ek eenkant toe geroep is, was dít wat die sekuriteitsmense se aandag getrek het: Die reghoekige voorwerp reg in die middel. Hulle het dit op ’n monitor vir my gewys.
Die baksteen keer terug
Dis ’n baksteen, nie plofstof nie, het ek probeer verduidelik. Ek moes seker redelik kranksinnig oorgekom het. Ek het aangebied om dit te gaan haal. Hulle moes eers beraadslaag daaroor, maar met soldate wat regstaan met hul gewere, het ek my tas oopgerits en dit omhoog gehou. Hulle het dit eers van alle kante besigtig voordat hulle skaapagtig besluit het, ja, dis ’n baksteen.
Almal was verlig, ek natuurlik die meeste. Toe een amptenaar bly staan met die baksteen in die hand, het ek gevra of ek dit kan terugkry.
Hoekom? Wou hy weet. Want dis mooi, het ek probeer verduidelik, en ek wou noem van die kleur van maanskyn op die sand van die Sahara, maar het besef “moonshine” sal dalk nie werk nie. Dit sal help met die Afrika-Renaissance, het ek probeer, dit wys op die Nubiese konneksie met die farao’s van Egipte. Miskien was dit my ydele gebruik van Egipte se naam, maar dit het die deurslag gegee. Die amptenaar het die baksteen sonder 'n verdere woord in ’n plastieksak toegeknoop en laat wegneem.
Pretoria en diktators
Op die vliegtuig het ons dit bespreek: Hoe kon Suid-Afrika hom laat betrek by sulke mense, aangedryf deur nie veel meer as paranoia nie? Nou, in 2019, soveel jare ná 2005 bly dit ’n duistere saak dat Pretoria steeds agteroor buig vir diktators.
Ons regering het sy grootste skandvlek op homself gehaal toe hy aktief vir Bashir gehelp het om die land uit te vlug voordat ’n hofbevel in werking kon tree om hom in hegtenis te neem.
Aan wie se kant is die regering agter die skerms?
Wat die vraag laat ontstaan: Aan wie se kant is die regering agter die skerms? Aan die kant van die Soedanese betogers wat soos Suid-Afrika se UDF destyds teen die onderdrukkers probeer optree, of die diep staat van die militêre, ten tyde van hierdie skrywe aangevoer deur lt.gnl. Abdel Fattah Abdelrahman Burhan, ’n man wat sy kennis van mag op die moordvelde van Darfoer opgedoen het?
En as dit laasgenoemde is, wat sou dit vir ons gewone Suid-Afrikaners beteken?
- Hierdie artikel is die eerste keer op 19 April 2019 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.