JARE gelede tydens apartheid se lang begrafnis was ek in Johannesburg aan tafel met die skrywer V.S. Naipaul. “Why do you live in such a mediocre place?” wou hy weet. Ná ete is koffie bedien en Sy Deurlugtige Hoogheid het in ’n gemakstoel teruggeleun met ons om hom gerangskik soos akoliete aan die voete van Gamaliël. Dit was ’n tyd vir toekomsdrome. Die vraag op almal se lippe is aan hom gestel: “Where do you think South Africa will be in twenty years?”
Sy antwoord: “It will still be here.”
Dit is nou 20 jaar later en South Africa is still here met ons steeds verstar om ’n glasbal bewierook deur voorspellings à la Madame Blavatsky in ’n versugting na maklike antwoorde op die vraag: Wat gaan van ons word?
Dit is ons oggendkloek en avondsvloek. Is dit neusie verby of Jan Tuisbly se karretjie ry? O waar sal jy gaan en met watter skip? Die aarde is branding en oral is klip. Wend jou na die literatuur, maan ’n opgevoede vriendin, indien jy wil weet wat aangaan, of herbesoek die geskiedenis. Volgens haar is koerant vir vuurmaak en by onstentenis aan toiletpapier.
Van ons vroeë geskiedenis onthou ek maar min, behalwe dat ons laerskool-geskiedenisonnie ook vir ons Sotho gegee het en sy naam was Piesang en daar was allerhande harlekynoorloë en die Sandrivierkonvensie en Gideon van Rooyen se kysbriefies wat onder skoolbanke na my aangevlinder gekom het. Ek was vir sewe jaar lank smoorverlief op Gideon, van Bollie Kleuterskool tot in standerd vyf, toe ’n by hom op die neus gesteek het en hy skool toe gekom het met ’n opgeswelde gesig en toe val die koek plat.
Volgens familie-oorlewering het ons Voortrekker met sy bruid uit Bruintjieshoogte se wêreld oor die Grootrivier gekom, met Slagtersnek nog soos ’n warm asem in die hals en hulleself gevestig in ’n landskap wat deur ’n goewerneur bejeën is as “een huilende woestyn”. En op hulle spoor het ander gevolg. Swendelaars, smouse en Engelse. Almal was bang vir Mosjesj en sy Basotho's, insluitend Hartseer, die enigste swart polisieman in Bloemfontein.
“A lot of ignorant, unenergetic, illiterate animals ... the most uncouth, ugly varmints of all," is hoe ’n sekere grootwildjagter die vroeë Vrystaatse boere in sy dagboek beskryf het. My grootoupagrootjie, een van die varmints, het in die Volksraad van die ou Vrystaatste Republiek beswaar gemaak teen die onbeteulde uitroeiing van die wild, en sy pleidooi is in Hooghollands opgeskryf in die Hansards wat Pa as Kersgeskenk aan my bemaak het. ’n Hele klomp volumes onder die Krismisboom in een van daardie outydse bruin tasse met ’n handvatsel en blink gespes. Ook sy eerste uitgawe van Van der Merwe se Geskiedenis van die Trekboer. In die kaartjie staan: Ek leen dit net, ek gee dit nog nie oor nie. Ja Pa, ek verstaan. Après toi le déluge …
Van Ma was daar ’n boks vol briewe wat sy by haar ouma geërf het. Ek is so eensaam, die wind waai, jou Vader het Siena daarvan beskuldig dat sy room steel en sy het haar goed gevat en geloop. Lugtig vir die goëlende sleurstroom van lewensverdriet vou ek die briefies in hulle koeverte terug en sit dit weer in die ou Black Magic-sjokoladeboks waarin hulle al vir soveel jare bewaar word.
Die enigste nadeel van Kersfees vier in ons huisie langs die see is dat dit ’n maklike teiken vir besoekers is. My vriend wat homself van sy Suid-Afrikanerskap probeer genees, sê ons is as ’n nasie sommer met die intrapslag onvanpas hand-om-die-blaas-gulhartig. Inderdaad daag mense gereeld ongenooid by die voordeur op. Die mees onlangse verrassing toe die deurklokkie lui, was ’n kennis wat sy jeugspore kom navolg het in die nadraai van ’n beroerte. Hy was destyds die boyfriend van ’n skoolvriendin en die laaste keer wat ek hom gesien het, was hy net ná matriek op pad oorsee om sy lewensdrome na te streef. “It is my ambition to see Alaska and fuck an Eskimo” is hoe ek dit onthou.
Ons het op die stoep gaan sit. Hy het baie te vertel gehad. Die lewe is kort. No friends like your old friends. Ensovoorts. Ná ’n insident met twee Ativans en ’n moerse klomp vodka het hy sy vrou plegtig belowe dat hy nooit weer sal drink nie. ’n Praatlustige kuieraar selfs op ’n nugter maag.
Ek vra hom uiteindelik of hy ooit sy lewensdroom bewaarheid het. Hy sug. “Ek het minder gereis as wat ek sou wou.” Hy het egter ’n nuwe passie. “There is nobody who loves Donald Trump more than me. I love Trump so much I wish I could give him a blow job.” Gedorie. Miskien moet ek soos my buurman in Kylemore maak. Op sy voorhekkie staan ’n bord: GEEN BESOEKERS.
Ek bel my ouers. Kom haal my. Dan gaan soek ons daai Voortrekkerplaas in die Oos-Kaap.
Pa wil baie graag die pad vat, maar muise het die bad se afvoerpyp opgevreet want dit word deesdae uit plantmateriaal gemaak, en Ma wil ’n konsert bywoon deur ’n geniale Mexikaanse pianis wat die hele siklus van Beethoven-sonatas gaan opvoer, insluitend die “Hammerklavier”. A bloodmoon event. En daarby haar soetsappige ergernis oor die kat.
Los dit dan maar. Bly by die huis. Moenie kom nie. Gaan eerder na die konsert. Ma is afgehaal. Jy wil nie hê ek moet saamkom nie. Ek is nie genooi nie. Nee Ma, dis nie dit nie. Ek wil net nie hê julle moet baklei nie. Nietemin spring hulle dadelik in die motor, want so kan Pa die konsert misloop en Ma kom saam sodat sy hom kan verwyt.
Teen die tyd wat hulle my kom oplaai, berou ek my bevlieging. Volgens ’n vriend wat weet, probeer mens jou hele lewe lank so ver as moontlik wegkom van jou ouers en terselfdertyd al hoe nader, selfs ná hulle dood. Êrens tussen verlossing en versmoring hang ’n Gordiaanse naelstringknoop wat nog deurgehak moet word. Ek herhaal saggies in my kop, moenie ’n doos wees nie. Moenie ’n doos wees nie.
Die Suurveld
Genealogiese navorsing is ’n bietjie soos 'n prysuitdeling: jy stel hoofsaaklik in jou eie familie belang. My pa se Bothas en my ma se Erasmusse lê al generasies lank so vervleg soos ’n koeksister. Die Voortrekkers het geswem in ’n see van hulle eie mense. So kan jy hulle deur die eeue volg in doopregisters en sterftekennisse en deur die lang arm van die tollenaar. Van Kaapstad tot Stellenbosch oor Drakenstein na Land van Waveren en Grootvadersbosch en Swellendam en al hoe verder deur duiwelsklowe oor haaivlaktes en soutpanne en riwwe en driwwe tot aan die verste buitepos. Die Grens. Waar wilde Willem Prinsloo olifante gejag het en Coenraad de Buys, as vertroueling van die Xhosa-hoofman Gaika, hom teen die Engelse gewaarsku het: “Hulle is die Boesmans van die see.”
Ons eerste oornag op pad na Die Grens is duskant Port Elizabeth in ’n ou plaasopstal in ’n verlore vallei, die destydse poort tot Caffraria. Die grondpad na die opstal beur deur digte bos vol skimmelstamme en oumansbaard met die kreupelhoutrante getooi in rankende plumbago en dartelende skoenlappers en een enkele wilde kastaiing in blom.
Die kombuis het ’n perskepitvloer, kerse in blakers en ’n uitsig oor die rivier se swart wortelwater wat toonlere spoel oor die drif. Ek maak vuur en Ma en Pa maak vrede en ons drink rooiwyn. Wanneer die mis inkom, stoot die gevlekte vleikuiken se spookroep soos ’n klein mishoring deur die woud en rakel die geeste van weleer op, van baljarende seekoeie en bronstige buffels en krale van die Khoi, voor uitdelging die stilte geëien het. Ma sê dis die mooiste plek wat sy tot nog toe besoek het.
’n Entjie verder af in die vallei is die ou pioniershuisie op Rietfontein waar Lichtenstein tydens ’n ekspedisie in 1802 toevlug gevind het in veldkornet Müller se huis. Die reën was hard en aanhoudend en die nag was op hulle. Volgens sy reisbeskrywing was daar net een langerige vertrek wat staande gebly het ná ’n Xhosa-aanval en as beskutting kon dien. Daar was bokkarkasse oorhoofs en lêhenne wat in die hoeke skrop, terwyl die boer se vrou en ’n paar halfnaakte slavinne kos voorberei het en ’n jong vrou in hoë barensnood besig was om te kraam agter ’n afskorting. Die geboutjie staan steeds, vervalle, maar met die geelhoutdaksparre en dwarsbalke nog in plek.
Die volgende oggend sit ons onder die koraalboom in die agtertuin en drink die kalmte soos koffie in met die vleiloerie se reënroep ’n skeppie room met suiker by. Ons is traag om te vertrek. Die bestemming is Somerset-Oos, maar sedert die spoorweë, volgens Pa, in hulle moer in is, word die hoofweg stukkend gery deur lorries wat ystererts uit die Noord-Kaap na die hawens vervoer.
Ons mik noord in die rigting van die Suurberg, omring deur ’n golwende see van groen heuwels en ’n wolk in die verte wat statig doebleer. Die landskap is paradyslik mooi en verdoemend warm. Fynbos en vetplante en grasveld en ruigtes elmboog mekaar om die oorhand te kry. Die Suurveld was altyd betwiste gebied. Andries Stockenström se ideale hang soos ’n waas oor die landskap. Sy outobiografie is te koop in die Bathhurst-boekwinkel vir R3 500, maar sy miskende voorsienigheid het ons land veel duurder te staan gekom. Ver in die ooste glim die Amathole-berge waar die Xhosa destyds hulle dragtige koeie laat kalf het. Tholes beteken kalwers, vandaar die Afrikaanse woord “tollies” vir jong osse.
’n Ent met die pas langs kom ons af op die belofte van lafenis by die Zuurberg Lodge. ’n Diep stoep met dakwaaiers, potvarings, steak en chips en bier. Pa straal van genoegdoening. Hy bel sy neef Fritz om verslag te doen oor ons reis. “Dominique wil ons voorvaders opgrawe en bierbekers maak uit die skedels,” lag hy.
“Ja," sê Ma, “ ’n lydensbeker wat jy tot die droesem kan ledig.”
Met Pa se inwendige mens versterk mag ons weer aanstaltes maak. Ons ry ritteltittelend oor sinkplaatriffels en verspoelde slote en teen laatmiddag protesteer boomsingertjies nog met onverdrote ywer teen die hitte. Uiteindelik kom ’n motor uit die teenoorgestelde rigting aan. Pa vra vir die bestuurder hoe lyk die res van die pad. Horrible. Ons beur maar voort en Ma brom onderlangs oor die minderwaardige navigasie. Ek dink aan my tweeling wat gereeld op mekaar skreeu wanneer breekpunt bereik word. Sjarrap!
Bosberg
Teen sononder kry ons die afdraai na Somerset-Oos. Ons het heel terloops ’n plekkie gevind om te oornag op die mees geskiedkundige plaas in die distrik. Daar is berg en saailande, en water en woude en forelle. Die neusie van die salm. Die kothuis waarin ons slaap, is nog voor die Groot Trek opgerig. Die eienaars het vir ons aanwysings gestuur en die sleutel in die kombuisdeur gelos.
Die ysterkatel waarop ek gaan lê se rugstring is geknak, met spinnekoppe wat digby aan die oneweredige mure kleef en die eikeboom wat ná donker met lang vingers aan my kamerdeur kom klop. Slaap ontwyk my. Ek maak uiteindelik maar my rekenaar oop en gaan voort met my soektog deur ’n woud van familiebome en allerhande droewige vertakkings. Petrus Lafras gaan dood van breinkanker in Prieska. Petrus Lambertus word deur weerlig doodgeslaan op Grootvlei. Petrus Jacobus. Slukdermkanker. Ongetroud. Jansenville. Die slotsom van meeste lewens is soos ’n JFE Cilliers-gedig. Waar, wanneer, hoe. Dis al.
Maande lank al soek ek na die familie se laaste staning in die Oos-Kaap. Dis ’n naald in ’n hooimied-speurtog deur vervagende sierskrif van lank vergane amptenare. Ná 1836 begin mense uit die annale dros, geboekstaaf as Permanently beyond the borders of the Colony. Weg, oorkant die Groot Rivier, buite die bereik van die Companjie of die Empire se veerpen-inskrywings.
Dis meer roulette as navorsing. En eensklaps val die balletjie in die vak. ’n Plaasnaam! Spreeukloof. Die plaas is bemaak aan Theuns Louis Botha, vader van ons Voortrekker, deur sy skoonma, die weduwee Erasmus. Al die ander drade kan saamgetrek word om hier ’n plekspykertjie in te druk. Spreeukloof. Pa se brandende belangstelling om die stamplaas te vind gaan vir seker vervaag wanneer hy besef dat die Bothas heel moontlik bywoners van die Erasmusse was.
Ek staan uiteindelik maar op en gaan maak koffie om die sonsopkoms in te wag. Ek maak die agtervenstertjie oop en kyk met misnoeë uit op die nat mis en die nat gras. Plaaslewe is ook aaklig. Blêrende skape en bulkende beeste en lastige vlieë. Bekrompenheid en venyn. Vir wat is ek deur die jare so verknog aan die romanse daarvan?
Pa kom sluit by my aan. Ma het ook sleg geslaap. Hy stel voor ons ry in na Somerset-Oos om slaappille te gaan koop by die apteek en daarna ry ons sommer ’n draai deur die distrik. Dis naweek, so besienswaardighede is toe. Ons sal weer moet kom. Weens my rooimiere en halsoorkopbeplanning is hierdie besoek eintlik net ’n recce.
Ons ry verby die mooie Paulet-huis tot in die hoofstraat waar Ma en Pa by die apteek ingaan en ek op die trappe buite die NG Kerk gaan sit en wag. Aanvanklik is ek verstom deur die koor en orkes wat agter geslote deure repeteer. Bach se Missa in B-mineur borrel uit die kerktoring. The Greatest Artwork of All Times and All People. Dit blyk egter ’n opname te wees. Die koster se bestiering? A random act of beauty? Voetgangers stap verby en groet vriendelik en smyt Styrofoam-bakkies en leë Coke-blikkies op die sypaadjie neer. “Agnus Dei", vir die altstem geskryf en begelei deur viole. Agnus Dei. Lamb of God. Who takes away the sins of the world, have mercy on us, but not on rommelstrooiers.
Pa het die pille kon kry en ook Calamine lotion, want die muskiete vreet hom op, en toe ry ons na Bruintjieshoogtepas. Aan ons regterkant troon die Pierneef-kranse van Boschberg, aan ons linkerkant laerliggende grasvelde en siedaar, heel toevallig, ’n witgeverfde ossewa uit sement gebou. Ons trek van die pad af om dit van nader te beskou. Ek en Pa klim uit. Toegang is versper. Die mimosas is borriegeel. Die wind is stom.
Toe ons weer in die kar klim, wil Ma weet: “Wat het jy nou eintlik verwag om te sien?”
Ek weet nie eintlik nie, ek volg maar net die wolkkolom. Êrens uit die klippe en boomsingertjies hoop jy iets kom los. Dat die borrie saffraan word, en die wind 'n fluistering van grootjies.
Ons ry ’n draai deur die bergplase van Swaershoek en teen laatmiddag is ons weer terug by ons losies. Die huismense van Glen Avon is in die swembad en Pa nooi die jong boer en sy mooi staatmakervrou om saam met ons ’n glas wyn te kom drink. Ek is moeg van die min slaap en ek probeer my wrewel in Pa se woordevloed in my wyn verdrink. Ma gluur my aan en mompel onderlangs: “Geniet jou jeug, die res is lank.”
Wanneer die Engelsman ’n kans kry om ’n woord in te kry praat hy soomlose Afrikaans wat hy jare gelede op die Universiteit Stellenbosch geleer het. Ma sê skryf is ’n versluierde verskoning vir vakansiehou. Ek beur voort. Ek verduidelik dat ons op soek is na Voortrekkers. Miskien ’n plaas, maar dié is nie te vinde nie. Spreeukloof.
Spreeukloof? Dis dan net agter die berg, lag hy. Dit het van die kaarte verdwyn, maar in die kontreigeheue behoue gebly. Hy kan vir ons reël om die plek te besoek. Helaas moet ons vroeg die volgende oggend vertrek. Ons sal weer moet kom, met meer tyd. Ryke stof om op te diep en af te stof en aan te gee. Vir my kinders, nie dat hulle belangstel nie. Soms voel ek soos ’n immigrant in my eie gesin. My agtergrond word met vrolike minagting misken. Miskien eendag wel vir hulle van waarde, wanneer ek reeds molle jaag, of krismisrose bevrug. Hulle hou mos van suur grond.
Terugtog
Ons vertrek douvoordag. Pa bestuur, Ma sit agter en ek kies al wat stofpad is deur die verlatenheid terug Kaap toe. Ons luister na my playlist, Afrikaans teen Uitdelging: Gert Vlok Nel, albei Kose, Rian Malan, Worsie Visser, Die Heuwels Fantasties en Koos van der Merwe se Leonard Cohen-omdigsels. Die songs maak Ma en Pa gelukkig en sêd. Hulle het nie toegang tot Spotify nie. Net die volledige Vivaldi Opus in CD-formaat wat Ma in die vroeë negentigerjare gekoop het en hulle steeds na luister wanneer hulle nie die TV aan het om op die hoogte te bly van die Amerikaanse Republikeinse Party se nuutste laagtepunte nie.
Hierdie is genade-ure saam met my ouers. Om met ’n smeulende viool saam met hulle deur die landskap gedans te word is ’n hartseerwals. Verby dorpies, wees en horrelpotig, wat stamel en sterwe met die genadeskoot ontbrekend. Verby spoorlyne na die boomlose binneland wat opgerol en weggedra word. Verby verlate sendingstasies deur noorsboomvlaktes en ’n enkele valk wat sy prooi van ver sien kom.
Oudstryders vir geregtigheid, my ouers. Nie dat dit hulle destyds veel vriende besorg het nie en nou moet hulle toekyk hoe die hede verbrou word. Misnoeë is darem gedeelde grond, maar dis 'n kak playlist.
Ek dink aan die woorde van die Frans-Chinese digter François Cheng:
“Die indruk wat ons mag hê dat daar agter ons 'n ontelbare skare van anonieme mense sou wees wat verdamp in die newel van die verlede, is vals. Want in feite tel ons maar net drie of vier geslagte per eeu en 30 of 40 oor 'n duisend jaar – dis nie watwonders veel nie, en daarom is ons voorouers veel nader aan ons as wat ons glo. Daar is 'n oordra van beloftes en hoop wat ons verplig (of verbind) tot 'n gegewe menswaardigheid, en in 'n sekere sin verleen dit waarde en betekenis aan ons lotsbestemming.”
We live in such a mediocre place, liewe ou Sir Vida Naipaul, want dit verleen betekenis aan ons lotsbestemming.
Ons stop by ’n plaasstal tussen êrens en nêrens. Die mense het gekom van Modimolle. Sy kan nie koffie bedien nie, want daar is nie water nie. Hulle is vriendelik en gelate. Die Karoo haper na water. Die land haper na hoop. Wie sal ons red? Dis hulle. Hierdie vriendelike en gelate vroue. Hierdie mans in khaki-shorts met ’n boepens, effe op pad na suikersiekte, en ’n hart vol van God en hande wat vir niks verkeerd staan nie. Hulle wat moet sjarrap wanneer hulle vermoor word in boetedoening vir voorouers se vergrype.
Wat gaan van ons word?
Ek weet nou.
Ons gaan doodgaan van breinkanker in Prieska, deur weerlig doodgeslaan word in Grootvlei, van slukdermkanker en eensaamheid vergaan in Jansenville. Permanently beyond the borders of the Colony, maar vir altyd en vir ewig binne bereik van die tollenaar.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 8 Maart 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.