Koebaai!
Tot dusver het ek nie juis woorde gehad oor die einde van Vrye Weekblad nie. Jy ken daai gevoel wat jy op jou maag kry wat jy nie regtig kan beskryf nie? Dis asof jy te groot geskrik het om eintlik jou eie skrik te verstaan. In die jaar waar Afrikaans se 100 jaar as ampstaal gevier word, nogals! Ons het dan nou juis Vrye Weekblad so nodig! Wie gaan nou die res van die volk soos Moses met die Israeliete uit Egipte lei?
Ja wat. Dis ’n hartseer dag wanneer een van die belangrikste alternatiewe spreekbuise in en vir die Afrikaanse lesersgemeenskap moet groet.
Vrye Weekblad is nie net ’n koerant nie. Dis ’n beweging. ’n Beweging wat my lewe verander het. Ek kan met alle eerlikheid erken dat ek danksy Vrye Weekblad nie net ’n beter skrywer is nie, maar ’n flippen beter mens ook! Baie mense het ’n hand daarin gehad! En bowenal – julle. Jy.
Dankie aan jou, die leser. Ek het dit al hoeveel keer genoem, maar die Vrye Weekblad-leser is by verre my gunsteling. Julle het my op my tone gehou, my uitgedaag, my laat lag en my soms sommer selfs my moer laat strip! Al was die kommentaar ook net ’n “Ag nee Mercy” of “Hahahaha Mercy” – dankie. Uit die kommentaar kon ek altyd aflei of ek darem ’n punt beet het, al dan nie.
Toe ek op 24 vir Vrye Weekblad begin skryf het, het ek nooit kon raai dat ek die kommentaarafdeling van enige Afrikaanse publikasie so baie sou geniet nie. Jammer aan my kollegas en medeskrywers, maar ek het soms eers die kommentaar onder aan julle stukke voor die stuk self gelees!
Ek moet darem ’n shout-out gee aan my heel gunsteling-kommentaar wat ek een keer onderaan ’n stuk gekry het. Ek het gekla en gemoan en geskree en tekere gegaan oor wie weet wat, en iemand skryf toe heel vroom:
“Mercy, time to move on, or the chip on your shoulder will start to weigh you down.”
Ek neem toe sommer onmiddellik aanstoot. Hoe durf jy?! gil ek alleen in my kamer. En nou moet ek vandag in my skuld val – wie ook al hierdie kommentaar gelewer het, jy was reg. Die chip op my skouer het vorentoe beweeg nogals moeilik gemaak. Hey, ek’s nou nie meer 24-jarige gladdebek Mercy wat voor in die ry by die Struggle Olympics uitgepronk het nie. Ek’s nou 30-jarige Mercy. Hopelik meer verstandig. En vir seker ’n veranderde vrou vanweë hierdie ervaring saam met jou, liewe leser. Heil die leser!
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.