Buenos Aires: Martelaar, feminis, fascis, hoer, held, liefling ...

DEEL 2

Buenos Aires: Martelaar, feminis, fascis, hoer, held, liefling en lopende lyk

In die tweede aflewering oor sy reis deur Suid-Amerika spandeer JACQUES PAUW en sy reisgenoot, Anton Espost, 'n week in die Argentynse hoofstad Buenos Aires – die stad van Evita Perón, die Moeders van die Plaza de Mayo en die vallende peso.


HULLE noem Buenos Aires die “Parys van Suid-Amerika”. Ek is nie seker hoekom nie, want dié twee stede is in hart en siel ligjare van mekaar verwyder. Parys is soos die seksgodin Brigitte Bardot – die bevoorregte kind van ’n welgestelde familie – van wie Woody Allen eens gesê het: “Ek is absoluut seker dat daar niks pragtiger op aarde is nie as Brigitte Bardot.” Met haar hare op haar kop gestaan-maak en met smeulende oë, 'n pruilende mond en 'n wit bloes wat 'n perfek geronde halwe bors speels ontbloot, sê sy van haarself: “Ek was al baie gelukkig, baie ryk, baie mooi, baie beroemd, wyd begeer, oral besing en bitterlik hartseer.”
Buenos Aires is Evita Perón, die buite-egtelike kind van 'n naaldwerkster in 'n klein Argentynse dorpie wat op 15-jarige ouderdom haar rykdom in die stad gaan soek het en nege jaar later met president Juan Perón getroud is.Evita was terselfdertyd 'n engel, 'n martelaar, 'n feminis, 'n fascis, 'n hoer, 'n heks, 'n held, 'n liefling en 'n lopende lyk wat op 33 aan kanker dood is. Dit was van 'n balkon in die Casa Rosada (Die Pienk Huis – die presidensiële villa, eens glo met die bloed van bulle geverf) waar sy die Argentynse rykes gewaarsku het: “Daar is oliegarge wat ek wil byt net soos ek my tande inknars in 'n radys of 'n wortel.”In die laaste eeu het Argentinië geflankeer met militêre diktatorskap, sosialisme, neoliberalisme, populisme en demokrasie. Dié land is sedert 1983 'n federale demokrasie.Argentinië, met sy 45 miljoen inwoners, strek vir 4 000 kilometer van die tropiese en subtropiese noorde tot die subzero Antarktiese suide. Dit is die tweede grootste ekonomie in Suid-Amerika (naas Brasilië) en het 'n yslike lewensverwagting van 80 jaar vir vroue en 73 vir mans (wie sê mens moenie baie rooivleis eet nie)!
Die Suid-Afrikaanse rand is onstabiel, maar niks vergeleke met die fluktuerings van die Argentynse peso nie. Dié land was eens een van die rykstes in die wêreld met 'n hoër per capita-inkomste as Frankryk en Italië. Tussen 1932 en 1974 het die Argentynse ekonomie met 500 persent gegroei wyl die bevolking net verdubbel het. Die middelklas het tot 40 persent van die bevolking gegroei en Argentyne het soos konings geleef.
Die koms van militêre diktatorskap in die sewentigs het alles verander. Inflasie was deur die dak en 400 000 maatskappye het bankrot gespeel. Demokrasie is in 1983 herstel, maar sedertdien is die ekonomie soos 'n klimtol wat in 'n oogwink kan spin van ongelooflike hoogtes tot hartverskeurende laagtes.
Die Argentynse peso het in 2018 meer as 40 persent van sy waarde teenoor die Amerikaanse dollar verloor. In November verlede jaar was die inflasiekoers 48 persent (dit was 12 000 persent in 1989) en die Sentrale Bank se rentekoers was bykans 60 persent. 'n Derde van die bevolking leef in armoede.
’n Mens sou ’n depressiewe atmosfeer in die hoofstad – waar drie uit elke vier Argentyne bly – verwag. Maar Buenos Aires is immers Evita Perón. Haar onderklere mag ongewas wees, maar sy is so elegant en kordaat soos altyd.
Dié stad is ’n mosaïek van ouwêreldse bekoring, Suid-Amerikaanse siel, Europese welvaart en tangodanse onder pers jakarandabome. Argentinië is die perfekte hoek in die wêreld om jou batterye te herlaai en jou siel te ontgif – net om jouself weer toksiologies te besmet by die Bar El Federal.
Die genot van reis is nou gekoppel met die bekostigbaarheid van plesier en vermaak. Moenie Parys toe gaan as jy nie ’n café crème by Café de Flore, ’n steak frites en ’n rooi Bordeaux in ’n brasserie of die toegang by die Louvre kan bekostig nie. In Buenos Aires – enige dag so eksoties en besneë as Parys – kan jy in die galerye en museums flankeer, van winkel tot winkel slenter en tot in die vroeë oggendure fuif sonder dat dit ’n noemenswaardige duik in jou sak maak.
Argentinië is tans spotgoedkoop weens die huidige ekonomiese insinking. In November 2016 het die rand en die Argentynse peso dieselfde waarde gehad. Nou kry jy 2,7 pesos vir elke rand. Dit beteken egter nie dat Argentinië bykans drie keer goedkoper vir Suid-Afrikaners geword het nie, want weens hoë inflasie styg pryse vinnig.
Maar dit is so bekostigbaar soos Thailand, Viëtnam, Bulgarye, Egipte en Roemenië, en baie goedkoper as enige land in die Europese Unie of Afrika (wat altyd Amerikaanse dollar wil hê). Byvoorbeeld: jy kan in een van Buenos Aires se bekendste braaihuise, Parrilla los Cabritos – waar skaapkarkasse en heel steaks op ’n assado gebraai word – instap en twee mense ’n parrilla complete bestel vir net R250. Dié braaibord is gelaai met ’n verskeidenheid steaks, skaap, hoender, chorizo, niertjies, soetvleis (sweetbreads) bloedwors en tjips. ’n Goeie bottel Argentynse Malbec – inkrooi met robuuste tanniene – gaan niks meer as R150 tot R200 ’n bottel kos nie.
Dus: jy kan jouself dik eet aan van die beste vleis in die wêreld, dit afsluk met wêreldklas wyn – alles aangedra deur flinke, professionele kelners met strikdasse – vir niks meer nie as R300 per persoon.
Elke steak word vergesel deur Argentinië se gastronomiese geskenk aan die wêreld: chimichurri-sous. ’n Handvol pietersielie, 'n paar origanumblare, 'n bietjie knoffel, 'n skeut olyfolie, 'n paar druppels Italiaanse rooi asyn, 'n titseltjie rissie en sout en swartpeper, en daar het jy dit. Dit staan in groot glasbottels in elke Argentynse yskas.
Ek en reisgesel Anton Espost het in 'n tweeslaapkamerwoonstel in die hartjie van San Telmo gebly wat ons deur AirBnB bespreek het. Dit was gerieflik en ruim met hoë plafonne en daar was televisie, WiFi en lugreëling. Dit het ons minder as R500 per persoon per dag gekos.
Ek het onmiddellik halsoorkop verlief geraak op San Telmo, wat dateer uit die 17de eeu. Dis 'n Boheemse enklawe met klipstrate, ʼn verbrokkelende en verwelkte praal wat nou reggemaak word, kroeë en restaurant, en oudhedewinkels. Dié barrio het als: geskiedenis, prag, onooglikheid, ’n groot siel, lewe, fantastiese kos en drank, die tango en bowe als: die mees ongelooflike oudhedemark wat ek nog ooit gesien het – en ek is altyd aan’t snuffel vir ’n goeie mark.
Vir bykans 40 jaar al pak 200 tot 300 stalletjiehouers elke Sondagoggend hulle ware op Plaza Dorrego en op die klipstraat van Calle Defensa uit. Daar is ook stalletjies met ornamente, kuns, klere, skoene, kombuisware, kos en drank. Op die rand van die basaar is daar kitsklaar tangoklasse.
Goeie markte laat my hart vinniger klop. Die Feria de San Telmo het my kort duskant ’n hartaanval laat omdraai. Baie van die oudhede dateer uit Argentinië se glorie-era en die ekonomiese resessie dwing inwoners om dit van die hand te sit. Ek het deur die stalletjies gevleg, pryse gevra en handelaars afgestry. In my kop het planne gemaak oor hoe om ’n art deco Italiaanse lamp met ’n porseleinbeeldjie, ’n silwer retablo (heilige Katolieke volkskuns) en ’n houtbeeldjie van sint Franciskus van Assisi (omdat hy die beskermheilige van diere is) by die huis te kry. Ek sou nog ’n tas moes koop wat ek die volgende drie weke saam met my deur Suid-Amerika moes sleep.
Ek het uitasem by ’n Italiaanse trattoria neergesak en ’n bottel Malbec bestel. “Hoekom vat jy nie net een van die drie stukke nie?” wou ’n effe moedelose Anton weet.
“Want ek wil al drie hê.”
“Hulle gaan dit nie oorleef nie.”
Ek het my lot bekla en nog Malbec bestel totdat die stalletjies teen vieruur begin oppak het. My lamp, retablo en beeldjie was weggepak. Ek het inderhaas vyf Murano-beeldjies gekoop wat ek nie regtig wou hê nie. Ek het hulle in twee plastieksakke gesit. Anton moes een sak dra. Ek het die ander een gedra en beide beeldjies het gebreek. Anton s’n het heel teruggekom.
Skuins oorkant ons woonstel was die befaamde Mercado de San Telmo – ’n gastronomiese baken wat ’n hele blok beslaan. Dié mark het in 1897 oopgemaak vir ’n nuwe golf immigrante uit Europa. Baie van dié nuwe aankomelinge was van Italië, wat Buenos Aires ’n onverwagse Italiaanse geur gee. Pasta (in baie gevalle vars gemaak) is ’n stapelkos en op elke menu.Die meeste immigrante was mans, wat een van die redes was vir die baie kroeë in dié stad – en dat bykans elke kroeg, restaurant of hotel een of ander tyd ’n bordeel was!Buenos Aires se markte staan nie ’n tree terug vir dié in Frankryk of Italië nie. Die tamaties is stroopsoet en bloedrooi en het in die son ryp geword, en die artisjokke is uitgeswel en hulle stamme ’n heldergroen.
Die Plaza de Mayo lê aan die hart van die belangrikste politieke gebeure in die Argentynse geskiedenis en is ’n simbool van hoop, wanhoop, oorwinning en rebellie. Die bloed van honderde, miskien duisende Argentyne is in die laaste dekade op dié plein vergiet.Dit kry sy naam van die vyfde maand van die jaar 1810 toe Argentinië onafhanklikheid van Spanje gekry het. Die plein word omring deur die Cabildo, die setel van die koloniale owerheid, die Casa Rosada en die Metropolitan-katedraal, tuiste van Pous Francis.Omstreeks tweeuur op 30 April 1977 het 14 dapper vroue die advies van vriende en familie geïgnoreer, wit kopdoeke opgesit en met foto’s van hulle verdwene kinders om die plein begin stap. Die vroue het mekaar by die departement van binnelandse sake ontmoet waar hulle navraag oor hulle kinders gaan doen het. Die volgende week het die vroue weer bymekaargekom en wéér om die plein gestap. Hierdie keer was daar meer. Hulle getalle het aangegroei tot honderde. Die polisie het hulle gedreig en met sambokke uitmekaar probeer jaag. Die regering het hulle bespotlik probeer maak deur na hulle te verwys as die las locas – mal vroue. Hulle het eindelik die naam gekry van die “Moeders van die Plaza de Mayo”.
Argentinië was in die greep van ’n junta generaals wat ’n jaar vantevore die siviele regering van Isabel Perón omvergewerp en opposisiepartye verban het. Oor die volgende sewe jaar is tot 30 000 Argentyne in hegtenis geneem, gemartel en vermoor, of het verdwyn.
Met die steun van Amerika, wat in dié tyd 50 miljoen dollar se militêre hulp aan Argentinië verleen het, het die generaals oorlog verklaar teen sosialiste, kommuniste, liberaliste, andersdenkendes en teenstanders van die junta. Hulle bondgenoot, die paramilitaristiese vigilantegroep Alianza Anticomunista Argentina (Antikommunistiese Alliansie van Argentinië), het nóg duisende vermoor.
Jong professionele Argentyne, skoliere, studente, skrywers, joernaliste en vakbondlede is as Kommuniste gebrandmerk en in hulle duisende in hegtenis geneem. Hulle is in 340 geheime konsentrasiekampe en tronke regoor die land aangehou en gemartel. Hulle name is nooit bekend gemaak nie en niemand het geweet wat van hulle geword het nie. Die meerderheid van hulle is voor vuurpelotons tereggestel en in ongemerkte grafte gegooi. Ander is bedwelm in militêre helikopters gelaai en in die Atlantiese oseaan gegooi.
Kort nadat die Moeders van die Plaza de Mayo die name van hulle vermiste kinders in ’n koerantadvertensie gepubliseer het, is een van die stigterslede, Azucena Villaflor, ontvoer en na ’n martelsentrum geneem. Sy is later tydens ’n militêre doodsvlug in die see gegooi. Maar die Moeders het keer op keer, elke Donderdag net na middagete, teruggekeer en gesorg dat die wêreld nie van Argentinië vergeet nie.
Teen 1983 was Argentinië bankrot, sy bevolking getraumatiseer en belangrike elemente in die weermag het teen die junta begin draai. Die generaals het geglo die “linkses” is verslaan en dat hulle vuil geheime veilig was. Hulle het die getuienis, dokumente en naamlyste van hulle moordveldtog vernietig en ’n algemene verkiesing uitgeroep.
Die nuwe verkose regering het hulle eie waarheidskommissie – die Nasionale Kommissie vir Vermiste Persone – aangestel, wat bevind het dat 9 000 Argentyne tydens die militêre diktatorskap vermoor is. Die generaals self het geweier om voor die kommissie te getuig. Menseregteorganisasies en die Moeders van die Plaza de Mayo glo dat die generaals die bloed van minstens 30 000 Argentyne aan hulle hande het.
Die wiel van geregtigheid draai ook stadig in Argentinië, maar anders as in Suid-Afrika – waar die generaals en die apartheidspolitici ongeskonde ons demokrasie betree het – is al die juntalede en 700 van hulle handlangers uiteindelik skuldig bevind aan onder meer moord, marteling en onwettige aanhouding, en swaar gestraf.
Die juntaleier, genl. Jorge Videla, is in 2010 tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Twee jaar later is hy tot nog 50 jaar gevonnis vir sy betrokkenheid by die diefstal van 400 babas van verwagtende gevangenes. Dié babas is aan militêre families gegee en hulle identiteite is verander.
Videla, wat volle verantwoordelikheid vir die menseslagting aanvaar het, is in 2003 dood nadat hy in die tronkstort op seep gegly het. Die regering het hom ’n militêre begrafnis geweier.
Die Moeders van die Plaza de Mayo – baie nou in hulle tagtigerjare – het die afgelope 40 jaar meer as 2 000 keer om die plein gestap en soek steeds na antwoorde oor wat met hulle kinders gebeur het. Intussen het ’n gros jonger mense hulle by die Moeders aangeluit: die kinders en broers en susters van die slagoffers.
Die pyn en foltering van een van die mensdom se bloedigste en wreedste vergrepe van mag is op ou en verweerde gesigte geëts. Dis maklik as ’n Suid-Afrikaner om die pyn van die Argentyne te verstaan en te deel. Die apartheidsregering was ’n noue bondgenoot van die junta en het volgens berigte wapens aan hulle verkoop. Beide lande het onder die vaandel van die bestryding van kommunisme hulle eie burgers ontmens en gedood. Die verskil is dat die junta veroordeel is en dat baie van sy mense in die tronk sal doodgaan.
(Volgende week verlaat ons Buenos Aires en reis na Salta in die noordwestelike hoek van Argentinië. Dis cowboy- en rooiwynwêreld!)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X