Voëlvry in die suburbs

BOERGEOIS GEDAGTES

Voëlvry in die suburbs

Terwyl hy met swaar gedagtes oor die nuus van die rocker Piet Botha se pankreaskanker in sy voorstedelike matrasgraf om en om draai, voel die vryheid waarna hy gesmag het na ’n naïewe joke, sê DANIE MARAIS. Hoe kom jy los uit ’n lewe wat geld blykbaar as die enigste geldige betaalmiddel en grootste gesag aanvaar?

NOU die nag lê ek wakker in ’n koorsige mengsel van geldkommer en swaar gedagtes oor Piet Botha wat pankreaskanker het. My kop karring heen en weer en later raak die droef oor Piet verstrengel met die geldpaniek en helder herinneringe aan die ou Grand Central-klub in Kerkstraat, Pretoria, en Johannes Kerkorrel.
Ek het nog net een religious experience op hierdie blou aarde gehad en dis toe Piet Botha se elektriese kitaar die eerste keer vlak voor my en in my afgegaan het in Grand Central se rokerige kelderklub. (En nee, ek dink nie mens kan ’n “religious experience” binne die Christelik-Nasionale konteks lekker in Afrikaans vertaal nie, want godsdienstige ervarings en ervarings van godsdiens het ek baie gehad, op veldskool byvoorbeeld, en dis iets heeltemal anders.)

Maar daardie aand toe ek net-net 16 was en Piet Botha se Jack Hammer “Fort Lauderdale (Ballad of André Stander)” deur my gejaag het saam met hulle dodelike cover van ZZ Top se “La Grange” met daardie über-riff, is my voorstedelike DNS nuut geskommel en is ek finaal bekeer tot rock ’n roll.Ek is daardie nag vervul met ’n gevoel wat my verander het en ek wou hê daardie gevoel moet iets beteken en dat alles as gevolg daarvan moet verander soos ek sweerlik verander is.Bob Dylan het gesê: “Hearing Elvis for the first time was like a jailbreak – and I didn't even know I was in jail.” Piet Botha was my gewaarwording dat die noodlot ’n groot fout begaan het deur my in die voorstede van Pretoria te probeer aanhou.

Donker, donker land
Nie lank nadat ek Piet die eerste keer in Grand Central beleef het nie, was dit Johannes Kerkorrel en sy Gereformeerde Blues Band wat my en twee vriende daar in die donker, ses voet onder die sypaadjie van Kerkstraat, op 'n skoolaand getref het.
Kerkorrel het die algemene wrewel en opstandigheid wat ek gevoel het, polities ingekleur. Dit was 1988 en dit was waaragtig ’n donker, donker land en ek het daardie mense van “Ons ry ’n BMW” so goed geken, want ek het tussen hulle gewoon en tog was ek oortuig ek sou nooit eendag met hulle verwar word nie. My lewe sou een groot, gul regstellende aksie wees...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.