Suid-Afrika se demokratiese hart klop nog

ETNIESE MOESIE EN AL

Suid-Afrika se demokratiese hart klop nog

MAX DU PREEZ is versigtig-optimisties oor wat die uitslag van die verkiesing vir ons toekoms inhou.

Image: NATHAN TRANTRAAL

VERKIESING 2024 was 'n goeie oomblik vir Suid-Afrika om in die spieël te kyk.

Hare deurmekaar en die oë 'n bietjie bloedbelope met stresplooie om die mond, maar niks wat 'n haarborsel, 'n beter dieet en 'n goeie nagrus nie kan beter maak nie.

Die groot moesie op die voorkop gaan dalk self later afval.

Of dalk is om te sê die nasie was 'n slag by die huisdokter vir 'n checkup 'n beter metafoor. Bloeddruk 'n bietjie hoog, lewerfunksie 'n effense bekommernis, sig in die linkeroog nie na wens nie, maar hart en longe perdfris.

Ons gaan oukei wees. Moet net nie die veiligheidsgordels nou al losmaak nie en maak maar seker jou lugsakke is in 'n werkende toestand.

Ons kan baie trots op onsself wees: Ons het die regerende party wat ons die laaste twee dekades so misbruik het, in die bek geruk. Ons, die mense, het Woensdag geskiedenis gemaak.

ANC, gestig: 1912. Verkiesing gewen: 1994, 1999, 2004, 2009, 2014, 2019. Verkiesing verloor: 2024.

A, maar dan moet ons darem erken dat die ANC nie onder 50% sou geëindig het as dit nie vir Jacob Zuma en sy MK Party was nie.

Dertig jaar gelede was die Zoeloes en die Boere ons probleemstamme. Nou is net die Zoeloes 'n probleem – en nogal 'n grote.

Capexit was toe 'n flou grap, maar Zoelexit is dalk nie.


Read this article in English:


Maar ons hoef nie juis skaam oor die Verskynsel Zuma te wees nie. In Amerika gaan 'n aartsskelm-narsis met fascistiese neigings wat ook sy dae in die beskuldigdebank deurbring glads die volgende president wees.

Ons het maande lank in die sosiale- en hoofstroommedia gekibbel, geskinder en soms geskel, en daar staan ons toe Woensdag ure lank in lang toue om te gaan stem, sommige tot ses uur lank. Soos laas in 1994.

En ons praat met mekaar, selfs ek met my aversie in groepe vreemde mense en onderontwikkelde sosiale talente.

Hier by my stembus was daar 'n paar wit Karens en Karels wat gebrom het oor hoe onbeholpe die OVK was, maar die meeste van ons was maar geduldig – en vasberade.

Soos die een ou in die tou opgemerk het: “Die lekker ding is dat die meeste Suid-Afrikaners nie dose is nie.”

Dis mos waar?

Die OVK-amptenare by my stembus was vriendelik, maar nogal ongeorganiseerd en sonder enige sin van dringendheid, al was daar teen 21:00 nog 'n hele paar honderd mense in die tou.

Hier is 'n blik uit Nigerië:

Die hele verkiesing was vir my nogal 'n refleksie van ons nasionale stand van sake: Daar is min met die burgers verkeerd, maar die staat is totaal onkapabel.

Daaraan kan ons nou ook iets begin doen.

Terug by die huis spring ek van die een TV-kanaal na die ander, met verslaggewers wat by verskillende stembusse oor die land heen diens doen. Omtrent elke kieser wat op die skerm verskyn, sê met geesdrif: Ek sal maar lank in die tou staan, want ek soek verandering en my stem moet help om dit teweeg te bring.

En verandering is wat ons gaan kry. Dalk meer of anders as wat ons gehoop het?

Dit is riskant om gevolgtrekkings te maak en tendense uit te wys as al die uitslae nie bekend is nie, maar drie goed lyk duidelik soos ek hier skryf: Heelwat meer mense as in die laaste algemene verkiesing het stembus toe gegaan; jonger mense het die eerste keer in hulle honderdduisende opgedaag; en daar is 'n ongelukkige nuwe neiging tot etniese politiek.

Die hoë stempersentasie sê vir my die meeste Suid-Afrikaners glo nog in ons demokrasie en wil deel wees daarvan. Die verlamming van vroeër wat in die 2019-verkiesing gemanifesteer het, is dalk verby. Ou ANC-kiesers wat ongelukkig was met hulle party en weggebly het, het dié keer wel gaan stem, baie van hulle vir 'n opposisieparty.

Amper enigiets is beter as stagnering.

Ek het al tevore aan mense wat dit betreur dat so min jongmense stem, gesê hulle moet versigtig wees waarvoor hulle wens: Hoe meer jongmense stem, hoe sterker word die EFF.

Dit smaak my ek was verkeerd. Aanstap, rooies, die pad is lank en swaar.

Ten spyte van die vurige retoriek en aansprake van Julius Malema dat die EFF twee-derdes van die stem gaan kry, lyk dit, soos ek hier skryf, of hulle glad nie kon groei nie. Die middelklas en aspirant-middelklas jong swart kiesers was toe nie die EFF se eksklusiewe domein nie, en min werkloses het geregistreer of gestem.

Die meeste Suid-Afrikaners is nie dose nie. Ons hou nie van ekstremiste nie. Ons hou nie van politici wat minderheidsgroepe dreig en beswadder nie. Ons val nie so maklik vir goedkoop populisme nie. Ons is lugtig vir politici wat gedurig met geweld dreig. En ons wil nie hê die staat moet alles nasionaliseer nie – ons wéét die staat gaan dit opmors. Ons wil ons eiendom self besit en die meeste van ons droom om eendag welaf te wees, en nie ons politieke leiers nie.

In elk geval het Jacob Zuma se MK Party toe die EFF uitge-EFF.

Maar die neiging om meer etnies te stem, is die moesie op ons nasionale voorkop.

Ek het geen klinkklare syfers voor my nie, maar ek sal verbaas wees as minder as nege uit 10 kiesers wat vir die MK Party gestem het, Zoeloesprekend is. Die oorgrote gros MK-steun kom uit KZN en suidelike Mpumalanga waar Zoeloesprekers domineer. Anders as die ANC, DA en EFF is MK nié 'n nasionale party nie.

MK is 'n eenmanparty met omtrent geen leierskap of strukture onder Zuma nie. Die hemel help die mense van KZN waar MK nou die provinsiale regering gaan domineer. Zuma gaan waarskynlik in elk geval volgende jaar tronk toe as sy uitgerekte korrupsiesaak uiteindelik voltooi word. MK gaan dalk nie in een stuk bly tot met die volgende verkiesing nie.

En dan is daar die Patriotic Alliance van Gayton McKenzie wat duidelik goed vaar – meestal weens sy klem op bruin kiesers en vreemdelingehaat – en die VF+ wat meestal op wit Afrikaners fokus.

Nou moet ons terugsit en kyk hoe die ANC 'n nasionale regering gaan saamstel. Die 20%+ wat vir die DA verwag word, gaan nie die risiko vir die ANC van 'n koalisie met die “te wit” DA verminder nie, maar 'n koalisie met die EFF en MK is ewe riskant.

Ek sou dink 'n vorm van regering van nasionale eenheid bly maar die beste uitweg.

Ek hoop steeds op hierdie Donderdagaand dat Rise Mzansi, ActionSA en Build One SA tog elkeen 'n paar LP’s verkose gaan kry, veral omdat hulle van die beste kandidate in die wedloop gehad het.

O, en ek sal dankbaar wees hier in my #whiteprivilege-borrel op die Kaapse skiereiland as die aanduidings dat die DA die Wes-Kaap gaan wen, wel waar word. Alan Winde is die beste premier in die land.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.