NIEMAND, buiten miskien sy vrou, verstaan wat in Ramaphosa se diepste binneste aangaan, wat hy regtig dink en glo nie. Hy is 'n geslote boek, selfs vir sy intiemste vriende, sê mense wat hom goed ken. Dit is ook deel van sy hele politieke aanslag.
Wat wel duidelik is, is dat hy van sy hoërskooldae af al geweet het dat hy 'n leierskapsrol in die samelewing wil speel en dit het ook só gebeur. Volgens sy biograaf, Anthony Butler, het hy as tienderjarige vir die joernalis Denis Beckett gesê hy gaan eendag president word. Ek het Ramaphosa in 1984 ontmoet toe hy nog 'n vakbondleier was (hy was toe 31 jaar oud) en ek het selfs toe al geskryf dat ek die indruk kry hy glo hy gaan eendag die leier van 'n post-apartheid-Suid-Afrika word.
'n Man, dus, met 'n sterk selfbeeld, heelwat selfvertroue en baie ambisie, maar nie soseer van die megalomaniese tipe wat mag soek om mag se onthalwe nie, eerder iemand wat glo hy is gebore om 'n leiersrol te speel en 'n trotse nalatenskap te hê. Hy was 'n baie aktiewe Christen in sy jonger dae (dit is onduidelik wat sy houding vandag is); dalk het hy geglo 'n Hoër Hand het hom vir leierskap bestem.
Hy’s nie ’n nommer twee nie
Ramaphosa sien homself as 'n wenner – hy is duidelik nie 'n goeie verloorder nie, 'n eienskap wat ander charismatiese leierstipes met hom deel. Dit is dalk 'n sleutel tot begrip van hoe sy kop werk. Butler haal 'n voormalige vakbondvriend van Ramaphosa aan wat sê: “Cyril staan nie as hy nie weet hy gaan wen nie. Hy is nie 'n kansvatter nie en hy is nie 'n nommer twee nie.”
Hy was een van die kragte agter die grootste mynstaking tot nog toe, NUM se staking in 1987. Maar die staking was 'n ramp vir mynwerkers en is beëindig sonder dat hulle eise tegemoet gekom is. Dit was 'n bitter pil vir Ramaphosa, veral omdat daar in ANC-kringe in Lusaka geglo is dat hy te gou ingegee het.
En tog het dit nie sy leierskapsrol in die vakbonde of die UDF ondermyn nie en dit het hom as nasionale leier bekend gemaak. Toe Nelson Mandela in Februarie 1990 sy eerste toespraak van die balkon van die Kaapstadse stadsaal maak, was Ramaphosa langs hom. 'n Jaar later is hy tot die ANC se sekretaris-generaal verkies en het hy homself gou gevestig as die meesteronderhandelaar wat die Nasionale Party-leiers ore kon aansit.
Kroonprins van bevrydingsbeweging
Hy het homself as die kroonprins van die bevrydingsbeweging gesien, een wat die harde werk binnelands eerder as in ballingskap gedoen het om die wit regering na die onderhandelingstafel te dwing, een wat 'n groot rol gespeel het om die Nasionale Party in 1994 tot die tussentydse grondwet te laat instem.
In kort, hy het geglo hy gaan Mandela se eerste adjunkpresident word en hom vyf jaar later opvolg om sy tienerdrome te laat waar word. Sy kamerade in Cosatu en die UDF het ook gedink hy is die aangewese Nommer 2, en volgens baie aanduidinge uit dié tyd het Mandela saamgestem.
Maar Thabo Mbeki was ewe ambisieus. Terwyl Ramaphosa byna dag en nag lank met die onderhandelingsproses vas was, het Mbeki by medebannelinge, ook Jacob Zuma, en veral by die twee voorste populiste van die era, Winnie Mandela en ANC Jeugligaleier Peter Mokaba, geflikflooi.
'n Wye skinderveldtog is teen Ramaphosa van stapel gestuur: Sy pa, ’n polisieman van Soweto, was kwansuis eintlik ’n apartheidmeeloper; Cyril is in Anglo American se sak en dit was die rede waarom die 1987-staking beëindig is; hy het gay verhoudings met prominente wit mans gehad, en so meer. Zuma self het sy ou skinderstorie in die pot gegooi: Cyril was in hegtenis geneem; hoekom is hy toe nooit aangekla nie? (Hy is in 1974 vir 11 maande en in 1976 vir ses maande sonder verhoor aangehou.)
Mbeki het toe die pos gekry. Dit het Ramaphosa só ontstel dat hy Mandela se inhuldiging op 10 Mei 1994 geboikot het en 'n aanbod van 'n senior kabinetspos van die hand gewys het. Sy pad na die presidensie sou 'n ander, langer roete moes volg. Hy het ingestem om die voorsitterspos van die grondwetskrywende vergadering te aanvaar wat in 1996 ons huidige Grondwet opgelewer het.
Sukses as sakeleier
Op 13 April 1996 het Mandela aangekondig dat Ramaphosa die aktiewe politiek gaan verlaat om 'n sakeman te word. Daar is al baie bespiegel hoekom hy die besluit geneem het, maar my indruk was nog altyd dat hy inderdaad wou wys dat hy ook as sakeleier 'n sukses kon maak, dat hy 'n hele paar miljoen in die bank wou hê en dat hy geen kans gesien het om in die topstrukture van 'n ANC wat deur Mbeki gelei word, aan te bly nie. Ek is oortuig daarvan dat hy geglo het dat omdat hy maar 43 jaar oud was, daar genoeg tyd was om hom vir 'n latere poging om president te word, voor te berei.
Hy moes lank wag. Hy was suksesvol as 'n sakeman en het 'n groot rykdom versamel. En toe kom die ANC se konferensie in Polokwane in 2007 en Mbeki word onseremonieel as partyleier en 10 maande later as president uitgeboender. Ramaphosa was stilletjies in die anti-Mbeki-kamp, hoewel hy en die man wat toe ANC-leier en later president geword het, Jacob Zuma, nooit ooghare vir mekaar gehad het nie. Ramaphosa was op die nasionale uitvoerende komitee van die ANC en het stadigaan 'n meer aktiewe rol begin speel. Die skaakspel het begin vorder.
16 Augustus 2012 was vir Ramaphosa 'n helse terugslag. Hy was 'n direkteur van die Lonmin-platinummyn, en toe onluste by die myn uitbreek, het hy in eposse en telefoonoproepe die owerhede gevra om streng op te tree. Op dié dag het die polisie 34 mynwerkers doodgeskiet, 'n bloedbad wat dadelik aan die Sharpeville-slagting van Maart 1960 gekoppel is. Sy vyande het dadelik begin sê hy het bloed aan sy hande, maar die geregtelike kommissie van ondersoek het hom van alle blaam onthef en hy het dit polities oorleef.
Zuma se adjunk
Wel, hy het 'n bietjie hulp van sy ou vyand Zuma gehad. Zuma is deur Kgalema Motlanthe as leier uitgedaag by die Mangaung-konferensie in Desember 2012 en het Ramaphosa gevra om op sy lys as sy adjunk te staan. Zuma het 'n paar beweegredes gehad.
Vir eers het hy vas geglo Ramaphosa met sy Venda-etnisiteit en sy Marikana-bagasie sou nooit ’n bedreiging vir hom of sy opvolger kon wees nie – net soos Mbeki van Zuma gedink het toe hy hom as sy adjunk ingenooi het. Maar Zuma het ook besef sy steun in die stede, veral in Gauteng, was aan die kwyn en Ramaphosa sou dié steun kon herwin en boonop namens hom vrede met die sakegemeenskap maak.
Sy skaakstukke het in slagordes op die skaakbord begin opstel. Anthony Butler skryf in Cyril Ramaphosa – The Road to Presidential Power: “Die vierde groot golf van Ramaphosa se opgang, wat gou ná die ANC se Polokwane-konferensie van 2007 begin het, was gebou op 'n kombinasie van geduld, strategiese geslepenheid en waagmoed wat baie van die mense na aan hom verras het.”
En só word Ramaphosa toe die adjunkpresident van die ANC en in 2014 die adjunkpresident van Suid-Afrika.
Daar is nie 'n kans dat hy nie vooraf presies geweet het wat in die Zuma-presidensie en kabinet ná 2014 sou aangaan nie.
Ramaphosa het geduldig al die vervelige take van 'n adjunkpresident vervul: Soedan, Lesotho, openingseremonies en vrae in die parlement. Die posisie van adjunkpresident was sedert die Mbeki-termyn een sonder veel mag.
Speel die spel
Ramaphosa het die spel gespeel en was 'n goeie kader wat nie uitgepraat of die ANC-leiers uitgedaag het nie. Hy het tjoepstil gebly, watter nonsens Zuma ook al aangevang het – selfs oor die katastrofiese afdanking van Nhlanhla Nene in Desember 2015.
Ek het 'n ietwat siniese houding hieroor. Dit het Ramaphosa gepas dat Zuma so drooggemaak het. Hy was altyd daar as die ordentlike teenpool. Hoe ongewilder Zuma geword het, hoe beter was sy kanse om hom uiteindelik as leier uit te daag. Dit het hom selfs gepas dat die ANC so swak in die plaaslike verkiesing van 2016 gevaar het – dit kon net beteken die ANC sou hom met die algemene verkiesing van 2019 baie nodig hê.
Ek het min twyfel in my eie gemoed dat Ramaphosa tussen 2012 en 2017 deurentyd sy eie pad na die presidensie beplan het. Die doel heilig die middele. As hy gedoen het wat soveel van ons geëis het hy moes – opstaan teen misbruik, staatskaping en Zuma se skandes – sou hy die risiko geloop het om nie in posisie te wees toe sy kans in Desember 2017 kom nie.
Dit het gewerk – net-net, maar tog. Sy grootste gatslag by die verkiesing by Nasrec in Desember 2017 was dat sy kandidaat vir sekretaris-generaal, Senzo Mchunu, met 24 stemme teen Ace Magashule verloor het, waarskynlik deur 'n gekonkel. Ek wonder of hy werklik toe besef het watter hel Magashule sy lewe as hoofkommandant van die terugvegbende sou kon maak.
Soos ek al hier geskryf het, het Ramaphosa en sy binnekring die potensiaal van weerstand deur die patronaatskap- en staatskaperspan hopeloos onderskat en die moontlikheid dat die strafregstelsel dié elemente vinnig sou kon hanteer, hopeloos oorskat. Die meeste van ons het dieselfde fout gemaak.
Strewe na suksesvolle demokrasie, ekonomie
My sterk vermoedens dat Ramaphosa beplan om tot 2027 president te bly, word deur van sy vriende en kollegas bevestig. Hy het 'n obsessie om 'n trotse nalatenskap van 'n suksesvolle demokrasie en ekonomie te vorm. Hy het tyd daarvoor nodig. Dit beteken hy moet nie net werk maak om die land en die ekonomie beter te laat bestuur nie; hy moet sorg dat hy nie as leier uitgeskop gaan word nie. Sy jare as adjunkpresident het hom goed vir die morsige ANC-binnepolitiek geakklimatiseer. Hy reken hoe langer hy president bly, hoe meer werklike mag sal hy bekom.
Dit klink dalk alles erg Machiavelliaans, maar dit is Suid-Afrika dié.
Ramaphosa het inderdaad sedert vroeg 2018 merkwaardige suksesse behaal, soos die skoonmaak van die staatsondernemings en die herstel van die strafregstelsel, al vat dit langer as wat ons gehoop het.
Maar hy het ook 'n terminale siek ANC geërf, en 'n ekonomie wat op sy knieë is met berge staatskuld en 'n mank energievervaardiger terwyl goedkoop populisme en raspolitiek die politieke kultuur oorheers.
Iemand met 'n obsessie met sy nalatenskap klink na 'n narsis, maar 'n minimum skoot narsisme was nog altyd 'n voorvereiste vir 'n suksesvolle politikus. Ten minste weet ons Ramaphosa se idee van 'n nalatenskap is nie persoonlike rykdomme nie, maar 'n land wat werk.
Ons sal maar moet wag en kyk of hy die balans tussen mag en goeie regering regkry – en of hy genoeg tyd het om sy planne tot uitvoer te bring.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 20 September 2019 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.