Betaal terwyl jy kla is die Wet van SA

DIASPORA-DAGBOEK

Betaal terwyl jy kla is die Wet van SA

Ons wil niks hoor van ministers se kinderagtige gekibbel oor Eskom terwyl beurtkrag die ekonomie elke dag derbiljoene rande kos nie, skryf WILLEM KEMPEN. ANNALIESE LUBOWSKI vertel hoe dit is om ná drie jaar in die Verenigde Koninkryk terug huis toe te kom, na háár mense toe. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 24 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre

1. Pres. Cyril Ramaphosa het Eskom versoek om die styging in elektrisiteitspryse van 18,65% wat deur Nersa goedgekeur is, te heroorweeg. Die president meen dit sou onbillik wees om hoër tariewe te vra terwyl daar heeltyd kragonderbrekings is. (Ja, reken.)

2. Oliepryse op internasionale markte het gister gestyg in die hoop dat die Chinese ekonomie oor die ergste Covid-krisis is en nou kan begin herstel. Suid-Afrikaanse brandstofpryse sal na verwagting ook volgende week meestal styg, blyk uit data van die Sentrale Energiefonds.

3. Die plaaswerker Dave Verster het aan News24 gesê die werkstoestande op plase in die Noord-Kaap word vererger deurdat beurtkrag beteken water kan nie altyd gepomp word na waar dit nodig is nie. Vyf plaaswerkers het vermoedelik weens sonsteek omgekom in die omgewing van Kakamas in die Noord-Kaap (aanvanklik is berig dat sewe mense dood is).

4. Die Vlaamse meester Peter Paul Rubens se 1609-skildery van die afgekapte kop van Johannes die Doper wat aan koning Herodus se skoondogter voorgehou word, sal na verwagting tussen $25 miljoen en $35 miljoen haal wanneer dit later vandeesweek in New York deur Sotheby’s opgeveil word.

5. Die Proteas is vasbeslote om aan die Internasionale Krieketraad se T20-Wêreldbeker in Oktober in Australië deel te neem sonder dat dit nodig is om kwalifiserende wedstryde te speel, het David Miller aan eNCA gesê nadat die Paarl Royals die Pretoria Capitals in die SA20-liga geklop het.


Vandag se weer

Die hittegolf oor Gauteng en KwaZulu-Natal duur voort. Hoë brandgevaartoestande word in die Sentraal-Karoo in die Wes-Kaap verwag. Enkele buie en donderbuie word in die binneland verwag met moontlike reën langs die kus in die Oos- en Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 35°C • Johannesburg 33°C • Rustenburg 34°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 20°C • Durban 36°C • Paarl 21°C • Oudtshoorn 29°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 30°C • Upington 33°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Die klokke lui vir jou ook, Cyril Ramaphosa

Waarom, vra ’n vriend van my, ’n professionele man wat ook ’n deeltydse maar ernstige kommersiële boer is, kan die Inkomstediens nie ook maar net so vrot gewees het met die invordering van sy belasting as wat elke ander vertakking van die staat met húlle taak is nie?

Want, sê my vriend, hy kan nog plan maak teen die stukkende paaie en elektrisiteit wat alewig af is en vyandige arbeidsbeleid en die algemene fokjou-houding in die staatsdiens, maar aan die ongenaakbare reëlmaat van BTW en inkomstebelasting te moet betaal kan hy net mooi niks doen nie. Kan daar nie maar ’n upside ook wees aan so ’n useless lot nie?

Ek wil liewer nie weet wat my vriend te sê het oor die Inkomstediens se aandeel in die jongste onbegryplike twis oor Eskom nie. In kort: Eskom is desperaat op soek na nog geld – glo sowat R7,5 biljoen – om genoeg diesel te kan koop om hoër fases beurtkrag tot aan die einde van sy boekjaar te vermy. Een uitweg is dat die Inkomstediens sowat R5,9 biljoen se diesel-rabatte aan Eskom terugbetaal. Die ander uitweg is dat ’n groothandel-diesellisensie aan Eskom uitgereik word, wat glo tot ’n jaarlikse besparing van tot R5 biljoen sou kon lei.

In albei gevalle kon senior regeringsleiers, onderskeidelik Enoch Godongwana as minister van finansies en Gwede Mantashe as minister van energie, “nie daarin slaag” om die klip uit Eskom se pad te rol nie.

Die res van ons in die regte ekonomie gee net mooi niks om oor watter minister of staatsdepartement of obskure stel reëls reg of verkeerd is nie. Al wat ons sien, is magspeletjies en ’n president wat te bang is om sy mense tot orde te roep en die krisis op te los. Al wat ons sien, is ’n klomp mense wat nie verstaan hoe absurd min R7,5 biljoen is as dit opgeweeg word teen wat beurtkrag die ekonomie elke dag kos nie.

Dit lyk trouens nie eens of die regering besef hoe groot die krisis is nie. Dit karring maar net aan van vergadering tot kommissie tot kongres tot hofsaak in ’n skynbaar oneindige siklus.

Die groter probleem is dat mense soos Mantashe, Godongwana, en ja, Ramaphosa self ook, nie die wrewel van die land se kiesers vrees nie. Ook nie die wrewel van belastingbetalers nie. Solank die armsalige ANC tog net deur nog ’n verkiesing gesleep kan word en teen wil en dank aan die bewind bly.

Oppas, menere, die klokke lui vir julle, of julle dit nou wil hoor of nie.


Image: ANGELA TUCK

Annaliese Lubowski | Terug na die bekende

Ek het voorheen geskryf oor hoe dit is om in die Verenigde Koninkryk gevestig te raak, maar nou is die proses omgekeer, geheel en al en uit vrye keuse.

Sal ek moet aanpas om weer in my tuisland gevestig te raak? Net die tyd sal leer.

Een ding waarvan ek seker is, is dat ek terugkeer na die vryheid om myself te wees. Toegegee, as jy eers jou tuisland verlaat het, onthou jy net die goeie tye, en ek wil dit duidelik stel dat die VK vir my goed was. En ek sal my sielsvriende wat ek daar gemaak het geweldig mis.

Maar hierdie is ’n refleksie op my persoonlike ondervindings terug in my Afrika-tuisland en in ’n vreemde land; net myne, geen oordeel, geen reg of verkeerd nie, net wat ek in my siel voel. Ek verlaat die land van geen ander kleur nie as groen, ondanks baie positiewe dinge, om terug huis toe te gaan na die land van baie probleme, korrupsie, beurtkrag, geweldsmisdaad en swak en aggressiewe bestuurders, maar propvol vibrant, regte mense.

Ek verlaat die land van doeltreffendheid, vreemde aksente, selfs vreemder uitdrukkings en duisende keuses. Daar is ’n miljoen of meer keuses van sjampoe, botter, aartappels (nadat ek drie jaar daar geleef het, het ek steeds geen benul watter om te kies nie) en moenie dat ek eers begin praat van die elektrisiteitsverskaffers nie ... dis ’n storie vir ’n ander keer.

Dit is ook die land van lang toue, waar mense gedwee aanvaar dinge “is wat dit is”, van saai klere en van altyd die regte ding doen, maar jy raak nie aan vreemdelinge nie en gee selde drukkies. Ek sal liewer nie praat van die aanvaarbare uitdrukkings soos “I was sat there” of “I’m not bowwerd” (ek is rustig/maklik) nie. As ek sulke Engels in Suid-Afrika praat, sal ek beskuldig word dat ek ’n Boer is wat probeer Engels praat!

’n Land van briljante joernalistiek en keuses van koerante om te lees, maar terselfdertyd ’n nasie verslaaf aan die pers. Vergelyk dit met ’n hoofartikel in die Suid-Afrikaanse Financial Mail waarin ’n minister beskryf word as “Mr ‘Fixfokol’ Mbalula”, en jy verstaan wat ek sê.

Ek keer terug na vibrancy, kleure, howzit, no man, lekker en naaaice. Selfs in Jozi, wat nie my tuisstad is nie, het ek gemaklik, tuis en verlig gevoel, soos om die boonste knoop van jou broek (pants in Suid-Afrika, trousers in die VK!) los te maak ná ’n groot maaltyd. Jy besef nooit hoe ongemaklik dit is tot dit verby is nie. Dit voel net reg.

Dis my mense hierdie, ek verstaan hulle, en vir die eerste keer in drie jaar kan ek asemhaal, regtig asemhaal. In die VK het ek aan permanente selftoegediende angs gely. Angs oor of ek die regte ding doen, angs oor watter handelsmerk se waspoeier om te koop, angs oor of ek die verkeerde ding sê, angs oor of ek inpas, aanvaar word, angs of ek nie gesien word as ’n inkommer wat misbruik maak van die freebies in ’n welsynstaat nie.

Soos die NHS, waarvoor ek ’n reusebedrag betaal het, maar nooit regtig gebruik het nie omdat dit ’n wagtydperk van drie tot ses maande vat om ’n dokter te sien. Moet my nie verkeerd verstaan nie: As jy besig is om dood te gaan, is hulle briljant, solank jy nie probeer medikasie kry, aan depressie ly of ’n ernstige geval van longontsteking of asma het nie, want dan is parasetamol die enigste kuur!

Ek is ongelooflik geseënd dat ek ’n ander kultuur eerstehands kon ervaar, nie as ’n toeris of ’n student nie, maar as ’n immigrant wat probeer aanpas en ’n bestaan maak. Ek is meestal met ope arms verwelkom, ek het interessante mense ontmoet, en ek het sielsvriende gemaak, maar dit het vreemd gebly.

Ek het geleer dat die ooreenkomste nie verder gaan as om dieselfde taal te praat en aan dieselfde kant van die pad te ry nie. My tribe is anders, nie beter of slegter nie, net anders. So ons het die groot skuif na die suide gemaak sonder enige idee of dit gaan werk of nie. Ek sien dit nie as ’n mislukking of dat ek na die verlede terugkeer nie, maar om (weer) ’n nuwe lewe te begin, ’n nuwe hoofstuk in ’n stukkende land, maar met regte mense.

Ek is ongelooflik bevoorreg om ’n man te hê met dieselfde swerwersgees as myne en ’n uitgebreide familie wat ons ondersteun, al verstaan hulle ons nie. Waar ek nou die laaste deel van my lewe ingaan, neem ek my voor om die lewe voluit te leef, om elke geleentheid aan te gryp en nooit met te veel spyt terug te kyk nie.

Ek probeer om teleurstellings te laat gaan, maar ek aanvaar ook dat ek altyd oor sekere dinge in my lewe teleurgesteld sal wees. Maar ek sal nie dat die gevoelens my verteer of definieer nie. Ek sal my teleurstellings aanvaar as bewys van my menslikheid en ek beskou my lewe as ’n goeie een. Miskien het ek nie alles op die beste manier aangepak nie, maar op die enigste manier wat ek weet hoe, as ’n kind van AFRIKA, my bra!

Aan die vele spesiale geliefdes en sielsvriende die wêreld oor, dankie dat julle ons altyd ondersteun, ons liefhet en bowenal aanvaar net soos ons is.

* Annaliese Lubowski is ’n prokureur. Sy en haar man woon nou in Kaapstad.

Annaliese Lubowski en haar man, Stewart Alcock.
Annaliese Lubowski en haar man, Stewart Alcock.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


He Wishes His Beloved Were Dead 

Were you but lying cold and dead,
And lights were paling out of the West,
You would come hither, and bend your head,
And I would lay my head on your breast;
And you would murmur tender words,
Forgiving me, because you were dead:
Nor would you rise and hasten away,
Though you have the will of wild birds,
But know your hair was bound and wound
About the stars and moon and sun:
O would, beloved, that you lay
Under the dock-leaves in the ground,
While lights were paling one by one.

– William Butler Yeats

(Uit: Collected Poems)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.