Regte mense is soms politici of mors tamatiesous op die stoof

WOENSDAG MET WILLEM

Regte mense is soms politici of mors tamatiesous op die stoof

ANNELIESE BURGESS sê dis nie Jacinda Ardern se politiek wat haar beïndruk nie, maar haar menslikheid; WILLEM KEMPEN ontmoet 'n ware avonturier in 'n blommetjiesrok; en soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy wil weet.

  • 25 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Die benoemings vir die 95ste Academy Awards (die Oscars) is bekendgemaak. Van die flieks wat meer as twee benoemings in die onderskeie kategorieë gekry het, sluit in:

Everything Everywhere All at Once: 11
The Banshees of Inisherin: 9
Tár: 6
Avatar: The Way of Water: 4
Top Gun: Maverick: 6
Elvis: 8
The Fabelmans: 6
Black Panther: Wakanda Forever: 5
Triangle of Sadness: 3
Women Talking: 2
Babylon: 3
The Whale: 3

Die wenners sal op 12 Maart by die gebruiklike glansgeleentheid bekendgemaak word.

2. Die openbare beskermer se ondersoek na Phala Phala is afgehandel en ’n voorlopige verslag oor die saak is aan “relevante partye” oorhandig, het haar kantoor gesê.

3. Eskom sê enigeen wat ongelukkig is oor die tariefverhoging van 18,65% wat deur Nersa goedgekeur is, sal dit in ’n hof moet betwis. Dit is in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se vroeëre versoek dat Eskom die verhoging heroorweeg.

4. Nóg ’n massa-skietvoorval in Kalifornië, dié keer in die noordelike kusstad Half Moon Bay, het Maandag die lewe van sewe mense geëis. Die verdagte is geïdentifiseer as die 67-jarige Chunli Zhao, wat in hegtenis geneem is nadat hy homself glo aan die polisie wou oorgee. Dis nog nie bekend of dit verband hou met Saterdag se voorval toe ’n man met ’n masjiengeweer in ’n dansateljee in Monterey Park losgebrand het en waarin 11 mense gesterf het nie.

5. Pres. Volodymyr Zelensky van Oekraïne het meer as ’n dosyn senior regeringsleiers afgedank. Die meeste afgedankte amptenare, insluitende die goewerneurs van verskeie provinsies waar gevegte voortduur, word op die een of ander manier met korrupsie verbind. Zelensky is voortdurend onder druk van sy Westerse bondgenote om nie korrupsie in sy geledere te duld nie.


Kyk weer ...

’n Waarskuwing is uitgereik vir erge donderstorms wat tot groot hoeveelhede klein hael, sterk winde en uitermatige weerlig en oorstromings kan lei oor die noordooste van die Noord-Kaap, verre weste van Noordwes, en die weste van die Vrystaat.

Klik hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 33°C • Johannesburg 31°C • Polokwane 28°C • Mbombela 27°C • Upington 36°C • Bloemfontein 31°C • Kaapstad 24°C • George 23°C • Worcester 30°C • Durban 24°C • Gqeberha 23°C.


Anneliese Burgess | Jacinda Ardern se menslikheid roer my

Daar is iets aan Jacinda Ardern, wat nog vir ’n paar dae premier van Nieu-Seeland is, wat my diep raak.

Sy begin ’n onlangse mediakonferensie op haar kenmerkend vriendelike, plat-op-die-aarde-manier. Sy het twee dinge om oor te praat, sê sy. Die eerste is om die datum vir die volgende verkiesing aan te kondig.

Die Nieu-Seelandse aksent met sy trekkerige e’s is prettig. Ardern se weergawe is in die oortreffende trap. Sy is so Kiwi as wat kan kom. En haar manier van kommunikeer voel eerlik en eg.

Ek dink dit is iets waarna ons as Suid-Afrikaners smag – die gevoel dat die politikus uit wie se mond woorde vloei, regtig omgee (oor enigiets behalwe die volgende verkiesing).

Toe Ardern op 37 aan die bewind kom, is sy die jongste staatshoof ter wêreld. Sy is slegs die tweede vroulike staatshoof in die geskiedenis wat gedurende haar ampstermyn geboorte gee (Benazir Bhutto van Pakistan was die ander een). Daar is die nou beroemde beelde van haar ná die Christchurch-moskee-skietery waar sy, respekvol met ’n hidjab as hoofbedekking, treurende familielede styf in haar arms vasdruk. Daar is Facebook Live tydens Covid, waar haar dogtertjie haar kom pla, en Ardern sonder om te skroom eers met Neve gesels en sê sy moet teruggaan bed toe (“Mamma kom nou-nou”) voordat sy terugdraai kamera toe en verder met die nasie praat. Daar is die keer wat sy regstreeks op kamera is toe die kamer begin skud – van ’n aardbewing – en met ’n koes hier en ’n grappie daar bly sy heeltemal kalm.

Ardern se onaanstellerigheid is uniek. Wat my bring by die tweede ding waaroor sy wou praat. Sy kyk vir ’n oomblik af. En dan, met ’n stem wat breek van emosie, kondig sy haar bedanking aan. Dit laat ’n knop in my keel.

As Suid-Afrikaner vind ek dit toenemend onmoontlik om enigiets wat uit ’n politikus se mond kom te glo. Wat nog te sê om enigiets anders as skeptisisme en teleurstelling (en déjà vu) te voel.

Ardern praat oor hoe sy nie meer “genoeg in haar tenk oor het” om aan die vereistes van premier te voldoen nie. “I am human. Politicians are human.”

En dan praat sy met haar dogtertjie en haar verloofde: “To Neve: Mom is looking forward to being there when you start school next year. And to Clarke: Let’s finally get married.”

Die knop in my keel raak toe sommer ’n traan in die oog. Sy is nie skaam vir haar emosies nie. Sy is nie skaam vir haar sagtheid nie. Sy is nie skaam vir die liefde nie. Sy is nie skaam om woorde soos “empathy, love, kindness” op ’n politieke verhoog te gebruik nie.

Miskien het dit my so tussen die oë geslaan omdat ons so gewoond geraak het aan ons politici wat konkel, en kanse vat, en oneerlik is, en verdoesel, en dink optics is belangriker as substance.

Ardern is ’n poster girl vir progressiewe politiek (en word natuurlik ook vurig daaroor gehaat – Australiese Sky News het smalend na haar bedanking verwys as “a failure of woke politics”).

Maar dit is nie haar politiek wat my beïndruk nie. Dit is haar menslikheid. Dit is waaroor die politiek behoort te gaan.


Image: ANGELA TUCK

Niks sê ‘Afrika-avontuur’ soos ’n gasplaat vol ketchup nie

Ek dag eers die ouerige blonde vrou wat ons vanuit haar camper nader wink het iets met die krieket te doen, want sy staan geparkeer reg langs die velde waar die T20-Wêreldbeker vir vroue onder 19 hier in Potchefstroom aan die gang is. En ook reg langs die roete wat ek en my vrou elke oggend stap.

Maar nee, sy soek net hulp. Sy praat met ’n swaar Duitse aksent en verduidelik dat sy die vorige aand “ketchup” op die gasplate in haar kombuisie gemors het, en nou wil dit nie werk nie. Sy weet niks van gasstowe behalwe wat die plek waar sy die voertuig huur haar vertel het nie.

Haar naam is Brigitte, en sy het die vorige aand ná donker in Potch aangekom op soek na ’n plek waar sy oornag kon parkeer en slaap. Kom ons sê maar net die plaaslike munisipale kampeerterrein by die dam is nie meer wat dit was nie, en op een of ander manier het sy toe hier langs die universiteit se sportvelde beland. Vanoggend wil sy koffie maak, en nou werk die stoof nie.

Gelukkig kon ons gou een van die plate weer aan die gang kry, en ek stel voor sy bel ’n gasplek daar naby wat alles behoorlik sal kan skoonmaak en seker maak dis veilig om te gebruik. Nee, sê sy, skryf liewer vir my die adres hier neer, dan soek ek dit op die GPS, want lang storie oor Vodacom en Telkom en MTN wat haar baie geld gevra het en sy kon nog steeds nie op haar foon gebel kry nie. Sy het darem data.

Brigitte kom van iewers naby Stuttgart. Haar man en seun is ’n jaar of wat gelede oorlede, en toe besluit sy om deur Namibië en Suid-Afrika te kom reis. Alleen, in ’n camper van, en sonder ’n foon wat werk.

Die meeste Duitse toeriste wat mens hier in die noorde van die land teëkom, is sulke lang avontuursoekende tipes, gewoonlik twee of drie van hulle, vol stof en beplak met BMW-kentekens: op die motorfiets, op die valhelm, op die stewels, op die handskoene, op die neerbliksem-bestande Gore-Tex-baadjies en -broeke. Soms het van hulle selfs ’n satellietfoon byderhand vir kommunikasie met die buitewêreld. Jy kan ’n kleinerige hoërskool iewers naby Lusikisiki vir ’n week of twee bedryf met die geld wat dit alles kos.

Maar hier kom Brigitte van Stuttgart wat beswaarlik Engels kan praat, met haar blommetjiesrok en haar gehuurde camper van en haar notaboek waarin sy met ’n balpuntpen mense se adresse neerskryf wat haar help om haar stoof aan die gang te kry sodat sy hulle later kan nooi om vir haar in die huis in Spanje te gaan kuier waarheen sy gaan trek sodra sy terug is uit Afrika.

Ek hoop jy het dit van hier af veilig tot in Kaapstad gemaak soos jou plan was, Brigitte. Ons sou jou gebel het om uit te vind as ons kon, maar nou ja, ons wag nou maar op jou om te laat weet.

Tot volgende keer

Willem


Those Winter Sundays

Sundays too my father got up early
and put his clothes on in the blueblack cold,
then with cracked hands that ached
from labor in the weekday weather made
banked fires blaze. No one ever thanked him.

I’d wake and hear the cold splintering, breaking.
When the rooms were warm, he’d call,
and slowly I would rise and dress,
fearing the chronic angers of that house,

Speaking indifferently to him,
who had driven out the cold
and polished my good shoes as well.
What did I know, what did I know
of love’s austere and lonely offices?

– Robert Hayden

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.