Die vrugte van gif en (en amandelmelk op Noudonsies)

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Die vrugte van gif en (en amandelmelk op Noudonsies)

WILLEM KEMPEN sê baie van die ANC se vrot het begin by Medupi en Kusile, en MERCY KANNEMEYER wonder: Wat ís dit met dié mense? Soos altyd is daar vyf goed in die nuus wat jy graag wil weet.

  • 31 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Regter Piet Koen het hom aan die korrupsiesaak teen Jacob Zuma en die Franse maatskappy Thales onttrek. Zuma se regspan het aangevoer Koen behoort hom te onttrek omdat hy vroeër bevind het die staatsaanklaer Billy Downer mag voortgaan om Zuma te vervolg, en hom boonop sterk daaroor uitgespreek het. Koen het oor sy besluit gesê: “I have come to the conclusion, and it was not an easy decision, that I have to recuse myself from the trial. It is what the sound administration of justice, the requirements of the Constitution, and what my conscience dictate.” Die saak is tot 17 April uitgestel.

2. Mpho Phalatse, wat verlede week as burgemeester van Johannesburg uit haar pos verwyder is, het haarself verkiesbaar gestel vir die pos van federale leier van die DA wanneer die party later vanjaar sy kieskongres hou. John Steenhuisen beklee tans dié posisie.

3. Die regering oorweeg maniere om huishoudings en klein ondernemings te help om sonkragstelsels en ander energiebesparende toestelle te installeer, het pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief gesê.

4. Sihle Zikalala, voormalige premier van KwaZulu-Natal, gaan as lid van die parlement “herontplooi” word, het News24 berig. Zikalala het as premier bedank nadat hy nie daarin kon slaag om as provinsiale voorsitter van die ANC herkies te word nie. Hy was tot nou KwaZulu-Natal se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, wat bespiegeling laat ontstaan het dat hy Nkosazana Dlamini-Zuma in dié portefeulje kan opvolg.

5. Minstens 33 mense is dood en meer as 150 beseer toe ’n selfmoord-bomaanvaller gistermiddag ’n kragtige ploftoestel in ’n besige moskee in Peshawar in Pakistan laat afgaan het. Die moskee is naby die stad se polisiehoofkantoor geleë en die baie polisiemanne wat gereeld daar aanbid, was vermoedelik die teiken.


Vandag se weer

Die weerkantoor het waarskuwings uitgereik oor swaar donderbuie wat tot oorstromings in die westelike dele van Noordwes en die Vrystaat kan lei. Toestande wat ’n hoë brandgevaar skep, word ook in die noordweste van die Noord-Kaap verwag. Buie en donderbuie word in die binneland verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 26°C • Johannesburg 24°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 29°C • Durban 27°C • Paarl 34°C • Oudtshoorn 34°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 24°C • Upington 38°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Steeds vretende aan die vrugte van ’n vergiftigde boom

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se hande is vol genoeg met staatskapers uit die Gupta-era teen wie daar behoorlike sake gebou kan word sodat hulle in ’n hof skuldig bevind en gestraf kan word. Nie dat die publiek veel suksesse verwag nie: Dis meestal komplekse vervolgings wat meer tyd, geld en kundigheid (en soms wilskrag) verg as waaroor die NVG beskik.

Wat is dan die kans dat enigiemand tronk toe moet gaan oor die geld wat meer as 15 jaar gelede in die ANC se koffers beland het weens die korrupte wyse waarop Eskom-tenders van R38 biljoen in 2007 aan Hitachi Power Africa toegestaan is vir die bou van stoomketels by Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasies?

Bitter skraal, maar ons durf nie nou maar net skouers ophaal en sê ons het nuwer korrupsie om ons oor te bekommer nie.

Dis ou nuus dat Medupi en Kusile in sonde ontvang en gebore is, maar Kyle Cowan van News24 het gister nuwe detail onthul wat sonder twyfel wys dat die ANC as die regerende party destyds politieke druk op Eskom uitgeoefen het om ál die kontrakte aan Hitachi (deesdae Mitsubishi Hitachi Power Africa) toe te staan.

As dit nie vir daardie politieke druk was nie, sou Medupi en Kusile waarskynlik nie tot vandag toe nog steeds die land se elektrisiteitskrisis erger pleks van beter gemaak het nie. Medupi en Kusile sou trouens dalk nie eens bestaan het nie – ’n menigte kritici het destyds al gesê steenkool is die verkeerde pad vorentoe.

Die ANC onder Thabo Mbeki het klaarblyklik gedink ’n mate van korrupsie is aanvaarbaar as dit ter wille van die party is en nie net die sakke van ’n gierige klein elite laat oorloop nie. Die ANC se steunbasis was immers nie welgestelde mense wie se ledegeld en skenkings genoeg was om sy eie organisasie aan die gang te hou en duur verkiesingsveldtogte te voer nie.

Maar die soort korrupsie wat by Medupi en Kusile gepleeg is, het ook die deur verder oopgemaak vir die Guptas en andere soos hulle vir wie dit hoegenaamd nie oor die party gegaan het nie, maar enkel en alleen oor persoonlike verryking.

Daarna was dit ’n kwessie van tyd voordat swart bemagtiging heeltemal ontaard het in ’n siniese uitbuiting deur ’n nuwe elite wat net so min vir die massa Suid-Afrikaners omgee as die oue waarteen die ANC dekades lank baklei het. En dis dieselfde groepie rykes na wie se pype die gefragmenteerde ANC steeds probeer dans.

Dalk, as dit nie vir Medupi en Kusile was nie, sou daar vandag effens meer oor gewees het van die ANC se status as kampvegter vir die armes.


Image: ANGELA TUCK

Mercy Kannemeyer | Wat is dit met die mense van die Noord-Kaap?

Ek land verlede Maandagoggend in Upington vir werk en word onmiddellik deur die oopste gesigte gegroet. Dis droog en warm, maar die mense glimlag en gesels. Uit die staanspoor voel ek gemaklik. Wat is dit met hierdie mense?

Vir die tweede keer in my lewe is ek in die Noord-Kaap. Ek was te jonk ten tyde van my eerste besoek aan hierdie provinsie om dit te onthou, maar in die foto-album by die huis pous ek en my broer saam met ons ouers voor ’n kerk iewers in Kimberley. Omdat ek die eerste keer nie regtig kan onthou nie, was my afgelope besoek dan seker maar my eerste volwaardige kuier in die Noord-Kaap. Dit voel bekend; dit voel asof ek hier hoort.

Ek verkyk my aan die naambordjies. Askham. Kgalagadi. Rietfontein. Dawid Kruiper. Noenieput en Noudonsies is seker van die mooiste plekname waarvan ek al gehoor het. Ek verkyk my ook aan die mense. Vriendelik, sag, geselserig. Sommer vroeg al het ek besluit om nie nog te worry om vir amandelmelk vir my koffie te vra nie. Een van die werkers by ’n restaurant sê laggend “ons bedien nie daai name goed hier nie”. By die Spar in Upington stop ons vir water. Agter my staan ’n oom wat vra of ek en hy mekaar ken. Een van my kollegas is Engels, en die vroutjie agter die till vra of ons van die buiteland af kom. Ek smile en sê ons is van Johannesburg. Sy’t my net aangekyk.

Vir ’n wyle het ek nie geworry om my e-posse te kyk, Instagram te scroll of selfs angstig die nuusblaaie elke oggend te lees nie. Die afgelope week was ek meer present en in the moment as wat ek in ’n lang tyd was.

Diep in die Kalahari waar ons was, was nie juis sein nie. Een van die mense daar sê sy moet soms op ’n duin gaan staan om haar selfoon te gebruik. Hoe lieflik, dink ek! Dit moet darem ongelooflik wees om nie so vasgehou te moet voel nie. Oplettend was hoe die mense nie gekla het nie. Al was dit byna 40°C het almal aangegaan met hulle dag asof dit niks was nie. Dis oesseisoen en iewers in Kakamas is ’n aantal plaaswerkers as gevolg van die hitte dood. Dit voel onnodig om oor die weer te kla terwyl ek in ’n bakkie met aircon rondry.

Terug in Johannesburg. Toe ek van die lughawe af huis toe ry, voel ek die onrustigheid van die stad aan. Mense is haastig. Die verkeersligte werk nie, want dis load shedding. Taxi’s ignoreer die padtekens. ’n Kwaai oom in ’n double-cab ry amper in ons vas en gooi vurig sy hande in die lug asof hy nie die een was wat verkeerd gery het nie. Die drywer gesels met my oor Johannesburg se nuwe burgemeester. Ek ken die man van g’n kant af nie, maar blykbaar kom hier moeilikheid. In die comment section van Vrye Tydskrif se “15 vrae aan Mercy Kannemeyer” is ’n trol besig om ’n totale ineenstorting te kry oor ek nie die verskil tussen Marmite en Bovril ken nie. Alles voel bietjie swaarder.

Hoe kan een land so uiteenlopend wees?


O land van sonlig en van sterre

O land van sonlig en van sterre,
van onbegrensde, wye velde –
o wilde wêreld van natuur,
o dierb're grond van Afrika,
waar twee geweldige oseane,
hul branders op die rotse donder,
en langs die breedgerekte kuste
die witte seesand bruis en sketter

– Gustav Preller


Moenie vergeet nie van ons tweede Stilbaai-boekefees, wat in die laaste naweek van Februarie plaasvind.

* Vir meer inligting en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier (die kaartjies vlieg reeds).


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.