Bid in die kleedkamer voor jy op die veld draf

MAANDAG MET MAX

Bid in die kleedkamer voor jy op die veld draf

MAX DU PREEZ skryf oor hoe SA Toerisme ons land eerder kon bemark het, en oor die nuwe mode by ons Blitsbokke. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 06 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Cyril Ramaphosa gaan waarskynlik binne die volgende vier dae sy nuwe kabinet aankondig – dit sou buitengewoon wees as hy tot ná Donderdag se staatsrede daarmee wag. Die bespiegeling in die Sondagkoerante is dat Nkosazana Dlamini-Zuma, wat hard teen Ramaphosa se herverkiesing geveg het, behou gaan word nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee gesê het sy is die ideale kandidaat om die energienoodtoestand te bestuur – omdat sy so ’n wonderlike taak met die Covid-noodtoestand verrig het! Die ander groot vraag bly of Ramaphosa die ruggraat gaan hê om Gwede Mantashe na ’n ander portefeulje as energie te verskuif.

2. Die EFF het aangekondig dat hulle Ramaphosa se staatsrede gaan ontwrig. Die Speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gaan waarskynlik ewe hulpeloos hierop reageer as die laaste keer dat die EFF die verrigtinge ontwrig het.

3. ’n Senior offisier in die polisie se misdaadintelligensie, brig. Tiyani Hlungwani, sê in ’n beëdigde verklaring wat deur City Press bekom is, dat 100 polisievoertuie verdwyn het, dat offisiere groot geld aan faksies in die ANC uitbetaal het, dat offisiere hulle private huise teen oordrewe bedrae geld as veilige skuilplekke aan die polisie verhuur het en dat die eenheid die president se private e-pos onderskep het.

4. Die wrakstukke van ’n Chinese ballon wat Saterdag aan die kus van Suid-Carolina afgeskiet is, word deur die Amerikaanse weermag ontleed. Die Chinese regering sê dit was ’n burgerlike weerballon wat van koers af geraak het, maar die Amerikaners hou vol dat dit ’n intelligensie-operasie was.

5. Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, waarsku dat sy land se magte wat die oostelike stad Bakhmut bewaak, ál meer geïsoleer word deur ’n oormag Russiese soldate wat na die gebied gestuur is. Die oorname van Bakhmut sal ’n strategiese oorwinning vir Rusland wees nadat hulle vroeër grondgebied aan die Oekraïniese weermag moes afstaan.


Vandag se weer

Gedeeltelik bewolk met enkele buie en donderbuie oor die grootste deel van die land. Gedeeltelik bewolk tot bewolk in Kaapstad en sonnig tot bewolk in Durban.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 32°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 29°C • Durban 30°C • Worcester 35°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 26°C • Upington 37°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 30°C.


Max du Preez | Wat SA Toerisme dalk eerder kon gedoen het 

Dit is ’n goeie idee om Suid-Afrika in die buiteland as ’n toeristebestemming te bemark. Toerisme bring geld die land in en verskaf werk.

Maar SA Toerisme se plan om amper ’n biljoen rand aan die sokkerspan Tottenham Hotspur te betaal was nie ’n goeie een nie.

Die eerste fout wat SA Toerisme gemaak het, was om nie oor dié plan met die plaaslike toerismebedryf te konsulteer nie. Om die waarheid te sê, die snaakse biskop aan die hoof van SA Toerisme wat dié week op televisie geskreeu het dat die persoon wat dié plan uitgelek het voordat die kontrak gesluit is, “on-Suid-Afrikaans” is en uitgerook moet word, kon nie meer verkeerd gewees het nie.

Dié fluitjieblaser is ’n held wat die kontrak waarskynlik nou gekelder het.

Die probleem met die kontrak is nie dat dit baie geld is of eerder vir die armes of Eskom of infrastruktuur gegee moes word nie, maar dat ’n Suid-Afrikaanse vlag en ’n slagspreuk op ’n sokkerspeler se trui nie effektief is nie.

Suid-Afrika is nie onbekend aan die teikengehoor nie. Ons rugby- en krieketspanne speel gereeld in die Noordelike Halfrond met groot televisiegehore, Suid-Afrika is deel van die G20-groep nasies en van Brics, en buitelandse staatshoofde en ministers kom gereeld hier besoek aflê – of, soos Rusland en China binnekort, om vlootoorlogspeletjies met ons te speel. En Nelson Mandela.

Potensiële toeriste moet dus meer spesifiek geteiken word om vliegkaartjies te koop en na Suid-Afrika te reis eerder as dat die land as handelsmerk bevorder word.

Ons het sonskyn, wildreservate, strande, berge, wyn en ’n ryk geskiedenis. Die rand is boonop swak, so dit is goedkoop as jy uit die buiteland kom.

Maar ons is ’n gewelddadige land. Ek weet uit persoonlike ervaring dat Europeërs lugtig is om hier te kom kuier. (Ek bly op die suidelike Kaapse skiereiland. Verskeie van ons eens gewilde staproetes is nou so gevaarlik dat ek dit maar nie daar waag nie, selfs nie met my hond nie.)

My voorstel sou wees om ’n deel van die bemarkingsgeld aan ’n mag te bestee wat spesifiek toeristeplekke veilig hou. En dan bemark ons dit as die Veiligste, Sonnigste Plek op Aarde op televisie in Europa en Asië.

Die potensiaal in Indië met sy 1,5 biljoen mense is baie groot en onontgin. Die mees geliefde en bekende nie-Indiër in Indië is ons krieketspeler AB de Villiers. Gee vir hom R50 miljoen en laat hom toeriste gaan lok?

Iemand anders het dié week uitgewerk dat SA Toerisme vir amper 100 000 mense uit die teikenmark vliegkaartjies na Suid-Afrika met die bedrag kon gekoop het.

Jy sien, dis hoekom vinke soos dié by SA Toerisme nie eensydig sulke groot besluite durf neem nie.


Image: ANGELA TUCK

Geloof is jou private saak

Kom ons mymer ’n bietjie oor religie. Gods-diens, soos ons in Afrikaans sê.

Daar is ’n nuwe mode by ons Blitsbokke, ons nasionale sewesrugbyspan. As hulle opdraf, gaan ’n paar van hulle op een knie met die arms hemelhoog en lippe wat iets prewel. Ander kniel weer met geboë hoof en toe oë. Van hulle, en dit het al met Springbokke ook gebeur, spring weg met “ek wil net dankie vir my Skepper/Verlosser/Jesus sê” as hulle ná die wedstryd op televisie verskyn.

Dié teatrale demonstrasies van spelers se geloof irriteer my nogal. Dit is onvanpaste proselitisme, in my oë ietwat van ’n spektakel. Ons nasionale spanne, nes ons land, hang nie ’n spesifieke geloof aan nie. Jy is op die veld om rugby te speel en jou land te verteenwoordig, nie jou geloof nie. Dit is jou private saak.

Boonop is daar gereeld spelers van die Moslemgeloof in van dié spanne – volgens die geloof van die Christen-spelers dus gevaarlike heidens wat reguit hel toe gaan.

My vermoede is dat die breë rugbypubliek dalk nie so beïndruk sou wees as een van hulle ’n matjie na die veld toe neem en die tipiese Islam-gebed daar doen nie, of “Allahu Akbar” (God is die grootste) aan die televisiekameras sê nie.

Ek is maar sinies oor georganiseerde godsdiens. Almal van hulle, maar party meer as ander – my Sourcebook of the World’s Religions lys die belangrikste gelowe as: Bahá í, Boeddhisme, die Christelike gelowe, Confucianisme, Hindoeïsme, Islam, Jainisme, Judaïsme, Sjintoïsme, Sikhisme, Taoïsme, Wicca en Zoroastrisme. Tradisionele Afrikagodsdienste en Eerste Mense- en Inboorlingtradisies moet volledigergewys hierby gevoeg word.

Vele (dalk omtrent alle) oorloë, onderdrukking en menseregtevergrype is al in die naam van veral Islam, die Christelike geloof en Hindoeïsme gepleeg – selfs die sogenaamde vredesgeloof, Boeddhisme, soos ons al in Thailand, Mianmar en Sri Lanka gesien het.

Ek self kom uit ’n konserwatiewe Christelike agtergrond en is op 16 as lidmaat van die NG Kerk “voorgestel en aangeneem”. My en my vrou se families is deurspek met dominees en teoloë.

Ek was nie eens as jongeling ’n ywerige gelowige nie. Niemand wou my basiese, kinderlike vrae beantwoord nie. Soos: Hoekom laat God soveel menselyding toe, veral van babas en kinders? Hoekom het hy my ma laat sterf toe ek vier jaar oud was, te jonk om regtig iets te gedoen het wat dié straf verdien? As God alwetend en almagtig is, dan is my toekomstige gedrag mos vooraf bepaal, so hoe kan ons misdadigers veroordeel? Hoekom het God so ’n klein ego dat hy gebied dat ons hom elke dag aanprys en vrees? En so aan.

Ek onthou ek het in die katkisasieklas vir die dominee gevra as alles wat ons geleer word, waar is, beteken dit alle mense wat voor 2 000 jaar gelede, met die koms van Christus, gelewe het, dus in die hel brand? Die antwoord was altyd: Ons is te klein en te dom om God se kompleksiteit te verstaan; jy moet net glo en jou bek hou. Dit het nie vir my gewerk nie.

Een van die dinge wat my die sterkste opgeval het toe ek as jong man Europa en die Ooste die eerste keer besoek het, was die verskynsel dat verskillende godsdienste in verskillende kulture domineer. So as jy in Indië gebore is, is die kans oorweldigend dat jy as volwassene ’n Hindu gaan wees, in Turkye of Pakistan ’n Moslem, in Thailand of Kambodja ’n Boeddhis en in Europa en Amerika ’n Christen.

Ek het al ’n boek of wat en vele geleerde artikels gelees wat probeer verklaar hoekom mense so tot religie aangetrokke voel. My eie simplistiese siening is dat daar van die vroegste gemeenskappe af, so 100 000 jaar gelede, ’n behoefte was om sin van die lewe te maak, orde en identiteit te skep, vrees vir die dood te besweer en maniere te vind om mense in gemeenskappe te laat saamleef en hulle te beheer. Alle godsdienste het sedertdien mites en bonatuurlike stories geskep, en van die vroegste sjamaans af was baie van die religieuse leiers charlatans.

Ek het vrede met gelowiges, van alle oortuigings. Ek wil niemand probeer oortuig om nie te glo nie.

Om die waarheid te sê, kerke, moskees, tempels en sinagoges kan ’n positiewe rol speel om gemeenskappe te stabiliseer, ’n sin van behoort te gee en na siekes en sukkelendes om te sien.

Ek is minder verdraagsaam teenoor dié gelowiges wat hulle spesifieke denominasie se leerstellings en mites op ander wil afdwing of misbruik om dominant in gemeenskappe te wees.

En nou praat ek nie net van fundamentaliste soos die Taliban of die MAGA-Christene van Amerika nie. Ek praat van mense in die daaglikse omgang van die lewe wat optree asof hulle geloof die norm is en dié wat nie daarmee saamstem nie, as spirituele melaatses tipeer. Dis ’n soort afpersing wat mense wat nie konfrontasie soek nie, valse lewens laat lei.

Dié houding manifesteer soms as baie onskuldig. Soos Radio Sonder Grense, ’n openbare uitsaaier wat aan die belastingbetalers behoort, wat luisteraars veral op Sondae met preke en gebede en gesange bombardeer. Maar in die Wes-Kaap veral is die meeste Moslems Afrikaanssprekend. Dat die meeste luisteraars Christene is, is nie relevant nie.

Dieselfde geld Afrikaanse skole, waar die Christelike geloof steeds dominant is.

Die punt wat diegene wat vir die terugkeer van godsdiensonderrig na skole pleit, graag maak, is dat dit goed is om die jeug in moraliteit te onderrig.

My eie ervaring is dat ongelowiges baie keer ’n sterker sin van moraliteit het, want dit kom uit innerlike oortuiging eerder as uit ’n ou geskrif. Jy kan nie ’n wandaad pleeg en dit dan deur gebed of bieg ongedaan maak nie, of leef soos jy wil want jy het mos tot bekering gekom so die hemel is in elk geval jou voorland.

Suid-Afrika is ’n sekulêre staat. Punt.

Bid maar gerus in die kleedkamer voor jy op die veld draf, boet.

Wees geseënd, broers en susters.

Max


Man agter glas

Verbygangers staan stil en kyk
na die likiede wese agter glas
wat in moffietoffels skuif:
assiries, amandelogig
die seeperdjie
swewend tussen manspoppe in die kas –
'n stertjie
wat aan broeke, onderbroeke,
hemde, serpe, skoene ...
tas.

– D.J. Opperman

(Uit: Komas uit 'n bamboesstok)


Image: ANGELA TUCK

18 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“As verlede jaar se fees kon praat, sou dit getuig: Vanjaar s’n kan net feester, feesste word. En dis die uwe se voorreg om Irma Venter oor Die verkeerde vrou en Cas Wepener oor Roman uit te vra, en sommer ook oor allerlei skryf- en boek- en leesdinge, lekkertes en geheime. Tintel ek dan nou al skoons van kan uitsien om hierdie formidabele skrywers, hul woorde en die hordes lesers in die vlees te ontmoet!” So laat weet Anastasia de Vries.

Stilbaai se Februarie-weer is warm – pak dus jou swembroek in vir swem in die Goukou of in Lappiesbaai se branders. En jou stapskoene as jy Sondag saam met Nico Steenekamp gaan stap. Jy gaan 10 jaar jonger voel wanneer jy ná die naweek hier wegry.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier (die kaartjies vlieg reeds).

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.