Fluit-fluit, soos ’n roomys wat in die sand geval het

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Fluit-fluit, soos ’n roomys wat in die sand geval het

In die gees van Valentynsdag skryf MERCY KANNEMEYER ’n liefdesbrief aan haar land. WILLEM KEMPEN skryf oor belastingbetalers wat besig is om ons vernaamste uitvoerproduk te word. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 14 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Randall Williams van die DA het gister onverwags as uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad bedank “in die beste belang van die stad se koalisieregering”. Daar was vroeër sprake van ’n mosie van wantroue in Williams. Solly Msimanga, die DA se Gautengse leier, het Williams geloof dat hy “die belange van inwoners eerste stel”.

2. Die nasionale vervolgingsgesag het gister gesê niemand gaan vervolg word vir die dood in 2021 van die rapper Kiernan ‘AKA’ Forbes se destydse verloofde nie. Anele Tembe is dood nadat sy van die 10de verdieping van die Pepperclub Hotel in Kaapstad geval het. Forbes en sy vriend Tibz Motsoane is Vrydag buite ’n Durbanse restaurant doodgeskiet, wat bespiegelinge laat ontstaan het dat dit met Tembe se dood verband hou.

3. Die rand het gister vir die eerste keer in meer as drie maande vir swakker as R18 vir ’n Amerikaanse dollar verhandel. Die rede is hoofsaaklik die krag van die Amerikaanse geldeenheid terwyl die Fed waarskynlik gaan aanhou om amptelike uitleenkoerse op te stoot.

4. Die Kansas City Chiefs het die Philadelphia Eagles met 38-35 geklop vir hulle tweede Super Bowl-titel die afgelope vier jaar. Die nuwe kampioene was teen halftyd met 14-24 agter.

5. Die VSA en China het mekaar gister opnuut van spioenasie beskuldig te midde van verwarring oor die ballonne wat oor Noord-Amerika neergeskiet is. China het gister volgehou die ballonne is vir meteorologiese opnames gebruik en gesê daar was die afgelope jaar minstens 10 sulke voorvalle van Amerikaanse ballonne in die Chinese lugruim.


Vandag se weer

Waarskuwings is weer uitgereik oor swaar reën wat tot oorstromings in verskeie dele van Gauteng en veral Limpopo en Mpumalanga kan lei. Toestande wat ’n hoë brandgevaar bevorder, word in dele van die noordweste van die Noord-Kaap en in die Beaufort-Wes-omgewing in die Wes-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 24°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 25°C • Durban 30°C • Paarl 32°C • Oudtshoorn 32°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 26°C • Upington 38°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 29°C.


Willem Kempen | Anders as die staat kry privaat geld dinge gedoen

As iets in Suid-Afrika wérk, dan kan jy maar weet dis omdat dit deur privaat inisiatief en privaat kapitaal gedryf word. Daar is ’n paar noemenswaardige uitsonderings, soos die Reserwebank en die Inkomstediens en die meeste van die tyd die Wes-Kaapse provinsiale regering, maar as ’n reël is staatsbetrokkenheid sinoniem met ondoeltreffendheid, korrupsie, gierigheid en agteruitgang.

Ons het dit selfs in die vorm van Gift of the Givers reggekry om internasionale noodleniging te privatiseer: As Suid-Afrika weer ’n Nobel-vredespryswenner oplewer, gaan dit dr. Imtiaz Sooliman wees, nie nog ’n politikus nie.

Wanneer die privaat sektor besluit om ’n universiteit te begin, of om ’n stuk spoorlyn oor te neem en self treindienste te bedryf, of om ’n plaaslike gemeenskap se elektrisiteitsvoorsiening oor te vat en reg te ruk, of om ’n buurt se vullis te verwyder, of om slaggate reg te maak en skoon water uit die krane te laat loop, dan lyk dit altyd of daar minstens ’n kans op sukses is.

Die grootste rede hiervoor? In die privaat sektor word sukses beloon en mislukking word gestraf. In die staatsdiens word werklikheidsvreemde projekte soos enorme vlagpale en borgskappe van Engelse sokkerklubs eers gekelder wanneer die publiek daarvan uitvind.

In die privaat sektor is daar begrotings wat moet klop en spertye wat gehaal moet word. Projekte word beoordeel op grond van die risiko wat dit inhou en die potensiële beloning vir daardie risiko. In die privaat sektor word bestuurders bowenal gemeet aan hoe goed hulle is met die toewysing van skaars kapitaal.

In die staatsdiens, daarenteen, is daar feitlik geen besef van die waarde van geld en waar dit vandaan kom nie. Niemand betaal ’n prys as die staat se kapitaal – belastingbetalers se swaarverdiende geld – swak toegewys of eenvoudig verkwis word nie. (G’n wonder belastingbetalers is besig om die land se vernaamste uitvoerproduk te word nie.)

En tog is daar hierdie beheptheid in die regering om op elke vlak te wil voorskryf en te maak of privaat inisiatief en kapitaal eintlik die vyand is wat om elke hoek en draai gewantrou moet word.

Sal dit nou nie gaaf wees as ons in die plek van dié mentaliteit ’n bietjie meer aanmoediging en erkenning kan sien vir dinge wat reeds besig is om te werk nie?


Image: ANGELA TUCK

’n Liefdesbrief aan Mzansi, van Mercy

’n Liefdesbrief aan Suid-Afrika is seker een van dié corny-ste dinge, behalwe vir amateurpoësie in my voorgraadse jare, wat ek al ooit kon skryf. Maar ek gaan probeer!

Voordat ’n mens ’n liefdesbrief kan skryf, moet jy seker bepaal wat die liefde is …

Wat is die liefde? Naas vrae oor of daar ’n God is en wat met ’n mens se liggaam gebeur nadat jy jou laaste asem uitgeblaas het, is die liefde seker een van die grootste vrae.

Om die vraag te beantwoord, gaan klop ek maar by ’n paar popsensasies aan.

In die woorde van Beyoncé se “Love on Top”:

Now everybody asks me why I’m smiling out from ear to ear
(They say love hurts)
But I know (it’s gonna take the real work) oh-oh
Nothing’s perfect but it’s worth it
After fighting through my tears and finally you put me first

“Hulle” sê die liefde maak seer. Dit is mos nou byvoorbeeld iets wat ek nie verstaan nie. Hoe kan iets wat bedoel is om jou veilig en gekoester en spesiaal te laat voel, ook dan seermaak? Is dit dan liefde? Onduidelik presies wat Beyoncé daarmee bedoel het, maar kom ons kyk verder. Beyoncé se “Crazy in Love” verskaf verdere (on)duidelikheid op die liefde:

I look and stare so deep in your eyes
I touch on you more and more every time
When you leave, I’m begging you not to go
Call your name two, three times in a row
Such a funny thing for me to try to explain
How I’m feeling and my pride is the one to blame
(Yeah, yeah) ’cause I know I don’t understand
Just how your love can do what no one else can
Got me looking so crazy right now, your love’s
Got me looking so crazy right now (your love)

Uit “Crazy in Love” leer ons, onomwonde, dat die liefde jou “crazy” kan laat lyk.

Die Backstreet Boys se “As Long as You Love Me” onthou ek uit my kinderjare (ek is nie so oud nie, maar bear with me). Die onderstaande het ek herhaaldelik gesing sonder dat ek werklik geweet het wat dit enigsins beteken:

I don't care who you are
Where you’re from
What you did
As long as you love me
Who you are
Where you’re from
Don’t care what you did
As long as you love me

Die Backstreet Boys gee nie om wie jy is, waar jy vandaan kom, wat jy gedoen het nie, solank jy liefhet.

Met hierdie paar liefdesvoorbeelde in ag genome, hoe lyk my liefdesbrief aan hierdie land wat my vir seker dikwels crazy laat voel?

Ek moet bieg, dit is geweldig uitdagend hierdie, maar my liefdesbriefie sal iets korts wees soos:

Dankie dat ek my eerste regtige donderstorm in Johannesburg kon beleef. Die vensterrame wat so vibreer het, was soos iets uit ’n fliek. Dis net jammer dat ’n mens byna in jou slaggate kan verdrink. Dankie vir die uiteenlopendheid van jou mense, dis net jammer dat soveel van hulle só deur die kak is. Suid-Afrika, jy’s soos ’n lekker vanillaroomys met hundreds and thousands op ’n snikhete dag, maar die roomys het per ongeluk in die sand geval.

Liefde
Iemand wat nie regtig weet wat die liefde eintlik beteken nie.


As dit fluit-fluit gaan

Dit was ’n bitter dag vir my
Die Sondag in die kerk;
Waar ons sit in die middelry,
Word alles opgemerk.

Die dominee hou skielik op;
Die ouderlings kyk om;
Rooi-skaam laat sak my ma haar kop,
Want almal lyk verstom.

Wel, tuis het ek ’n pak gekry
En huil my byna hees.
Maar dit was darem, glo vir my,
’n Lekker fluit gewees.

– A.G. Visser


10 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Ek sien veral uit na die Italiaanse kookklas, waar ek die gewillige student gaan wees om te leer by die plaaslike kenner van Italiaanse kos, Reinette Anastagi,” vertel Wicus Pretorius. Die redakteur van die dekortydskrif Tuis sit ’n ander hoed op wanneer hy die Saterdag van ons Boekefees ook as onderhoudvoerder optree:

“Wat die boekgesprek betref: Eugene was op my vakansieleeslys, en ek sien uit na die gesprek met Kirby van der Merwe oor dié nuwe roman van hom. Net so ook om Gerda Taljaard, wenner van die kykNET-Rapport-boekprys vir Vier susters, te ontmoet en met haar oor haar jongste roman te gesels.”

As jy reeds verblyf bespreek het, onthou om jou koplampie in te pak net in geval daar nie genoeg lig in jou blyplek is nie. As jy nog plek soek, stuur ’n e-pos aan my by stilboeke@gmail.com.

– Elna van der Merwe

* Vir meer inligting en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.