De Ruyter sommer dadelik uit Eskom se saal gelig

DONDERDAG MET DEBORAH

De Ruyter sommer dadelik uit Eskom se saal gelig

Eskom se uitvoerende hoof sal nie sy kennisperiode tot einde Maart hoef uit te dien nie en kan dadelik die pad vat. WILLEM KEMPEN verduidelik hoe dit gebeur het. DEBORAH STEINMAIR sê sy is ten gunste van bedagsaamheid, beleefdheid en sensitiwiteit, maar moenie dié pap te dik aanmaak nie. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 23 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Belastingbetalers wat van 1 Maart af sonpanele op hulle dakke aanbring, sal ’n terugbetaling van tot R15 000 van die staat kan terugeis, is onder meer in gister se begrotingsrede aangekondig. Die staat se totale begrote uitgawes vir die komende boekjaar beloop R7,08 triljoen. Meer oor die begroting in môre se uitgawe.

2. Die Universiteit van Kaapstad het ’n ooreenkoms bereik met prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier, waarvolgens sy R12 miljoen sal ontvang om haar pos voortydig te ontruim, het News24 berig. Haar laaste dag is op 3 Maart vanjaar.

3. Suid-Afrika se T20-vrouespan speel môre op Nuweland in Kaapstad teen Engeland in die halfeindstryd om die Wêreldbeker. Die wenner speel Sondag op dieselfde veld teen die wenner van vandag se wedstryd tussen Australië en Indië.

4. Die Wallabies se voorspeler-afrigter, Dan McKellar, het bedank en gaan luidens berigte nou die Engelse klub Leicester se hoofafrigter word. McKellar was die gunsteling om by Dave Rennie oor te neem as Australië se hoofafrigter, maar pleks daarvan is Eddie Jones, voormalige afrigter van Engeland, aangestel. Petrus du Plessis, die Wallabies se skrum-afrigter wat in Suid-Afrika gebore is, het ook bedank. Die Wêreldbekertoernooi begin oor net meer as ses maande in Frankryk.

5. Die Mormoonse kerk in die VSA (The Church of Jesus Christ of Latter-day Saints) is met meer as $5 miljoen beboet weens sy versuim oor meer as twee dekades om die ware omvang van sy beleggingsportefeulje aan belastingowerhede openbaar te maak. Die portefeulje was luidens ’n berig in die Wall Street Journal reeds in 2020 meer as $100 biljoen werd.


Weersake

Die sentrale gebiede van die Noord-Kaap en dele van die Wes-Kaap kan toestande verwag wat ’n hoë brandgevaar inhou, gepaard met ’n hittegolf oor dele van die provinsies. Matige toestande word andersins oor die grootste deel van die land verwag.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 27°C • Durban 29°C • Howick 27°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 29°C • Upington 40°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 28°C.


Willem Kempen | Doubleplusungood tot op die hoogste vlak

André de Ruyter se reguitpraat-onderhoud met Annika Larsen van eNCA het Eskom se raad gister laat besluit om sy kennisperiode tot 28 Februarie in te kort – in effek kan hy dadelik sy kantoor ontruim, as hy nie in elk geval reeds het nie.

Dit was onhoudbaar dat De Ruyter toegelaat sou word om nog ’n maand in Eskom se warmste (nie-elektriese) stoel te sit nadat hy in die onderhoud so lekker onder die ANC ingeklim het. Hy het onder meer gesê die ANC gebruik Eskom as 'n “voertrog” en vertel hoe hy deur ministers en ander senior politici gewantrou en gedwarsboom is.

Selfs Pravin Gordhan, voorste kampvegter teen staatskaping en korrupsie, het gister gesê De Ruyter moes hom van “inmenging” in politieke kwessies weerhou het.

Maar Eskom se probleme ís polities, blyk opnuut uit die onderhoud. Hy vertel byvoorbeeld hoe hy by ’n kollega wou weet wat die rede vir die geweldige weerstand teen die oorgang na meer hernubare energiebronne is.

Want in jou naïwiteit, het sy geantwoord, “you are not showing the comrades a way to eat”. Gevolglik is De Ruyter gekonfronteer met alles van ’n minister wat hom gemaan het om meer “pragmaties” te wees – ons kan almal raai wie dít was – tot by hoogs georganiseerde bendes wat ’n skrikbewind in Eskom se geledere voer:

“We know of at least four organised-crime cartels operating in Mpumalanga in Eskom. Some of them also have interests in Transnet," het hy gesê. “It’s interesting that they have adopted the language of the mafia. People are called soldiers, and they have a hit squad, allegedly with between 60 and 70 highly trained, well-armed people.”

En dit gebeur “pretty much every week” dat iemand vermoor word wat in die pad van dié bendes staan. Sabotasie is selfs meer alledaags, en De Ruyter reken tot R1 biljoen rand word elke maand op een of ander manier van Eskom gesteel.

Een. Biljoen. Per. Maand.

Hy vertel ook in die onderhoud hoe iemand in Eskom aan ’n “senior minister” (raai maar weer) gesê het ’n vooraanstaande politikus is ook betrokke by die steenkoolkartelle. Dié het geantwoord: “I guess it was inevitable that it would come out anyway.”

Wel, minister, ek wens dit was inevitable dat jy en jou mede-landsverraaiers die res van julle lewe agter tralies deurbring vir alles wat julle hierdie land aandoen. En terselfdertyd ewe vroom mense soos André de Ruyter vir alles blameer.


Image: ANGELA TUCK

Ja, jy kan te wawyd-woke wees, Deel II

Ek is nie in beginsel gekant teen wokeness nie. Die konsep is stokoud; dit kom in die Bybel voor: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê, en in die Boeddhisme: Do no harm. Ek is ten gunste van bedagsaamheid, beleefdheid en sensitiwiteit; om ander se gevoelens te spaar, om mense nie te etiketteer nie en nie te veralgemeen nie.

Maar soos alle goeie dinge (soos drank) gaan dit maklik te ver en ruk hand uit.

Roald Dahl, meesterstorieverteller, wewer van toweragtige, donker, sinistere en eksentrieke kinderstories, se mond is nou met seepwater uitgespoel.

’n Kommentator het opgemerk: “Our woke overlords are censoring and rewriting Roald Dahl. It degrades art. It’s Orwellian. The richness of the language is one of the reasons children love the books. Truly awful.”

Newspeak is die fiktiewe taal van Oceania, ’n totalitêre superstaat waar George Orwell se distopiese roman 1984 afspeel. Die Party het Newspeak geskep om aan die ideologiese vereistes van Ingsoc (Engelse sosialisme) te voldoen. Dis ’n gereguleerde taal met vereenvoudigde grammatika en verskraalde woordeskat; ontwerp om die individu se vermoë om uitdrukking te gee aan subversiewe konsepte soos persoonlike identiteit en vrye wil te beperk.

Dahl wat met Jik bygekom is, is maar net nog ’n simptoom van die ekstremistiese korrektes se kaping van kultuur. Dr Seuss is reeds gekanselleer: Sy boedel het in 2018 aangekondig hulle staak die publikasie van ses van sy boeke omdat hulle mense uitbeeld “op maniere wat kwetsend en verkeerd is”. Boonop word die mark oorstroom met “korrekte” kinderboeke soos Antiracist Baby, Feminist Baby en No! My First Book of Protest.

In die Roald Dahl-boeke wat gesaniteer is, is niemand meer vet of lelik nie. Die Oompa Loompas is genderneutraal – hulle was klein mannetjies, nou is hulle klein mensies.

Beskrywings soos “great horsey face” is afgeskaal tot bloot “face” in die anemiese heruitgawe.

Daar is boonop paragrawe ingevoeg om te preek: In The Witches word hekse beskryf as bles onder hulle pruike. Nou is daar ’n nuwe reël ingevoeg: “There are plenty of other reasons why women might wear wigs and there is certainly nothing wrong with that.”

Dahl het homself só verduidelik: “When writing stories, I cannot seem to rid myself of the unfortunate habit of having one person do nasty things to another person.” Sy biograaf het bygevoeg dat die toorkuns en mensweersin in sy werk geïnspireer is deur Deense sprokies en ’n tragiese persoonlike lewe.

Kinders is lief vir boeke soos Dahl en David Walliams s’n reeds omdat hulle taboes verbreek. Kinders mag nie van mense praat as vet of lelik nie; daarom voel dit wonderlik subversief om daarvan te lees. Fiksie is veronderstel om te vermaak, nie te onderrig nie.

Dan het Nicola Sturgeon bedank as Skotland se eerste minister, onder meer weens teenkanting teen die outoritêre wokeness waarvoor sy geagiteer het, byvoorbeeld dat ’n verkragter wat biologies ’n man is, in ’n vrouetronk opgesluit moet word net omdat hy volhou dat hy ’n vrou is.

Wees wakker, maar moenie die pap te dik aanmaak nie, soos die oumense gesê het.


’n Dag voor ons Stilbaai-boekefees!

En hier is ons in die pylvak, die skrywers pak al hul padkos vir die reis na Stilbaai! Dié wat hierheen vlieg, soos Gerda Taljaard, Ivor Swartz en Pieter du Toit, moet maar hoop op vars “chicken or beef” op die vlug na George. Ons sal julle wel almal lawe by die spitbraai môreaand.

Julle uitstellers moet nou maar gaan bespreek by Quicket.co.za. Daar is nog genoeg plek, behalwe vir die gesprek wat Max du Preez voer met Pieter du Toit en Jacques Pauw waar jy virtueel kan vuisslaan oor die laaste 17 sitplekke.

Sien julle môre!

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Jy keer op jou regtersy
as jy inslaap en word vir my
'n langsaam-kartelende kus
en ek die see wat wieg en rus
teenaan en kantelend van hom skei
in slaap se donkere laaggety.

Olga Kirsch

(Uit: Nou spreek ek weer bekendes aan)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.