Almal het ’n storie (oor die Covid-inperking)

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Almal het ’n storie (oor die Covid-inperking)

ANNELIESE BURGESS besef hoe vinnig vreemdelinge nie meer vreemdelinge is nie as mens die moeite doen om iets van mekaar se lewe te probeer verstaan. Sy deel ook 'n gedig en 'n paar aanbevelings oor wat om te lees, luister, kyk en kook.

  • 19 Maart 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

GOEIEMÔRE!

Ek moes hierdie week vinnig Kaap toe vir 'n visum-aansoek. Met my eerste oorsese reis in jare op die horison, was ek die afgelope paar weke weer baie lugtig vir Covid, omdat ek so baie mense ken wat dit onlangs gehad het. 

In die kar van die lughawe af vra ek die bestuurder of ons die vensters van die motor kan oophou. Dít lei na 'n lang gesprek oor onthou-jy-nog-hoe-erg-die-lockdown-dae-was? 

Hy vertel my 'n lang verhaal oor sy poging om tydens die eerste inperking 'n ou oom van Dutywa tot in die Kaap te kry vir 'n begrafnis. Die drama met permitte. Die padblokkades. Die onbeskofte polisiebeamptes. Die agterpaaie ry. Die dreigemente om hom in die tronk te gooi.

Die aand-uitsig voor die hotel waar ek gebly het in die Kaap.
Die aand-uitsig voor die hotel waar ek gebly het in die Kaap.

Dis 'n dramatiese verhaal wat nog nie klaar is nie toe hy my voor my blyplek in die Kaapse middestad aflaai. Ná die gesprek met Mxolisi besef ek weer hoe vinnig vreemdelinge nie meer vreemdelinge is nie as mens die moeite doen om iets van mekaar se lewe te probeer verstaan. Deur met mekaar te gesels.

Ek neem my voor om die twee dae in die Kaap met soveel as moontlik mense geselsies aan te knoop. Spesifiek met die mense vir wie jy andersins net “môre" en “dankie" sou sê: taxibestuurders, kelners, hotelpersoneellede.

En so ontmoet ek vir Quinton. Quinton vra my vir kos by die tafeltjie op die sypaadjie voor die hotel waar ek koffie drink. Hy kom so pas uit die Groote Schuur-hospitaal, waar hy 'n operasie aan sy been ondergaan het.

Die dokters het gesê hy moet iets in die maag hê voor hy sy pille drink, maar hy het nie geld vir kos nie. Ek bestel vir hom koffie en 'n ham-en-kaas-toebroodjie. Hy vra of hy maar by my kan sit om te eet. 

Quinton is 'n kelner. Met die Covid-inperking val sy lewe uitmekaar. Van 'n reeds moeilike bestaan waar hy maar van een skof tot die ander survive het, bly daar met die inperking niks oor nie. Hy het nie werk nie en kan nie meer vir die kamer betaal waar hy gebly het nie. Hy is op straat. En met die inperking was die straat nou één plek waar jy nie wil wees nie, sê Quinton, “want die polisie raak mal met die dakloses".

Quinton besluit hy moet wegkom uit Kaapstad. Hy begin ryloop en kom tot by Botrivier. En toe met 'n gesukkel bietjie verder – onder meer met die hulp van 'n verkeersbeampte wat hom jammer kry en vir hom 'n lift tot net buite Caledon gee.

Sy sê hy moet hulp by die polisiestasie gaan vra, want hy kan nie op straat wees nie. Die polisie sê hy moet 'n “boete" van R450 betaal as hy in die selle wil slaap, wat hy obviously nie het nie. Hy kom reg by die Engen-garage, waar 'n petroljoggie hom in die badkamer laat slaap.

Die volgende dag begin hy stap. Hy kyk uit vir die polisiekarre, want hy het nie 'n permit om buite te wees nie en hy wil nie opgetel word nie.

“Dit was so 17 kilometer," vertel hy en toe raak hy baie dors. Hy stap af na 'n plaas. Die boer gee vir hom water en kos. Hy stap daardie dag tot in Riviersonderend. Net buite die dorp “waar die klein huisies begin", gaan vra hy weer vir water. Hy kry nie net water nie, maar ook 'n bietjie brood en 'n sigaret.

“Nog nooit het 'n sigaret so lekker geproe soos daai dag nie," sê hy.  Weer gaan hy polisiekantoor toe, want hy weet nie wat anders om te doen nie. Hulle sê vir hom hy kan op 'n bankie in die hoek sit. Hy sit vir vier dae daar. Die tweede dag bring hulle vir hom 'n kombers. “Dit was maar een van daardie vuiles uit die selle, maar dit was lekker om nie so koud te kry in die aande nie."

Quinton se inperkingsverhaal is een wat die malligheid van daardie tyd weerspieël, maar ook soveel onverwagse oomblikke van medemenslikheid en goedheid. Soos die twee dae onder 'n brug met 'n man wat vir hulle 'n rooikat gaarmaak wat deur 'n kar getrap is. Of die polisieman wat elke dag sy kosblik met hom gedeel het. Of die polisievrou wat vir hom R40 in die hand stop om vir hom iets te koop om te eet. Of die polisiebeamptes wat hom saamry tot in Groot-Brakrivier, al was dit streng gesproke teen die wet. Of die vrou en haar man wat elke dag vir hom en 'n ander medereisiger kos gebring het toe hulle vir twee weke in die kleedkamers van 'n klein dorpie se sportvelde gebly het.

Quiton kom uiteindelik by sy dogter in Knysna uit, maar dit werk nie so lekker uit soos hy gehoop het nie. Vandag is hy terug in Kaapstad se strate. Hy hoop om iewers weer 'n kelner-joppie te kry. Maar vir nou is dit nie moontlik nie, want sy been moet eers gesond word nadat dit in 'n tref-en-trap-ongeluk vergruis is. 

Ek moet vir Quinton groet, want ek moet aangaan met my dag. Quinton eet stadig. Hy sê dis nie oor hy nie honger is nie, maar omdat hy die oomblik wil uitrek: om kos en koffie by 'n tafel voor hom te hê −   “soos 'n normale mens".

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese
annelieseburgess@gmail.com


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


It Was Like This: You Were Happy

It was like this: you were happy, then you were sad, then happy again, then not.

It went on. You were innocent or you were guilty. Actions were taken, or not.

At times you spoke, at other times you were silent. Mostly, it seems you were silent− what could you say?

Now it is almost over.

Like a lover, your life bends down and kisses your life.

It does this not in forgiveness − between you, there is nothing to forgive − but with the simple nod of a baker at the moment he sees the bread is finished with transformation.

Eating, too, is a thing now only for others.

It doesn’t matter what they will make of you
or your days: they will be wrong, they will miss the wrong woman, miss the wrong man, all the stories they tell will be tales of their own invention.

Your story was this: you were happy, then you were sad, you slept, you awakened. Sometimes you ate roasted chestnuts, sometimes persimmons.

– Jane Hirshfield, 1953


Kyk

Kook

Luister

'n Werlik merkwaardige podsending deur die BBC. Ek het al die episodes onlangs op die lang pad geluister  en was nie net meegesleur deur die verhaal self nie, maar ook deur die fantastiese storytelling. 

In die eerste reeks van I am not a Monster vertel die joernalis Josh Baker die verbysterende verhaal van hoe 'n doodgewone Amerikaanse familie in die hart van Isis beland het. Die tweede reeks vertel die storie van Shamima Begum, die 15-jarige Britse meisie wat haar by Isis aangesluit het en wat ná die val van Isis veg om weer in Brittanje toegelaat te word nadat haar burgerskap onttrek en sy nou haweloos is.

Lees

 VWB 

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.