Dit gaan oor hóé ons van mekaar verskil

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Dit gaan oor hóé ons van mekaar verskil

Niemand kan van mekaar leer as dit ’n eensydige geskreeuery en ’n persoonlike gevloekery is nie. Dit is nié hoe Vrye Weekblad rol nie, skryf ANNELIESE BURGESS. Soos gewoonlik deel sy ook ’n paar dit-en-dat-aanbevelings.

  • 26 Maart 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek groet julle vanoggend vanaf ’n trein iewers op die Franse platteland. Ek is op pad na Sicilië, waar ek drie ou vriende gaan ontmoet. Ons gaan vir ’n week na die Italiaanse eiland Filicudi. In ’n lieflike ou villa op ’n heuwel, met ’n uitsig oor die Ioniese see, gaan ons baie Campari drink en saam kook, lang ente stap en swem. Dit is ’n middeljarige spitskonferensie. Ek verwag diep gesprekke oor die lewe (en die liefde) en hoe ons die volgende twee dekades betekenis wil gee.

Terwyl ek hier deur die donker rol, dink ek aan die mal gemors wat twee weke gelede in die kommentaarafdeling van my Sondag-brief losgebars het. Ek dink dit is miskien tyd dat ek my gedagtes daaroor neerpen.

Ek het ’n brief geskryf oor eiers, en meer spesifiek ’n brekfis-bun, wat eiers, kaas en spek op het. En een leser, ’n veganis, het die kommentaarafdeling gekaap om gal te braak.

Wat ’n sinvolle gesprek kon gewees het oor die wreedheid van sommige moderne landboupraktyke, en hoe belangrik dit is dat ons dink oor wat ons in ons mond sit, het verval in ’n meestal persoonlike aanval op my. Dit is nie eerste keer dat sy dit gedoen het nie. En ek is ook nie die eerste een wat deurgeloop het nie.

Toe Max my vier jaar gelede genader het om deel van die nuwe Vrye Weekblad te word, was die idee van die begin af dat dit nie net die herlewing van ’n publikasie sou wees nie, maar die herlewing van ’n gesprek en die bou van ’n gemeenskap; iets waarvoor daar baie min ruimte in Suid-Afrika is.

Oor die afgelope vier jaar het ons dit beter reggekry as wat ons ooit kon hoop. Die kommentaarafdeling van VWB is uniek en ons is baie trots daarop.

Ons beskerm dit ook met groot toewyding en tyd. Dit word gemodereer. So ook ons FB-blad.

Ons kommentaarbeleid, wat ek geskryf het, is kort en kragtig. Dit kom neer op “speel die bal, nie die persoon nie”. En ons vra ook dat mense hulle kommentare nie te lank maak nie. Die kommentaarafdeling is ’n gesprek tussen ’n klomp mense, en as dit vervlak word met persoonlike aanvalle, gaan die idee van ’n gesprek verlore. En lang relase, selfs al is dit slim en insiggewend, breek die vloei van ’n gesprek. Mens behoort jou sê dit kan sê in die 300 woorde wat ons aanbeveel.

Ek het groot respek vir emosievolle standpunte. Ek is self iemand wat soms uit my maag argumenteer in plaas van uit my kop. Maar daar is ’n verskil tussen dít en ’n morsige, narsistiese gebraak wat net daarop uit is om te kwets en suurstof op te neem.

Maar hier is nou die eintlike probleem met die galbraker van twee weke gelede: Sy erken iewers in die verskeie kommentare wat sy gemaak het dat sy alle redaksielede geblok het sodat nie een van ons haar kommentare kan sien nie, want sy is moeg vir ons kritiek.

En daarmee trap sy oor ’n streep.

Hoewel ons niemand kan keer om onder ’n skuilnaam kommentaar te lewer nie, bly dit vir ons eienaardig as iemand dit doen. As jou vel te dun is om onder jou eie naam jou mening te lug, dan moet jy miskien eerder stilbly. Maar om jou dan boonop die reg toe te eien om met jou skuilnaam so sonder brieke tekere te gaan, maar jy blok enigiemand wat moontlik met jou kan verskil, druis heeltemal teen die gees van ons kommentaarafdeling in.

Galbraker verklaar dan ook trots dat Vrye Weekblad haar nooit gaan blok nie omdat ons “die klieks nodig het”. Nee, ons het nie. Die rede hoekom ons jou nog nie geblok het nie, is omdat ons juis nie bang is vir sterk menings of sterk meningsverskille nie.

Image: ANGELA TUCK

Maar daar is ’n manier waarop dit by ons gedoen word, en as jy jou nie by die gees van ons kommentaarbeleid kan hou nie, dan moet jy (en jou 10 klieks) op ’n ander plek gaan kuier.

Ons het in die hele bestaan van Vrye Weekblad nog net een leser geblok. En nadat ek en Max al twee met die persoon gekorrespondeer het oor wat ons as onaanvaarbare gedrag beskou, is die persoon terug in die kommentaarseksie en lewer elke week deurdagte bydraes. Dit is hoe ons rol by VWB.

Piet Croucamp sê nou die dag vir my dat die gehalte van die kommentare een van die redes is hoekom dit vir hom so lekker is om vir ons te skryf. En ook om op kommentaar te kan reageer. Dít is ook hoe ons by VWB rol. Ons neem deel aan die gesprek.

Want dit is wat ons is. ’n Gesprek.

Niemand het die reg om die gespreksruimte wat vir ons almal kosbaar is te kom vergiftig nie. Ek aanvaar dat ek as joernalis soms gaan slae kry, én dat dit baie keer geregverdig gaan wees. En dan vat ek my pak. En leer daaruit. Maar niemand kan van mekaar leer as dit ’n eensydige geskreeuery en ’n persoonlike gevloekery is nie. Dit is nié hoe ons rol nie.

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


Risk

And then the day came,
when the risk
to remain tight
in a bud
was more painful
than the risk
it took
to Blossom.

– Anaïs Nin


Kyk

Ek het hierdie fassinerend gevind. Dit is ’n agter-die-skerms-blik op ’n ongelooflike waagtoertjie deur Tom Cruise in Mission Impossible – een waarvoor hy drie jaar lank geoefen het.

Kos

Luister

Orville Peck is ’n Suid-Afrikaner wat nou in Nashville woon. Niemand weet hoe hy lyk nie, want hy dra altyd ’n masker, maar hy is ’n gróót naam in countrymusiek.

Luister na “Let Me Drown” (Live In Nashville).

Lees


Image: ANGELA TUCK

VWB-Cullinan-boekefees

Eersdaags vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en bespreek verblyf vir die hele naweek! Kliek hier om die volle program te sien.

 VWB 


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.