’n Salige Sondag in Italië

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

’n Salige Sondag in Italië

ANNELIESE BURGESS groet vanaf ’n Italiaanse eiland, en deel ’n gedig en twee stukke musiek wat jou gelukkig sal maak.

  • 02 April 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek groet vanoggend vanaf Filicudi, een van die sewe eilande in die vulkaniese Eoliese argipel suid van Sicilië.

Image: ANNELIESE BURGESS

Vir iemand met ’n fassinasie met eilande en wat dit geniet om alleen en op afgeleë plekke te wees is hierdie een van die bekoorlikste plekke waar ek nog ooit was. Filicudi is die mees onderontwikkelde van die sewe sustereilande. In die wintermaande is daar net 250 permanente inwoners, en so vêr as wat ek kan uitmaak, is ons op die oomblik die enigste toeriste hier. Vanuit my slaapkamer kyk ek uit oor ’n eindelose blou see met die vulkaniese eiland Stromboli voor my in die verte.

Image: ANNELIESE BURGESS

Ons vier het uit verskillende windrigtings gekom: een uit Los Angeles, een uit Londen en twee uit Suid-Afrika. Vir my was daar ’n ompad deur Parys omdat ek nie my Italiaanse visum betyds kon kry nie. Die 14 uur lange treinrit van Parys tot in Milaan het my deur die asembenemende gestroopte winterlandskap van die Franse platteland geneem. Geploegde landerye en stukke winterwoud. Smaraggroen riviere. Verby mere en deur bergpasse en Italiaanse bergdorpies. Dan, af, die hele lengte van Italië, tot in Salerno, waar die eerste van ons groepie my inwag. Dis laat, maar ons vind ’n plek om te eet in een van die nou stegies van die ou stad. Melkerige buffelmozzarella van die streek om mee te begin, en Trippa alla Romana, ’n tamatie-en-afvalbredie, as hoofgereg. Met ’n kraffie wyn.

Image: ANNELIESE BURGESS

Ons ontmoet die ander die volgende dag in die hawestad Milazzo. En dan uiteindelik, nadat ons onverwags op die eiland Lipari moes oornag omdat die see te rof was vir die veerboot om verder te gaan, staan ons op die kaai van ons eiland, met ons koffers en sakke kos.

Die middeljarige spitsberaad skop af met ’n lang jogasessie. En dan het ons twee seminare per dag – onder meer oor aardverhitting, emosioneel onbeskikbare mans, interseksionele feminisme en die bevrydende woede van die menopouse. Grappie!!!

Ons gesels wel sonder ophou. Om die lang tafel op die stoep buite die kombuis op die onderste verdieping van ons villa. Bo, langs die vuur met die uitsig oor Tirrheense see. Met vroegoggend-koffie en ’n laataand-grappa.

Image: ANNELIESE BURGESS

Ons maak beurte om te kook. In Milazzo het ons groente gekoop – wilde aspersies; blink, ronde eiervrugte; stywe koppe pers raddichio. Ook lensies, kekerertjies, ansjovis. Ons eilandtuin het suurlemoene en groot bosse salie. En dan die kaas ... selfs die een persoon onder ons wat nie suiwel eet nie, word verlei deur verstommende bokkaas van die eiland Vulcano wat ons in Lipari gekoop het.

Ons dae wentel rondom stap en swem en middagslapies. En wandel na die enigste restaurant op die eiland vir vars brood en Campari-soda op die stoep voor middagete. P en J swem elke dag vir ’n uur in staalblou water. Ek is nie so ambisieus nie, maar spring wel so nou en dan van die kaai af. Die water is so koud dit slaan elke keer my asem weg.

Image: ANNELIESE BURGESS

Ons lees en gesels en skryf. Ek kan nie onthou wanneer laas ek niks gehad het wat ek móés doen nie. Die eerste paar dae vind ek dit nogal onthutsend, maar teen dag drie begin ek gemaklik raak met net wees in my gedagtes. En die intense melancholie wat ek op die oomblik voel.

Die skrywer Helen Garner sê oor geluk: “I’m not going to spend what’s left of my life hanging round waiting for it. I’m going to settle for small, random stabs of extreme interestingness – moments of intense awareness of the things I’m about to lose, and of gladness that they exist.”

Die wêreld is groot, en ons lewens kort.

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese
annelieseburgess@vryeweekblad.com

Image: ANNELIESE BURGESS

Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


My memory

Like the small soaps and shampoos
a traveler brings home
then won’t use,
you, memory, almost weightless
this morning inside me.

– Jane Hirshfield 

(Uit: The Beauty)


Ek hou my aanbevelings kort. Net twee stukke lieflike musiek.

Luister

Sara Bareilles – Goodbye Yellow Brick Road (Live from Atlanta)

Klik hier

Bajofondo – Pa’ Bailar (Fiesta Tanguera-Electronica)

Klik hier


Image: ANGELA TUCK

VWB-Cullinan-boekefees

Oor minder as twee weke vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en bespreek verblyf vir die hele naweek! Kliek hier om die volle program te sien.

 VWB 



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.