Hallo, Rusland, my ou vriend ...

MAANDAG MET MAX

Hallo, Rusland, my ou vriend ...

Naledi Pandor moet haar regering se vriendskap met Moskou gebruik om die onmiddellike vrylating van die Amerikaanse joernalis Evan Gershkovich te eis, skryf MAX DU PREEZ. En op ’n ander noot: Die DA moet van hulle Botox ontslae raak, sê hy. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 03 April 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. John Steenhuisen het Mpho Phalatse in die verkiesing vir leier van die DA verslaan. Helen Zille is eenparig as voorsitter van die federale raad herkies. Thomas Walters, Annelie Lotriet en Ashor Sarupen is tot haar adjunkte verkies. Ivan Meyer is tot federale voorsitter verkies met Anton Bredell, Solly Malatsi en JP Smith as sy adjunkte. Dion George is nie vir die posisie van tesourier teengestaan nie.

2. Die gesoute skrywer en joernalis Jeremy Gordin is die naweek in sy huis vermoor, blykbaar tydens ’n inbraak. Hy het tot verlede week nog ’n gereelde rubriek in politicsweb.co.za geskryf.

3. Die joernalis en televisie-aanbieder van onder meer BBC World Laura Trevelyan het bedank om haar voltyds te wy aan ’n veldtog vir koloniale reparasies. Trevelyan het redelik onlangs ontdek dat haar familie slawe-eienaars in Grenada was. Sy en haar neef, John Dower, het dié week ’n Britse parlementslid, Clive Lewis, ontmoet – Trevelyan sê daar is ’n goeie kans dat haar voorsate dié van Lewis destyds “besit” het.

4. Rusland, wie se president pas deur die internasionale strafhof van oorlogsmisdade in Oekraïne aangekla is, sal die volgende maand as die president van die hoogste internasionale besluitnemingsliggaam, die veiligheidsraad van die VN, dien. Die raad se 15 lede roteer op ’n maandelikse basis om voor te sit. Die laaste keer dat Rusland die president was, in Februarie 2022, het dit ’n volskaalse oorlog in Oekraïne van stapel gestuur. Die regering van Oekraïne het sterk beswaar gemaak dat Rusland weer dié pos beklee, maar Amerika se antwoord was dat daar geen manier bestaan om dit te keer nie. Die permanente lede van die raad, wat vetoreg het, is Amerika, Rusland, China, Brittanje en Frankryk.

5. Die inkomende onderburgemeester van Buffalo City wat sy doktorale tesis oor korrupsie by dié munisipaliteit gedoen het, word nou deur die Universiteit van Fort Hare daarvan beskuldig dat hy sy doktorsgraad onwettig bekom het.


Vandag se weer

Deels bewolk tot bewolk oor die grootste deel van die binneland, asook in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, met buie en donderbuie wat plek-plek verwag kan word. In die Wes-Kaap sal dit sonnig tot bewolk wees met ligte reën wat langs die suidkus verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 21°C • Durban 31°C • Worcester 25°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 28°C • Upington 28°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 25°C.


Max du Preez | Pretoria moet Moskou nou aanspreek

Rusland het verlede week ’n Amerikaanse joernalis, Evan Gershkovich van die Wall Street Journal, op aanklagte van spioenasie in hegtenis geneem.

Dié arrestasie het plaasgevind terwyl verskeie senior ANC-leiers in Rusland op besoek is, onder andere die adjunkminister van buitelandse sake, Alvin Botes, en senior NUK-lid Obed Bapela.

Dit het ook saamgeval met ’n besoek van die Russiese minister van nasionale hulpbronne, Alexander Kozlov, aan Suid-Afrika vir samesprekings met onder andere die minister van buitelandse sake, Naledi Pandor.

Pandor het by dié geleentheid gesê Rusland is ’n “ou vriend” en dit is kinderagtig om te verwag dat die land nou skielik teen Rusland gekant moet wees.

Rusland het op 24 Februarie verlede jaar die soewereine VN-land en demokrasie Oekraïne sonder regstreekse provokasie binnegeval. Honderdduisende burgerlikes en soldate aan albei kante het reeds in dié konflik gesterf en groot dele van Oekraïne is in puin gelê.

Vryheid van spraak en van die media is vervat in art. 16 van die Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet.

Evan Gershkovich is ’n gerespekteerde jong internasionale korrespondent. Sy werkgewer en vele joernaliste wat al saam met hom gewerk het, insluitende Russiese verslaggewers, het die suggestie dat hy ’n spioen is as geheel en al absurd verwerp.

Dit blyk nou dat Gershkovich die berugte huursoldate-eenheid wat namens Rusland in Oekraïne en in Afrika veg, die Wagner groep, ondersoek het.

Gerskovich is die seun van Russiese immigrante na Amerika en praat vlot Russies.

Die Suid-Afrikaanse regering is vandag die enigste regte demokrasie en verreweg die mees gerespekteerde staat wat Rusland en sy oorlog in Oekraïne aktief ondersteun.

ANC-leiers het by meer as een geleentheid die skuld vir die oorlog op Amerika en Navo gepak en blinde trou aan Rusland belowe.

Pandor het in Januarie die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, met groot eerbetoon in Suid-Afrika verwelkom. Kort daarna het die Suid-Afrikaanse vloot aan militêre maneuvers saam met Rusland en China deelgeneem. Suid-Afrika se minister van verdediging, Thandi Modise, het laat in verlede jaar in Rusland samesprekinge met haar Russiese ampsgenoot, Sergei Shoigu, gevoer.

As joernaliste van Suid-Afrika met ’n trotse rekord van stryd teen apartheid en rassisme eis ons, Vrye Weekblad en die NVWB Mediagroep, by Naledi Pandor dat sy haar regering se vriendskap met Moskou gebruik om die onmiddellike vrylating van Evan Gerskovich te eis.

Niemand is in ’n beter posisie as Suid-Afrika om dit te doen nie.

Om na te laat om dit te doen, sou neerkom op ’n minagting van ons eie Grondwet.


Image: ANGELA TUCK

Die DA, Botox en die Engel Gabriël

Die Demokratiese Alliansie is nogal ’n indrukwekkende politieke party, maar hulle moet van hulle Botox ontslae raak.

Media-kollegas wat by die DA se kongres was, bevestig my indruk wat ek van televisiedekking gekry het: Die federale kongres was uitstekend gereël en alles het vlot en sonder chaos verloop, iets wat nog nooit van die ANC se kongresse gesê kon word nie. Die geesdrif van afgevaardigdes was aanvoelbaar.

John Steenhuisen het gister in sy politieke verslag tereg daarop gewys dat die kommentariaat sy party ná die 2019-verkiesing afgeskryf het. Die party se nasionale steun in 2019, sê Steenhuisen, het op 17% gestaan met die ANC op 59%, maar vandag staan die DA op 26% en die ANC op 40%. (Wel, John, jonger steekproewe sê die ANC kan tot 51% steun geniet, maar ons kry jou punt.)

Die DA se geheim, sê Steenhuisen, was dat die party na sy kernwaardes teruggekeer het: ’n markekonomie, oppergesag van die reg, nierassigheid en die bou van ’n bekwame staat. Die DA het die “populistiese neiging” om die land opnuut te rassifiseer (reracialise) teëgegaan en is skerp daarvoor gekritiseer.

Ons moet darem onthou dat die DA se swak vertoning, ná jare se groei, in 2019 grotendeels aan die teenwoordigheid van Cyril Ramaphosa as nuwe ANC-leier toegeskryf kan word. Heelwat kiesers wat tevore DA gestem het, wou hom ’n kans gee. En die feit dat Ramaphosa toe nie die klaaglike agteruitgang en korrupsie van die Zuma-era kon stuit nie, is sekerlik ook een van die redes waarom die DA nou weer groei.

Maar dit is ook waar dat die DA aangehou het om goed in Kaapstad en die Wes-Kaap te regeer, dat die party aansienlik minder korrup as die ANC en EFF is en skandale en onsmaaklike faksiegevegte grootliks gespaar is.

Image: ANGELA TUCK

Wat die DA se huidige steun van rondom 25% meer indrukwekkend maak, is dat verskeie prominente swart leiers sedert 2019 na ActionSA en Good gedros het en deur vele kiesers gevolg is, en dat ’n klomp wit Afrikaanse kiesers na die Vryheidsfront Plus en bruin kiesers na die Patriotiese Alliansie oorgeloop het. As al dié kiesers by die DA gebly het, sou dit dalk reeds ’n 30% party gewees het.

(Ek kyk dié week na Bongani Baloyi se bekendstelling van sy eie party, Xiluva, en wonder by myself of hy nie vandag baie spyt is dat hy uit die DA bedank het om by ActionSA aan te sluit nie. Die kans dat Xiluva meer as ’n 1%-party gaan word, is uiters skraal, terwyl Baloyi ’n belangrike rol in die DA sou kon gespeel het, veral met die sprake van ’n regerende koalisie volgende jaar.)

Soos talle DA-leiers voor hom het Steenhuisen ook gekla dat die media vyandiggesind teenoor die DA is, meer so as teenoor ander partye. Ek dink dit is grotendeels waar. Die meeste joernaliste en media-ontleders, so lyk dit vir my, is bang om as rassiste of Uncle Toms uitgekryt te word as hulle neutraal of positief oor die DA skryf of praat – die DA is kwansuis dan ’n “party vir wittes”.

Maar dalk is dit ’n bewys hoe min kiesers hulle aan die media se politieke kommentaar steur – dit, en die feit dat die party wat net ’n windjie kan laat en dan op die voorblaaie en TV-skerms verskyn, steeds ’n 10%-party is.

(Ek gaan my vandag daarvan weerhou om te skryf oor die feit dat die DA gister weer twee wit Engelse liberals as Nommer 1 en 2 verkies het …)

Terug by Botox.

Ek lees gister dat mediese navorsers bevind het dat die gebruik van Botox mense minder empaties maak; mense se vermoë om op ander se emosies te reageer, ondermyn. Dit is natuurlik ook so dat dit moeilik is om emosie op iemand se gebotoxde gesig te lees, want dit verlam sekere spiere om plooie weg te steek.

Ek het self sterk liberale waardes, maar sal my nie self maklik as ’n Suid-Afrikaanse liberal beskryf nie. (Ek gebruik aspris die Engelse term eerder as liberalis.)

Liberals, ten minste die Suid-Afrikaanse variasie, het die beeld dat hulle opstêrs, neus-in-die-lug, ideologies arrogant en gatvas is. Hulle ly aan ’n meerderwaardigheidskompleks, misken die bestaan van groepe en klink vals as hulle van armoede, wanvoeding en werkloosheid praat.

Botox.

Liberalisme is nie ’n goeie handelsmerk in Afrika nie – en daarmee sê ek nie die basiese bestanddele van liberalisme hoort nie in Afrika tuis nie. Inteendeel. My liberale waardes help my juis om baie sensitief oor menswaardigheid en armoede te wees. Ek sou sê ’n egte liberaal sou in Afrika ’n sosiaal-demokraat wees.

Sou dit slim vir Land Rover wees om te adverteer dat hulle voertuie baie swaar op brandstof is, wat natuurlik waar is? Of fokus hulle potensiële kopers se aandag eerder op betroubaarheid, avontuur en vryheid? Mense wat Land Rovers koop, wéét die voertuie is nie baie ekonomies nie – ek ry self ’n Land Rover, my vierde.

Nou wat is dit dan met die DA wat gedurig van elke mishoop en dak af skreeu dat dit die Engel Gabriël van liberalisme is?

Ons wil weet hulle staan vir die demokrasie, vir die beskerming van individuele regte, vir vryheid van assosiasie en spraak, vir skoon en verteenwoordigende regering, vir ekonomiese groei.

Maar noem dit alles liberalisme, en ons sien Botox.

Ek groet, en nie met ’n stywe glimlag nie.

Max


Vir my moeder

sy kook die skorsies wit soos velde
en deel gegeurde berge op ons borde uit
sy laat die sagte diere
aan die voet van die heuwels rus
ek proe aan hulle droewige niere
niks is meer belangrik nie - 
nie boeddha of brahma nie
net die hande van my moeder
wat my daagliks met landskappe vertroos

– Jeanne Goosen

(Uit: 'n Uil vlieg weg)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Van 14 tot 16 April vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en bespreek verblyf vir die hele naweek! Kliek hier om die volle program te sien. 

Rolspelers by die VWB-Cullinan-boekefees:

Lientjie Wessels woon in Cullinan, maar met een voet in die Karoo. Sy skep skoonheid oral waar sy gaan. Haar kookboek Geure is opeetbaar mooi. Sy dis Vrydagaand ’n ou diamantdorpse swierdinee op. Bespreek direk by haar: 082 531 6141.

Lees hier wat Diane de Beer oor haar skryf. 



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.