Van robot tot patatrank met net ’n bietjie olie

DONDERDAG MET DEBORAH

Van robot tot patatrank met net ’n bietjie olie

DEBORAH STEINMAIR sê sy is ’n patatta wat hark en pot vrygespring het, en WILLEM KEMPEN dink nie die Trump-vuur gaan ooit weer so sterk brand soos in 2016 nie. Plus vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 06 April 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die regering het die nasionale ramptoestand beëindig wat in Februarie in reaksie op die elektrisiteitskrisis afgekondig is. Die hofaansoeke wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en Solidariteit teen die ramptoestand gebring is, is gevolglik ook gister teruggetrek. Die DA gaan voort met sy poging om die Wet op Rampbestuur ongrondwetlik te laat verklaar.

2. Dít was kort nadat Enoch Godongwana, minister van finansies, in die parlement gesê het hy gaan Eskom se omstrede vrystelling van die Wet op die Bestuur van Staatsfinansies “vir eers” terugtrek sodat hy verder met die ouditeur-generaal en Eskom se ouditeurs kan beraadslaag.

3. Elders duur die krisis voort: Eskom voorsien een of ander vlak van beurtkrag elke week vir die volgende jaar, blyk uit sy weeklikse verslag oor die stand van sy stelsels. Die kragvoorsiener se energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF), wat wys watter persentasie van kragstasies op ’n gegewe oomblik beskikbaar is om elektrisiteit te lewer, was in Maart 55,6%, teenoor ’n mikpunt van 60%.

4. Die polisie het die R12 miljoen-huis in Hyde Park, Johannesburg, deursoek waar Thabo Bester en dr. Nandipha Magudumana gebly het voordat dit geblyk het dat die Facebook-verkragter al in Mei verlede jaar uit die tronk ontsnap het. ’n Eiendomsontwikkelaar het aan Silindelo Masikane (@Sli_Masikane) van eNCA gesê die twee was meer as R800 000 aan huurgeld verskuldig teen die tyd dat hulle weer op die vlug geslaan het.

5. Die eggenoot van Nicola Sturgeon, wat op 23 Maart onverwags as Skotse eerste minister bedank het, is gisteroggend by hulle huis in Glasgow in hegtenis geneem. Die 58-jarige Peter Murrell word nou ondervra in verband met beweerde ongerymdhede met die geldsake van die Skotse Nasionale Party, waarvan hy van 1999 tot verlede maand die uitvoerende hoof was.


Weersake

Toestande wat ’n uiters hoë brandgevaar inhou, kan oor die sentrale deel van die Noord-Kaap, noordelike deel van die Wes-Kaap en westelike deel van die Oos-Kaap verwag word. Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan mis in die oggend verwag. Andersins matige toestande met moontlike buie en donderbuie in KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 23°C • Johannesburg 23°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 26°C • Durban 26°C • Howick 25°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 23°C • Upington 34°C • Gqeberha 29°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | ’n Dag waaroor Trump self sou gesê het: SAD!

Dit was nogal vreemd om ’n bedeesde Donald Trump met sy eerste verskyning daar in die hofsaal in New York tussen sy prokureurs te sien sit. G’n mikrofoon in sy hand nie, g’n see van MAGA-rooi of dreunsingende skare ondersteuners nie, g’n verhoog van waar hy kan neersien op die res nie. Stemmige blou pak klere, wit hemp, rooi das. Sy “not guilty” sonder entoesiasme uitgespreek.

’n Klompie ure later, terug in Mar-A-Lago en ver van regter Juan Merchan se versoek – en dit was niks meer as ’n versoek nie – dat hy hom moet weerhou van stellings wat tot geweld of burgerlike onrus kan lei, was dit ’n ander storie. Dieselfde blou pak klere, wit hemp en rooi das (en ook die Amerikaanse vlaggie op sy lapel, kyk ek sleg of was dit nie daar tydens sy hofverskyning nie?), maar die res was voorspelbare Trump:

“Our country is going to hell.”

“The only crime that I have committed is to fearlessly defend our nation from those who seek to destroy it.”

“I have a Trump-hating judge with a Trump-hating wife and family whose daughter worked for Kamala Harris.”

Oor die “criminal” Alvin Bragg: “A local failed district attorney charging a former president of the United States for the first time in history on a basis that every single pundit and legal analyst said there is no case.”

Oor Jack Smith, die spesiale ondersoeker na Trump se rol in die gebeure van 6 Januarie 2021: “A lunatic.”

Oor die ondersoek na die vertroulike dokumente wat by sy huis in Florida gevind is: “They’re looking at me through the Espionage Act of 1917, where the penalty is death.”

Image: ANGELA TUCK

Niks substansie nie, niks oor die meriete van die 34 aanklagte teen hom nie, afgesien van “there is no case”. Net persoonlike aanvalle, verdagmaking van ander se motiewe en ’n skaamtelose poging om alles nogmaals te gebruik as ’n manier om geld in te samel.

Doodstraf, regtig? Nie eens sy bisarste ondersteuners, soos Marjorie Taylor Greene, wat buite die hof in New York met al die finesse van ’n EFF-LP by ’n parlementsopening tekere gegaan het, glo dat Trump selfs ’n dag agter tralies sal deurbring nie, selfs al word hy skuldig bevind. Dit sal waarskynlik nie eens keer dat hy volgende jaar weer vir president mag staan nie.

Trump is ook afgeskryf die vorige keer toe hy die Withuis probeer haal het, maar in 2016 was dit nog maklik om homself as ’n wenner te projekteer wat die establishment van buite uitgedaag het. Hy gaan sukkel om dít volgende jaar weer reg te kry.


Image: ANGELA TUCK

Komkommers met gevoelens

Ek is nie ’n harkpatat nie. As jy dit misgeloop het, lees Willem Kempen se definisie hier. Ek is ’n patatta wat hark en pot vrygespring het, wat uit die wa geval het en êrens in ’n donker klipskeur lê en sulke wilde, gekartelde ranke uitstoot wat trillend soek na lug en grond. Teorieë spoel oor my. Ek droom die graagste.

Image: ANGELA TUCK

KI maak my bang sowel as opgewonde. Hoewel ek weier om te glo dat robotte kuns kan skep, hou ek die landskap met afwagting dop. Ek glo immers aan toeval, synchronicity, serendipity – ag, ek glo aan alles, ook in die spook in die masjien. Ek glo elke ding op aarde het ’n mate van bewussyn, ook ’n klip en ’n motor – hoekom pas jou kar aan by jou bestuurstyl en breek as jy dit aan iemand met ’n ander bestuurstyl verkoop? Ek het ook gehoor dat as ’n spul batteryaangedrewe speelgoedkarretjies in ’n vertrek losgelaat word, hulle aanvanklik gedurig in mekaar vasry, met gevolglike klosbotsing en opeenhopings, maar ná ’n dag of wat vind hulle hul weg en ry hulle mooi langs mekaar verby.

Ek is skepties oor KI-gedigte of skilderye, maar glo wel dat kunsmatige intelligensie ’n boeiende onderwerp bied vir stories. Ek het onlangs die UJ-debuutpryswenner Carien Smith se kortverhaalbundel Bot gelees, waar hierdie temas aan die bod kom: mense wat nie weet dat hulle simulante is nie, hulle bewussyn ontwerp deur ’n rekenaar, al hulle herinneringe geprogrammeer, ’n vrou wat in ’n robot verander. Laasgenoemde laat my dink aan ’n droom wat my dogter gehad het toe sy klein was. Sy het gedroom sy verander in ’n robot van metaal. Sy wou huil, maar sy het nie trane gehad nie. Sy was stram en verstote. Toe kom my pa met ’n kannetjie en spuit olie op haar, waarna sy weer mens geword het.

Image: ANGELA TUCK

Ek het self jare gelede ’n boek geskryf oor ’n robot wat ’n bewussyn ontwikkel en filosofies en digterlik raak: Poppekas. Ek het ’n boek gelees oor ’n robot wat op ’n vrou verlief geraak het. Volgens die boek kan robotte nie gedigte skryf nie, net haikoes, omdat daar ’n streng formule is: soveel lettergrepe per reël, een enkele waarneming, gewoonlik van die natuur.

Jan Rabie het al daaroor geskryf in die kortverhaal “Ek het jou gemaak”: ’n man wat vir homself ’n robotvrou geskep het wat hom moes gehoorsaam. Ek was ’n aanhanger van die film Blade Runner, waar sekere mense eintlik robotte was wat menslike emosies naboots.

Ek kan slegs vir myself praat, maar mense wat sukkel met sosialisering voel soms minder menslik as ander, soos outomate – geïsoleer, meganies en eensaam.

Een van die dinge wat ek by my pa geleer het, is om met geduld en respek om te gaan met dinge, of dit nou ’n plaashek of ’n skroewedraaier is – as jy kwaad of ongeduldig is, kan enigiets teen jou draai. Om nie eens te praat van plante en diere nie. As julle die moed het, vleisvreters, kyk na die video hier onder (of klik op die voorafgaande rooi skakel).

Ja, ons is nie alleen nie. Ons is komkommers met gevoelens, maar so ook is komkommers. Wees gaaf met dinge en masjiene en moenie dink jy is die enigste een met ’n komplekse bewussyn nie.

Dankie dat ek ’n paar wilde patatranke kon deel.


Image: ANGELA TUCK

Rolspelers by die VWB-Cullinan-boekefees

Max du Preez, wat geen bekendstelling nodig het nie, gesels Saterdagmiddag 17:00 met Pieter du Toit en Johann van Loggerenberg oor hulle boeke en die stand van ons chaotiese land in die gesprek “ANC biljoenêrs en rogues". Johann is mede-outeur van die topverkopers Rogue, asook Death and Taxes en Tobacco Wars. Hy was groep- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voordat hy bedank het. Pieter du Toit is ’n joernalis en die skrywer van die boeke The Stellenbosch Mafia en The ANC Billionaires.

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek.


The Guest

Nothing is changed: against the dining-room windows
hard grains of whirling snow still beat.
I am what I was,
but a man came to me.

“What do you want?” I asked.
“To be with you in hell,” he said.
I laughed. “It’s plain you mean
to have us both destroyed.”

He lifted his thin hand
and lightly stroked the flowers:
“Tell me how men kiss you,
tell me how you kiss.”

His torpid eyes were fixed
unblinking on my ring.
Not a single muscle stirred
in his clear, sardonic face.

Oh, I see: his game is that he knows
intimately, ardently,
there’s nothing from me he wants,
I have nothing to refuse.

– Anna Achmatova, vertaal deur Stanley Kunitz en Max Hayward

 ♦ VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.