Kom ons vergeld nie kwaad óf goed met nog kwaad nie

DONDERDAG MET DEBORAH

Kom ons vergeld nie kwaad óf goed met nog kwaad nie

DEBORAH STEINMAIR skryf oor die drang om te prosedeer en die behoefte om aangeraak te word. WILLEM KEMPEN sê daar is darem soms ’n stewige prys vir leuens te betaal. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy wil weet.

  • 20 April 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die kabinet oorweeg ’n plan van die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, om die land se mankolieke steenkoolkragsentrales stadiger aan diens te onttrek. So ’n plan sou waarskynlik strydig wees met die regering se verbintenis tot emissie-doelwitte, wat kan beteken dat biljoene dollar se finansiering vanaf ryk geïndustrialiseerde lande in die gedrang sal wees, het News24 berig.

2. Verbruikersinflasie het in Februarie verder gestyg tot 7% nadat dit in Januarie 6,9% was, volgens syfers wat gister deur Statistieke Suid-Afrika uitgereik is. Kos en vervoer was die grootste rede vir die versnelde prysstygings. Die styging beteken dat die Reserwebank onder groter druk sal wees om die amptelike uitleenkoers verder op te stoot.

3. Die regering het die Bulembu-lughawe (Bhisho) in die Oos-Kaap as ’n tydelike internasionale toegangspunt verklaar sodat lede van die koningshuis van die Verenigde Arabiese Emirate uit Dubai daar kon land, het Malibongwe Dayimani van News24 berig. Die besoekers sluit glo in koning Mohamed bin Zayed Al Nahyan en sy seun sjeik Khaled bin Mohamed bin Zayed Al Nahyan, die kroonprins.

4. Nog ’n bewaarder in diens van G4S is in hegtenis geneem in verband met Thabo Bester se ontsnapping. Die 51-jarige man sal na verwagting vandag in die Mangaungse landdroshof verskyn.

5. Die raad van SA Toerisme sal in môre se Staatskoerant amptelik ontbind word, het die minister van toerisme, Patricia de Lille, gesê. Drie mense gaan glo aangestel word om die raad tydelik te bestuur totdat ’n nuwe een aangewys word.


Weersake

Waarskuwings oor sterk wind en golwe tussen Tafelbaai en Port Edward, en oor brandgevaartoestande in dele van die Wes-, Noord-, en Oos-Kaap, Vrystaat en Noordwes. Bewolk en koel met geïsoleerde tot verspreide buie in die Wes-Kaap, maar wydverspreid oor die verre suidweste, waar dit plek-plek koud sal wees. Sonnig en warm oor die res van die land.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 19°C • Durban 30°C • Howick 30°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 25°C • Upington 26°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 29°C.


Willem Kempen | Die ware Fox News, as iemand nog getwyfel het

Dis jammer dat Dominion Voting Systems se lastersaak teen Fox News op die laaste oomblik buite die hof geskik is. Dit sou goed gewees as nog getuienis tydens 'n volle hofsaak na vore kon kom oor of Fox bloot verslag gedoen het oor Donald Trump se bewerings dat Dominion in 2020 aandadig aan stembedrog was, of dat die netwerk daarenteen kwaadwillig was deur die uitgestemde president se leuens te herhaal en te bevorder lank nadat hulle besef het dis onwaar en sonder gronde.

Dis selfs 'n groter jammerte dat Rupert Murdoch self en van Fox se prominente joernaliste soos Tucker Carlson en Lou Dobbs nie ingevolge die skikking gedwing word om op die lug en in spitstyd om verskoning te vra vir hulle aanbidding van die Trump-agenda nie. Nog nie, in elk geval.

Nie dat die skikking 'n verrassing is nie: Dominion is 'n kleinerige maatskappy vir wie die ooreengekome bedrag van $787,5 miljoen die ekwivalent van 'n hele paar dekades se winste is. Daarenteen sou Murdoch se magtige empire dit kon bekostig het om die hofproses vir jare te laat aansleep, en selfs die oorspronklike eis van $1,6 biljoen sou vir hom oorleefbaar gewees het.

Die skikking is nogtans nie die einde van Fox se probleme nie. Dis trouens verdere skietgoed vir Smartmatic, wat net soos Dominion 'n stembus-tegnologiebesigheid is wat erg deur Fox en Trump belaster is. Smartmatic se eis is vir 'n selfs groter $2,7 biljoen, en dan is daar ook nog die afsonderlike eis wat die afgedankte Fox-regisseur Abby Grossberg teen haar voormalige werkgewer ingestel het.

Grossberg sê onder meer Fox se prokureurs het haar probeer dwing om misleidende getuienis in die Dominion-saak te lewer – en die stemopnames wat sy gemaak het van gesprekke met mense soos Carlson en Maria Bartiromo staaf nie net haar weergawe van die gebeure nie, maar ontbloot ook die giftige en skaamteloos bevooroordeelde kultuur onder Fox se joernaliste. En dat Rudy Giuliani gewéét het die Dominion-beweringe was ongegrond.

Die hartseer deel is dat miljoene Amerikaners sal aanhou om elke woord te glo wat uit mense soos Trump en Carlson se monde kom, maar hopelik is daar nou 'n groter besef dat daar minstens soms 'n prys vir leuens te betaal is. 


Image: ANGELA TUCK

Deborah Steinmair | Rokkies en velhonger

Ek het in die middel van die nag ’n nuwe woord geleer: “stoelrokkie”. Dit was in ’n WhatsApp van die vrou by wie ek ekstra stoele en tafels gehuur het vir die VWB-Cullinan-woordfees van die afgelope naweek. Sy stuur ’n faktuur vir beskadigde stoelrokkies – 88 uit die 100, glo.

Ek gaan jou nie verveel met die besonderhede nie. Dit het wel gelei tot pittige WhatsApps van my kollegas, soos “rokkies wou sy dra en niemand kyk daarna, en almal staan verslae oor die rokkies wat sy dra” en “waar daar ’n rokkie trek, brand ’n vuurtjie”.

In Saul Bellow se roman Humboldt’s Gift noem die verteller dat die titelkarakter “litigious” is. Die Afrikaans is “pleitsiek” of “prosedeersugtig”. Daar is mense wat op dié manier ’n lewe maak, soos my vriende se voormalige huurders, wat vir ’n jaar vooruit huur betaal het, nooit water en ligte betaal het nie en my vriende toe dagvaar vir die volle huurbedrag, weens ongerief wat hulle glo gely het.

Image: ANGELA TUCK

Maar ek wil nie oor prosedeersugtiges praat nie. Mercy Kannemeyer se nuusbrief dié week het my laat lag en nadink. Oor aanrakingshonger. Hoedat ’n vel daarna smag om deur ’n ander vel aangeraak te word. Dit was ook in een van Saul Bellow se boeke waar die bejaarde verteller soms haarkapper toe gaan net om aangeraak te word. In een van my gunstelingreekse ooit, Boston Legal, het een hoofkarakter mense betaal om hom te meet vir ’n pak klere omdat dit hom herinner aan die dae toe hy moes staan dat sy ma hom meet en pas vir ’n nuwe kortbroek.

In die inperking het ons dit almal beleef. Familie en vriende is op ’n afstand, met ’n wuif, begroet. Ons was so gelukkig om ’n kind aan huise te hê tydens die strengste inperking. My jongste, nie onbekend met depressie nie, was besig met ’n kursus in Pretoria wat toe deur die virus kortgeknip is. Sy, ’n fiksheidsfanatikus wat marathons hardloop en elke dag in die gim is, was nou in ’n meenthuis vasgekeer. Ons het haar soms net een maal per dag gesien, wanneer sy iets te ete kom haal. En haar hoor oefen in haar kamer, soos ’n gevangene in ’n sel. Sy was nie meer ’n tiener nie en ook nog nie heeltemal grootmens nie. Soms het ek haar net gegryp en vasgedruk, hoewel dit nog nooit vir my heeltemal natuurlik gekom het nie.

Ek is êrens op een of ander gradeboog en uitreiking na ander mense verg baie energie. As jy my ontmoet, sal ek jou op die skouer klop of halfhartig oor jou arm vee. Styf en skeef mik vir ’n druk. Maar ek probeer. En selfs ons wat soms voel dat daar ’n oseaan tussen ons eiland en ander mense se vasteland klots, het dit nodig: ’n hand wat vir ’n paar tellings op jou voorarm huiwer, ’n arm ligweg om jou skouer gedrapeer. Aanraking.

Kom ons eis nie skadevergoeding nie, kom ons vergeld nie kwaad met kwaad of goed met kwaad nie. Kom ons hou mekaar ’n oomblik vas, of as dit te veel gevra is, vat ’n hand, veeg oor ’n arm. Me tangere.


Kwatryn

Dis altyd dieselfde ding wat ek soek:
'n Mooi jongman, 'n mooigebinde boek.
Of ek nou 'n liggaam streel of 'n band,
Dit bly maar altyddeur die buitekant.

– Gerrit Komrij

(Uit: Die elektries gelaaide hand, vertaal deur Daniel Hugo)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.