Die hoogs effektiewe regering wat ons rééds het

WOENSDAG MET WILLEM

Die hoogs effektiewe regering wat ons rééds het

WILLEM KEMPEN besing die lof van Suid-Afrika se mini-regering, en meen baie Afrikaanse hoërskole is op 'n gevaarlike pad. En soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre


1. 'n Federale jurie in New York het in 'n siviele geding bevind dat Donald Trump aanspreeklik is vir die seksuele aanranding van die voormalige Elle-rubriekskrywer E. Jean Carroll in 'n aantrekkamer van 'n afdelingswinkel in Manhattan in die 1990's, en gevolglik ook vir naamskending nadat hy die voorval ontken het, maar nie vir verkragting nie. Die jurie het totale skadevergoeding van $5 miljoen aan Carroll toegestaan.

2. 'n Bykomende 2 500 MW se kernkrag word steeds voorsien in die nuutste weergawe van die regering se geïntegreerde hulpbronplan (“IRP2023"), het Gwede Mantashe, wat nie die minister van elektrisiteit is nie, aan die parlement se portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie gesê. Hy het nogmaals om verskoning gevra dat die plan nie reeds einde Maart bekend gemaak is soos belowe nie: “We are pushing very hard on it.”

3. Genl. Fannie Masemola het al in Julie verlede jaar geweet 'n privaat ondersoeker is aangestel om korrupsie by Eskom te ondersoek. Die nasionale kommissaris van polisie het dié erkentenis aan lede van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gedoen.

4. Adj.pres. Paul Mashatile het gevra dat die mense van Jagersfontein in die Vrystaat nog “'n bietjie langer wag" vir die regering om hulle huise te herbou nadat die damwal by die Jagersfontein-myn verlede jaar meegegee en honderde mense dakloos gelaat het.

5. Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het op 'n besoek aan Kyiv ter herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog gesê Rusland se oorlog teen Oekraïne “het reeds dramaties misluk".


Kyk weer ...

Deels bewolk en matig in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KZN, maar met geïsoleerde buie by Richardsbaai. Oggendmis in Limpopo en Mpumalanga, waar daar ook geïsoleerde buie en donderbuie sal val. Sonnig en matig tot warm in Noordwes, die Vrystaat, die Noord-Kaap en Oos-Kaap. Oggendmis oor die Wes- en Suid-Kaapse kus, andersins sonnig en matig tot warm met hoogliggende wolke.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 21°C • Polokwane 22°C • Mbombela 22°C • Upington 29°C • Bloemfontein 22°C • Kaapstad 23°C • George 28°C • Worcester 82°C • Durban 23°C • Gqeberha 29°C.


Willem Kempen | Kom ons sit die hele regering op tender uit

’n Mens wonder hoeveel geld die ANC bereid sal wees om te aanvaar in ruil daarvoor dat die nasionale asook alle plaaslike en provinsiale regerings van die party weggeneem en op tender aan Gift of the Givers toegeken word? Mitsgaders natuurlik ’n klompie honderd biljoen vir individuele ministers en premiers en burgemeesters om die transaksie te “fasiliteer”, maar op voorwaarde dat hulle nooit weer hulle voete in ’n regeringsgebou sit nie.

Die hartseerste deel is dat dit Gift of the Givers is wat sal nee sê vir so iets, nie die ANC nie. Want afgesien van toegang tot die staatskas beskik die regerende party oor net mooi niks wat dit vir Imtiaz Sooliman en sy span makliker sal maak om alles te doen wat hulle reeds in die plek van ’n afwesige staat doen nie: nie organisasievermoë nie, nie logistieke vermoë of infrastruktuur nie, nie diplomatieke vaardighede nie, en allermins nie die vertroue van die publiek nie.

Die skoolvoedingskemas in KZN en die Oos-Kaap is ’n gemors weens korrupsie en onbekwaamheid. In albei provinsies kry Gift of the Givers dit strykdeur reg om elke dag aan mense kos te gee – dit sal trouens interessant wees om te sien wie van die regering of Gift of the Givers verskaf op ’n gegewe dag die meeste gesonde, eetbare maaltye in die land. Ek weet op wie mý geld is.

Onlangs in Soedan was dit Gift of the Givers wat plan kon maak om ons mense uit die land te kry, nie die onbeholpe departement van buitelandse sake nie. Ditto reddingswerk in Malawi met sikloon Freddy en selfs ná die aardbewing in Türkiye. Gaan kyk bietjie op giftofthegivers.org watse dienste bied die organisasie alles aan: rampreaksie, hongerverligting, watervoorsiening, gesondheidsorg, onderwys, menslike ontwikkeling. Min of meer alles wat ’n regering veronderstel is om te doen, en ek is ook bereid om te wed Sooliman se mense sou beter gevaar het om die Guptas uitgelewer te kry of die ander staatskapers hoegenaamd vervolg te kry as die werklike kamstige regering.

En gaan kyk ook sommer na Gift of the Givers se korporatiewe borge: Dis ’n indrukwekkende lys wat groot name soos Anglo American, Walmart, Woolworths, Absa, Capitec, Shoprite en Tiger Brands insluit. Dis maatskappye wat weet dat hulle geld gebruik gaan word om dinge gedoen te kry, nie om ’n opgeblase, oneffektiewe en duur staatsdiens se salarisse elke maand te betaal nie.

Beste van alles: Ons hoef nie eens die ANC uitgestem te kry vir Gift of the Givers om hulle werk aan te hou doen nie.


Image: ANGELA TUCK

Ons het ver gekom, maar ons het ook nog ver om te gaan

“Ons mag nooit vergeet hoe ver ons die afgelope drie dekades gekom het nie,” skryf Anneliese Burgess onlangs in haar Salige Sondag-geselsbrief.

Maar dan lees ons ook Maandag hoe iemand in kommentaar onderaan Max du Preez se brief verklaar: “Dit is die beleid van die Afrikaan om alles wat gewerk het óf te vernietig óf te steel.”

Ek probeer gewoonlik om ’n hele rukkie na te dink voor ek iemand as ’n rassis afmaak, selfs as dit blatant is soos in dié voorbeeld. Dalk, het ek eers by myself gehoop, bedoel hy met “Afrikaan” ons almal wat in Afrika woon of van hier af kom, swart én wit; dat steel en vernietig so ’n deel van ons kultuur geword het dat ons nie meer anders kan nie.

Toe nou nie, blyk dit uit wat hy later daar sê.

Een van die redes waarom ek versigtig is om daardie etiket om iemand se nek te hang – dalk óórversigtig – is dat ek vermoed iemand se verklaarde (let wel) denke oor rassisme is nie ’n goeie voorspeller van hoe hulle in hulle alledaagse handel en wandel met ander omgaan nie. Ek ken mense van wie ek taamlik seker is dat hulle heimlik oortuig is van hulle eie rassemeerderwaardigheid, maar dit nooit in die openbaar sal verkondig nie. Tog lyk dit vir my sulke mense vaar in die praktyk dikwels beter as die “kleurblindes” met dinge soos om verby iemand se velkleur te kyk om potensiaal raak te sien. Of om te verstaan watter rol hulle eie velkleur gespeel het in al die materiële dinge en kwalifikasies en ervaring wat hulle dalk het. Of om ander mense se basiese behoefte aan menswaardigheid te respekteer.

Aan die ander kant van die muntstuk is daar die vromes wat so graag pronk met hulle eie verdienstelikheid, soos die spoggerige Afrikaanse “oopkop-skool” met die “Christelike waardes” wie se leerders hulle by 'n onlangse nasionale byeenkoms onderskei het in die manier waarop hulle neersien op ander skole se swart kinders.

Nee, daar was niks wat gerapporteer of aangemeld kon word nie, geen video waarop iemand k-woorde rondslinger wat die koerante kan haal nie. Alles gebeur nét ver genoeg van die skeidsregters of die toeskouers se ore af, of is nét subtiel genoeg dat niemand dit wil waag om iets te sê nie. Maar onder mekaar praat daardie swart kinders met mekaar, en met hulle wit maats, en hulle wéét, en hulle gaan dit nie gou vergeet nie.

Moet ons dan verbaas wees as een van hulle oor ’n jaar of drie van nou af iets sê soos “Dit is die beleid van die Afrikaner om almal te verneder en te verkleineer wie se vel swart is”?

Moet ons dan verbaas wees as mense dink oulik-klinkende terme soos “Afrikaans” en “moedertaalonderrig” en “geloof” en “tradisie” en “standaarde” is eintlik net kodewoorde vir “nes in die ou dae”?

Help dít dalk sommer ook verklaar waarom dit so dikwels die Afrikaanse hoërskole is waar mens hoor van onderwysers wat die kinders agteraf met video’s en traktaatjies probeer wysmaak dat “alles wat hulle oor evolusie gaan leer nie waar is nie”; dat hulle moet aanhou om alles letterlik te glo wat in die Bybel staan?

Ons moet dan ook nie verbaas wees as al hoe meer ouers begin dink die tipiese Afrikaanse hoërskool het vasgehaak in die verlede en is nie die soort plek wat hulle kinders behoorlik kan voorberei op die werklikhede van die wêreld daar buite nie.


Soektog

Op die spoor van Nietzsche tot Pascal.
Delwend in die leer van Boeddha tot Baäl.
Deur die digkuns: Sexton tot Celan.

Maar nêrens ’n beeld of teken
vir doodse donkerte,
geen woord as kloon vir eensaamheid.

– Hendrik J. Botha

(Uit: Atropos)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.