Hallo vir hoop en koebaai vir vooroordeel

MAANDAG MET MAX

Hallo vir hoop en koebaai vir vooroordeel

MAX DU PREEZ skryf oor die eerste regtig goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2023, en sê ons moet baie meer onverdraagsaam met die onverdraagsames wees. En daar is sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 12 Junie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Die Suid-Afrikaanse regering het nou aanvaar dat dit onhoudbaar sou wees dat pres. Vladimir Putin van Rusland in Augustus ’n Brics-beraad in Johannesburg bywoon. Daar is geen uitkomkans vir die lasbrief vir sy arrestasie van die Internasionale Strafhof nie. Pres. Cyril Ramaphosa het nou met sy Chinese eweknie, Xi Jinping, beraadslaag, waarskynlik met die voorstel dat die beraad na China verskuif word.

2. Gister was die grootste betaaldag tot nog toe by die Comrades-marathon. Tete Dijana en Gerda Steyn het elk R500 000 vir hulle oorwinning gekry, nog R500 000 omdat hulle die rekord verbeter het en R200 000 omdat hulle die rekord as Suid-Afrikaanse burgers verbeter het. Dijana se tyd was 05:13:58 en Steyn s’n 05:44:54. Piet Wiersma was die tweede vinnigste man en Adele Broodryk die tweede vinnigste vrou.

3. Daar lê byna 2 000 lyke in lykshuise net in KZN en Gauteng, meestal weens agterstallige DNS-toetse en stadige polisieondersoeke. Van die lyke het weens beurtkrag al begin ontbind.

4. Die gewese eerste minister van Skotland, Nicola Sturgeon (52), is in hegtenis geneem en ondervra in ’n ondersoek na die geldsake van die Skotse Nasionale Party. Sy was agt jaar lank in die pos en het op 15 Februarie vanjaar bedank. Haar man, Peter Murrell, is ook vroeër in hegtenis geneem en ondervra en ’n duur voertuig is by sy ma se huis gekonfiskeer.

5. Die nuwe burgemeester van Kathu in die Noord-Kaap, Henriëtte du Plessis van die DA, het haar gehuurde ampsmotor verruil vir twee bakkies wat gebruik moet word wanneer slaggate reggemaak word en om met elektrisiteitskwessies te help. Die burgemeester se ampswoning gaan uitgehuur word sodat nog voertuie gehuur kan word.

6. Ted Kaczynski (81), ook bekend as die Unabomber wat die VSA tussen 1978 en 1995 met briefbomme geterroriseer het, is dood in sy tronksel aangetref. Die FBI het jare lank vergeefs na hom gesoek totdat hy sy ellelange credo in The Washington Post en The New York Times gepubliseer en sy broer en skoonsuster sy styl en sentimente herken en die polisie ingelig het. In die dokument het hy teen modernisering uitgevaar en gesê tegnologie laat Amerikaners vervreemd en magteloos voel.

7. Donald Trump is Saterdagaand soos ’n held ontvang toe hy ’n konvensie van die Republikeinse Party in Noord-Carolina toegespreek het. Hy verskyn môre in die hof op 37 ernstige aanklagte dat hy geheime dokumente wederregtelik uit die Withuis verwyder, onverskillig gestoor en ongemagtigde toegang aan ander gegee het, en weens regsverydeling. Van die dokumente bevat besonderhede oor die VSA se kernvermoëns en ’n beplande aanval op Iran. Trump het dit as ’n politieke heksejag afgemaak en sê die vervolging maak hom net meer gewild as presidentskandidaat. As hy skuldig bevind word, kan hy meer as 20 jaar tronkstraf kry.


’n Kouefront het die Kaap gisteraand getref en kan dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap raak. Dan is daar ’n waarskuwing oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei in dele van die Wes-Kaap, asook sterk wind tussen Saldanha- en Plettenbergbaai. Oggendmiskolle kan oor die land heen verwag word, behalwe Gauteng, Noordwes en die Vrystaat.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 21°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 14°C • Durban 26°C • Kimberley 14°C • Bloemfontein 14°C • Polokwane 24°C • Upington 16°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 21°C.


Max du Preez | Uiteindelik, die sakesektor en die staat sáám in ’n reddingspoging

Die nuwe pakt tussen die regering en senior sakeleiers verlede week is ’n deurbraak, die eerste regtig goeie nuus vir die ekonomie in 2023.

Die sakelui en die regering, wat deur pres. Cyril Ramaphosa self gelei is, gaan nou verskeie werkgroepe stig, onder meer oor spoorvervoer en hawens en die stryd teen misdaad en korrupsie. Daar is reeds ’n werkgroep oor energie.

Die pakt is die kulminasie van maande se voorbereiding waarin veral Martin Kingston van Rothschild SA en Adrian Gore van Discovery ’n rol gespeel het.

Die uitstaande kenmerk van Suid-Afrika die laaste dekade is die yslike kloof tussen ’n onbeholpe staat en ’n effektiewe, energieke en innoverende privaat sektor.

As die inisiatief nie deur die ANC en/of van die lede van die kabinet gesaboteer gaan word nie, kan dit relatief vinnig tot heelwat meer effektiwiteit lei.

Kingston sê die ooreenkoms is sonder weerga omdat van die land se top sakebase self by die werkstrome betrokke gaan raak.

Jannie Durand van Remgro sê die nasionale vervolgingsgesag gaan gehelp word om vyf hoëprofiel-staatskaperverdagtes te identifiseer en voor die einde van die jaar te laat vervolg.

Ramaphosa het glo by die beraad gesê die vertroue tussen die sakesektor en die regering is deur die André de Ruyter-debakel en sy intelligensiedossier ondermyn, maar is nou herstel.

Onder die ander sakeleiers by die beraad was Fleetwood Grobler van Sasol, Mike Brown van Nedbank, Nolitha Fakude van Anglo American, James Mackay van die Energieraad, Paul Hanratty van Sanlam, Neal Froneman van Sibanye-Stillwater en Andrew Kirby van Toyota. Busisiwe Mavuso van Business Leadership SA en Cas Coovadia van Business Unity SA was ook teenwoordig.

Aan regeringskant was die minister van finansies, Enoch Godongwana, deel van die ooreenkoms, so ook Gwede Mantashe (energie), Sputla Ramokgopa (elektrisiteit), Pravin Gordhan (openbare ondernemings), Sindisiwe Chikunga (vervoer), Ebrahim Patel (handel en nywerheid), Khumbudzo Ntshavheni (presidensie) en die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale.

Daar is hoop.


Te hel met die onverdraagsames

Ek is in Kroonstad gebore en het daar grootgeword. Ek kom uit ’n sosiaal-konserwatiewe, Christelike huis. My ouers was pilare van hulle gemeenskap en kerk.

My sewe broers en susters (darem van twee ma’s) was/is almal suksesvol in hulle beroepslewe. Hulle en hulle kinders is deernisvolle en gebalanseerde mense en nuttige landsburgers. Twee van my broers het dominees geword en my suster het met ’n teoloog getrou en hulle was jare lank sendelinge.

Van ons broers en susters hou van tyd tot tyd saam vakansie en ons is deurentyd op WhatsApp met mekaar in verbinding.

Ek wil nie hiermee met my familie spog nie; ons is eintlik net ’n doodgewone, ordentlike Afrikaanse familie, soos vele ander. Ek sê dit alles bloot ter agtergrond.

In my familie is daar drie gay mense, een wat as nie-binêr identifiseer en een wat transgender is.

Hulle het met “gender-ideologie” of “gender-politiek” hoegenaamd niks te make nie. Dié vyf lede van my familie het nie gekies om só te wees nie en volg geen mode of gier nie; hulle is só gebore. Hulle lewens sou aansienlik minder kompleks gewees het as hulle heteroseksueel of cis was. Hulle is lieflike, dierbare mense wat deur almal in die familie omhels word.

Die verskanste Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet verbied die staat of enigiemand anders om teen enigiemand te diskrimineer op grond van “ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte”.

Dit is betekenisvol dat “geslagtelikheid” (Engels: gender), “geslag” (sex) en “seksuele oriëntasie” afsonderlik genoem word. Ek weet nie of die grondwetskrywers tussen 1994 en 1996 al spesifiek sensitief was vir transgender nie, maar dit word duidelik ook gedek.

Ons Suid-Afrikaners het in my leeftyd ver gevorder om homoseksualiteit as doodgewoon en “normaal” te aanvaar.

Maar nie ver genoeg nie, het ek begin agterkom, veral nou dat ons in Pride Month is.

Ek dink ons behoort baie meer onverdraagsaam met die onverdraagsames te wees.

Ons sal nie duld dat openbare figure, politieke partye of enigiemand anders beledigende of negatiewe opmerkings maak oor mense op grond van hulle ras, kleur, taal, sosiale herkoms of gestremdheid nie.

Maar ons grootste stad, Johannesburg, het ’n burgemeester wat tot ’n party behoort wat openlik en aktivisties homofobies is, Al Jamah-ah.

Die African Christian Democratic Party (ACDP) is meer versigtig in hulle uitsprake, maar bly steeds homofobies.

Toe die kettingwinkel Woolworths onlangs hulle solidariteit met die LGBTQ-gemeenskap uitgespreek het, is veldtogte op tou gesit om hulle te boikot, veral deur wit Afrikaanse groepe.

Ek dink ons behoort baie meer onverdraagsaam met die onverdraagsames te wees.

Toe Kaapstad verlede week ’n voetoorgang in die reënboogkleure verf, was daar ’n veldtog om dit te gaan doodverf.

En nou het die Universiteit van Kaapstad ingestem om ’n lokaal op die kampus beskikbaar te stel vir ’n lesing wat deur prof. Patrick Lumumba van Kenia gelewer gaan word om die EFF se tiende verjaarsdag te vier. Lumumba is ’n uitgesproke homofoob en ondersteuner van Uganda se wet teen homoseksualiteit, wat swaar tronkstrawwe en selfs die doodstraf insluit. Hy verkondig dat homoseksualiteit “onnatuurlik” en “un-African” is.

Die universiteit sê bloot dit is nie by die EFF se program vir die geleentheid betrokke nie.

Julius Malema, wat nie lank gelede nie teen Uganda se wetgewing gaan betoog het, sê dit is sensuur om iemand met ’n ander mening as joune stil te maak. Ja-nee, Julius.

’n Petisie teen Lumumba se optrede wat deur ’n groot getal akademici en studente onderteken is, lui dat die universiteit se toestemming Lumumba se haatspraak kondoneer.

Ek dink dit sal skandalig wees as iemand soos Lumumba die voorreg en erkenning gegun word om op ’n Suid-Afrikaanse kampus ’n lesing te hou. Daar sou ’n helse storm gewees het as iemand wat diskriminasie op van die ander gronde wat in ons handves van regte genoem word, goedpraat, ’n platform gegun word.

Sou UCT iemand soos AfriForum se Ernst Roets of die aartsrassis Dan Roodt daar laat optree?

Lumumba en mense soos hy ignoreer die deeglike navorsing dat homoseksualiteit oor millennia heen in Afrika voorgekom het en aanvaar is. Dit was eers nadat Westerse sendelinge in Afrika daarteen begin preek het dat dit as on-Afrika en onnatuurlik gesien is. Dit gebeur nou weer, veral met transgender.

Daar is oorvloedige navorsing wat wys dat daar oor die eeue heen transgender mense in tradisionele gemeenskappe in Asië, Afrika en Europa was wat as deel van die samelewing aanvaar is.

Die huidige transfobie is hoofsaaklik ’n Amerikaanse uitvoerproduk, waar die kwessie, en dié van LBGTQ in die algemeen, deel van die regses se “kultuuroorlog” en veldtogte teen “wokeness” is. Dit loop hand aan hand met die gewaande stryd teen “critical race theory”, iets wat deur die regse aktivis Christopher Rufo gepopulariseer is en nou deur onder meer die presidensiële kandidaat Ron DeSantis aangehang word.

Ongelukkig het dié Amerikaanse twak nou ook na Suid-Afrika oorgewaai en selfs senior DA-leiers sing in dié koor.

Die transfobe fokus graag op transgender vroue in sport wat ’n fisieke voordeel bo ander vroue het, al is daar net ’n dosyn of wat sulke gevalle wêreldwyd, met ’n wêreldbevolking van 8 biljoen mense. Dit het geen relevansie vir die miljoene transgender mense wat daagliks teen vooroordeel moet veg nie.

Dit is lankal nie meer ’n geldige debat of mense se velkleur hulle gedrag of intelligensie bepaal en of die aarde plat is nie. Ons hoef nie meer “die ander kant van die saak” te hoor nie; ons het dit die laaste eeu genoeg gehoor.

Dieselfde geld LGBTQ+: lesbies, gay, biseksueel, transgender en queer.

Te hel met die onverdraagsames.

Groetnis
Max


versoek

hou net verby
laat die woestyn golwend onder jou gly
laat jou skadu by die eerste oog vashaak
trek romploos saam met my

ignoreer die aanwysers
vergeet die bakens
strek jou arms wyd
trek jou tong terug
sluk jou woorde in ...

laat my toe om jou te bemin

ek wil jou my kloutjiespore wys
waar ek die eerste keer vervel het
waar ek my oudste stert afgeskud het
toe ek nog ’n grondgeitjie was

laat my toe om jou te bemin

kom ruik versigtig aan my nek
kyk hoe die lyne in my palm verskuif
ek hys my vaandel aan die buiteposte
gereed vir jou heuglike aankoms

laat my toe om jou te bemin

– Melt Myburgh

(Bron: oulitnet.co.za)


Het jy al bespreek vir ons eerste VWB-Clarens-boekefees? Kom kuier saam met legendes soos Antjie Krog, Max du Preez, Piet Croucamp, Anneliese Burgess, Francois Smith, Jolyn Phillips, Kirby van der Merwe, Pieter P. Fourie, Bibi Slippers en ander! Hier is die skakel na waar jy kan bespreek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.