Die sardyne loop na Durban en die noorkappers kom kuier uit Antarktika

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die sardyne loop na Durban en die noorkappers kom kuier uit Antarktika

ANNELIESE BURGESS vertel van twee groot jaarlikse gebeurtenisse in die see aan die Wildekus en deel 'n paar interessanthede wat sy vandeesweek op die internet raakgeloop het.

  • 25 Junie 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Van hier waar ek die meeste dae langbeen op die bank sit en werk, kyk ek uit oor die Indiese Oseaan. Tydens stormweer rol die woedende branders van ver af in, maar op dae soos vandag lyk die see soos 'n plat soom wat om die rand van die kuswoud gestik is. 

Vanoggend, in die verte, is daar 'n besete wit fladdering. 'n Malende kolk albatrosse, wit malgasse, stormvoëls en sterretjies (die Afrikaans vir “terns" is so mooi).

En dié voëlwolk beteken een ding – die sardyne loop!

Elke winter, tussen Mei en Julie, verlaat miljoene sardyne die koue waters van die Kaap vir die warmer KwaZulu-Natal. En op pad swem hulle hier voor my venster verby.

Ons weet eintlik bitter min oor hoekom sardyne migreer. Daar word geglo dat die sneller vir die migrasie is wanneer die watertemperatuur tot benede 21°C daal. In 2003 het die sardyne byvoorbeeld vir die derde keer in 23 jaar nie gemigreer nie. In 2005 was daar weer 'n goeie migrasie en die jaar daarna nie. Maar vanjaar lóóp hulle.

Vir beskerming swem die vissies in dig gepakte skole wat kilometers ver strek (dié sogenaamde “aasballe" kan tot 1,5 km wyd en 40 m diep wees). En wat biomassa betref, word die sardynmigrasie met Oos-Afrika se enorme wildebeesmigrasie vergelyk.

Skole haaie en dolfyne volg natuurlik ook die glinsterende glystroom. En robbe, jagvisse en walvisse.

Image: © RAGGY CHARTERS

Walvisse wat hulle enorme lywe uit die water werp, bly vir my 'n asemsnak-oomblik. En dié tyd van die jaar begin ek dit al hoe meer  hier aan die Wildekus sien. Junie is die maand wanneer die manjifieke suidelike noorkappers hier aankom – uit die ysige waters om Antarktika.

Die “Southern Right" se naam is te danke aan die feit dat hulle eens beskou is as die “regte" walvis om te jag: Hulle beweeg stadig, is ryk aan olie en dryf op die water wanneer hulle dood is. En omdat hulle tot 60 ton kan weeg, is die opbrengs uit elke dier groter.

Dié faktore het die suidelike noorkapper tot op die rand van uitwissing gebring. Daar is in 'n stadium tot 20 000 van hulle per jaar doodgemaak. (Japan is een van die min lande wat walvisse steeds kommersieel jag, maar daar is ook ander bedreigings soos botsings met skepe en geraasbesoedeling.)

Suidelike noorkappers word sedert 1935 in Suid-Afrikaanse waters beskerm en daar is nou sowat 4 000 van hulle – waarvan die meeste ons kuslyn besoek.

En hier is ’n paar ongelooflike feite oor walvisse wat ek nie geweet het totdat ek dit hierdie week raakgelees het nie:

- Walvisse speel ’n groot rol om koolstof uit die atmosfeer te verwyder.

- Koolstof kom in in alle lewende wesens voor, maar omdat walvisse so groot is en so lank lewe (baleinwalvisse kan tot 91 ton weeg en tot 200 jaar oud word en suidelike noorkappers kan tot 'n eeu lank leef), is hulle bydrae soveel groter.

- Wanneer hulle doodgaan, “val" die walvisse duisende meters totdat hulle op die seebodem tot ruste kom. Daar bly die koolstof in hulle reuse-liggame vir potensieel duisende jare vasgevang (die korrekte tegniese term is “gesekwestreer”.

- Een walvis verwyder soveel koolstof soos 1 000 bome en die huidige walvisbevolking sekwestreer tot 62 000 ton koolstof per jaar (gelykstaande aan 2,8 miljoen bome). Daar word beraam dat as die walvisgetalle nog op die vlak was voordat hulle op so ’n groot skaal uitgeroei is, sou hulle tot 360 000 ton koolstof uit die atmosfeer kon help verwyder het. 

- En dan is daar nog meer belowende, maar indirekte maniere waarop hulle tot koolstofsekwestrasie bydra en dit is die rol wat hulle speel om die groei van fitoplankton te stimuleer. Dit is mikroskopiese mariene alge wat onder meer anorganiese koolstof in die atmosfeer in organiese verbindings omskep, waarvan 'n gedeelte na die diepsee gevoer word.

Die wonder en misterie van hierdie ongelooflike diere lê diep.

Salige Sondag

Anneliese 

Ns.: As jy nog nie het nie, bespreek jou kaartjies vir ons winter-boekefees in Clarens. Ons gaan weer lekker kuier.  

Image: ANGELA TUCK

For a Student Who Used AI to Write a Paper 

Now I let it fall back
in the grasses.
I hear you. I know
this life is hard now.
I know your days are precious
on this earth.
But what are you trying
to be free of?
The living? The miraculous
task of it?
Love is for the ones who love the work.

– Joseph Fasano


Asembenewend

Op die tema van die sardynmigrasie – kyk bietjie na die ongelooflike foto's en video wat hierdie week aan die suidkus van KwaZulu-Natal geneem is.


Lees

Ek het baie boeke. En boeke kort rakke. Ek het net hierdie week vir my 'n nuwe, groot, wit een laat inbou teen die een hele muur van my slaapkamer. My kookboeke word volgens kleur georganiseer (want ek onthou hulle omslagte) en die res van boeke volgens genre. Geskiedenis. Rillers. Gedigte. Maar ek soek en krap steeds soms as ek sekere boeke vinnig soek. Ek was dus mal oor hierdie artikel in die Washington Post.

Die filosoof Epicurus het voorgestel dat die plesier van die lewe daarin lê om eenvoudig te lewe.

Kook

Maak Heidi Swanson se groente-bouillonaftreksel.

Luister

Hierdie het vandeesweek op my oor-en-oor-lys beland.


VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.