Om die aartappel in iemand se gesig te kan aktiveer

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Om die aartappel in iemand se gesig te kan aktiveer

Onse president lyk vir DEBORAH STEINMAIR al hoe meer na ’n verdwaasde aartappelmoer: rond, sonder hoeke of vastigheid. WILLEM KEMPEN sê ons het goeie aktiviste én politici nodig. En daar is sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 27 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. 'n Ondersoek deur News24 het aan die lig gebring dat adj.pres. Paul Mashatile skynbaar 'n rykmanslewe geniet en steeds bande het met tenderpreneurs en ander begunstigdes van staatskontrakte. Een van Mashatile se grootste weldoeners is glo Edwin Sodi, wat tans teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog wat verband hou met die Vrystaatse asbesskandaal waarby Ace Magashule ook betrek word.

2. AmaBhungane is vandag weer in die hof in sy stryd om verder verslag te doen oor Zunaid Moti en die Moti Group. AmaBhungane het vroeër in 'n reeks berigte onder meer onthul hoe die Moti Group die guns van Zimbabwe se politieke elites probeer wen het, asook oor twyfelagtige geldvloei wat aan die groep se bedrywighede in Zimbabwe verbind is. AmaBhungane sê die saak lê aan die hart van die publiek se reg om te ingelig te word: “Dit gaan oor ’n hofbevel wat, indien dit bekragtig word, in effek die reg sal wegneem van joernaliste om inligting van openbare belang te ontvang en te publiseer wat deur vertroulike bronne uitgelek is."

3. Minstens sewe Durbanse strande is steeds gesluit weens hoë E. coli-vlakke in die water, het News24 berig. Die metroraad het verlede week onderneem om teen Sondag 'n pompstasie te herstel wat tot 'n invloei van besoedelde water in Umhlanga gelei het. Die sewe strande wat gister steeds gesluit was, is: Umhlanga se hoofstrand, Westbrook, Bronze, Umdloti se hoofstrand, Reunion, Warner en  Winklespruit.

4. Sekuriteitsmaatreëls met 'n militêre benadering is nodig om die land se konstruksie-mafias effektief te beveg, het Alan Fuchs, die DA se skaduminister vir infrastruktuur-ontwikkeling, aan eNCA gesê. Fuchs meen die regering doen nie genoeg om die sindikate hok te slaan wat  konstruksiemaatskappye afpers nie.

5. Drie mense is in hegtenis geneem weens openbare geweld in Diepkloof, Soweto, waar die situasie steeds gespanne is ná betogings oor onder meer dienslewering in die gebied. Die polisie het rubberkoeëls en traangas op die betogers geskiet in 'n poging om die situasie in bedwang te bring.

6. Yevgeny Prigozhin, leier van die Russiese Wagner-huursoldategroep,  het Maandag volgens Reuters in sy eerste openbare kommentaar sedert die einde van sy opmars na Moskou gesê dit was bedoel as 'n protes teen die ondoeltreffende manier waarop die oorlog in Oekraïne gevoer word, nie om die Russiese regering omver te werp nie.

7. 'n Amerikaanse dollar het gister vir soveel as 100 roebel verhandel – die swakste vlak sedert Maart verlede jaar, net ná die inval in Oekraïne – namate finansiële markte die moontlikheid verreken het dat pres. Vladimir Putin se houvas op die mag in Rusland baie broser is as wat voorheen besef is.


Die nat en koue toestande in die Kaapprovinsies duur voort. Daar is waarskuwings oor sterk wind langs die kus tussen Saldanha- en Plettenbergbaai, donderstorms en moontlike hael oor dele van die Weskus en Kaapse Wynlande, en swaar reën wat tot oorstromings kan lei langs die Wildekus en in die suide van KZN. Daar is ’n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap. Noordwes en die Vrystaat kan vandag geïsoleerde buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 17°C • Durban 22°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 21°C • Upington 18°C • Gqeberha 16°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | Leiers wat aktiviste is, en aktiviste wat leiers is

Een woord steek by my vas met die lees in ons vorige uitgawe van Anneliese Burgess se stuk oor Tessa Dooms en dié van Angela Tuck oor Zackie Achmat: aktivisme.

Dikwels word die aktiviste – daardie woedende klompe aanhitsers buite “die stelsel" wat mense bewus maak van wat fout is en 'n plan het vir hoe om dit reg te stel – later self die politici. Dan eers word hulle gekonfronteer met die werklikhede van verkiesings wat gewen moet word, begrotings wat moet klop, en uiteenlopende belangegroepe wat tevrede gehou moet word.

Daarom maak goeie aktiviste nie noodwendig goeie politici nie, en politici keer selde terug na die rol van aktivis as hulle eers een keer iewers ingestem is. Aktiviste dring aan op verandering; politici vind verskonings waarom dit nie gedoen kan word nie.

Ek lees op die oomblik deur 'n klompie streekskoerante van verlede jaar vir die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se jaarlikse toekennings vir uitnemendheid (dankie vir die borgskap, Avbob, dis die soort “korporatiewe verantwoordelikheid" wat regtig 'n verskil maak). En daaruit kry mens nogal 'n interessante prentjie van hoe aktiviste en gemeenskapsleiers aan die een kant, en politici en burokrate aan die ander kant, op grondvlak op mekaar inwerk.

As die polisie of die munisipaliteit dan nie regtig omgee dat daar soggens dwelmhandelaars by die hoërskool se voorhek uithang nie, dan vind sterk aktiviste 'n manier om hulle te máák omgee. Maar dit moet anderkant toe ook werk: As aktiviste petrol wil uitgooi en 'n kinderverkragter lewend aan die brand steek nadat hy vir die soveelste keer op borgtog vrygelaat is, dan het jy sterk politici nodig wat 'n woedende gemeenskap tot bedaring kan bring én weet hoe om seker te maak die misdadiger word later behoorlik voor stok gekry.

Helaas is dié uitkomste die uitsondering en nie die reël nie, te oordeel na soveel berigte in die plaaslike koerante. En die rede daarvoor is die geweldige gaping wat feitlik oral ontstaan het tussen die gemeenskappe en hulle verkose leiers, wat dikwels begin met verskonings soek op dieselfde dag dat hulle agter die groot lessenaar inskuif.

Hoe maak mens dít reg?


Image: ANGELA TUCK

Wat die landskap van jou gesig oor jou sê

Ek wou skryf oor waarom ons meer ontsteld is oor ’n handvol biljoenêrs wat in ’n avontuurvaart in ’n duiktuigie omkom as oor hordes vlugtelinge wat verdrink. Ek het tot die slotsom gekom dat ons identifiseer met wat die media vir ons opdis – maar toe skryf Max besonder treffend daaroor, gister. Net nog een gedagte: Ek wil die reg hê om te rou oor rykes sowel as armes. En eintlik wil ek geen dekking van hulle lyding sien nie. Ek sal maar daaroor lees en huil in my graankos.

Toe kyk ek gisteraand na Putin op die nuus en sien ’n gesigsuitdrukking wat dr. Cal Lightman in die uitstekende TV-reeks Lie to Me dikwels uitgewys het op beeldmateriaal van moordenaars en geweldenaars: contempt, het hy dit genoem. Minagting – mondhoeke wat afwaarts trek, so ’n “fok hulle”-uitdrukking. Hoekom maak hulle nie meer reekse soos Lie to Me en The Mentalist nie?

Die studie van gesigsuitdrukkings heet fisionomie. Dit is ’n praktyk wat ’n persoon se karakter of persoonlikheid op grond van hulle uiterlike voorkoms takseer – ’n boek op sy baadjie. Gesigsuitdrukkings is ’n vorm van nie-verbale kommunikasie.

Nou ja, party mense word gebore met oë wat vanaf die buitehoeke afwaarts rem en hulle hartseer laat lyk. ’n Mens is nie verantwoordelik vir die gesig waarmee jy gebore word nie. Maar jy is verantwoordelik, glo ek, vir wat die jare met jou gesig doen. As jy ’n paar skoene elke dag dra, verander hulle vorm, sien jy duidelik die afdruk van jou skewe voet. Deur die jare verander jou resting face, soos hulle sê, jou gesiggedrag, die landskap van jou gesig. Dit neem die vorm aan van die emosie wat dit gereeld uitdruk.

Image: ANGELA TUCK

Putin se Slawiese gelaatstrekke (wat hy glo met plastiese snykunde laat beklemtoon het) lyk op sigself vir Westerlinge wreed en gevoelloos, maar dit is meer as dit. Die flits van narsistiese woede in die oë, die minagting om die mondhoeke, die somtotaal van die lyftaal is arrogant, opgeblase en megalomanies.

Onse president lyk vir my al hoe meer na ’n verdwaasde aartappelmoer: rond, sonder hoeke of vastigheid.

Ek het Michael Vlismas se boek oor Elon Musk gelees. Hy het, soos sy pa, Errol, van kleins af vir mense gesê hulle is dom en oningelig. Daardie soort minagting wys intussen ook op sy gesig.

Party mense is bloot gestraf deur gene: Koning Charles lyk soos ’n tarentaal wat broeiplek soek: rosig en ligweg ontsteld met die oë te na aan mekaar en dan moet daar nog plek gemaak word vir die neus. Die man wat tennis vir my bederf het, Novak Djokovic, se oë en neus trek ook op ’n knop saam soos ’n roofvoël s’n. Daaraan kan niemand iets doen nie, maar dis die triomfantelike flits van leedvermaak wanneer ’n opponent fouteer, die verbysterde woede wanneer hy kleitrap, wat ek oplet.

Ek wens ons kon dr. Cal Lightman invoer om ons politici se gesigte te lees en hulle motiewe te peil. ’n Profileerder. Want ek glo vas ’n mens kan ’n boek op sy baadjie takseer, veral ’n ouer, beduimelde boek.


aanlyn foto’s van verlorenvlei

die son is ’n lens flare bo verlorenvlei
die son is ’n voorstudie
die son is ’n foksterriër met ’n stok in sy bek
die son is ’n leë kampeerterrein
buite elandsbaai waar die pad
lui en onafgehandel
verbyswaai
na waar ek steeds tien is
in ’n sytak se magnesiumflits

– Tom Dreyer

(Uit: Nou in infrarooi)

♦ VWB ♦

Moet dit nie misloop nie – die jeugboekskrywer Ihette Senekal gesels met die romansiers Francois Smith en Sidney Gilroy. Bespreek nou vir die hele naweek en kom kuier saam in die koue van Clarens – daar is vure en sjerrie. Bespreek by Quicket.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.