So weg soos Jan Oberholzer (en Madiba se treur-aalwyn)

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

So weg soos Jan Oberholzer (en Madiba se treur-aalwyn)

DEBORAH STEINMAIR skryf oor pogings om Touwsrivier te laat herleef, WILLEM KEMPEN wonder of Kgosientsho Ramokgopa weet waarom Jan Oberholzer so skielik weer weg is by Eskom, en soos altyd is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 18 Julie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Die polisie in Gauteng is op soek na 'n bende van 12 gewapende mans wat Sondagaand probeer het om 'n polisiegebou in Silverton, Pretoria, van vermoedelik wapens en uniforms te beroof. Die aanvallers het veiligheidswagte vasgebind en probeer om toegang tot die perseel te kry, maar polisiebeamptes het hulle voorgekeer, waarna 'n skietgeveg uitgebreek het waarin 'n polisiebeampte gewond is. Volgens 'n polisiewoordvoerder het die aanvallers sonder enige buit weggekom.

2. Die opspraakwekkende verhoor van die Suid-Afrikaner Lauren Dickason (42) het gister in Christchurch, Nieu-Seeland, begin. Die hof het gehoor dat Dickason reeds terwyl die gesin nog in Suid-Afrika gewoon het, op die internet na maniere gesoek om aan haar drie dogtertjies ’n oordosis medisyne te gee. Dickason erken dat sy hulle op 16 September 2021 met hulle eie kombersies versmoor het, maar voer aan dit was weens 'n erge episode van geestesversteurdheid.

3. 7de Laan, die sepie wat sedert 4 April 2000 op SABC2 uitgesaai word, sal in Desember ná 24 seisoene tot 'n einde kom, het die SAUK en Danie Odendaal-produksies gistermiddag in 'n gesamentlike verklaring gesê.

4. Die organiseerders van die Tour de France het toeskouers gevra om meer bedag op deelnemers te wees ná die soveelste voorval wat tot botsings en beserings gelei het. Die Amerikaanse fietsryer Sepp Kuss het Sondag geval toe 'n toeskouer wat 'n selfie wou neem per ongeluk aan hom gestamp het, waarna nog 'n hele klomp deelnemers ook geval het of deur die voorval opgehou is.

5. Nomvula Mokonyane, eerste adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die regerende party sal nie 'n kwytskelding vir Jacob Zuma probeer beding nie. Die Konstitusionele Hof het Zuma se mediese parool verlede week ongeldig verklaar, wat beteken hy moet terug tronk toe.

6. 'n Rekordgetal van 32 spanne sal aan sokker se Wêreldbekertoernooi  vir vroue deelneem wat Donderdag in Australië en Nieu-Seeland begin. Die VSA is die gunstelinge en sal probeer om vir 'n derde opeenvolgende keer die wêreldkampioene te wees.

7. Die meeste ekonome verwag dat die Reserwebank Donderdag die repokoers met 25 basispunte sal verhoog. Dit staan tans op 8,24%, die hoogste in 14 jaar. Die ekonoom Bonke Dumisa het aan eNCA gesê verbruikers word steeds gestraf vir ingevoerde inflasie, terwyl die prys van internasionale ruoliepryse onlangs aansienlik afgeneem het.


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Oos-Kaap. Dis bewolk en koud langs die Noord-Kaapse kus. Die Wes-Kaap kan verspreide buie in die weste verwag en die Oos-Kaap is mistig in die suide. Dis vandag sonnig en koel in Gauteng en die Vrystaat en sonnig en warm in Noordwes, Limpopo, KwaZulu-Natal en dele van Mpumalanga.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 15°C • Durban 26°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 25°C • Upington 27°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Gaan iemand vir ons sê hoekom Jan so skielik (weer) gewaai het?

Minder as 'n maand nadat Eskom 'n tweejaarkontrak met die reeds afgetrede Jan Oberholzer onderteken het om toesig te hou oor onder meer die vernuwing van die Koeberg-kernkragsentrale, is gistermiddag onverwags aangekondig dat die voormalige bedryfshoof en sy werkgewer se paaie “met wedersydse ooreenkoms" gaan skei. Amptelik sal sy laaste dag einde vandeesmaand wees, maar News24 het gisteraand berig dat hy verlede week reeds weg is.

Vroeër gister het Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit,  gesê hy is “baie, baie bekommerd” dat die Koeberg-projek agter skedule is en dat dit nog tot minstens volgende jaar hoër vlakke van beurtkrag sal noodsaak.

Image: ANGELA TUCK

Oor Oberholzer se geloofwaardigheid is daar min twyfel. Hy is 'n Eskom-veteraan van meer as 30 jaar, sy tegniese kennis is bewese, hy het nie die werk nodig nie en hy het geen geskiedenis dat hy hom besig hou met kleinlike agendas nie. Die enigste logiese afleiding is dus dat hy geloop het omdat dit vir hom onmoontlik gemaak is om toe te sien dat die Koeberg-projek betyds en suksesvol afgehandel word.

Ramokgopa het gister erken hy was twee weke gelede nogmaals te optimisties dat ’n keerpunt met beurtkrag bereik is, en dat 'n “perfekte storm" van omstandighede asook foute sedertdien met onder meer Eskom se beplanning tot die onlangse hoër beurtkragfases gelei het. Hy het ook gesê meer as 1 500 voorvalle van beweerde sabotasie by Eskom word tans ondersoek, maar dat die polisie besig is om dié stryd te wen en dat 126 verdagtes sedert verlede April in hegtenis geneem is.

Ramokgopa het ook gesê sy eie rol is om tegelyk oplossings vir Eskom se tegniese uitdagings te vind, asook deur wat hy noem die “onderliggende probleme” te takel: bedrog, korrupsie, diefstal en sabotasie.

Dan moet die minister dringend vir ons sê: Het Oberholzer nogmaals die pad gevat oor tegniese probleme met die Koeberg-hernuwing, of het dit meer te doen met enige van daai onderliggende probleme?


Image: ANGELA TUCK

Touwsrivier gooi nie tou op nie

Ken jy Mary Chapin Carpenter se song:

I’m a town in Carolina, I’m a detour on a ride
For a phone call and a soda, I’m a blur from the driver’s side.

So is Touwsrivier, op die roete Kaap toe van Gauteng. Die Karoodorpie het eens gefloreer omdat dit op die hoofroete van die Kaapstad-tot-Kimberley-spoorlyn lê. Die stasie is intussen afgebrand en die spoorlyn het in onbruik verval. Die hart is uit die gemeenskap geruk en die dorpie het in armoede verval. Touwsrivier het begin lyk soos die heelal se oksel. Die meeste van die 8 000 inwoners lewe onder die broodlyn. Ongeveer 85% van hulle verdien geen inkomste hoegenaamd nie. Die enigste werk is op seisoenale vrugteplase in De Doorns, vir ’n handjievol maande per jaar.

Image: ANGELA TUCK

Wat onderskei Touwsrivier? Onder meer ’n tragiese gebeurtenis – Nelson Mandela se eersgebore seun, Madiba Thembekile, het in 1969 op die N1 by Touwsrivier verongeluk. Mandela was op Robbeneiland en is nie toegelaat om die begrafnis by te woon nie. In 1990 het hy Touwsrivier toe gegaan om afsluiting te kry. En in 2019 het Thembekile se dogters, Ndileka en Nandi Mandela, ’n gedenksteen onthul om die 50ste herdenking van die sy dood en dié van drie ander insittendes te gedenk.

In dieselfde jaar het die dogters ook ’n Kaapse aalwyn langs die pad geplant ter nagedagtenis aan hulle pa. Die aalwyn het drie koppe gehad en het onlangs bloedrooi geblom. Kort nadat dit afgeneem en die foto op Facebook geplaas is, is die aalwyn ongelukkig gesteel. Ek weerhou kommentaar.

Nelson Mandela se geliefde assistent, Zelda la Grange het haar stem gevoeg by diegene wat Touwsrivier ’n hupstoot wil gee.

Ons het behoefte aan goeienuusstories en ons weet al van beter as om op die regering te wag. Nou het besighede en plaaslike inwoners ingespring om Touwsrivier se ekonomie mond-tot-mond-asemhaling te gee en werkloosheid hok te slaan.

Besighede soos Investec het in ’n sonkragaanleg in die gebied belê. Dit word ontwikkel deur Pele Green Energy.

Investec het ook ’n R5 miljoen-toelaagfonds gestig om ’n kommersiële hidroponiese plaas te vestig met die oog op werkskepping. Hulle befonds ook 30 beurse as interns by die Nasionale Instituut vir Ontwikkeling en Opleiding aan inwoners van Touwsrivier. Jy kan meer daaroor hier lees.

Vir Mandeladag vandag knetter die lug en spat die sweet in Touwsrivier. ’n Program genaamd Fab Collab laat vele medewerkers moue oprol.

Inisiatiewe soos grootskaalse skoonmaak is op die agenda, met vrywillige hulp deur besighede en plase in die omgewing.

Heelparty geboue word geverf. Plaaslike skole spring in om te help en organisasies soos die Rasta Society en Touwsrivier Islamic Society verleen steun.

Kos word uitgedeel deur organisasies soos soos Rescue Among Many (RAM) en Compassionate Hearts. Coca-Cola borg koeldranke. Komberse en wintersklere word voorsien deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.

Die dorp word op groot skaal opgeruim en verfraai, want ’n skoon Karoodorp skep die hoop op ’n volhoubare toerisme-ekonomie.

Informele werkskepping deur die gemeenskap self word aangemoedig en mense opgelei in vaardighede soos kook, naaldwerk en afvalherwinning.

Sou dit nie wonderlik wees as daar ná vandag minstens 67 nuwe werksgeleenthede op Touwsrivier geskep kon word nie?

En as jy enige inligting oor die historiese aalwyn het, kontak asseblief die Touwsrivier-polisie.


Maria gesels elke dag met die Here.
Met wie anders moet sy praat?
Met hierdie bedremmelde drolle
met wie sy elke dag omring is?
Wat sy moet liefhê soos haarself.
DIS 'N TALL ORDER.

– Jeanne Goosen

(Uit: Het jy geweet ek kan toor?)


Ons letterkundekenner Louis Gaigher gesels Sondagoggend met 'n halfdosyn kunstige Clarensiete oor boeke en die Oos-Vrystaat. Kom kuier jy saam by ons eerste Clarens-boekefees?

Kliek hier vir die volle program.

Bespreek sommer 'n naweekkaartjie teen R600 by Quicket.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.