Taxi’s, Trump en ander dinge wat uitrafel

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Taxi’s, Trump en ander dinge wat uitrafel

DEBORAH STEINMAIR skryf oor ’n stukkende spieël vir ’n gebroke samelewing, WILLEM KEMPEN dink dis die taxibase wat behoorlik bekyk moet word, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 08 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Minstens twee mense is doodgeskiet en nog drie gewond in van die etlike voorvalle gister in Kaapstad wat met die taxistaking verbind word. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het gister gesê hy oorweeg dit om die hulp van die weermag te vra om reg en orde te help herstel.

2. Bridgman Sithole, een van Paul Mashatile se beste vriende, is 'n direkteur van 'n maatskappy wat oor die volgende twee dekades aansienlike winste gaan maak uit 'n multibiljoenrand-energiekontrak met die regering, het News24 berig in die jongste van 'n reeks onthullings oor die adjunkpresident.

3. Ntokozo Zikhali is vrygespreek van die opspraakwekkende moord  verlede jaar op die vierjarige Bokgabo Poo van Benoni, ten spyte daarvan dat hy na bewering 'n bekentenis oor haar ontvoering afgelê het. Zikhali was ten tyde van die moord op Bokgabo uit op borgtog vir die verkragting van 'n negejarige kind.

4. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wil Unisa onder administrasie plaas in reaksie op 'n onafhanklike assessor se verslag wat finansiële en ander wanadministrasie by die universiteit aan die lig gebring het, het eNCA berig. Nzimande het Unisa se raad sewe dae gegee om skriftelike vertoë oor die kwessie aan hom te rig.

5. 'n Waterpyp wat weens onwettige mynbou in Krugersdorp beskadig is, kan die hele Mogale City-munisipaliteit sonder water laat as dit sou bars, het 'n raadslid aan eNCA gesê.

6. Vyf groot Amerikaanse mediese fondse het onderneem om Leqembi, Eisai en Biogen se belowende nuwe Alzheimer-medisyne, aan pasiënte te bied sodra hulle administratiewe beleid daaroor bepaal het, het Reuters berig.

7. Donald Trump het hom op sosiale media verlustig in die onverwagse nederlaag van die VSA se vrouesokkerspan teen Swede in die tweede ronde van die Wêreldbekertoernooi, en spesifiek Megan Rapinoe, 'n uitgesproke kampvegter vir LGBTQ-regte wat 'n kritieke strafskop gemis het: “Many of our players were openly hostile to America – no other country behaved in such a manner, or even close. WOKE EQUALS FAILURE. Nice shot, Megan, the U.S. is going to Hell!!! MAGA.”


Sonnige weer word oor die grootste deel van die binneland verwag. Dit sal wel vanoggend deels bewolk wees in dele van Limpopo. KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap kan miskolle verwag en laasgenoemde sal deels bewolk wees met ligte reën in sommige dele. Dis ook vandag deels bewolk tot bewolk in die Oos-Kaap met moontlike buie. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 15°C • Durban 26°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 24°C • Upington 29°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Wie trek voordeel uit Kaapse chaos?

Kaapstad is sekerlik die enigste metro in die land waar die owerhede daarvan beskuldig kan word dat wetstoepassing te streng of volgens die verkeerde reëls gedoen word.

In die meeste ander stede is die owerhede te bang of te korrup of andersins onkapabel om onpadwaardige taxi’s en ongeregistreerde bestuurders kort te vat en die wet te laat geld. Dis ook nie net Kaapstad of die provinsie se wette wat deur die DA in hulle agterplaas bekook is nie, dis die land s’n. Dis dieselfde reëls wat veronderstel is om vir almal te geld.

Die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering het in ’n gesamentlike verklaring gesê daar kan oor sommige goed nie onderhandel word om die “staking” van taxi’s (is dit die regte woord?) te beëindig nie.

“It must be noted that there is no mechanism in law that allows for a suspension on the conditions of operating licences, nor does the City have the authority to make amendments to the laws contained in the National Land Transport Act,” het raadslid Rob Quintas gesê. Dit gaan nou skynbaar ook oor dinge soos die reg om tydens spitstye in noodbane te mag ry.

Die ding is nou, hoe kry mens weer gesprekke in goeie trou aan die gang met die bont versameling taxiverenigings onder Santaco se sambreel wat duidelik nie almal volgens dieselfde reëls wil speel nie?

Die taxibase weet goed hoe afhanklik gewone mense van hulle is om by die werk of by die skool te kom; daarom dat die skrapse alternatiewe soos busdienste ook geteiken word. As almal besef dat meer opsies die taxi’s se mag gaan inkort, hoekom is die nasionale regering so traag om byvoorbeeld die bestuur van sekere treindienste aan die Kaapstadse metroraad af te wentel, soos nou al vir jare gevra word?

Die Kaapse aktivis Lorenzo Davids (lees hier ons onderhoud van verlede jaar met hom), wys gister op X die vinger na die base: “It is the taxi owners that are paying drivers to do these blockades. Drivers don’t own the vehicles. Why is the government not going after the owners?”

Hy antwoord sy eie vraag: “Because many of the owners are very powerful people who sit in government and the civil service. Taxi drivers will be arrested like sitting ducks – while the owners get off scot-free.”

En as dit inderdaad so is, dan is dit sekerlik ook vir dieselfde mense baie gerieflik om te kan wys dat die Wes-Kaap tot in dieselfde modder afgetrek kan word as waarin die res van die land reeds is?


Image: ANGELA TUCK

’n Stukkende spieël wat ons chaotiese, gebroke samelewing weerkaats

Ek het ’n verrassende debuutroman gelees: How to Hide Inside a Three deur Jane van der Riet, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad. Zapiro noem dit op die voorblad “Like Diary of a Wimpy Kid for adults".

Die hoofkarakter, Leigh-Anne, is besig om uit te rafel. Haar lewe is, soos die meeste van ons s’n, net-net buite beheer. Haar huwelik is op die rotse en sy verwoord dit onvergeetlik:

The night I decided to stop having sex with Samuel, he couldn't have known it was the last time. It started off in the usual way with each of us lying on our halves of the bed like bags of sand. As if we had been fighting off gravity the whole way long and finally succumbed. No doubt my eyes were closed in order to escape to a gentler world without tyrannical bosses or tyrannical children. Or husbands with bony fingers.

Sy werk vir ’n nieregeringsorganisasie en moet ’n drama oor seksuele molestering by ’n townshipskool opvoer. Sy is verlief op ’n kollega. Haar kinders ruk handuit. Sy maak kompulsief lysies.

Image: ANGELA TUCK

Die landsituasie deprimeer haar. Haar huis is chaoties slordig en sy voel skuldig teenoor haar huishulp. Sy voel Phumeza weet:

... that dogs were a middle-class fetish, a compensation for our insecurity, a fragile clinging to our houses and our white jeans and our hefty shiny cars, because deep down we knew it was all but a chance of fate that we were not huddled in a shack in Khayelitsha with smoke from the paraffin stove in our hair, eating home-made vetkoek and waiting for Utata to come home.

Sy wil woke en sensitief wees, maar haar vrese is stereotiep:

In the depth of the night an old terror returned. That in Sam's absence I would wake up to find four men in my room. Always four, the symmetrical digit of dread. Four black men, my unmentionable racism hiding in my private nightmares. The men start talking softly and I become aware of their sweat. One clamps his hand on my mouth and it tastes like fried chicken. Without further ado, they take turns to rape me. I think the first will be the worst, but it isn't – their clothes sting my skin, layers of my insides are scraped away, my face has nowhere to go. I don't know whether to scream or keep quiet because I don't want to scare the children."

Sy self-medikeer met wyn en sjokolade.

Uiteindelik leer sy om alleen te wees. Sy droom van ’n wêreld waar mense gelyker is. Waar haar baas, Cedric, nie meer handgestikte Italiaanse skoene hoef te dra nie. Waar haar kollega Mncedisi nie meer sy spaargeld aan die duurste motor en selfoon hoef te bestee om die oop wond van sy kinderdae in Amathole toe te pleister nie, toe niemand genoeg gehad het om te eet nie en almal se huise vol gate was. En dat ryk mense, soos sy, wat hulle rykdom opgaar, hulle annuïteite en trusts en erfdeel kan laat gaan en weet daar sal genoeg vir almal wees.

Dis ’n roman wat jou laat lag en regop sit. Dit hou ’n stukkende spieël op en weerkaats ons chaotiese, gebroke samelewing.


Met sneeu deur die Karoo

Bruin kors van Kamdebokranse
lê net lig op die wit kruim
van die hange,
maar nou dreig my land, my brood,
om ’n suurveld te word, met skimmel
in die groen valleie.

– Pirow Bekker

(Uit: Voor ek my kom kry)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.