Kom vier fees in Melkbos. En maak die wêreld se beste slaai!

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Kom vier fees in Melkbos. En maak die wêreld se beste slaai!

ANNELIESE BURGESS nooi jou om te kom saamkuier in Melkbos oor ’n paar dae, en deel haar triumviraat van die wêreld se mees perfekte slaaie. Daar is ook soos altyd ’n gedig en haar dit-en-dat-aanbevelings.

  • 13 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Dis vier dae tot ons Boekefees in Melkbos – maar hierdie keer is dit meer as net boeke. Daar is teater en kos (met die fantastiese Herman Lensing en Elmarie Berry), Liewe Heksie kom kuier, en daar is ook voorlesings uit  kinderboeke. Ons immer gewilde redakteursgesprek Vrydagaand (met my en Max en Piet en Anastasia) neem die vorm van ’n ete aan. Meer besonderhede verder af in my brief. Kom kuier saam. Dit gaan heerlik wees! Kry die hele program hier.

Die wêreld se beste slaai(e)

Vrind P is ’n slaaiman. Ek hou van ’n man wat sy slaai kan vat. Braaivleisgrappies oor hoender-is-die-slaai is so 1990. So nou en dan kry ek ’n foto van ’n bord-vol-slaai in een of ander restaurant iewers op sy omswerwinge. Ek kan nie onthou dat ek al ooit ’n ordentlike slaai in ’n restaurant geëet het nie. Ek vermy dit soos die pes. 

As dit by kos kom, is daar vir my min dinge so neerdrukkend soos ’n restaurant se “side salad” – wat jy  kry as jy nie tjips of ’n gebakte aartappel wil hê nie. Of nog erger: “’n slaai vir die tafel”, wat net ’n groter bak is van dieselfde sonde: opgekapte half-ryp tamaties, ’n paar ringe wit-uie, ’n papperasie valletjies-blare en blokkies middelmatige feta. Met ’n laegehalte- (gebottelde) slaaisous. 

’n Slaai wat jou in vervoering sal laat, is net ’n klein bietjie meer moeite as ’n afskeep-een.

In New York staan mense tou om die legendariese Insalata Verde by Via Carota, ’n piepklein Italiaanse restaurant, te eet. Die restaurant het nou ’n wonderlike kookboek geupbliseer wat iemand vir my onlangs uit Amerika saamgebring het. Die resep is daarin, maar die sjefs het dit ook met die New York Times gedeel, so ons kan dit nou almal maak. (Hier is Food52 se weergawe wat nie agter die betaalmuur is nie.)

Die slaai is so uitmuntend omdat dit so eenvoudig is. Via Carota gebruik vyf soorte groen blare: bindslaai (Romaine), botterslaai, frisée, andyvie (witloof of endive), en bronslaaiblare (watercress).

DIt is hoe Die Slaai lyk.
DIt is hoe Die Slaai lyk.

Ek het dit al met ander soorte ook gemaak, waaronder roketblare en Woolies se heerlike Crunchita. Die geheim lê in ’n mengsel van sag en krakerig, bitter en soet. Soms kom daar by my ook basilie-, koljander- en dilleblaartjies by.

Die blare moet een vir een uitmekaar gehaal en die stingels verwyder word, soos by bronslaai en kruie. Jy wil net die blare hê, wat dan ’n paar keer afgespoel word om seker te maak dit is heeltemal skoon. Ek volg ’n bykomende stap wat ek in ’n YouTube-video van Eric Kim, NYT Food se nuwe wunderkind, gesien het. Hy sit die slaaiblare vir sy groenslaai in die yskas nadat dit afgespoel is om dit fermer te maak. (As jy nie ’n slaaiswaaier het nie, skaf onmiddellik een aan. Bedank my later. Dit is onontbeerlik in my kombuis. Ek hou sommer al my blare en kruie daarin in die yskas en dit hou vir dae.)

Dan die vinaigrette. Die resep vra vir ’n salot. Dit is soeter as ’n gewone bruin ui, en hier maak soeter saak (maar as jy dit nie kan kry nie, gebruik ’n rooi-ui). Maal dit fyn en spoel dit dan onder koue water af om die skerpheid te versag voordat dit by die sjerrie-asyn (belangrik) en twee soorte mosterd (belangrik) gevoeg word. Die mosterdkorreltjies dra by tot die tekstuur van die slaai. En dan, die groot geheim: ’n eetlepel warm water.

Via Carota se sjef verduidelik: 

“We add warm water to make it more palatable. Pure vinegar is just too strong – it assaults the taste buds. We want a salad dressing so savoury and delicious that you can eat spoonfuls of it. We want you to be able to drink it!”

Terwyl ons nou aan die slaai is, moet ons oor tamaties praat. Dit is my gunstelingvrug, maar ek is nie ’n tamatiesnob nie. Jy kan wondere verrig met ’n winkeltamatie op ’n sonnige vensterbank.

My poging tot slaaiwonderbaarlikheid.
My poging tot slaaiwonderbaarlikheid.

’n Ander slaai wat ek beslis kan aanbeveel, is Carla Lalli Music se Crunchy, Juicy Feta Salad uit haar jongste kookboek, That Sounds so Good. Haar truuk is om die groente in ’n baie souterige ysbad te laat lê, weereens om dit superkrakerig te kry. Sy gebruik vinkel, radyse, komkommer en tamatie, maar sy sê jy kan enige groente gebruik wat jy het: seldery, wortels, aspersies, groen ertjies en rooikool. En natuurlik goeie, melkerige fetakaas, wat sy in dik skywe bo-op pak. 

Ek sluit my triumviraat van perfekte slaaie af met die legendariese Roast Bone Marrow and Parsley Salad van Fergus Henderson. Die kosskrywer Tom Parker Bowles (Camilla se seun) noem dit one of the greatest dishes of all time”. Ek het al vertel hoe ek my dogter op 11-jarige ouderdom na Henderson se St John’s-restaurant in Londen geneem het om die manjifieke eenvoud van sy pietersielieblare te ervaar. Elke blaartjie word van die stingel afgepluk en dan kom daar salotte en kappertjiesade by. Dié slaai is die enigste dis wat sedert 1994 al op St John’s se spyskaart is. Hier is die NYT se resep.

Daarmee groet ek. Gaan maak ’n slaai. En P, as jy weer in die omte is, kom maak ’n draai. Ek maak vir jou  die beste slaai.

Salige Sondag
Anneliese


Ons vier die komende week fees in Melkbosstrand!

Ons begin al Donderdagaand met bekroonde musiekteater met Antoinette Kellerman en The Ancient Voices. Vrydagoggend is dit kos met Herman Lensing en Elmarie Berry. En Wendy Maartens en Nadine Petrick doen voorlesings uit kinderboeke. Vrydagaand is daar ons gebruiklike redakteursgesprek (dié keer met ’n heerlike ete ingesluit). Saterdag vang Liewe Heksie vis met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl voordat ons die res van die dag boeke, boeke, boeke doen.

Bespreek jou kaartjies by Quicket. Hier is die skakel weer


Both Ways

I walk down to the river of myself
and see what I have always known.
That as long as there is life,
as long as I am able to stand on my own two
feet,
I will want more than I’ve been given.
I will want and
I will want and I will die trying to swallow every part
of this world. The hardness of any
man and the curve of any
woman and the mouth of
anyone open for something
other than a conversation.

I see so vainly then
in the reflection of my youth
that I would have myself
if I could stand her.

You ask me my intentions
but darling, I have none.
I only have desire.

– Kate Baer

(Uit: And Yet)


Lees

Richard Feynman was een van die invloedrykste fisici van sy generasie. Toe sy vrou oorlede is, het hy ’n liefdesbrief aan haar geskryf en ’n koevert toegeplak. Dit is ná sy dood, in 1988, oopgemaak. I Love My Wife. My Wife is Dead.

Luister

’n Interessante National Public Radio-podsending: The Power of Music to Spark Awe – uit ’n wetenskaplike oogpunt verduidelik.

Lekker in VWB

Ek wil elke Sondag ’n paar stories laer af in ons uitgawe deel wat ek dink besonder lekker was (om te lees, maar soms ook iets wat vir my besonders lekker was om te skryf). 

En ’n laaste woord oor slaai ...

18 Types of Lettuce and the Best Ways to Eat Each One

Luister

Het ek hierdie gunsteling al gedeel? 


VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.