Kaap raak taai oor treine, en ’n nuwe plan vir beter grensposte

DONDERDAG MET MERCY

Kaap raak taai oor treine, en ’n nuwe plan vir beter grensposte

Hou moed, is MERCY KANNEMEYER se raad aan die wroegers; WILLEM KEMPEN wonder oor 'n dooie leeu onder Fikile se voete; en soos altyd is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 07 September 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Burgemeester Geordin Hill-Lewis het die Stad Kaapstad se prokureurs gevra om die moontlikheid te ondersoek om ’n formele geskil met die nasionale regering te verklaar oor die oordrag van die bestuur van passasierspoordienste na die metro. Dit was nadat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag in die nasionale vergadering ’n skerp aanval op dié moontlikheid gedoen het en dit as “secessionist” bestempel het.

2. Sommige ontvangers van maatskaplike toelaes kon gister nie hul geld by kitsbanke en kleinhandelaars trek nie weens tegniese probleme by Postbank. Transaksies via Sassa-kaarte in Poskantoor-takke is skynbaar nie geraak nie.

3. Die Türkiyiese Karpowership het ’n wildplaas gekoop en geskenk aan Ezemvelo KZN Wildlife, ’n provinsiale owerheid wat beskermde gebiede in die suidooste van KZN bestuur, in ’n klaarblyklike poging om omgewingsgoedkeuring te kry vir een van die drie gasaangedrewe kragskepe wat die maatskappy in Suid-Afrika wil bedryf. Karpowership het in ’n verklaring gesê dié soort biodiversiteitsvergoeding” is ’n aanvaarde praktyk om op te maak vir ’n moontlike negatiewe uitwerking op die omgewing.

4. Die regering wil die privaat sektor betrek om Suid-Afrika se grensposte op te knap. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het gister gesê die opgraderings sal help om handel binne die SAOG te stimuleer, die onwettige beweging van goedere en mense te keer, en effektiewe migrasie tussen die lande te bevorder. Die ses grensposte wat reeds hiervoor geïdentifiseer is, is Beitbrug, Lembombo, Maserubrug, Ficksburg, Kopfontein en Oshoek.

5. Bheki Cele, minister van polisie, sê meer as 340 verdagtes is sedert 2018 in verband met politieke moorde in KwaZulu-Natal gearresteer, wat tot 62 suksesvolle vervolgings gelei het. Cele het gesê 155 politici, meestal plaaslike raadslede, is sedert 2011 in die provinsie vermoor.

6. Pres. Cyril Ramaphosa het gesê lede van sy kabinet sal “binnekort” ook aan die leefstyloudits onderwerp word wat in April 2021 vir LP’s ingestel is.

7. Minstens 16 mense is dood in ’n Russiese aanval op ’n stad in Oos-Oekraïne terwyl Anthony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, op ’n besoek aan Kyiv was. ’n Mark, winkels en ’n apteek is in die aanval op die stad Kostiantynivka getref, het Oekraïniese owerhede gesê.


Dis vandag deels bewolk tot bewolk in Limpopo en Mpumalanga met miskolle langs die platorand. Dis ook mistig in die sentrale gebiede van KwaZulu-Natal en deels bewolk in die Wes-Kaap. Die grootste deel van die land is vandag koel tot warm.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 17°C • Durban 23°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 28°C • Upington 27°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Die immer delikate meneer Fikile Mbalula

Dis ’n groteske prentjie, daai foto van Fikile Mbalula en Emmerson Mnangagwa wat selfingenome saam op ’n dooie leeu poseer iewers in ’n Zimbabwiese ampswoning wat lyk of die dekor deur ’n koloniale Liberace in sy Biggie Best-fase gedoen is, kompleet met ’n fotograaf wat nie van beter weet as om nie sy onderwerpe voor ’n spieël af te neem nie.

Maar dan weer is dit heeltemal gepas ook: die gedienstige gesant van die ANC wat ’n kniebuiging gaan doen voor die magtige Zimbabwiese leier. Saam met sy baas, pres. Cyril Ramaphosa, wat een van net drie  SAOG-staatshoofde was wat Mnangagwa se inhuldiging Dinsdag in Harare bygewoon het. Lande soos Ekwatoriaal-Guinee, Rwanda en Angola het junior diplomate gestuur, en ’n hele klomp staatshoofde of voormalige staatshoofde het glad nie hul uitnodigings aanvaar nie.

Zimbabwiese aktiviste en opposisiegroepe het die swak opkoms by die inhuldiging vertolk as ’n verdere verwerping van Mnangagwa se legitimiteit. Nelson Chamisa, leier van die Citizens Coalition for Change (CCC), het hieroor gesê: “Thank you, Africa and the world, for standing with us Zimbabweans in dismissing fraud and stolen elections. Together, we will reverse this sham and have a legitimate government freely elected and enjoying the full will of all the people of Zimbabwe. It’s not over.”

Suid-Afrika is nie deel van daardie groep wat bedank word nie. Inteendeel. Mbalula was heel voor in die koor om die verkiesing as vry en regverdig te verklaar: “Viva President Mnangagwa”, kompleet met gebalde vuiste en party streamers, het hy op X gesê.

Dit is ten spyte daarvan dat die SAOG se waarnemers onder meer bevind het dat: 

* Delimitation of constituency boundaries before the poll was fundamentally flawed;
* The country’s electoral management body, the Zimbabwe Electoral Commission (ZEC), failed to timeously avail the voters’ roll for audit purposes by contesting parties in line with the country’s electoral laws; en
* It raised concern about biased state media coverage of the elections, intimidation of voters, judicial capture, and the delay in distributing ballot papers to voting centres on voting day.

Niks hiervan pla Mbalula nie, want hy het klaar besluit “not to interfere” en dat die CCC “Western puppets” is. Hy probeer selfs keer dat ’n openbare lesing deur die Zimbabwiese akademikus Ibbo Mandaza by Wits se OR Tambo School of Leadership voortgaan, want om dit “at this time, at what is clearly an ANC platform” te hou, gaan kamtig probleme skep vir “a number of delicate engagements [...] the leadership of the ANC is engaged in regarding the situation in Zimbabwe.”

Op dieselfde dag dat Mbalula en Ramaphosa die inhuldiging bygewoon het, het twee Zimbabwiese prokureurs, Douglas Coltart en Tapiwa Muchineripi, in die landdroshof in Harare verskyn op aanklagte dat hulle die polisie verhinder het om twee CCC-lede te ondervra wat beweer hulle is deur “suspected government agents” ontvoer en gemartel. Let wel: Die ontvoering word nie ondersoek nie, die slagoffers se prokureurs wel.

Zimbabwe Lawyers for Human Rights (ZLHR) het in 'n verklaring gesê Womberaishe Nhende en Sanele Mkhulhani is Saterdag deur gewapende mans ontvoer, geboei en met knuppels geslaan en “injected (with) an unknown substance [...] before they (were) dumped naked near a river”.

Laat weet gerus hoe vorder die delicate engagements, meneer Mbalula.


Image: ANGELA TUCK

Hoe weet jy iemand is ’n PK?

“Ons is nie alleen nie,” sê Jock Silberstein. “Ons besef aldag meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by aanskouing van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn.” – Sewe dae by die Silbersteins

Iemand vra mos die ander dag hoe weet jy iemand is ’n predikantskind. Hulle sê vir jou.

So kom dit toe nou dat ek op Dinsdag 4 September saam met ’n dominee gaan koffie drink by my gunsteling-koffiewinkel, Yield, in Linden. Heel vroeg uit die vere. So half op my senuwees, want, duh, dominees maak my angstig. Die oggend sit ek eyeliner, maskara, en rooi lipstiek aan. Die eyeliner en maskara is sodat ek nie huil tydens ons koffie-afspraak nie, want ek moes direk daarna werk toe gaan en wanneer eyeliner en maskara eers op jou wange begin sit van te veel huil, dan lyk jy maklik soos gisteraand. O, en die rooi lipstiffie was maar net vir impak.

Ek is eerste by die koffiewinkel. Mos altyd té betyds vir alles. “Vyf minute vroeg is betyds en betyds is laat en laat is onaanvaarbaar,” is dit van kleintyd af in my ingedril. Ek sit eers binne, maar daar’s ’n moerse plant langs my wat dit laat lyk asof ek wegkruip. Probeer die plant skuif; te swaar. Maak vrede. Haal my rekenaar uit en laat weet gou vir my kollegas ek is OOO tot 10:30; sal betyds wees vir ons 11:00-vergadering.

Hy maak ’n magiese entrance. Ingestap. Amper ingesweef. Vriendelik. Oop. Vra om verskoning vir hoe hy lyk, want hy kom so pas van een of ander Oorsterse-gevegskunsklas af. Dis oukei. Ek het nie ’n toga en die hele shebang verwag nie. Ek lieg. Ek het die wit boordjie en netjiese swart hemp en broek wat in sy nate gestryk is verwag. Maar hierdie is beter. Hierdie sê vir my ek het te veel getop oor my eyeliner en maskara en rooi lipstiffie.

Ons skuif buitentoe sodat ons lekkerder kan gesels. Dis ’n mooi dag in Johannesburg ondanks beurtkrag, waterbeperkings, en vullis wat nie betyds verwyder word nie. Ons kan nie juis kla met amandelmelk-cappuccino’s en avo toast onder die arm nie.

Spring weg; vertel Dominee dat ek ’n predikantskind (PK) is, gesels oor die kerk, en die seer wat ek en my familie al in die kerk beleef het. En hoekom doen die kerk dit?! As nugterdenkende mense kan ons natuurlik onderskei dat dit nie die kerk as sodanig is nie, maar mense wat kerk-kerk speel. En oral gaan jy aaklige, selfsugtige mense kry wat in situasies is vir eie belang. Iets wat ek en die dominee gemeen het, is dat ons albei as kinders baie rondgetrek het. Elke paar jaar moes ons up and leave, want die kerk het my pa elders nodig gehad. Dominee is nou wel nie ’n PK nie, maar ken die gevoel van te veel moet rondtrek en die psigiese implikasies wat dit later op ’n mens se lewe kan hê. Ek sukkel byvoorbeeld tot vandag toe om vinnig aan te pas. Dit vat lank om vriende te maak, en dit vat nog langer om my gaatjie iewers uit te grawe en dan gemaklik daarin te probeer leef.

Gesels verder oor die kerk en EK probeer sin maak van mense wat glo dat ’n God wat sy eie Seun opgeoffer het vir óns, vir hulle somehow die mag gee om god te speel. Groot vrae is gevra. Vrae waarvoor ons nie onmiddellike antwoorde het nie.

Die doel van die ontmoeting was omdat ek na gemeenskap hunker. Ek wil ook onomwonde kan glo dat daar iemand is wat my beste belange op die hart dra. Een van my goeie vriendinne leef met soveel vrede – daai einste vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Ek hunker na vrede. Toe ek as kind in die kerk was, was daar a sense of belonging. Die charismatiese kerk waarby ek op universiteit aangesluit het, was dodelik doeltreffend in hulle manier om jou te laat voel dat dít is waar jy hoort. Selgroepe. Fellowship. Koffie ná kerk. Grootdoop in die pastoor se swembad by sy huis. Hy’t ons belowe die swembad is gevul met Holy Water. Holy Water spiked met bietjie urine van almal wat voorheen daar gedoop is. Maar hey, wie is ’n jong impressionable student nou om te stry met ’n charismatiese pastoor wat haar so kon opsweep dat sy voel sy’s unstoppable?

En toe. Toe sink dit in. Daar sit ek saam met ’n dominee wie se uiterlike wêreldbreed van myne verskil. Hy’s ’n straight wit Christelike getroude man met kinders. En ek, ek is Mercy Kannemeyer van toe af en ek is nog sy (skuus Van Melle). Teenpole, maar ons albei besef die waarde van ’n gemeenskap; die onskatbare waarde van mense en hoe ons vir mekáár ’n gemeenskap kan wees. Ons kan mekaar aanspreeklik hou, en dit, liewe leser, dit hoef nie in ’n kerkgebou plaas te vind nie. Aan al die wroegers soos ek daar buite, ons gaan fine wees, man!


Die aktrise Elektra du Plooy
se salaris hou haar in die rooi;
om balans te laat klop,
maak sy daarvoor op
met 'n vuurwarm fooi in die kooi.

– Ellen Botha

(Uit: Gruwelike huwelike)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.