Dalk is daar iewers ’n planeet sonder $307‌‌‍ triljoen se skuld

WOENSDAG MET WILLEM

Dalk is daar iewers ’n planeet sonder $307‌‌‍ triljoen se skuld

WILLEM KEMPEN vermoed die ergste oor Cyril en kaderontplooiing, en wonder of besoekers van elders in die veelal dalk ingespan kan word om SA toerisme 'n hupstoot te gee. Daar is ook weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 20 September 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Markus Jooste se prokureurs het aan die JSE se finansiëledienste-tribunaal gesê daar is geen bewyse dat hy geweet het van die rekeningkundige onreëlmatighede wat tot die ineenstorting van Steinhoff gelei het nie. Die tribunaal hoor tans Jooste se versoek aan vir 'n heroorweging van twee boetes van R7,5 miljoen wat deur die JSE aan hom opgelê is vir die oortreding van die maatskappy se noteringsvoorwaardes, het News24 berig.

2. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het ontken dat die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) in ’n krisis is, maar het studente gevra om nie die stelsel uit te buit nie.

3. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) is golwe van so hoog as 9,5­ meter die naweek langs meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse kuslyn aangemeld. Die rede hiervoor was die gelyktydige stormsterk winde, hoë deinings en springgety, het die SAWD gesê.

4. Oekraïne sal binnekort die eerste besending van die beloofde 31 M1 Abrams-tenks van die VSA ontvang. Dit is deel van die hulppakket van meer as $43 biljoen wat die VSA aan Oekraïne beloof het sedert die Russiese inval in Februarie verlede jaar.

5. Die Federale Reserweraad maak vandag (vanaand SA tyd) sy jongste besluit oor Amerikaanse rentekoerse bekend. Internasionale markte hoop verdere stygings in uitleenkoerse is vir eers agter die rug.

6. Globale skuld het in die tweede kwartaal van die jaar 'n rekordvlak van $307 triljoen behaal ondanks stygende rentekoerse wat kredietverlening deur banke beperk, het die Instituut vir Internasionale Finansies (IIF) gesê. Die rekordvlakke word hoofsaaklik deur die VSA en Japan gedryf en het in die eerste helfte van vanjaar in dollarterme met $10 triljoen gestyg, en met $100 triljoen oor die afgelope dekade.

7. Elon Musk het daarop gesinspeel dat álle gebruikers van X dalk in die toekoms sal moet betaal om die platform te gebruik, en nie net geverifieerde intekenare soos tans nie. Volgens Musk is “'n klein maandelikse betaling" die enigste manier om ontslae te raak van die magdom geoutomatiseerde rekeninge (bots) op die platform.


Daar is weer waarskuwings oor gevaarlike golwe tussen Kaappunt en Port Alfred, asook 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, Noordwes, Limpopo en KwaZulu-Natal. Dis deels bewolk oor die grootste deel van die land, maar warm oor die binneland. Mpumalanga en Limpopo kan buie en donderbuie verwag, terwyl dit in die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan reën.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 30°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 31°C • Kimberley 26°C • Upington 26°C • Kaapstad 17°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 22°C • Durban 24°C.


Willem Kempen | Die grys gaping tussen die sê-ANC en die doen-ANC

Dis nogal ironies dat die ANC nou wil hê die Konstitusionele Hof moet help keer dat besonderhede openbaar gemaak word van kaderontplooiing onder Cyril Ramaphosa se voorsitterskap toe staatskaping op sy verwoestende hoogtepunt was. Dieselfde hof waarvan hoofregter Raymond Zondo nou aan die hoof staan; dieselfde regter Zondo wat in sy kommissie se verslag gesê het:

“A key mechanism of state capture was the strategic positioning of individuals in positions of power through the abuse of public sector appointment and dismissal processes. This was in contravention of the Constitution and applicable legislation."

En soos Zondo ook gesê het, bepaal die Grondwet dat niemand in die staatsdiens bevoordeel óf benadeel mag word op grond van steun aan 'n politieke party of saak nie.

Kaderontplooiing is tegelyk die partybeleid waarmee die ANC sy houvas op die regering versterk het, én die grootste enkele rede vir die staat se lang lys mislukkings, van Eskom en Transnet tot by swak onderwys en hoë werkloosheidsyfers. Dis ook die onderwerp waaroor daar die grootste verskil is tussen wat die ANC in die openbaar sê en wat die ANC in sy binnekamers doen.

Die president wil graag hê ons moet glo hy is die leier van die sê-ANC, die een wat by die reëls hou en die Grondwet eerbiedig; daarenteen sal openbaarmaking van die ontplooiingskomitee se doen en late onder sy leiding wys of hy eintlik ook nog altyd deel is van die doen-ANC, die een wat gedurig op die uitkyk is vir maniere om die wet en die Grondwet te omseil en sy ondersteuners in kritieke poste aan te stel.

Is dít waarom die ANC so gretig is om te keer dat ons uitvind wat alles in die naam van kaderontplooiing gedoen is? Dat ons sal uitvind dat van die ergste staatskapers met die volle wete en seën van die huidige president in hulle poste aangestel is?


Gesoek: Ons eie Clara en Mauricio om SA toerisme vir die sterre te laat mik

Hulle is gedoop Clara en Mauricio – dis nou daardie twee mummie-agtige oorblyfsels wat verlede week in die Mexikaanse kongres aan die wêreld voorgehou is as wesens van iewers anders as die planeet aarde. Die tweetjies se oorskot is in 2017 in Peru gevind, sê die “UFO-entoesias" Jaime Maussan, wat ook aan die LP's vertel het Clara en Mauricio het 'n duisend jaar tevore daar iewers omgekom.

Die storie het nogal wyd aandag gekry; selfs Forbes het daaroor berig. Die meeste van dié berigte is versigtig en noem dat Maussan se aansprake nie sommer net geglo kan word nie: Hy het al minstens een keer tevore ook opgewonde geraak oor iets wat later geblyk het baie ordinêr te wees.

Prof. Brian Cox
Prof. Brian Cox

Iemand wou ook by die Britse astronoom en fisikus prof. Brian Cox weet wat hy van die storie dink. Sy kommentaar, bloot op grond van wat hy in die media oor Clara en Mauricio gesien het, is dat dit hoogs onwaarskynlik is dat 'n intelligente lewensvorm wat elders in die veelal onder ander toestande onafhanklik ontstaan en ontwikkel het, so naby aan mense kan wees soos dié twee, wat opvallend baie soos die outjie in die fliek ET lyk.

Maar die punt waarby ek eintlik wil uitkom, is dat Mexiko en Peru in die proses heerlike reklame vir hulle toerismebedryf gekry het. UFO's is deesdae groot besigheid, en dit sal my nie verbaas as die hele affêre meer mense na daardie lande gaan lok as wat óns byvoorbeeld sou regkry deur 'n Engelse sokkerklub te betaal sodat hulle die woorde “Visit South Africa" op hulle truie vertoon nie.

Ek dink wel ons behoort nie ons plaaslike LP's by so 'n poging te betrek soos Mexiko gedoen het nie. Dit gaan voornemende UFO-toeriste net afskrik. Mens moet hulle meer geleidelik aan alternatiewe werklikhede blootstel.

Om so 'n bedryf aan die gang te skop, meen ek, moet daar goeie rapporteringskanale wees sodat mense weet waar om enige vreemde vlieënde verskynsels aan te meld. Dit kan nie sommer net jou plaaslike koerant of radiostasie wees nie. Sommige van laasgenoemdes, soos Metro FM eergister op X, is net 'n bietjie te ver agter die kurwe van nuwe wetenskaplike kennis, met 'n peiling soos dié:

The debate has been on-going for decades now and still no consensus. Is the earth a round ball in space or just a large flat mass?

Die luisteraars, daarenteen, is op die bôl, as t ware, want só het die uitslag teen gister gelyk:

  • Obviously it is round: 65.7%
  • Come now, it’s flat! 21.1%
  • I’m on the sidelines: 13.2%

Daar het ons dit: Per (amperse) tweederde-meerderheid is die aarde rond en nie plat nie; in Suid-Afrika in elk geval.

Die enigste plek wat ek op die internet kon vind waar Suid-Afrikaners buiteruimtelike besoekers sou kon gaan aanmeld, is by https://uforsa.co.za, maar hulle het nog Silent disc-shaped UFO seen over Underberg in December 1971 onder “Recent Posts", wat nou nie juis die indruk skep dat Suid-Afrika wemel van besoekers van elders in die uitspansel nie (Nigerië en Zimbabwe tel nie).

Ons sal beter as dit moet doen, en bemarking behoort altyd die werklikheid 'n paar treë voor wees. Ons eie Clara en Mauricio is iewers daar buite – ons moet hulle net vind ...


Lemoen

Ek verdeel die lemoen in vier seisoene
Die huisies lê blink in my oop palm
Ek proe die onweer, die soet son
die herfs, die botsels
en die rou, rou grond
My lyf word vol van die wonder van die aarde
die droewe aarde
brak gelek deur treurige diere

- Jeanne Goosen

(Uit: Elders aan diens)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.