Biljoene vir diesel ‘is beter as fase 6 se skade aan ekonomie’

DONDERDAG MET MERCY

Biljoene vir diesel ‘is beter as fase 6 se skade aan ekonomie’

MERCY KANNEMEYER worstel tussen fight en flight, WILLEM KEMPEN wonder of die minister van polisie iets te sê gaan hê oor Durban se taxibestuurders, en soos gewoonlik is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 21 September 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het aan LP's gesê Eskom se geweldige besteding aan diesel is geregverdig as dit vergelyk word met die skade van sowat R1 biljoen wat fase 6-beurtkrag die ekonomie per dag kos.

2. Die Springbokke gaan Saterdag teen Ierland weer sewe voorspelers en net een agterspeler (Cobus Reinach) op die reserwebank hê, soos met die Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Nieu-Seeland. Die Irish Independent se kommentaar: South Africa's bomb squad goes nuclear."

3. Twee mense het verdrink en ses is deur lede van die Nasionale Seereddingsinstituut gered nadat vermoedelik bemanningslede van die Vloot se duikboot SAS Manthatisi glo tydens 'n oefening by Kommetjie in die Wes-Kaap oorboord geval het.

4. Verbruikersprysinflasie het in Augustus toegeneem tot 4,8% nadat dit in Julie 4,7% was, het Statistieke SA aangekondig. Dit is die eerste styging die afgelope vier maande, maar steeds binne die Reserwebank se teikenband.

5. Die Amerikaanse Federale Reserweraad het gisteraand (SA tyd) soos verwag Amerikaanse uitleenkoerse onveranderd gehou. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se beleidskomitee kondig vanmiddag aan wat die besluit oor plaaslike koerse is. Geen verandering word verwag nie.

6. Pres. Joe Biden van die VSA en die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, het onderneem om saam te werk aan 'n ooreenkoms om diplomatieke betrekkinge tussen Israel en Saoedi-Arabië te bewerkstellig. Dit was die twee leiers se eerste ontmoeting sedert Netanyahu in Desember weer aan die bewind gekom het. Hulle het ook onderneem om die gespanne verhouding tussen die VSA en Israel te verlig, hoewel Biden dit volgens Reuters duidelik gemaak het dat hy vasbeslote is om ook hulle verskille te bespreek.

7. ’n Nigeriese hof het 69 mense op borgtog vrygelaat wat verlede maand in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering ’n gay-huwelik bygewoon het. Sulke huwelike is onwettig ingevolge wetgewing wat Nigerië in 2014 ondanks internasionale veroordeling in werking gestel het.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van Gauteng, Noordwes, Limpopo, die Vrystaat, asook die Oos- en Noord-Kaap waar dit ook vandag warm tot baie warm is. Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap kan oggendmis en bewolkte toestande verwag. Buie word vir die Wes-Kaap en Limpopo voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 16°C • Durban 27°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 31°C • Upington 30°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | Nogmaals ’n stad versus die taxi’s

Wat ook al die redes is dat Santaco al weer met 'n stadsowerheid koppe stamp, dié keer in Umhlanga in Durban, dit kan mos nie wees dat die polisie net staan en toekyk hoe taxibestuurders paaie versper en oop en bloot met aanvalsgewere deur die strate paradeer nie?

Maar dit help ook nie om die taxi's weg te wens nie. Sonder hulle is daar vir die meeste pendelaars geen praktiese manier om by hulle werkplek uit te kom nie. Tog het omtrent geen van ons stede al maniere gevind om taxi's behoorlik by die res van die infrastruktuur in te skakel nie. Die formele taxistaanplekke is gewoonlik te min, te ver uit die pad uit, of is 'n broeiplek vir misdaad en chaos waarvoor die pendelaars die grootste prys betaal.

Nou het 'n nuwe winkelsentrum in Umhlanga oopgemaak – wanneer gaan ons eendag genoeg hê? – en, kla die taxibestuurders, daar is nie vir hulle voorsiening gemaak vir plekke om stil te hou en mense op en af te laai nie.

Hoe gebeur dit dat die ontwikkelaars van 'n groot winkelsentrum nie daarvoor beplan dat baie van hulle werknemers en besoekers met taxi's daar gaan moet uitkom nie? Hoe gebeur dit dat die planne vir die sentrum só deur die owerhede goedgekeur is? Het daar al weer 'n geldjie in iemand se agtersak beland?

Of moet ons maar die idee laat vaar dat dinge in die eThekwini-munisipaliteit eerlik en openlik en volgens die boek en met gesonde verstand gedoen kan word?


Image: ANGELA TUCK

Die probleem is nie dat die ANC nie kán nie, maar dat hulle nie wíl nie

Wanneer ons Sondag Erfenisdag vier, is daar ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou. Saam met die rykheid, die omvang, die glorie, the good, the bad and the ugly van ons komvandaan as ’n diverse land, is daar natuurlik die hier en die nou wat ’n netelige vlek op ons bestaan plaas. Ons land is verdeeld, daar is mense na wie se basiese menseregte nie omgesien word nie, en sommige van ons (veral hier in Johannesburg, voel ek) leef met ’n tipe ongemak wat die flight-or-fight instinkte byna daagliks aanwakker.

Met die opbou tot volgende jaar se verkiesing voel dit asof die verdeeldheid in ons land nou onder ’n vergrootglas geplaas is. Politieke partye ruk hase uit hoede uit om kiesers se stemme en harte te wen. Die veelbesproke en veelberigte koalisiepakt, dié pakt wat kwansuis die ANC se gat gaan skop in volgende jaar se verkiesing, verskaf genoeg besinning vir die stand en toekoms van ons land se demokrasie. Die ANC maak nog nie benoude spronge nie, want hulle narsisme, ego en regeringsgeskiedenis van die afgelope 30 jaar hou hulle nog warm. Maar in die lig van al die uitdagings wat ons land se mense tans in die gesig staar, uitdagings waarvoor die ANC oplossings kán bied, is daar ’n groeiende ontnugtering wat my opgewonde maak. As regerende party is die ANC nie nié daartoe in staat om verandering te bewerkstellig nie, hulle is onwillig. En daai onwilligheid gaan hulle nie die verkiesing kos nie, maar hulle gaan seerkry.

Image: ANGELA TUCK

Dit is daardie einste onwilligheid (en astrantheid, en dan natuurlik korrupsie; duh, hoe kan ons vergeet) wat bydra tot mense wie se basiese menseregte nie geëer word nie. Die vreemdste van alles is dat mense nie vra vir Maserati’s en krane wat roomys drup nie; mense vra vir kos, water, behuising en elektrisiteit. Mense vra vir dinge om net te werk. Die selfdoeners, mense wat inspring en besef dat daar g’n Messias op ons horison lê nie, hou die land aan die gang. Hulle hou mense wat die regering miskyk, aan die gang. Politieke partye gaan inzoem op ons diversiteit – ons erfenis – en ons wil oorreed om vir hulle te stem omdat hulle ons raaksien. Bly wakker.

Fight or flight. Ja. My erfenis lê hier. My wortels, my grond, my Genesis. Die gras is dalk nie altyd groener aan die ander kant nie, maar my fok. Dinge sal nie só kan aangaan soos dit nou aangaan nie. Van my kant af is daar niks om môre te vier nie. Wag. Dis dalk te sinies. Besluit vir jouself. Of soos Vrye Weekblad sê: Dink vir jouself.


If I have to get along without friendship
– the toad-mellow courtesy that passes for it –
then I choose this: rectangular solitude
I will fill out myself with a circle full
of the softness of my love for you.

– Wilma Stockenström, vertaal deur Johann de Lange

(Uit: The Wisdom of Water)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.