Bongi mag speel, en ‘verslawende’ Facebook gedagvaar

DONDERDAG MET MERCY

Bongi mag speel, en ‘verslawende’ Facebook gedagvaar

Oog op die bal, pleit MERCY KANNEMEYER, terwyl PIETER VAN DER MERWE sê dit raak by die dag moeiliker om Israel as 'n slagoffer te sien. Plus nog sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 26 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Verskeie media het gister berig dat Bongi Mbonambi beslis Saterdag in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland sal mag speel omdat die ondersoek na die beweerde Tom Curry-voorval nog nie teen dan afgehandel sal wees nie. Wêreldrugby wou gister niks sê oor berigte van ’n soortgelyke voorval verlede jaar tydens ’n toets tussen die Springbokke en Engeland op Twickenham nie.

2. Die Wêreldbank het ’n lening van $1 biljoen (tans sowat R19 biljoen) aan Suid-Afrika goedgekeur om “oplossings vir die elektrisiteitskrisis en die oorgang na nuwe energiebronne” te help finansier. Die bepalings en voorwaardes wat daaraan gekoppel is, is nie bekend gemaak nie.

3. Meta Platforms, aan wie onder meer Facebook en Instagram behoort, word deur minstens 33 Amerikaanse deelstate, waaronder Kalifornië en New York, gedagvaar omdat hulle na bewering hul platforms doelbewus verslawend maak en sodoende bydra tot die geestesgesondheidskrisis onder Amerikaanse tieners. Nog agt state asook Washington DC gaan na verwagting soortgelyke regsgedinge instel, het Reuters berig. Meta kan met tussen $1 000 en $50 000 beboet word vir elke geval waar bewys kan word dat staatswette oortree is. Honderde soortgelyke gedinge is reeds teen TikTok en YouTube ingestel.

4. Wat gaan van die Samas word? Die Opnamebedryf van Suid-Afrika (RiSA), organiseerder van die jaarlikse Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (Sama), is “diep teleurgesteld” deur die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal se “eleventh-hour decision” dat die provinsie nie meer vanjaar se toekenningsgeleentheid in Durban gaan aanbied nie.

5. Die nasionale tesourie wil hê die inwerkingstelling van die sogenaamde tweepot-aftreestelsel, wat mense sal toelaat om toegang tot ’n derde van hul pensioenspaargeld voor aftrede te kry, moet met ’n jaar uitgestel word tot 1 Maart 2025 om die spaar- en beleggingsbedryf meer tyd gee om die komplekse administratiewe veranderinge te kan hanteer, het Garth Theunissen van News24 berig.

6. Transnet se direksie wil oor die volgende twee jaar meer as R100 biljoen uit die staatskas hê om ’n omkeerplan te finansier. Dit sluit in dat die tesourie ’n minimum van R61 biljoen van Transnet se skuld oorneem, en ’n verdere R47 biljoen gee as ’n kapitaalinspuiting in een of ander vorm.

7. Die Suider-Afrikaanse Alliansie vir Alkoholbeleid het op ’n konferensie in Kaapstad gevra dat die wettige ouderdom verhoog word waarop alkohol gekoop en gebruik mag word. Bongiwe Ndondo, voorsitter van die alliansie, sê ’n hoër ouderdomsperk het ’n positiewe uitwerking later in jongmense se lewens.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Wes-Kaap, die Vrystaat en Noordwes. Deels bewolkte maar ook baie warm weer word oor verskeie dele van die land verwag, veral in dele van die Oos- en Noord-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Limpopo.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 23°C • Durban 27°C • Kimberley 39°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 30°C • Upington 41°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 25°C.


Pieter van der Merwe | Hoe ‘durf’ António Guterres so iets sê?

Die laaste ding wat ek in die middel van die gewelddadige konflik in die Midde-Ooste verwag het, was dat Israel daarop sou aandring dat António Guterres as sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies bedank oor iets heel neutraals wat hy in die Veiligheidsraad gesê het.

Wat is fout met Guterres se stelling dat geen party in enige konflik hulself bo internasionale en humanitêre reg kan ag nie? “Selfs oorlog het reëls,” het hy gesê.

Dis amper asof Guterres vir ChatGPT gevra het om sy toespraak te skryf, met twee instruksies: Gebruik al die bewyse beskikbaar en – die heel belangrikste – wees onpartydig.

Guterres het eenvoudig gesê daar is niks wat die geweld deur Hamas óf deur Israeliese magte kan regverdig nie. Die dekades lange besetting van Palestynse gebiede regverdig nie moorddadige aanvalle en die ontvoering van Israeliese burgers nie. So ook regverdig sulke aanvalle nie die “kollektiewe straf van Palestynse burgers” met bomaanvalle nie.

Dit was Guterres se opmerking dat Hamas se aanvalle nie in ’n vakuum plaasgevind het nie wat Israel se ambassadeur na die VN ontstel het. “The Palestinian people have been subjected to 56 years of suffocating occupation,” het Guterres gesê. “They have seen their land steadily devoured by settlements and plagued by violence; their economy stifled; their people displaced, and their homes demolished. Their hopes for a political solution to their plight have been vanishing.”

Maar Israel is dan ’n demokrasie. En almal weet wanneer ’n demokrasie bomme soos ’n hoogs funksionerende posdiens uitdeel, is dit om mense se regte te beskerm, nie om hulle daarvan te ontneem nie. Of hoe?

“Of course Israel works within the framework of international law. Of course Israel wants to minimise harm to the civilian population of Gaza. Of course we are targeting Hamas and not Gaza civilians,” het Mark Regev, ’n senior adviseur aan die eerste minister van Israel, aan die BBC gesê. “But when people are saying it’s the same that when a civilian is inadvertently caught up in the crossfire between us and Hamas, [and] that’s the same as butchering, as raping, burning children alive ... there is no symmetry.”

Natuurlik is dit onmenslik om al daardie dinge te doen, maar is dit in beginsel regtig anders as om gesofistikeerde wapentuig van ’n groot afstand af te gebruik, waar jy nie enige van jou slagoffers hoef te sien of hoor nie?

Is dit moontlik dat die staat van Israel heeltemal oortuig is dat die res van die wêreld sy verweer glo dat die aanvalle op Gaza bloot ’n daad van selfverdediging is? Dat die verwoesting van buurte en gemeenskappe en die afsny van noodsaaklike hulpbronne proporsioneel is? Of selfs net menslik is?

Of besef Israel dat ’n land nie as ’n “slagoffer” gesien kan word as hulle binne ’n kwessie van weke meer as 5 000 mense (meer as 2 300 van hulle was kinders) doodmaak en terselfdertyd absolute beheer het oor hulp en hulpbronne vir die oorlewendes nie?


Image: ANGELA TUCK

Wend Bok-sukses aan as motoriese moment vir ware transformasie

Hoe lekker, hoe ongelooflik, hoe verstommend, hoe verbysterend, hoe merkwaardig sal dit nie wees indien die Springbokke Saterdag die Wêreldbeker wen en al ons land se probleme sommer meteens verdwyn nie … Ek is skoons lus en raak liries en val weg met Sionsgesang nommer 37:

O die vrolike, o die salige vredebringende Kersfeestyd. / Ons was diep verlore; / Christus is gebore; / Juig nou, juig nou bly, o Christenheid!

Dís hoe ons sal sing indien die Bokke wen. Suid-Afrikaanse vlaggies sal by karre se vensters uithang. Die landslied sal oor luidsprekers gespeel word. Mense sal Maandag in hulle Bok-hempies by hulle werk opdaag.

Dis nie nuus dat die Springbokke ’n toonbeeld van hoop, inspirasie en gesonde transformasie is nie. Ek het een aand toevallig in ’n restaurant beland tydens ’n Bok-wedstryd. My aandag was nie soseer op die spel nie, maar eerder op die gehoor. Nou dít was ’n performance. Die euforie wanneer die punteleer klim. Die woede wanneer ’n speler ’n fout maak. Die trane van blydskap toe ons uiteindelik wen. Die gehoor was gemeng. Beslis meer divers as enige teater- of musiekvertoning wat ek al gesien het.

Die Springbokke as toonbeeld van hoop maak sin. Trouens, dit is een van die min dinge in ons land wat die afgelope tyd sóveel sin gemaak het. Wanneer die Bokke speel, kom ons saam; ongeag ras, klas, identiteit en alle ander sosio-maatskaplike en sosio-politieke elemente wat ons as ’n nasie weg van mekaar af dwing.

Wanneer die Bokke speel, vergeet ons vir ’n wyle van beurtkrag, beurtwater, misdaad, korrupsie, staatskaping, geweld, hongersnood, oorlog en kwaad. Ons vergeet vir ’n wyle dat ons land een van die ongelykstes ter wêreld is. Vir ’n oomblik leef ons in ’n ideale Suid-Afrika. Vir ’n oomblik voel dit asof ’n Wêreldbeker-wen AL ons probleme sal oplos.

Spoiler alert: Nog ’n trofee gaan nie enige van ons land se probleme oplos nie. Nou voor julle my cancel in die kommentaarafdeling, laat ek verduidelik.

Die Springbokspan is nie beleidmakers en politici nie. Ons kan na hulle kyk vir hoop, maar uiteindelik gaan diegene in mag daardie hoop as katalisator vir werklike verandering moet begin sien. Die beleidmakers en politici gaan moet inkoop daarop dat die hoop wat gewone Suid-Afrikaners in die Bokke sien, as motoriese moment vir ware transformasie aangewend kan word.

Ons loop tans die gevaar dat politici die Bokke se wen vir eie gewin gaan gebruik. Soos hulle mos maar doen. Die politieke party wat die meeste ondersteuning bied, hoop dat hulle “ondersteuning” in stemme sal verander. Veral die bleddie ANC. Cyril is weer heel voor in die ry en smile weer die breedste wanneer daai beker gelig word. Maar hulle maak hulle laat. Mense is ontnugter. Die hoopvolles, diegene wat na die Bokke kyk en nuwe lewe deur hulle kry, gaan nie vir enige politieke games val nie.

Oog op die bal, mense. That’s what she said.


Ruimtewandeling

ek wens ek kan eendag
opstyg met 'n skouspelagtige
vaart sonder om te groet
nadat al die operasies en wondermiddels
misluk het
sonder 'n stoet
naasbestaandes en draers wat stadig beweeg
met my gewigtige oorskot
dan sal ek die luike oopmaak
en gaan wandel in die niet

– Eveleen Castelyn

(Uit: Tussen hemel en aarde)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.