Al die veld is nié altyd vrolik nie, en ons moet oor die dood...

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Al die veld is nié altyd vrolik nie, en ons moet oor die dood kan praat

Nadat haar dogter dood is, het ANESCA SMITH agtergekom watter ongemaklike onderwerp die dood is – asof dit iets aansteekliks is. Maar dit help nie as ons ’n vrees het om daaroor te praat nie. DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor die Boeke- en Vrye Tyd-stories in ons jongste uitgawe, en wens ’n medewerker geluk. Daar is ook opwindende nuus – jy kan boeke wen!

  • 28 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Die gesprek begin gewoonlik op ’n vrolike noot, onbewus van wat kom: “Het jy kinders, Anesca?”

Ek oorweeg die vraag. As ek sê nee, is daar opvolgvrae soos: “Maar wil jy nie kinders hê nie?”

So daarom trek ek maar die pleister vinnig af: “Ek het ’n dogter gehad, maar sy is dood.” Stop.

As ek mense vertel dat my kind dood is, hou ek dit kort en terloops.

Nie omdat ek nie daaroor wíl praat nie, maar omdat dit dikwels so ongemaklik is vir die ander party. Ná ’n paar tellinge van afgryse kan jy dit eintlik al op hulle gesigte lees: “Is daar nie ’n meer gesellige gespreksonderwerp nie?”

Miskien weet mense nie wat om te sê nie. Of miskien is hulle bang mý ellende is aansteeklik en iets vreeslik kom hulle óók oor. Soos my vriendin, swanger ’n paar maande ná my kind se dood. Op ’n dag stuur sy my ’n WhatsApp om te vra waar ek is. Ek skryf dat ek besig is om ’n grafsteen uit te soek, want dit is waar ek my op daardie oomblik bevind het.

Ná ’n paar minute kom die antwoord: “Kan jy asseblief nie oor jou dogter praat nie? Jy dra jou slegte vibes oor aan my kind.” Ek probeer myself troos dat haar hormone waarskynlik op loop is, maar dit maak dit nie minder pynlik nie.

Hoewel die dood alomteenwoordig is, bly dit vir vele mense ’n moeilike gesprek om te voer. En met die dood van ’n kind is dit selfs meer van ’n taboe. Vra maar al die vroue wat al miskrame gehad het. Jy verval heeltemal in eensaamheid.

Image: ANGELA TUCK

Ek onthou my eerste dag terug by die werk. Mense loop met ’n boog om my heen. My (Britse) baas steek sy kop sy die deur in. “Okay, Anesca?” Voor ek kon antwoord, is hy al weer woerts die gang af. Weg.

Godverdomme, was dié dag ’n nagmerrie. Ek wou heeltemal nie daar wees nie, maar my kind was nog nie in die grond nie toe kom HR al op besoek. Ná ’n beleefde oor-en-weerdery kom die vraag:

“Wanneer dink jy dat jy weer terug werk toe kan kom?”

In my verwarde gedagtes onthou ek iemand het my een keer gesê harde werk help teen hartsverdriet. So ek sê: “Ek weet nie. Twee weke?”

“Maar kan jy nie intussen uit jou bed werk nie?”

Jy sou dink ná die traumatiese corona-tydperk dat die dood meer bespreekbaar sou word. Die dood het immers ’n hoofrol gespeel. Dit was nie meer net op die randjies van die samelewing in hospitale, tehuise vir bejaardes en hospices nie, maar massaal teenwoordig in ons sosiale kringe, ons werk, ons strate, ons huise.

Maar dit lyk of ons ongemak oor die dood net groter geword het. Hardnekkiger. Liefs wil ons so gou moontlik aanbeweeg na vroliker onderwerpe.

Ons vrees die dood en die lydensweg daartoe – ons eie, maar dié van ons geliefdes miskien selfs meer. Dit help nie as ons ook ’n vrees het om daaroor te praat nie. Nie elke dag nie. Net meer.

Groete
Anesca


Image: ANGELA TUCK

Bokkoors loop hoog en mense haal Siener van Rensburg in vrye vers aan – die eindstryd wink en ons bloed is groen. Om die tyd te verwyl tot die groot wedstryd begin, is daar lekker rugbyboeke om jou besig te hou, soos die boek oor Rassie Erasmus, en Hans Pienaar se rugbyroman, DRIE. Vrye Tyd verlos jou van FOMO en hou jou ingelig en geamuseerd. 

En baie geluk aan ons gewaardeerde medewerker, Mercy Kannemeyer, wat verkies is tot ondervoorsitter van PEN Afrikaans!


VRYE TYD

Image: ANGELA TUCK

Herman Lategan het met kelners gesels oor problematiese kliënte.

Sekspeste, suiplappe en swak fooitjies in ons restaurante


Image: ANGELA TUCK

Michèle Meyer het by 'n pittige kunstenaar kers opgesteek.

Willem die Ongewone


Image: ANGELA TUCK

Laureen Rossouw het Jan Braai die kuns afgevra.

15 vrae vir (en ’n resep van) Jan Braai


Image: ANGELA TUCK

Emilia Smuts verlei ons met verfrissende drankies teen die hitte. 

Emilia se verfrissende somerdrankies


Image: ANGELA TUCK

Steek 'n stokkie voor FOMO met ons nuttige wenke, idees en produkte.

Ons eerste lys om die FOMO te stop


BOEKE

Image: ANGELA TUCK

Hoor en sien vergaan vir my wanneer 'n nuwe Deon Meyer aanland.

Stop die horlosies, sit af die foon!


Image: ANGELA TUCK

Linza de Jager, wat min gespin is oor rugby, is onkant betrap deur Hans Pienaar se roman oor hierdie spel en die lewe.

Hoog en suiwer tussen die pale deur


Image: ANGELA TUCK

Louis Gaigher verwonder hom aan die mirakels wat Katherine Rundell besing, van windswaels tot John Donne. 

Krappe met smaraggroen oë op rooi-en-wit gestreepte steeltjies en ander wonders


Image: ANGELA TUCK

Joan Hambidge verlustig haar in die woorde van A.S. Byatt en die kleure van Henri Matisse. 

Matisse, Medusa en vet enkels


Image: ANGELA TUCK

Kerneels Breytenbach verbreed weer jou horisonne met vier uiteenlopende boeke.

Kripto-bedrog, polisiekorrupsie, eensaamheid en melancholie

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.