Oor mooi vroue, toksiese mans en ’n nuwe tipe manlikheid

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor mooi vroue, toksiese mans en ’n nuwe tipe manlikheid

ANNELIESE BURGESS sê die weerloosheid en gemaklike emosionaliteit wat die Springbok-rugbyspan uitstraal, roer haar in haar diepste wese. Sy deel ook ’n gedig en haar gebruiklike Sondag-aanbevelings.

  • 05 November 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Sy het een van die mooiste gesigte wat ek nog ooit gesien het. Perfekte, effens eksotiese gelaatstrekke. Amandelvormige oë. Dramatiese afro. Die lyf van 'n African queen, soos my dogter dit sou beskryf. Sonder 'n titsel grimering.

Ek kan nie my oë van haar afhou terwyl ek in die supermarktou wag om vir my inkopies te betaal nie.

Toe ek by die betaalpunt by haar aan die beurt kom, sê ek vir haar hoe beautiful sy vir my is. “Thank you for the compliment," sê sy. “From you, I like it, but not from men. I hate it when men say that."

Sy scan my pakkie dille, sakkie tamaties en bondeltjie aspersies. Die bordjie op haar bors sê Dumi. Sy kyk op en sê so amper terloops terwyl sy my kaart vat: “I don't like being beautiful. It would have been easier if God had made me ugly."

Ek word heeltemal onkant gevang deur die seer wat hierdie onbekende vrou met my deel in die mees banale van omstandighede. “I am sorry," is al wat ek uitkry. “Thank you," sê Dumi. “I am sure you know what I mean." 

Wel, uhmm, nie heeltemal nie. Maar ook, ja. Ek kan nou nie sê ek het al ooit die ekstreme skoonheidsprobleem gehad wat Dumi duidelik vir my sê 'n meulsteen om haar nek – 'n magneet is vir toksiese mans – is nie.

Maar is ek al deur mans misken? Ondermyn? Geminag? Geringgeskat? Verneder? Gegaslight? Laat voel asof ek mal is? Geboelie? Is my idees gevat en gemaak asof dit hulle s'n is? Is ek aangeraai om “hom” te laat glo iets is sy idee sodat ons kan vorentoe beweeg? Behandel soos 'n vloerlap? Verskreeu? Gemaak om minder te voel sodat hy kan groter voel?

Honderd persent. Al daai dinge. Maar die teenoorgestelde gebeur ook.

Image: INSTAGRAM @bokrugby

Dit bring my by 'n gesprek wat ek hierdie week met die  leierskapsghoeroe Louise van Rhyn gehad het oor die leierskapslesse wat ons by die Springbokke kan leer.

Iets wat sy sê, voltooi die kring van die Dumi-ervaring in my kop.

Sy praat oor 'n “nuwe soort manlikheid” wat die Springbokke openbaar. Tradisionele machismo is so gister, sê sy.

Hulle wys emosie. En kwesbaarheid. Hulle omhels en druk mekaar. En dra hulle kinders in hulle arms rond ná 'n wedstryd. 

Rassie Erasmus se onbeskaamde trane ná die eindstryd (en toe weer sy bewoënheid by sy span se aankoms in Johannesburg). Die manier waarop Siya Kolisi vir Cheslin Kolbe omarm en op die voorkop soen toe die eindfluitjie blaas. Hoe Eben Etzebeth vir Siya op die kop soen op die podium.

“Weet jy hoeveel mense vir my gesê het hoe diep Rassie se trane hulle geraak het?" sê-vra Louise tydens ons gesprek. “Dít is die soort leier wat die wêreld nodig het – iemand wat bereid is om soveel om te gee en gemaklik genoeg daarmee is om op 'n belangrike oomblik hulle emosies te wys."

Hierdie emosionaliteit en kwesbaarheid wat die Bokke uitstraal, is 'n diepgaande geskenk aan 'n land waar geweld teenoor vroue 'n kanker is. Dit is 'n kosbare boodskap aan die mans van Suid-Afrika. Dat jy nie aan vroue hoef te slaan, of op hulle trap, hulle boelie of hulle liggame as jou besitting beskou, om 'n “regte” of “sterk” man te wees nie.

As daar ooit regte mans was, is dit hierdie Bokke. Hulle gemaklike emosionaliteit roer my tot in my diepste wese.

Daar was in elk geval vir my nog nooit iets mooiers as 'n man wat sy hart verstaan nie. En wat nie bang is om dit te wys nie. Want dit is tog in die binnekamer van ons weerloosheid waar ons as gelykes vir mekaar kan lief wees. In my boek is daar niks sexiër as 'n man met 'n breë bors wat sy hart op sy mou kan dra nie.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag
Anneliese


With the door open

Something I want to communicate to you,
I keep my door open between us.
I am unable to say it,
I am happy only
with the door open between us.

– David Ignatow


Interessant

'n Webwerf oor al die skryfstelsels in die wêreld, van eeue gelede tot vandag, oor alle kontinente heen.

Lees

In die London Review of Books skryf Adam Shatz oor die Israel-Gaza-oorlog dat die byvoeglike naamwoord  “genocidal” nie meer oordrewe klink nie.

Dié artikel sê dat 'n oorvloed van keuses lei tot innerlike verlamming, swakker besluite en ongelukkigheid oor daardie besluite: The Paradox of Choice.

Image: ANGELA TUCK

Fomo

Het jy al ons nuwe FOMO-lys gesien? Die goeters op ons radar wat jy nie wil misloop nie. Van Springbok-koekies tot Franse gesigsmaskers.

Luister

VWB ♦

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.