Meer in SA het werk, en die All Blacks kerm nog steeds

WOENSDAG MET WILLEM

Meer in SA het werk, en die All Blacks kerm nog steeds

WILLEM KEMPEN vra of Nieu-Seeland die eindstryd wil oorspeel, en wonder op 'n veel ernstiger noot hoe om die som te maak oor wat 'n mens se lewe werd is. Plus sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 15 November 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!


1. Die aantal mense wat in die derde kwartaal van vanjaar in die formele ekonomie ’n werk gehad het, het met sowat 399 000 toegeneem tot 16,7 miljoen, vergeleke met 16,3 miljoen in die tweede kwartaal, wys Statistieke SA se kwartaallikse syfers wat gister uitgereik is. Daar was groter indiensname in finansies, maatskaplike dienste en landbou, maar afnames in vervaardiging en mynbou. Laasgenoemde word hoofsaaklik aan probleme by Transnet toegeskryf.

2. Versekeringsmaatskappye het ’n groot aantal nuwe eise aangeteken ná Maandagaand se haelstorm in dele van Johannesburg. Geboue en voertuie in onder meer Midrand, Braamfontein en Soweto het deurgeloop.

3. Google Maps en Waze het die misdaad-brandpunt Nyanga in Kaapstad as ’n roetepunt verwyder as deel van ’n samewerkingsooreenkoms met die departement van toerisme. ’n Amerikaanse toeris is verlede week in die gesig geskiet nadat Google Maps hom glo deur Nyanga wou laat navigeer.

4. ’n Houer met die radioaktiewe isotoop Iridium-192 wat verlede Vrydag uit ’n voertuig buite ’n gastehuis in Gqeberha gesteel is, is gisteroggend aan die eienaars terugbesorg nadat iemand dit aan ’n skrootwerf probeer verkoop het. Die polisie het Maandag die publiek versoek om op die uitkyk te wees vir die houer, het News24 berig.

5. Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het Bheki Cele om verskoning gevra omdat hy beweer het dat die minister van polisie “se dae getel is”. Dit was glo omdat Cele geweier het om die bestaansreg van Gauteng se 6 000 kitskonstabels te erken.

6. Rekordhoë onwettige immigrasie kos die VSA die laaste paar jaar soveel as $500 biljoen, word bevind in ’n verslag wat deur die Huis van Verteenwoordigers se komitee oor binnelandse veiligheid uitgereik is. Luidens die verslag word die gevolge van die meer as 7,5 miljoen onwettige immigrante wat die VSA sedert 2021 binnegekom het, gevoel in onderwys, gesondheidsorg, wetstoepassing en ander funksies van die federale sowel as deelstaat-regerings.

7. Indië kom vanoggend om 10:30 (SA tyd) in Mumbai teen Nieu-Seeland te staan in die eerste van die halfeindstryde van krieket se Wêreldbekertoernooi. Die tweede een is môre in Kolkata tussen die Proteas en Australië.


Daar is ’n waarskuwing oor ’n baie hoë brandgevaar en baie warm tot uiters warm toestande in dele van die Kaapprovinsies. Die grootste deel van die binneland is steeds deels bewolk, maar buie word slegs in die Vrystaat verwag. Dis ook ’n bietjie mistig oor dele van Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 21°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 17°C • Kimberley 35°C • Upington 39°C • Kaapstad 32°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 25°C • Durban 23°C.


Willem Kempen | Wil julle die eindstryd oorspeel, Nieu-Seeland?

Hoe lyk dit met 'n rematch?

Of gaan julle aanhou karring met pogings soos dié van gister:

Stuff understands World Rugby has privately acknowledged to the All Blacks that the ruling out of Aaron Smith’s try in the final was in fact outside the rules, but is refusing to publicly acknowledge that."

Hier is die deel wat glo agteraf deur Wêreldrugby “acknowledged" is:

However, the knock-on happened four phases before the Smith try, despite the TMO only having the power to look back two phases for any knock-on in the buildup to a try."

Wat amptenare van Wêreldrugby dálk vir die Nieu-Seelanders gesê het, is min of meer net soveel werd soos 'n drie wat nie toegeken is nie: Daar is geen prys om te betaal vir so 'n erkenning nie, en ons weet ook nie wat hulle dalk vir dieselfde soort redes aan die Springbokkamp ook “toegegee" het nie. Dalk sou die Bokke selfs verder gewen het as jy ál die “foute" in berekening bring ...

En, soos die Londense Suid-Afrikaner @rugby_ap op X skryf: 

“If I were World Rugby, though, I would take a pretty dim view of the unions sharing their post-match review discussions with local [New Zealand] journos. Because the ensuing reports engender a feeling of justification for fans who attack the referees."

Terloops, as die Proteas se krieket-halfeindstryd teen Australië môre uitreën soos wat die weervoorspelling sê kan gebeur, en dieselfde gebeur oormôre op die reserwedag, dan is die Suid-Afrikaners outomaties in die eindstryd omdat hulle 'n hoër netto lopietempo as die Aussies het – dalk kan hulle en die Nieu-Seelanders in so 'n geval in mekaar se arms vertroosting vind.


Vuurspuwende berge is makliker om te verstaan as vuurspuwende priesters

Ek vang myself deesdae gereeld dat ek my oorgee aan doomscrolling oor natuurrampe op die internet as dinge andersins te erg begin raak. Dis makliker om te probeer sin maak van stoom en lawa wat dreig om met geweld uit die aarde te bars in Grindavik in Ysland, Etna in Italië, Popocatépetl in Mexiko, of iewers onder die see naby Japan, as om te verstaan waarom 'n goeie vriendin se man en die pa van hulle drie jong kinders skielik nie meer met hulle is nie, of waarom 'n oudkollega dood is nadat sy gestel nie die skok kon verduur van 'n onlangse dubbele voet-amputasie weens diabetes nie. 

Ek blaai ook liewer verby die foto op X van 'n jong Israeliese vrou wat glo een van Hamas se gyselaars is, want ek wil nie weet wat alles met haar in aanhouding gebeur nie, ás sy nog leef. Net so kyk ek net die eerste paar sekondes van die video van 'n seun wat iewers in Gaza water met 'n emmer van 'n teerpad probeer opskep nadat die laaste opgaartenk naby sy huis in 'n ontploffing verwoes is.

Hoe kan ek in elk geval seker wees een of albei van hulle bestaan regtig, dat hulle nie net die gemanipuleerde produkte is van iemand se bedrewe propagandafabriek nie?

En as hulle stories wel eg is, een of albei van hulle, hoe kan ek weet hoe die Som van die Relatiewe Waarde van Lewe vir elkeen van hulle uitwerk, met gepaste oorweging vir Geloof, Etnisiteit, Verdraagsaamheid vir Terroriste en Verdrukkers in Eie Geledere, die Grusaamhede waaraan Lede van die Eie Stam al in die Verlede Onderwerp is, die Graad van Huidige Ellende, die Mate van Historiese Slagofferskap, en die Sondes van die Vadere tot in die N-de Geslag?

Kry een of albei van hulle 'n slaagpunt in dié som, sodat ek dit kan oorweeg om meer simpatie met die een as die ander se wraakgedagtes te hê?

Oor die egtheid van aardbewings of vulkaniese uitbarstings of vloede of massiewe veldbrande of haelstorms of orkane of hittegolwe hoef ek darem nie veel te twyfel nie, selfs al hou ek in my agterkop dat dit alles dalk 'n totale oordrywing is wat gefinansier word deur 'n internasionale kabaal wie se oogmerk dit is om ons almal te belas op alles tot by die suurstof wat ons inasem sodat ons uiteindelik geen keuse sal hê as om te swig voor 'n enkele wêreldregering wat die Olimpiese Spele met 'n Hunger Games gaan vervang nie.

Wat meer is, met 'n natuurramp is daar gewoonlik nie agterna 'n groepie mense wat die skuld vir alles hoef te kry nie. En as dit niemand op hierdie aarde se skuld is nie, is daar ook geen nodigheid vir enige geloof in 'n wraaksugtige god wat in die Hiernamaals straf kan uitdeel vir al die onregte wat in die Tydige Lewe straffeloos gebly het nie. Met 'n natuurramp word almal kollektief gestraf, sommer dadelik, en vir wat ook al ons dalk gesondig het.

Aan die ander kant probeer ek om nie neer te sien op gelowige mense vir wie “My god slaap nie" die enigste hoop is dat die onregte van die hede nie ongestraf sal bly nie, want wie is ék nou om dit ook nog van hulle te wil wegvat?


In a Disused Graveyard

The living come with grassy tread
To read the gravestones on the hill;
The graveyard draws the living still,
But never any more the dead.

The verses in it say and say:
“The ones who living come today
To read the stones and go away
Tomorrow dead will come to stay.”

So sure of death the marbles rhyme,
Yet can’t help marking all the time
How no one dead will seem to come.
What is it men are shrinking from?

It would be easy to be clever
And tell the stones: Men hate to die
And have stopped dying now forever.
I think they would believe the lie.

- Robert Frost

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.