IMF prys SA vir deursigtige geldsake; VW belê weer groot in Oos-Kaap

WOENSDAG MET WILLEM

IMF prys SA vir deursigtige geldsake; VW belê weer groot in Oos-Kaap

WILLEM KEMPEN meen belangrike besluite wag op die land se motorvervaardigingsbedryf, en onthou die ánder groot nuusgebeurtenis van 1994. Daar is ook weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 17 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

1. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het Suid-Afrika onder die topdrie-lande wêreldwyd vir fiskale deursigtigheid geplaas. Die nasionale tesourie het die aankondiging verwelkom. 

2. Die IMF het ook sy groeivoorspellings vir Suid-Afrika sowel as vir die  wêreldekonomie min of meer onveranderd gehou en gesê die risiko van 'n sogenaamde harde landing  het vervaag, maar dat mediumtermynvooruitsigte die swakste in dekades is.

3. Die OVK sê daar is geen gronde vir die MK Party se eis dat Janet Love as kommissaris bedank nie. Die OVK wil wel hê die Konstitusionele Hof moet beslis of die OVK sy magte oorskry het deur Jacob Zuma aanvanklik in terme van Artikel 47 (1)(e) van die Grondwet te verbied om as 'n LP verkiesbaar te wees.

4. Die MK Party het gister aangekondig dat Jacob Zuma nou die party se amptelike leier is en nie meer Jabulani Khumalo nie.

5. Die Moslem-radiostasie Voice of the Cape (VoC) ondersoek bewerings dat een van sy vryskut-aanbieders, Shafiek Sedick, die Eid saam met Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en inwoners van Wynberg gevier het. Sedick het in 'n verklaring gesê hy het vir sy lewe gevrees: “I was neither involved in the invitation or the actual lunch or the hosting of it. I wish to express that I have no political affiliation with the Mayor of Cape Town nor the Democratic Alliance."

6. Ster-Kinekor beplan om bykans 'n kwart van sy personeel af te lê en soveel as nege fliekteaters in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap te sluit weens 'n dalende aantal fliekgangers.

7. 'n Bedreigde Borniese orangoetang-baba is in die Busch Gardens Tampa Bay-dieretuin in Florida gebore. Sy is Saterdag met 'n keisersnee gebore en het sowat 1,3 kg geweeg. Haar ma, Luna, herstel nog van die operasie en sal daarna met die baba herenig word, het AP berig.


Dis koel tot koud in meeste dele van die land vandag. Buie en donderbuie word weer in elke provinsie verwag behalwe die Wes-Kaap waar miskolle meestal sal voorkom. Miskolle word ook in dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 22°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 21°C • Kimberley 23°C • Upington 30°C • Kaapstad 23°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 28°C • Durban 27°C.


Willem Kempen | SA moet mooi dink oor watter soort karre om hier te bou

Waarheen mik Suid-Afrika se motorvervaardigingsbedryf, gegewe plaaslike probleme met logistiek en infrastruktuur, 'n klimaat wat warmer word, en onstuimigheid in groot olieproduserende lande soos Rusland en Iran? Watter pad loop ons in die oorgang van fossielbrandstowwe na ander energiebronne?

Drie interessante dinge het die afgelope week gebeur wat mens hieroor laat wonder. Eerstens gaan Elon Musk se Tesla sy werksmag wêreldwyd met sowat 'n tiende verminder. Verkoopsyfers daal en veral in China is daar 'n prysoorlog in die mark vir elektriese voertuie aan die gang.

Tweedens het Neal Froneman van Sibanye-Stillwater in Johannesburg aan rolspelers in die platinum-groep van metale vertel van sy woorde by 'n onlangse internasionale beraad waar Tesla se grootbaas ook teenwoordig was: “I said to president [Emmanuel] Macron: ‘Don't bet your French car industry [entirely] on battery-electric vehicles. You need to run multiple technologies.' Well, you can imagine, Elon Musk was not happy."

Volkswagen, Toyota en BMW, wat al drie in Suid-Afrika fabrieke het, werk aan binnebrandenjins wat met waterstofselle werk – en wat steeds platinum nodig sal hê vir die katalitiese omsetters waarmee besoedeling beperk word.

Derdens het Volkswagen Group Africa (voorheen Volkswagen SA) gister 'n investering van R4 biljoen in sy Kariega-aanleg in die Oos-Kaap aangekondig. 'n Klein SUV met 'n binnebrandenjin wat in Brasilië ontwikkel is, gaan van 2027 daar aanmekaargesit word. Dit maak 'n einde aan sprake dat Volkswagen planne het om aan Suid-Afrika te disinvesteer, en wys ook dat die Duitsers oortuig is dat kopers in Afrika vir eers fossielbrandstowwe gaan verkies.

Sit al hierdie dinge bymekaar, en dit word duidelik dat die plaaslike bedryf mooi sal moet besin, ook oor die planne om elektriese voertuie hier te begin vervaardig.



Daai ander ding wat in 1994 gebeur het

Die Nuwe Suid-Afrika – daai tyd is dit nog soms met 'n hoofletter geskryf – was in Junie 1994 nog nie eens twee maande oud nie toe ons een Vrydag regstreeks saam met die res van die wêreld op CNN kon toekyk hoe twee swart mans in 'n wit Ford Bronco stadig op Interstate 405 in Los Angeles voortkruie. Voor en agter hulle, 'n menigte swart-en-wit polisiekarre met loeiende sirenes en flitsende ligte. Nog polisiemanne op motorfietse, en wie-weet-hoeveel polisie- en media-helikopters wat om en om dié bisarre toneel sirkel. Langs die snelweg het duisende mense gestaan en wag dat die konvooi by hulle verbybeweeg nadat hulle dit op televisie begin volg het.

Dié vlugtog van OJ Simpson, wat verlede week dood is, en sy vriend AC Cowlings, wat die Bronco bestuur het, was die geboorte van 'n duisend oordrywings, kan mens waag om te sê.

Lees die volle brief hier.


Verstrooiing van die parte

Die kliniek op Worcester het my mangels
Karel Bremer my prostaat
en waar waai nie al my hare rond.
Kondome het my saad.

Die Vader alleen weet waar my tande
rondlê, om van toonnaels nie te praat.
En dan wil my voete net eenstryk deur
na Steenwerp, na my hart.

– Barend J. Toerien

Uit: Die Huisapteek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.