DAAR is 'n wonderlike swembadtoneel in Etienne Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins. Laatnag stroop die partytjiegangers hul klere af en, elk met 'n dierekop op, waad hulle die swembad op die wynlandgoed van Welgevonden binne.
Hierdie metafoor, weliswaar in oortreffende trap, staan vir die leeservaring van VWB. Nes jy dink jy sit Sondagmiddag bietjie terug met 'n bier of 'n koppie rooibostee, niksvermoedend so te sê, en trek VWB nader, die skokkend aweregse papierweergawe van die laat '80's, vroeë '90's, of die meer onlangse aanlynweergawe met immer aptytwekkende voorblad, word jy skielik diepkant ingegooi.
Want so het dit dikwels gegaan: jou Sondagmiddag meteens totentaal omgekrap, lekker, maar ook, soos uiteindelik met die baaiers gebeur het in daardie akwamaryn swembad, ontbloot, dit wil sê, jou eie mening oor 'n saak omgedobbel.
Dit het te make met die taalgebruik in VWB: sulke gevatte, op die vrou af Afrikaans, of Afrikaans-Engelse versnitte soos “aanvals-chihuahua” of sommer die geswets-mét-smaak – waar anders is jy sulke vryheid gegun? Dan was daar die aanloklike titels van die artikels, soos: “Die nuus wat jou biesies laat bewe", of die skreiende onthullings soos die een destyds in '92: dat Patrick Lekota (ANC) geld aan ’n regsgesinde gebied het om Glory ‘September’ Sidebe om die lewe te bring. Of, en hiervan het ek altyd die meeste gehou, die menings in VWB wat jou opnuut konfronteer met jou bestaan en vóórbestaan as bevoorregte wit Afrikaner:
Want in ’n sekere mate moet jy jou hele jeug nou afsweer. Ek was deel van ’n wêreld wat onregverdig opgetree het. Kyk, al jou jeugherinneringe gaan terug in ’n soort apartheidswêreld. En nou moet jy wegbreek daarvan. Dis noodsaaklik dat jy wegbreek. Maar nou is jou jeug afgesny. En jy het ’n skuldgevoel oor jou jeug. Want ons almal, ons, ons ouers, is deel van hierdie onheilige situasie in Suid-Afrika. Niemand is vry nie. Behalwe die mense wat die slagoffers was. – Etienne Leroux aan die woord in 'n onlangs herdrukte onderhoud met wyle Koos Prinsloo en Ryk Hattingh.
Maar goed, soos met daardie fuiwers in Sewe Dae wat uiteindelik poedelnakend mekaar moes aanstaar, is daar ook verlossing en verkwikking. En mag ek vir oulaas hierdie betowerende slotsin tot Leroux se swembadtoneel aanhaal: “En dan, met 'n sissende geluid, heel bó, begin 'n dun straaltjie, soos in 'n spuitfonteintjie, uit die bek van 'n dolfyn, die swembad langsaam, tydsaam vul."
Want ook dít het VWB gebied. Jy kon jouself wend tot vroliker, by tye meer melancholiese stukke oor kos (Ingrid Jones: “Ons sal lag, gesels, huil, eet, drink, bid, en herhaal"), oor diere (Deborah Steinmair oor Anna Breytenbach, die dier-fluisteraar: “Dan verskyn Anna in sy blikveld. Sy is pragtig, met die Breytenbachs se soel vel en lang donker hare. Sy maak oogkontak. Sy gaan kniel langs sy hok. Die dier bedaar en hou haar dop. Hulle kyk lank in stilte vir mekaar."), en oor begeerlike, klassieke karakters (Joan Hambidge oor Djuna Barnes se Night Wood: “Dit is nie relevant of Thelma Wood die model vir die roman was nie en of e.e. cummings haar buurman was nie. En of sy gestalk is deur baba-lesbianiete in die omgewing nie. En of sy dalk te veel gedrink het nie en of haar hart ten slotte gebreek is nie.")
En nou, wat het geword van soene wil ek byna vra? Ons is 'n lang pad gehelp; ons het 'n lang pad gekom. Dankie Max du Preez en die falanks van vernuftige Vrye Weekblad-skrywers, van 1988 tot 2025.
Nou gaan ons vir onsself moet dink.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.