KOOS “KOMMUNIS” COETZEE was ’n taal-savant. En nie die tipe ou wat jy met ’n oop gemoed aan jou ouers sou wou voorstel nie.
Uitermate maer en permanent oorgebuig met hooi vir hare en dik brille wat sy oë byna grotesk vergroot het, het sy gehakkelry al erger geword hoe meer hy hom opgewerk het.
Maar hy het Afrikaans en dié se taalreëls geken soos min ander en was ’n geharde subredakteur. ’n Man wat die nuuskantoor kon stilmaak as hy blaaie harde kopie die lug insmyt en terwyl die blaaie soos blare afwapper grond toe iemand se naam uitskrou: “K-k-k-kom hhhhaal hierdie k-k-k-kak wat jy hhhhhier geskryf het!”
Max het nogal lank gesoek vir ’n gepaste hawe vir die aweregse groep nuwe personeellede voor hy die ou Art Nouveau-agtige Standard Bank-kwartiere straatop van die Markteater gevind het en Koos het eers in ’n klein kamertjie bokant die kantoor op platgevoude kartondose geslaap.
Met geen ordentlike ablusiefasiliteite beskikbaar nie moes ons koes van die lag as Elsabé Wessels oggende inkom en haar hand haastig voor haar neus vee terwyl haar oë begin water van die klank uit die subs-lessenaar.
Ons is almal meegesleur deur die rustelose, ietwat chaotiese maar tog opwindende transformasie in die land en die kantoor self was ’n fisiese manifestasie, ’n mikrokosmos, van daardie energie soos almal hulle weg probeer baan het deur die omwenteling. Meer as een keer moes ons rondskarrel na ernstige bomaanval-waarskuwings.
Weekliks ná saktyd het ek en Koos altyd oorgeskiet na die ou Diggers Inn Hotel oorkant die straat na die sjebien op die grondvloer met sy gehawende hoëtroustel. Dis moontlik die gedagte dat ons albei besig was met iets groter as ons, dat ons ’n merkbare bladsy verteenwoordig in die plaaslike mediageskiedenis, wat ons daar probeer wegdrink het. Maar daai middae se gerondskoffel met al die '80’s mbaqanga-treffers was ook ’n moerse jol.
Max was geregtelik bekommerd oor Koos aangaande die personeel se eerste voorstelling aan die nuwe koerant se beskermhere en borge soos Frederik Van Zyl Slabbert en Chris Otto uit die Kaap. Die smeltkroes van drank en antidepressante het Koos soms laat uithaak maar hy het belowe om dit stadig te vat.
Toe ek egter vroeg by die eetplek oorkant die Markteater opdaag vir die beste-voet-voor geleentheid is Koos reeds daar, sy een oog ekstra vergroot soos hy kop-op-die-arms deur ’n halfbottel brandewyn loer.
Koos was berug vir sy drang om lang Spies en Plessie-tipe grap-staaltjies te vertel as hy besope was. Verrigtinge het nietemin redelik vlot verloop totdat Koos oorleun na my toe met sy lepel omhoog bokant die leë wynglas soos hy dreig om die spiets te onderbreek: “D-d-d-ink jjjy hulle het al die eeeen gehoor van d-d-die seekat w-w-wat so lekker kon k-k-k-klavier speel?” Wat daarna gevolg het is ’n storie vir ’n ander braai.
Koos se liggaam is so ’n paar jaar later gevind waar hy in sy Yeoville- woonstelletjie sy eie lewe geneem het.
Mens vergeet soms die wyd-gesaaide spanning wat gepaardgegaan het met die stormagtige sosiaal-politieke strominge tydens die laat 1980's en vroeë 1990's in Suid-Afrika. Vir sommige van ons was Johannesburg as nuwe blyplek ook nie sonder sy uitdagings nie. As die swart hond boonop gedurig voor die deur blaf op deadline as jy 18 uit 24 uur onder druk swoeg vir die “cause”, lê die reddingsbootjie reeds redelik vlak in die water.
Maar Koos was ook kwaad. Gatvol vir die onreg, onenigheid en onderdrukking in ons land en veral vir die gedurige onheilspellende skadu van apartheid se veiligheidsmagte. Vrye Weekblad, soos vir soveel ander, was vir hom ’n noodsaaklike uitlaatklep, ’n heenkome vir die emosionele warboel waarin hy verswelg was. Ek wonder soms of hy nie te afhanklik geraak het van die reddingsboot wat weldra van hom weggedryf het nie.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.