“So, julle is die twee lepels wat die kakpot op Springbok geroer het!” grynslag George Moyses – legendariese oud-diamantduiker, skrywer, filmmaker, historikus, stigter en kurator van Port Nolloth se diamantmuseum – destyds. Dis nou toe ek en film- en televisievervaardiger Herman Binge in 2012 stelling oorkant hom inneem in sy tuin op McDougalsbaai, ’n katspoegie suid van Port Nolloth (in die plaaslike patois bekend as Die Port).
George was die beliggaming van Kristofferson se “Freedom’s just another word for nothing left to lose", met sy twee pakkies filterlose sigarette op die dryfhoutbladtafel vir wanneer hy tydens hierdie netelige gesprek wil opkom vir asem. En ’n bottel whisky om sy keel gesmeer te hou.
Dit is nodig. Niemand in hierdie geweste praat geredelik oor klipgooi nie; die diamantsiekte of -koors wat hierdie hoogs gesogte euwel soos vuilsiek oor ieder en elk kan bring. Nie eens die woord “diamant" was vroeër vrylik geuiter nie. Soveel so, die oumense het gepraat van “amante". Boonop, indien jy reeds ’n koorslyer is, wil jy nie onnodig die toorn van die diamantspeurders op Alexanderbaai oor jou bring nie.
Ek en Herman het op Springbok aangekom om voorlopige navorsing te doen vir die televisiereeks Vloeksteen. Die logiese myn vir verwante inligting was uiteraard die Springbok Lodge, oom Jopie Kotze se spil waarom bykans alles op en om Springbok draai. Oom Jopie sit paraat agter sy halfmaanvormige beheerkonsole (dit herinner nogal aan Star Trek), mikrofoon in die hand, en moedig die hollende kelnerinne aan met “Tafel Drie het aandag nodig!”
Soos in ’n Indiana Jones-fliek
Ek opper ’n vraag. Oom Jopie gluur my aan en fluister met ’n skuurpapiertoon in sy stem, “Ek weet niks van daai gemors af nie en hou my ook nie daarmee op nie.” Fluit-fluit.
Met elke tree wat ons hiervandaan vorentoe (eintlik agteruit) gee, val inperkende mure om ons neer soos in ’n Indiana Jones-fliek. En dit hou meedoënloos aan totdat ons later moedeloos in ’n kroeg wonde lek en die kelnerin skielik na Herman staar en opgewonde gil: “Ek ken vir jou. Jy is Sterretjie se man!”
Die fliek met Joanie Combrink in die naamrol? Onverwags is ons bona fides 3D in titaan gedruk. Want sien, enigiemand kan moontlik ’n diepdekkingsagent, of knocker (iemand wat jou met ’n slap riem wil vang) wees en almal is op hul pasoppens.
Sesame maak oop en Japie (nie sy regte naam nie) staan gereed om sy storie te vertel. “Ek het daai jare vir SANAB (die voormalige Suid-Afrikaanse Narkotiese Buro) gewerk en hier ’n gap gesien.”
Terloops, die kuns verbonde aan klipgooi verg jy moet gapings met die vlugvoetigheid van ’n Cheslin Kolbe kan vat. Daar is nie tyd vir redekawel nie. Oë is oraloor op jou. Hier’s die klippies, hier’s die pond. En jul weë skei. Jy sal eers later uitvind of jy ’n regte egte diamant in die sak het, of met die in-die-sweet-van-jou-aangesig-geldjie geknock is deur ’n sirkonium te koop.
“Ek verpand my verloofde se verloofring vir R2.5K,” klets Japie voort. “Doen die deal en daar loop ek my in een van my beste pelle vas. My pel, die diamantspeurder op Alexanderbaai … Hy arresteer my, sleep my hof toe en ek word met R2.5K en ’n opgeskorte vonnis beboet. En met skorsing beloon. Daar sit ek sonder die ring (my vrou is tot vandag toe nog die moer in vir my), sonder my loopbaan en minus die R2.5K boete.”
Jou beste pel is dalk nie almal se pel
Die rede hoe Beste Pel van hierdie klipgooi-episode bewus was, is eenvoudig. Een ding wat gesoute klipgooiers nie kan uitstaan nie, is veranderlikes. En vreemdelinge (soos ek en Herman aanvanklik) is die ergste vorm daarvan. Nader ’n onbekende jou vir ’n potjie klipgooi, hol jy onmiddellik na die diamantspeurders toe, maak ’n klag aanhangig, lê ’n verklaring af en is bereid om in die hof teen die beskuldigde te getuig. Jou beloning is tweeledig. Jy ontvang een derde van die waarde van die transaksie vir jou moeite en kelder ’n veranderlike.
Klipgooiers se Eerste Gebod: Jy onderhandel slegs met mense in jou pyplyn. Makkers wat jy baie goed ken en onvoorwaardelik vertrou. My oupa het gesteel en aan jou oupa verkoop. Ons pa’s het dieselfde gedoen. Nou volg ek en jy daardie wysheid met die onversetlikheid van ’n klipsteen.
Soos vandag, was die stelers vroeër jare merendeels die armes. Natuurlik het diamantduikers gereeld ’n klippie of twee op die seebodem, waar hulle gruis na die diamantskuit pomp, onder hul duikpakke ingedruk as selfopgelegde bonus. Die ouens wat die gruis op die skuit in sakke verpak, sou ook ’n blinke raaksien en insluk.
Maar ongeskoolde arbeiders was die lewensaar in hierdie bedryf. Daar waar hulle byvoorbeeld by die staatsmyn op Alexanderbaai saam met prospekteerders na nuwe afsettings soek. In kolkgate waar robyne en ander halfedelgesteentes die teenwoordigheid van diamante verklik. Die werkers maak ’n kopnota van die plek en kom later terug vir die wederregtelike oes.
Die truuk was om die diamante deur die X-straalhekke te smokkel. Maar die wil is mos immer die weg. Die mynkaptein máák nog ’n plan, dan het die klipgooiers lánkal ’n teenvoeter vir die wis en die onwis.
Só suksesvol was die klipgooiers dat hulle oor die leeftyd van die Alexanderbaaimyn ongeveer 50% van die opbrengs gesteel het. Teen die tyd dat die myn uiteindelik ’n diepdekkingsoperasie van stapel gestuur het, beloop diefstal om en by 85%.
Volgens George lê klipgooiers se sukses in samewerking onder die skelms. Sindikate. Jou span staan voor die X-straalhekke. Daar is twee. Een met ’n rooi liggie. Die een langs hom, groen. En die liggies flits ewekansig. Indien die liggie groen is, loop jy vrylik deur. Kom die rooi liggie aan, word jy bestraal.
Nou, die voorste ou het die diamant in wondergom (Prestik) toegevou. Kom hy voor die rooi liggie te staan, druk hy die gegomde diamant teen die muur vas. Hy loop deur en is skoon. Verander die liggie skielik na groen, pluk sy makker agter hom die diamant van die muur af en voila!
Sindikate het oor die jare tot kruisboë gemaak en die onderdele stuk-stuk by die myn ingesmokkel. Die pyle was hol en daarmee is diamante oor die heinings geskiet. Daar is selfs ’n posduifklub gestig. Spesiale harnassies is gefatsoeneer waarmee die duiwe diamante na die klipgooiers se huise toe moes vlieg.
Hierdie begaafde smokkelmetode het tot sy einde gekom toe ’n duif, veels te swaar gelaai, nie sy huis kon haal nie en eers ’n blaaskans geneem het op die werfheining van niemand anders as Beste Pel nie. Beste Pel het die duif rustig laat asem skep en toe agtervolg. Met die nodige gevolge.
Wie toets die toetser?
Die klipgooier se volgende hindernis is die werklikheid dat jy nie diamante kan eet nie. Hulle moet van die hand gesit word. En dit is hier waar die water besonder troebel word.
Beste Pel verduidelik hoe ’n diamanttoetser, die klipgooier se beste vrind (en soms vyand), werk. Hittegeleiding. Elke mineraal gelei hitte teen ’n ander tempo. Druk jy die toetser teen ’n diamant, flits die groene. Sirkonium laat die rooie gloei. Maar sny die geseëlde toetser met ’n laserstraal oop, ruil die drade om, en jy kan die toestel teen ’n bokdrol druk en hy vertel jou dis ’n vy.
Nou kom ek by jou aan met klippies om te verkoop. Ek bevestig die polisie se oë is op my en ons moet roer. Ek het sommer ’n toetser byderhand. Jy toets. Die groene praat die regte taal. Geld en diamante verwissel hande en ek is vort. Later, wanneer jy die gesteentes rustig toets …
Is die geknockte ooit kwaad vir die knocker? Hoe ongenaakbaarder die landskap, hoe filosofieser is die bewoners, en Namakwalanders se houding spreek inderdaad daarvan. “Hoe kan ek vir iemand kwaad wees net omdat hy slimmer as ek is? Volgende keer knock ek daai kont-se-kênt tot binne-in sy ma se moer in.” (Terloops, “kont-se-kênt" is blykbaar etimologies verwant aan “consequent".)
“Is diamante dan nie deur God in die grond geplant vir ons almal se gebruik nie?” vra Beweerde Groot Klipgooier retories waar ons in sy kantoor sit, die mure oortrek met Bybelverse, asof die Woord sy elke woord onderstreep. 'n Kort, ietwat verfynde mannetjie met kastaiingbruin gekleurde hare, 'n blou diamantring (blykbaar ses karaat) aan die vinger en ’n pistool aan die enkel. “Hoekom moet die mynmaatskappye alles kry?”
Volgens sekere bronne het die Namakwaland oor groter minerale rykdom beskik as die Witwatersrand. Laasgenoemde se nalatenskap is Johannesburg, Pretoria, die JEB, noem maar op. Namakwaland?
“Hier slaan armoede uit soos varkmasels en swaarkry druk vir jou totdat jy pensmis proe.” Beweerde Groot Klipgooier se Woord en die smaak van pensmis in die armes se monde lei tot die toe-eiening van dit wat hulle voel regmatig hul geboortereg is.
“Dis nou die zama-zamas,” vertel Willie Hanekom waar ons ons eerste staning op Spogplaas buite Alexanderbaai teen die Garieprivier maak. “Dis die ouens wat skelmpies snags die myne se drade knip en sakke vol gruis maak om later by die huis te sif.”
“Ja, daar is nog diamante,” beaam Beste Pel. “Die myne het nie orals op hul grond gemyn nie en die zama-zamas soek nou potholes in daardie gebiede.”
En blykbaar vind hulle net onlangs ’n steen van 20 karaat naby Kleinzee.
“Bullshit!” reken Beste Pel. “Ek ken diamante in hierdie omte en hulle is meestal klein. Daai was ’n ploy om meer myners hierheen te lok en die staat te forseer om delwerslisensies aan die zama-zamas uit te reik.” Met die gevolg dat ’n enorme plakkerskamp sonder krag, water, sanitasie én uitgelewer aan hitte en sterk winde die lewe sien. Kortstondig.
Die vals wortels van die kwaad
“Die schemers het tot die mense vertel die diamante sit aan die bossie se wortels vas. Daar loop trek hulle omtrent al wat ’n bossie is uit. En hier is hoeka omtrent fokol bossies. Toe waai hulle weer.”
Die toesighouer van Kleinzee se gholfbaan het ander probleme. “Hier is die fokkers besig om die gholfbaan om te dolwe. Ek probeer hulle net van die greens afhou. Maar vir hoe lank? Die polisie het darem nou die nag 63 gearresteer.”
Verder suid op Koingnaas grom Surf Zone se oud-mynbestuurder, Dudley Wessels: “Ja, hulle zama-zama hier ook. Nou die dag grou hulle iewers onder die teerpad in en daar val die spul op hulle.” Volgens Dudley is die grootste euwel egter die rehabilitasie van die myngebiede. Of die skreiende gebrek daaraan.
“Groot mynmaatskappye myn totdat ’n gebied nie meer winsgewend is nie. Dan verkoop hulle die myn aan kleiner maatskappye en dra daarmee saam die onus om te rehabiliteer oor.”
En só gaan dit totdat die grond uiteindelik aan plaaslike gemeenskappe (soos die Richtervelders) of Cape Nature geskenk word. Tesame met die rehabilitasie wat nooit ’n werklikheid gaan word nie. “Kyk na die verwoesting hier om ons. Ek glo dit sal seker na aan ’n biljoen kos om reg te maak.” Wat wie waar gaan kry?
Op die winderige, mistroostige Hondeklipbaai soek ons na die hondeklip. En kry dit uiteindelik reg voor die indrukwekkende polisiestasie. Maar ons sien nie die hond in die klip nie. Ek gaan klop aan die polisiestasie se deur. Dis gesluit. En onbeman. Die kennisgewing langs die klip verduidelik die oor is in 1853 gesteel en later jare is die snoet deur weerlig verwoes.
Wanhopige mans staan om bakkies met die kappe oop soos sterwende diere wat om den hemele roep. Vrouens beur teen die wind in met verslonsde kinders aan die hande.
“Hier is nie onwettige delwers nie, want hier vat ons wat ons kan kry om aan die lewe te bly,” verklaar een van die vrouens. “Kyk hoe het die myne ons hier gelos. Met niks nie. Nou vat ons wat ons s’n is. En daai mynhope wys ons presies waar gemyn is en ons delf nou tussen hulle op nuwe plekke.”
En die polisie? “Hulle verstaan onse probleme.”
Seker soos die polisie die perlemoenstropers van Pringlebaai en Kleinmond se probleme verstaan. En die ivoor- en renosterhoringstropers s’n.
Miskien is hierdie benadering met betrekking tot diamante egter reg. Dalk lê die oplossing iewers verskuil tussen die gereg en die onreg.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 3 Januarie 2020 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.